Esegiël 2: 1 – Esegiël 3: 11

Skrifgedeelte: Esegiël 2: 1 – Esegiël 3: 11

Fokusverse: Esegiël 2: 4 en 5

Tema: Die Here rus gelowiges ten volle toe sodat ons die uitdagings van 2023 kan hanteer.

Inleiding

Byna seshonderd jaar vóór Christus se geboorte word Esegiël, as profeet, geroep. Maar wat Esegiël en ‘n paar ander profete uniek gemaak het, was dat hulle nie in hulle eie dorpe of stede geprofeteer het nie. Die geografiese gebied waar Esegiël as profeet van die Here opgetree het, was vir hom onbekend. En die rede daarvoor is omdat hierdie profeet in Ballingskap weggevoer is.

Saam met baie ander gesiene Jode word Esegiël na Babel toe weggestuur – en dít oordat die volk, Israel, swáár teen die Here gesondig het. Al is God se kinders gedurig deur die Here gewaarsku, verhard hulle in hul sonde. En daarom dra die héle volk die gevolge – álmal word met die Babiloniese Ballingskap beproef.

Die Here rus gelowiges ten volle toe

Dit is dus dáár in die vreemde – dáár in Babel – waar Esegiël as profeet moes optree. Iets wat vir ons hieroor sekerheid gee, is dit wat ons reeds in Esegiël 1: 1 lees: “Op die vyfde van die vierde maand, in die dertigste jaar, was ek tussen die ballinge aan die Kebarrivier. Die hemel het oopgegaan en ek het gesigte gesien wat van God af kom.” Dit is dus duidelik dat Esegiël in die stad, Babel, was toe die Here se heerlikheid aan hom, in die vorm van ‘n visioen, verskyn het. Dié van ons wat gedurende die week Esegiël 1 gelees het, sal saamstem dat die beelde wat dáár gebruik word vreesaanjaend is. Ons lees hoe Esegiël op sy gesig platgeval het voor die heerlikheid van God (Es. 1: 28). Waarom is dit nodig dat Esegiël hierdie beelde sien? Wat wil die Here deur die visioene van hierdie vlamme en die wesens en die wiele en die oë sê?

God-Drie-Enig is besig om vir Esegiël toe te rus vir die groot roeping wat binnekort op sy skouers geplaas sal word. Ja, geliefdes, selfs al is hierdie beelde skrikwekkend en onverstaanbaar, is hulle vir Esegiël só nodig. Net om daarvan in die Bybel te lees, laat ‘n mens vreemd voel. Maar selfs al is dit vir Esegiël traumaties om hierdie gesigte te sien, wys die Here dit met ‘n réde vir hom. Want die Here wil iets van sy almal en sy grootheid deur hierdie beelde bekendmaak. Die wesens met die vier verskillende gesigte is minder as Hý wat hulle stuur. Want Hý wat bó hierdie komplekse wesens woon, is God. Selfs al klink hierdie wesens kragtig – en selfs al ís hulle uiters magtig – moet hulle onder God se gesag buig. Hulle is minder as Hy en daarom doen hulle wat God-Drie-Enig van hulle verwag. Hulle kan niks uit hulself doen nie, want dit is die Gees van God wat hulle stuur én wat hulle koers bepaal.

Vir Esegiël is hierdie wesens en dit wat hulle doen, kompleks en vreemd en skrikwekkend, maar in vergelyking met God, is hulle klein en nietig. Hierdie visioen gee aan Esegiël die bewys dat dit alleen God is wat almagtig is. Selfs hierdie wesens, wat moontlik met engele of gerubs vergelyk kan word, het beperkte mag. Hulle het ook alle respek vir Hom wat in die hemele troon – hulle moet selfs hulself bedek as hulle in God se heilige teenwoordigheid inkom. Dit alles sien Esegiël voordat hy as profeet geroep word.

En dan, in die tweede hoofstuk, wat ons vanoggend gelees het, ontvang Esegiël sy roeping. Dieselfde God wat Homself aan Esegiël bekendgemaak het in hoofstuk 1, gee vir hom nou in hoofstuk 2 sy roeping. Geliefdes, ons moet goed verstaan dat Esegiël sy roeping in dieselfde visioen as hoofstuk 1 ontvang het. Kort nadat die Here sy heerlikheid aan Esegiël geopenbaar het, ontvang hy die opdrag om te gaan vertel Wie die Here is. Hierin sien ons God se alwysheid raak, nie waar nie? Hy openbaar éérs sy almag en soewereiniteit aan Esegiël vóórdat God van hom verwag om Hom aan die mense van Babel bekend te maak. Kinders, wanneer ons sê dat God soewerein is, dan bedoel ons daarmee dat Hy, alleen, gesagvol is. Daar is niemand bó Hom aangestel nie. Daar is niemand belangriker as God nie – Hy het die laaste sê.

