Skrifgedeelte: Esegiël 3: 12 – 21
Fokusvers: Esegiël 3: 17
Tema: God roep ons om ons naaste te waarsku.
Inleiding
Het jy al ooit gewonder hoe om iemand te hanteer wat opsetlik sonde doen? Iemand wie jy ken, laster bv. dalk gereeld tydens julle gesprekke. Jou kollega by die werk, word ewe skielik ‘n ateïs. Jou skoonfamilie vertel jou dat hulle nie meer kerk toe gaan nie, en verkies om deesdae Sondae eerder by die huis te bly. ‘n Kind in jou klas is só ongeskik met sy/haar ouers dat dit jou, vir máánde lank, ontstel. Jy is bewus van iemand náby aan jou se buite-egtelike verhouding, maar daardie persoon het jou gevra om asb. eerder daaroor stil te bly.
Was jý ook al in só ‘n ongemaklike situasie soos een van die bogenoemde? Het jý ook al gevoel jy is in twee geskeur oor iemand anders se sonde? Jy weet góéd dat dít waarmee hy/sy besig is, verkeerd is, maar jy wil ook nie op iemand se tone trap nie.
In vanoggend se preek gaan ons na God se wil luister oor hoe ons iemand moet hanteer wie ons wéét opsetlike sonde doen.
God roep ons om ons naaste te waarsku
In Esegiël 3, is die profeet, Esegiël, steeds besig om sy visioen van God se heerlikheid te sien. In verlede week se preek het ons in detail gehoor wat hierdie openbaring van God behels. Die Here toon se absolute almag, alwysheid én alomteenwoordigheid aan Esegiël. En daarná gee God-Drie-Enig vir Esegiël sy opdrag. Geliefdes, die Here doen dit sodat Esegiël met méér inpak God se Boodskap kan gaan verkondig. Die Here wéét dat ons, mense, maar swak en nietig is. Dit is daarom eers nodig dat Esegiël sélf die Boodskap sal gló wat hy aan ander mense moet bring. Om toe te sien dat God se Woorde met impak die bannelinge bereik, is dit nodig dat Esegiël sal beséf én gló dat God se Woord vir sy volksgenote belangrik is. Wanneer God dus in hierdie onverstaanbare en vreesaanjaende visioene aan Esegiël verskyn, doen Hy dit sodat Esegiël kan besef hy die Allerhoogste aan die mense in Babel moet gaan bekendmaak. Vanoggend het ons die laaste gedeelte van God se eerste openbaring aan Esegiël gelees.
Hierdie visioen van Esegiël sluit af met ‘n paar geluide wat hy hoor terwyl die Heilige Gees hom “opgetel en wegneem” van die Here se heerlikheid, soos ons lees. Ons kan dit eerder sien dat Esegiël teruggekeer het na die werklikheid en dat sy geestesvervoering vir eers klaar was. Maar nét voordat hierdie visioen van die Here hom verlaat het, het Esegiël drie verskillende geluide gehoor: hy hoor die geruis van die wesens wat met hulle vlerke aan mekaar geraak het, die gedreun van die verskillende wiele asook ‘n geweldige ander gedreun – amper soos die geluid van ‘n baie groot aardbewing. Geliefdes, die profeet, Esegiël, het al hierdie oorverdowende geluide gelyktydig gehoor – ons kan onsself net indink hoe oorweldigend dit vir hom moes gewees het. Hierdie geluide, wat Esegiël hoor, dui op twee dinge, nl. die wesens se gehoorsaamheid en die Here se grootheid. Nadat die Here se heerlikheid aan Esegiël bekendgemaak is, gee God opdrag dat álles in die hemel sy heerlikheid behoort te loof, en onmiddellik voer die hemelwesens hulle roeping uit. Hulle maak gereed om weer gestuur te word – waar die Here hulle ook al wil stuur. Dieselfde word van die nuwe profeet, Esegiël verwag. Deur die Here se genade gee die Almagtige vir hom ‘n voorbeeld van hoe gehoorsaamheid en gewilligheid behoort te lyk.
