Skriflesing: Titus 1: 1 – 16
Fokusvers: Titus 1: 3
Tema: Deur Woordverkondiging maak God sy wil vir die gemeente bekend. Is ons getrou aan ons roeping?
Inleiding
Die briewe aan Titus en Timoteus is baie uniek in die Bybel. Hierdie briewe word in ooreenstemmende Taal en Styl geskryf en bespreek ook sake wat met mekaar verband hou. Beide hierdie briewe is deur Paulus geskryf, maar dit is opvallend dat dit nie aan ‘n gemeente gerig is nie maar aan ‘n persoon. Soos ons weet het Paulus ook ‘n brief vir Filemon geskryf, maar dit is ‘n heel ander genre as die twee Pastorale briewe. Ons noem die briewe aan Titus en Timoteus “Pastorale briewe” omdat dit aan die “pastor” of die “herder” van ‘n gemeente geskryf is.
Deur Woordverkondiging maak God sy wil vir die gemeente bekend
Oor die volgende drie weke gaan ons in meer detail na die brief aan Titus kyk. Paulus praat in van sy ánder briewe ook van Titus (Hand. 18: 7; Gal. 2: 1, 3). Verál in die Tweede Korintiër brief hoor ons van Titus en hoe trots Paulus op hom, as medewerker, was. Titus was ‘n besonderse hulp vir Paulus gewees en hy het baie keer die werk van Paulus voortgesit het as hy met ‘n sendingreis moes voortgaan.
Soos ons in hierdie hoofstuk lees, is Titus op die eiland, Kreta, deur Paulus agtergelaat. Paulus moes met sy verdere bediening aangaan en hy het Titus ten volle vertrou met die gemeente in Kreta. Hierdie gemeente was maar nog onlangs gestig en glad nie georganiseerd nie, en daarom ontvang Titus die opdrag om sekere sake in die gemeente te doen. Die eerste opdrag wat Titus moes voltooi, was om die dinge wat nog in die gemeente gereël moes word, in orde moet bring. Nou waarop kan hierdie “dinge”, waarvan Paulus praat, dui? Dit dui natuurlik op álles wat ons, vandag, as vanselfsprekend aanvaar: Dinge soos onderlinge liefde tussen mekaar, gereelde suiwer Woordverkondiging, toerusting vanuit God se Woord, gereelde bediening van die Sakramente, Bybelstudies, Huisbesoeke, Katkisasie en soveel meer. Maar al hierdie dinge is alleen moontlik as daar toesig in die gemeente is. En daarom ontvang Titus nóg iets te doen. Hy moes ook in elke dorp ouderlinge bevestig.
Dit is vir enige Christelike gemeente nodig om ordelik te werk te gaan. En om dít reg te kry behoort elke gemeente rég bestuur of regeer te word. Dit is essensieel vir elke Christelike gemeente, geliefdes. Daarsónder kan ‘n gemeente nie op die regte manier funksioneer nie. En daarom is dit vanuit die Bybel vir ons baie duidelik dat dit God-Drie-Enig moet wees wat sy Kerk, hier op aarde, regeer maar Hy doen dit deur die amp van die ouderlinge. Hier, in Titus 1, word dit vir ons duidelik waar ons in vers 7 lees: “’n Ouderling is immers ‘n bestuurder van die huishouding van God.”
‘n Ander Bybel-vertaling vertaal hierdie vers en sê dat ‘n ouderling ‘n “rentmeester van God” is. En dít beskryf die bedoeling van God vir ‘n ouderling baie goed, geliefdes. Want ‘n rentmeester is iemand wat in beheer van iemand ánders se besittings geplaas word. Hy/sy word uitgekies om daardie persoon se goedere te bestuur en te beheer – en dit is presies hoe die diens van die ouderling werk. Die ouderlinge van die gemeente word deur God geroep om sy eiendom, op aarde, op te pas. ‘n Geweldige groot taak en verantwoordelikheid.
Dit is egter nie nét Paulus wat vir ons leer dat dít die manier is hoe God oor sy Kerk regeer nie. Petrus sê dit ook in sy brief en dan gebruik hy die beeld van ‘n skaapherder. Hy skryf in 1 Petrus 5: 1 – 4: “As mede-ouderling en getuie van die lyding van Christus en ook deelgenoot aan die heerlikheid wat geopenbaar sal word, dring ek by die ouderlinge onder julle daarop aan: Pas die kudde van God, wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ‘n voorbeeld vir die kudde te wees. En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang.”