Die profeet, Esegiël, besef dit al te goed, want hy ervaar stééds sy Skepper se almag wanneer God vir hom sy opdragte gee. Esegiël is diep bewus van die feit dat God óók alomteenwoordig is:- God roep hom juis eers as profeet as Esegiël in Babel is. Byna ál sy tydgenote het gedink dat God slegs in die Heilige Stad, Jerusalem is. Dat sy teenwoordigheid slégs tot die binnekant van die Joodse Tempel beperk is, maar nou openbaar God sy alomteenwoordigheid juis aan Esegiël wanneer hy in die goddelose land, Babel, is. Verder is dit opmerklik dat God Esegiël telkens as “mens” of “mensekind” aanspreek. Hy doen dit juis om die groot onderskeid tussen Homself en sy kinders aan te toon. God blý die Allerhoogste Skepper en Onderhouer van alle dinge in die hemel en op aarde en alle mense moet dit gedurig besef.

Noudat God in sy heerlikheid aan Esegiël verskyn het – noudat Hy sy Almagtige Stem aan hierdie swakke dienaar van Hom hoorbaar gemaak het, roep God Esegiël met ‘n besóndere roeping: Esegiël moes weer opstaan sodat die Here met hom praat. Hy moes met sy hele menswees hierdie opdragte van God aanhoor en ook aanvaar. Tog kan niemand uit homself/haarself voor God verskyn nie (Eks. 33: 20 – 23). Alle mense is té swak en nietig en God is té groot en almagtig. En daarom is dit die Gees van God wat vir Esegiël laat regop staan sodat Hy verder toegerus kan word vir sy roeping. En dan gee God vir Esegiël die herhaaldelike opdrag dat hy maar bloot moet gaan sê wat die Here sê. Wat die inhoud van hierdie Boodskap van God is, weet Esegiël nog nie, maar hy kan begin aflei dat dit ‘n moeilike Boodskap is om oor te dra. Elkeen van ons ,wat hierdie profesie lees, kan ook met sekerheid sê dat daar ‘n negatiewe reaksie op hierdie Boodskap van God sal wees.

Esegiël word deur God geroep en aangestel om hierdie Boodskap oor te dra, al is dit ook vir hom hóé moeilik. Want regdeur die gedeelte wat ons vanoggend saamgelees het, herhaal die Here hoe opstandig die groep mense is waarheen die Here vir Esegiël stuur. Ons hoor keer op keer hoe die volk, Israel, hulself teen die Here verset het en hoe hardkoppig hulle is. God berei dus sy profeet voor vir die mense waarheen Hy hom stuur: Die Here sê in Esegiël 2: 4 dat hierdie groep mense moedswillig en hardkoppig is. Hulle is ‘n weerbarstige of wederstrewige volk, hoor ons in dieselfde vers. Dit beteken dat hierdie groep mense aktief teen die Here in opstand gekom het. Hulle word geken aan hulle rebellie teen God en hulle is al vir geslagte lank in opstand teen Hom en sy Woord. Selfs al is hierdie mense déél van God se uitverkore volk, kom hulle in aktiewe opstand teen hulle Verbondsgod. Dit is tog die rede waarom hulle nou in Ballingskap is, nie waar nie? Maar juis in die mens se sonde en gebrokenheid sien ‘n mens dikwels die Here se liefde en genade die duidelikste raak.

Want selfs al het hierdie kinders van die Here teen Hom gerebelleer – selfs al wil dit voorkom asof hulle niks met Hom te doen wil hê nie, is Hy dáár. Selfs in sy heilige woede reik die Vader na sy kinders uit en Hy doen dit in alle liefde, geliefdes. Hy stuur sy bekwame profeet onder hulle in om hulle maar net wéér aan sy heilige wil te herinner. En al klink dit na ‘n byna onmoontlike en onredelike opdrag van die Here, rus God vir Esegiël selfs vêrder toe, geliefdes. Sy Vader troos hom deur hom konstant te verseker dat hy nie bang vir hierdie roeping hoef te wees nie. Esegiël hoef ook nie vir hierdie mense bang te wees nie, want selfs al is hierdie mense hardkoppig en selfs al is hulle harte verhard, rus die Here sy profeet met stérker eienskappe toe. Hy beloof Esegiël in hoofstuk 3: 8 en 9: “Maar Ek maak jou nét so onversetlik as wat hulle is, jou kop nét so hard soos hulle s’n. Soos diamant, harder as rots, só maak Ek jou kop. Moenie vir hulle bang wees nie. Moenie vir hulle skrik nie.