Tesame met die geluid van die aktiewe wesens, hoor Esegiël ook iets wat soos ‘n geweldige aardbewing klink. Esegiël kan nie die grootheid van God se almag beskryf nie, en daarom sê hy dat die Here se stem bv. soos ‘n groot aardbewing klink – dit is die naaste aan waarmee Esegiël die stem van die Here kan vergelyk. En stééds is dit maar ‘n geringe vergelyking, geliefdes. God se stem is soveel kragtiger – soveel harder – as die grootste aardbewing. Esegiël besef dus báíe goed Wie sopas met hom gepraat het. Hy besef hy moet ook spoedig aan die opdragte van die Here uitvoering gee, maar dít wat Esegiël sopas gesien en ervaar het, is vir hom gewéldig traumaties. Ons lees in vers 14 hoe hy swaarmoedig en ontsteld was. Die Ou State-Vertaling sê dat Esegiël se gees bitterlik bedroef was. Esegiël was dus verbitterd en verslae nadat die heerlikheid van God-Drie-Enig aan hom verskyn het. Hy sien, na alle waarskynlikheid, nie káns vir hierdie geweldige roeping wat hy nou ewe skielik moet uitvoer nie. Dít wat hy sopas ervaar het, verwar hom vir ‘n tyd lank. Die Almagtige Sélf het aan hom ‘n opdrag gegee, en steeds weet hy nie juis wat hy moet doen nie. Hy besef hy is nou profeet van die Here, en dat hy God se Woorde moet gaan bekendmaak, maar wat presies verwag die Here van hom? Al waaraan hy kan dink was die geweldige visioen van die wesens en die wiele en die oë en die boekrol wat hy moes opeet. En daarom is dit te verstane dat Esegiël eers, vir sewe dae lank gaan stilsit het om dit, wat hy ervaar het, te verwerk.
Vanuit ander dele in die Bybel sien ons dat dit vir gelowiges normaal is om vir ‘n paar dae lank die Here se Woorde te prosesseer nadat die Here op ‘n besondere manier met hulle gepraat het. Nadat die priester en skrifgeleerde, Esra, van sy volk se gruwelike sonde gehoor het, het hy vir ‘n tyd lank homself voor God verootmoedig. Soos Esegiël kan hy werklik verstaan hoe teleurgesteld die Here in sy kinders moet wees. Ook Job se vriende het vir sewe dae en sewe nagte maar net by hom gesit – in totale stilte – want hulle het gesien dat sy smart baie groot was oor dít wat die Here in Job se lewe toegelaat het (Job 2: 12, 13). En laastens lees ons in Handelinge 9: 9 dat Paulus vir drie dae lank niks kon sien nie. Hy het vir dieselfde tydperk ook niks geëet of gedrink nie. Die impak wat God se heerlike lig daardie dag op pad na Damaskus op hom gemaak het, was té groot – dit het Paulus totaal en al oorweldig.
En net só sit Esegiël, vir ‘n volle week lank, maar net in stilte daar by sy volksgenote in die Ballingskap. Die impak wat God se heerlikheid op sy kinders het, is lewensveranderend, geliefdes. In hierdie tydperk van stilte en peins en gebed, rus die Here sy profeet selfs vérder toe. En dan, nadat Esegiël vir ‘n volle week stil kon wees voor die Here, praat die Here weer met hom. In ons fokusvers bevestig God dat Hy Esegiël wérklik geroep het. Die Here noem aan Esegiël dat Hy hom as “wag” oor sy volk, Israel, aangestel het. Wanneer ons dink aan Esegiël as “wag” of “wagter” van die Here se volk, dan kan ons aan ‘n militêre soldaat dink wat maar een opdrag gehad het, en dít was om letterlik wag te staan. Die stede van daardie tyd het almal mure gehad wat hulle beskerm het. Hierdie wagtende soldate het op die stad se mure gestaan en moes die volk en weermag waarsku as hulle die vyand sien nader kom. Hulle het dus ‘n geweldige groot verantwoordelikheid en roeping gehad, geliefdes. Alle inwoners van die stad se léwe was in hierdie wagters se hande.