‘n Ouderling is dus soos ‘n skaapwagter wat in diens van ‘n boer staan. Hy is nie die eienaar van die skape nie, maar hy word geroep om die skape se wagter te wees en hulle op te pas. Die boer het hierdie trop skape aan sy sorg toevertrou en hy moet toesig oor hulle hou en met toewyding hulle blý versorg. Hierdie skaapwagter – of ouderling dan – moet besef dat hy nie die belangrikste is nie. Daar is ‘n Opperherder wat aan die kom is en wat van hom rekenskap sal eis oor hoe Hy sy kudde behandel het. As die ouderlinge van die gemeente, God se kudde op die régte manier gelei en versorg het, sal hulle die heerlikheid as kroon ontvang – ‘n titel en ‘n eer wat tot in ewigheid nie sal vergaan nie.
Maar op grond waarvan het hierdie apostels die geság om so uitgesproke oor die rol van die ouderlinge te wees? Waarom kon Paulus bv. vir Titus sê dat hy die formele aspekte van die gemeente in orde moet kry en dat daar ouderlinge in die gemeente bevestig moet word? Die eerste drie verse van Paulus se brief aan Titus gee vir ons die antwoord, geliefdes! Paulus maak homself in vers 1 bekend as ‘n dienaar van God en ‘n apostel van Christus. En dan sê hy dat hy van God-Drie-Enig die opdrag ontvang het om God se uitverkore kinders tot geloof en tot kennis van die Waarheid te lei. Hulle het die gesag om hierdie tipe dinge te sê – nie uit hulself nie, maar omdat Hulle God se Woord bedien. En dit is presies wat Woordbedienaars, soos hy en Titus, behoort te doen: in effek is hulle óók ouderlinge aan wie God sy gemeente toevertrou het. Mense soos Paulus en Titus ontvang egter ‘n klemverskuiwing in hulle roeping –hulle word geroep om mense tot geloof in God te lei en ook tot kennis van die Waarheid.
En hoe doen ‘n mens dit? Hoe lei jy iemand om in God te glo en om Hom te leer ken? Alleen deur God-Drie-Enig aan hulle bekend te maak, nie waar nie? Alleen deur God se Woord suiwer en in eenvoud aan alle mense te verklaar. Ál manier waarop ons in God kan glo en oortuig kan word van die Waarheid, is as ons Hom in sy Woord leer ken, geliefdes. Ons fokusvers leer ons dat God Homself aan sy kinders wil bekendmaak deur die prediking van sy Woord. Paulus sê in vers 3 dat God vir hom die opdrag gegee het om te preek. Nog verder as dit – God het hierdie opdrag om te preek aan Paulus toevertrou! Dieselfde gedagte word gebruik wanneer Petrus sê dat die kudde van God aan die ouderlinge toevertrou is.
Die Woordbedienaars van ‘n gemeente ontvang dus dieselfde opdrag as die ouderlinge van die gemeente: God vertrou hulle om sy Woord suiwer te bedien waar ouderlinge deur God vertrou word om sy kudde te bestuur. En dan lees ons iets baie besonders in die eerste vers van Titus 1: Paulus wys ons daarop dat kennis van God se Waarheid, gelowiges lei tot diens van God. Wanneer ‘n mens dus die Here leer ken, deur suiwer prediking, dan wil ‘n mens Hom dien. Titus behoort bloot die Evangelie te bring en dít sal die gelowiges van Kreta dryf om God in die gemeente te dien.
Woordverkondiging is dus nodig vir die ampte/dienste om te funksioneer. En daarom ontvang Titus hierdie geweldige groot opdrag om die gemeente in Kreta rég te laat funksioneer. Paulus sê hom nie voor nie en dwing nie iets op Titus af nie – as mede-dienaar van God, gee hy vir Titus hierdie opdrag omdat hy in diens van God staan. Omdat Jesus Christus en die Heilige Gees van hom ‘n apostel gemaak het. Hy het die gesag om vir Titus hierdie opdragte rakende sy dienswerk te gee, want Gód gee vir hom hierdie gesag. Met dieselfde Bron van gesag behoort Titus ook sý dienswerk in die gemeente te doen. Wanneer Hy Jesus Christus ten volle aan die inwoners van Kreta bekendmaak, sal gehoorsaamheid aan God volg. Die Heilige Gees sal bekering en geloof bring sodra God se Woord suiwer gepreek en verklaar word. En daarom behoort Titus konstant te vertel van Jesus Christus se Menswording, sy Verlossing aan die kruis, sy Oorwinning oor die dood en sy Wederkoms wat Hy aan gelowiges beloof. Titus moet nie moeg word om te preek oor God die Vader wat Skepper van hemel en aarde is nie. Hy word geroep om aan te hou getuig van God se ewige Verbond en hoe die Heilige Gees ons daagliks nuutmaak. En soos hy preek moet Titus ouderlinge bevestig sodat hulle hierdie gemeente van God kan lei en regeer en óók sodat hulle kan toesig hou oor wat in hierdie gemeente gepreek word.
Is ons getrou aan ons roeping?