Daarom kan ons die uitdagings van die Nuwe Jaar hanteer

En dan vind ons die hoogtepunt van Esegiël se toerusting in die skarnier tussen hoofstuk 2 en 3. Esegiël sien in sy visioen ‘n hand wat na hom toe uitgesteek is wat ‘n boekrol vashou. Die Here se opdrag aan Esegiël was ‘n vreemde opdrag, maar ons moet onthou dat dit steeds deel van sy visioen was en dat hy simbolies hierdie boekrol van die Here moes opeet. Hierdie boekrol dui natuurlik op God se Wil en op sy Woorde wat Esegiël aan sy volksgenote moes oordra. Ons lees dat hierdie boekrol aan albei kante vol geskryf is en dat dit verskillende uitsprake van God bevat het. God bied dus sy vollédige Woord vir Esegiël aan en dan is dit opmerklik dat Esegiël dit nie self eet nie – hy is totaal passief voor die almagtige God. Dit is God wat hom hierdie boekrol laat eet het. Dit is Gód wat sy geroepe dienaar toerus met sy Woord en Gees sodat hy kan uitgaan om die volle omvang van die Almagtige te gaan verkondig.

En dan lees ons dat hierdie boekrol soet was in Esegiël se mond – iets wat ons op verskeie ander plekke in die Skrif ook raaklees. Die profeet, Jeremia, sê op ‘n keer dat hy die Here se Woord verslind het toe Hy dit ontvang het. Hy sê dat hierdie Woorde van die Here vir hom ‘n vreugde was en dat hy daaroor bly was (Jer. 15: 16). In Psalm 19: 8 – 12 hoor ons dat die bepalings en die eise van die Here vir ‘n ware gelowige kosbaarder as goud is en dat die Here se Woord soeter as die soetste heuning is. Wanneer God ‘n mens toerus met sy Woord is dit soeter as heuning, selfs al is sy Boodskap met oordeel gevul. ‘n Ware gelowige sal altyd ‘n diep vreugde in die Here se Woorde vind, want, deur die genade, kom die oordeel hulle nie toe nie. Te danke aan ons Hoogste Profeet, Jesus Christus, word al God se oordeel in sy kruisdood gedra.

Ons Here, Jesus, ervaar veel erger teenkanting as wat Esegiël ooit in Babel ervaar het. Hy bring sy eie Woorde aan mense wat só teen Hom gerebelleer het, dat hulle Hom laat kruisig het. En al het Hy ook nie die toekoms geken nie en nie geweet wat presies vir Hom wag nie, het Hy sy Vader ten vólle vertrou. Al lyk dit asof die mense Hom oorwin, is Hy die Ware Oorwinnaar. Hy oorwin die sonde en die dood toe Hy daardie Sondag uit die dood opstaan!    Geliefdes, dit is ook die manier waarop ons na die Babiloniese Ballingskap, in Esegiël se tyd, moet kyk. Dit wil voorkom asof die goddelose volk wen – asof hulle ‘n houvas op die kinders van Israel het – maar God bly in beheer! Hy bly in beheer van hoe hierdie mense op sy Woordverkondiging gaan reageer, want Hy, alleen, bepaal hulle toekoms!

En presies dieselfde genade geld vandag vir ons, geliefdes. Al is ons toekoms onseker en al ervaar ons geweldig moeilike tye, bly God in beheer van ons hele bestaan. Nie één van ons weet wat hierdie jaar gaan inhou nie. Nie één van ons weet watter moeilikhede hierdie jaar vir ons wag nie. Maar van een ding kan ons seker wees, en dit is dat die Here elkeen van ons ten volle sal toerus om al die uitdagings van die nuwe jaar kan hanteer. Al voel dinge vir ons vreemd in hierdie jaar. Al voel dit vir ons asof ons, soos die ballinge, op onbekende terrein rondbeweeg, kan ons vás oortuig daarvan wees dat die Here élke dag met ons sal wees.

Slot

So kom ons gaan daarom hierdie nuwe jaar met alle moed in, geliefdes. Al lyk dinge vir ons onbekend en al gaan ons dalk baie ongerief hierdie jaar beleef, rus die Here ons elkeen toe om die onbekende van 2023 te hanteer. En hoe rus Hy ons toe? Hy gee sy Woord en sy Gees aan ons sodat ons bemoedig en versterk kan word. Dit word van elkeen van ons verwag om hierdie jaar so náby aan Hom te leef dat ons op die regte manier sy Woord sal ontvang. Dat ons ons vreugde dáárin sal vind.

Verder word dit óók van ons verwag om in hierdie jaar van Hom te getuig wat hierdie Woord aan ons gee – selfs al ervaar ons nou en dan teenkanting. Want ons Almagtige God blý in beheer, geliefdes – van álles wat hierdie jaar mag inhou. Amen.

Ds. Daniel Myburgh

Ds. Daniel Myburgh

Gereformeerde Kerk Venterstad