En nou kry Esegiël óók die opdrag om as wagter vir die volk op te tree en hulle te waarsku as daar gevaar kom. Anders as die soldate, het Esegiël nie die plig gehad om hulle van fisiese gevaar in kennis te stel nie, maar van geestelike gevaar. Esegiël ontvang eerstens die plig om die goddelose/ongelowige mense te waarsku dat hulle tot geloof in God moet kom, anders sal hulle beslis sterf. Want dit is tog God se straf op die sonde, nie waar nie? (vgl. Gen. 2: 16, 17). Indien die ongelowige mense steeds aanhou om in hulle ongeloof te volhard, selfs ná hierdie waarskuwing, dan is sal hulle sélf rekenskap vir hulle eie goddeloosheid moet gee. Maar indien Esegiël versuim om sy plig teenoor hulle na te kom, dan sal hy sélf vir hulle optrede moet rekenskap gee (Es. 3: 18, 19).
Dit sê die Here van ongelowiges, maar dieselfde geld vir gelowiges. Indien ‘n kind van die Here sy/haar régte lewe laat vaar en in die sonde bly lê, dan moet Esegiël ook daardie persoon met die Here se Woord gaan waarsku. Die gelowige behoort dan hierdie waarskuwing van die Here as genade beskou, want hy/sy kry nóg ‘n kans om geestelik “oor te begin”. Deur die Here se liefde verwag God van hierdie kind van Hom om weer op die regte manier te lewe. Indien daar geen berou en bekering is nie, sal die sondaar sélf rekenskap vir sy/haar opstand teenoor God moet gee. Maar indien die Here se profeet nié moeite gedoen het om daardie persoon te gaan waarsku nie, sal die Here se oordeel oor daardie sonde, op die profeet afkom (Es. 3: 20, 21).
Geliefdes, besef u die geweldige verantwoordelikheid wat ‘n profeet van die Here het? Besef u die geweldige verantwoordelikheid wat ons, as aanhoorders van God se Woord, het? In hierdie gedeelte sluit God niemand uit nie. Hy praat met die ongelowige, maar ook met die gelowige. Alle mense op aarde ontvang die opdrag om op te hou met die sonde en hulself tot Gód te bekeer. Dit is die boodskap wat álle profete – regdeur die Bybel – aan ander mense verkondig het.
Vanaf die Ou Testament, tot met die Nuwe Testament stel God wagters aan sodat hulle sy kinders kan waarsku as hulle geestelike lewe in gevaar is. Een Wagter het egter méér gedoen as om bloot met sy mond die mense rondom Hom te waarsku. Hý is ons Here, Jesus Christus, wat met álle gesag sê: “Ek is die goeie Herder/Wagter. Ek ken My skape en My skape ken My. Ek lê My lewe vir My skape af. My skape sal na My stem luister, en hulle sal een kudde wees met Een Herder” (Joh. 10: 14 – 16). In die God se uitverkiesende genade en liefde is Jesus Christus nie nét gewillig om ons terug te roep na sy Vader se wil nie. Hy is selfs bereid om vir ons sondes aan die kruis te sterf. Dít sodat Hy kan verseker dat ons almal één kudde sal wees met Een Herder wat oor ons waghou.
Hoe voer ek hierdie roeping prakties uit?
Die vraag is net, ken ons wérklik sy stem? Luister ons daarna en doen ons wat Hy van ons vra? Of volg ons ons eie koppe? Is ons hardkoppig en dryf ons gedurig wég van sy kudde af? Elkeen van ons behoort hierdie vrae vir onsself te kan beantwoord, geliefdes. Aangesien ons God se kinders is, behoort ons elke dag daarna te streef om God se heilige wil te doen. Dit kom dalk nie altyd vir ons maklik nie, en daarom stel God vandág nog wagters in die gemeente aan om lidmate van die gevaar te waarsku.