Want soos ons in die laaste paar verse van hierdie hoofstuk lees, was daar baie mense op die eiland, Kreta, wat gelowiges verlei het. Ons hoor hoeveel skade hierdie mense in die gemeenskap gedoen het en hoe hulle verskeie huisgesinne in verwarring gebring het. En daarom ontvang Titus die opdrag om hulle met God se Woord tereg te wys. Paulus beklemtoon die noodsaaklikheid dat hierdie valse leraars stilgemaak moet word. En daarom behoort Titus die bevestiging van ouderlinge prioriteit maak, want dit is hulle wat toesig hou oor dít wat in die kerk geleer en gedoen word.
Maar hoe gaan Titus weet wié om as ouderlinge te kies? Aan watter vereistes behoort ‘n ouderling te voldoen om die kudde van God op die regte manier te lei? Beide Pastorale briewe, Titus én Timoteus, bespreek die noodsaaklikheid van ampsdraers in die gemeente. En dan is dit baie opvallend dat Paulus nie noodwendig beskryf wát hulle behoort te doen nie, maar eerder hóé hulle behoort te lyk. ‘n Ampsdraer se léwe is dus geweldig belangrik. Wat hy doen en sê en hoe hy die mense in die gemeente hanteer bepaal die hele dinamika van die gemeente. Ons kan so ver gaan as om te sê dat dit van die ouderlinge se dienswerk afhang hoe gesond of ongesond die gemeente is.
Om hierdie “siftings-proses” vir Titus makliker te maak, gee Paulus vir Titus eienskappe of kenmerke waarna hy opsoek moet wees wanneer hy ouderlinge vir die gemeente oorweeg: ‘n Ouderling moet eerstens sy eie nietigheid besef en verstaan dat hy maar net in diens van God staan. Dit is nie sý gemeente of sý lidmate nie, hy is maar net oor hulle geestelike lewe aangestel en verantwoordelik – die gelowiges blý God se eiendom. ‘n Ouderling behoort onberispelik te wees – dit beteken eintlik dat hy sonder foute sal wees – of dan iemand wat nie aspris en opsetlik sonde doen nie. Verder moet hy nét sy eie vrou liefhê, ook sy kinders en huishouding goed kan bestuur sodat hy kan weet hoe om die gemeente van God te kan lei in die Waarheid. ‘n Ouderling behoort só te leef dat niemand binne óf buite die gemeente rede sal hê om hom van énige sonde te beskuldig nie. Hy moet met sy mede-ouderlinge en die predikant klaarkom en nie eiesinnig wees nie, want hierdie diens word nie nét aan een of twee toevertrou nie, maar aan ál die ouderlinge – sáám met die predikant (Bevestigingsformulier).
Verder behoort enige ouderling homself in toom te kan hou – sy emosies én sy optrede. Hy mag nie ‘n rusiemaker wees nie en ook nie iemand wat op ‘n oneerlike manier wins maak nie. Hy behoort gasvry en liefdevol te wees. Hy moet iemand wees wat oor besondere wysheid beskik en alle mense van die gemeente regverdig behandel. Wanneer Titus nie iemand in Kreta kry wat rééds so is nie, behoort hy hierdie manne met die Woord toe te rus. Nie alle mense beskik van sélf oor hierdie eienskappe nie, en daarom behoort Titus konstant die Evangelie aan hierdie mense bring sodat hulle hul roeping kan uitleef. Titus moet ál hierdie dinge doen sodat die gemeente in Kreta ‘n Godvresende gemeente kan wees wat op die régte manier funksioneer.
Slot
Van tyd tot tyd, is dit vir élke gemeente nodig om na die Pastorale Briewe te gaan kyk sodat ons ons eie gemeente daarmee kan vergelyk. “Is ons ‘n gesonde gemeente wat op die regte manier funksioneer?” In die volgende drie weke gaan ons voortdurend met híérdie vraag in ons gemoed na die preke kom luister.
Net soos die gemeente in Kreta, wil ons ook eers bepaal of ons gemeente-struktuur op die regte fondasie gebou is. Leef ons gemeente se ouderlinge hierdie eienskappe van Titus 1 uit? Beskik ons kerkraad reeds oor hierdie kwaliteite of is daar verdere toerusting vanuit God se Woord nodig? Streef ons ouderlinge daarna om hul opnuut op hierdie eienskappe, van vers 6 – 9, toe te spits? Is hulle wáre wagters oor die kudde van God? En hoe lyk ons predikant? Is hy iemand wat vir die Here ontsag het en lei hy wérklik die kerkraad – maar ook die gemeente – na die volle Waarheid toe? Getuig sy preke daarvan dat lidmate hul Hoop op die ewige lewe vestig?
Indien dit die geval is, sal hierdie gemeente áltyd op die regte manier bestuur en regeer word. Want dan sal daar áltyd gelowiges wees wat deur hierdie Woordverkondiging gelei en gedryf word om in God se diens te staan sodat hierdie gemeente se toekoms vás en séker kan wees. Amen.