Al is die predikant amptelik deur die Here geroep en aangestel om, as profeet, die gemeente te lei, ontvang élkeen van ons ook hierdie opdrag, geliefdes (vgl. Heidelbergse Kategismus Sondag 12). Indien ons wérklik ons naaste liefhet, sal ons hulle waarsku as ons sien dat hulle geloofslewe in gevaar is. Maar hoe doen ‘n mens dit? Hoe waarsku ek iemand wat diep in die sonde geval het? Jy voel dalk dat jy nie opgelei is om só iemand te hanteer nie. Jy voel dalk dat jou persoonlikheid nie van só aard is om iemand te gaan aanspreek nie. Geliefdes, u hoef nie so te voel nie. Want wanneer ons maar net bloot die Here se Woord aan só iemand gaan bedien, dan is dit die Heilige Gees wat die werk doen. Ons moet net bereid wees om, iewers in ons lewe, tyd af te staan vir ons naaste en die Bybel met hulle te deel. Sodra ek voel ek moet iemand met my éie wysheid en raad gaan bystaan, dan sál dit moeilik wees. Wanneer ek hulle met wêreldse motivering wil gaan beïndruk, dan het ek rede om angstig te voel, maar dit is tog nie wat van gelowiges verwag word nie.
Baie keer soek ons na verskonings om nié betrokke te raak by mense se geloofslewe nie, want dit is dalk vir ons ongemaklik. Baie keer voel ons dat ons nie in die posisie is om met iemand te praat nie, of dat ons nie opgewasse teenoor hulle is nie. Maar die Here verwag dit van ons, geliefdes, ongeag van ons ouderdom of ons status teenoor daardie persoon. Dit verg dalk meer inspanning en vertroue op God om iemand met die Here se Woord te gaan waarsku wanneer ons onbekwaam of te jonk voel, maar dit is juis dán wanneer God kragtig deur ons aan die werk kom. Juis wanneer ons ons eie swakheid erken, en alleen op God se almag staatmaak, sodat Hý ‘n oplossing in daardie persoon se lewe sal bewerk.
Wanneer ons na verskonings soek om nié oor ons naaste se geloofslewe te waak nie, dan is ons soos die groot sondaar, Kain, wie sy éie broer – sy heel naaste – doodgemaak het (Gen. 4). Toe die Here hom kort daarna vra, “waar is jou broer, Abel?” toe antwoord Kain heel onsensitief: “Ek weet nie. Is ek my broer se wagter?” Deur die geloof ís ons mekaar se wagters, geliefdes. Ons waak oor mekaar se lewens. Ons almal – maar verál die ouderlinge en predikant – word aangestel om mekaar te waarsku as ons sien iemand se geestelike lewe is in gevaar.
En wat maak ons dan as iemand steeds in die sonde volhard – selfs nadat ons hulle uit die Bybel gewaarsku het? Dit is dán wat ons, soos die apostels, die stof van ons skoene kan afskud en aangaan met ons lewe. Wanneer iemand sélfs ná twee of drie vermanings geen berou en verandering in hulle lewe toon nie, dan het ons geen meer verpligting teenoor hom/haar nie. Titus sê dat ons met só iemand niks te doen moet hê nie, want deur daardie persoon se sonde bring hy oordeel oor homself (Tit. 3: 10, 11).
Slot
Geliefdes, selfs al is dit vir ons ongemaklik, verwag die Here van ons om soms met ons naaste te praat oor hulle sonde – verál as hulle daarin vasgevang is. Maak nie saak wié dit is nie, die Here verwag dit van ons om mekaar te waarsku wanneer ons té naby aan die afgrond kom.
Of dit nou jou kollega by die werk is, of jou skoonfamilie, of ‘n leerder wat saam met jou in die klas sit – ons kan nie iemand se sonde goedpraat nie. Mag elkeen van ons ons roeping besef en bereid wees om ons naaste te waarsku. Amen.