Mattheus 6: 19 – 24

Skriflesing: Mattheus 6: 19 – 24

Fokusverse: Mattheus 6: 22 en 23

Tema: Waar lê jou skat? Hoe kyk jy daarna?

Inleiding

Mattheus 6 vorm deel van Jesus Christus se sg. “Bergpreek” of “Bergrede”. In hierdie gedeelte is Jesus Christus dus besig met sy heel eerste amptelike preek op aarde. En in hierdie preek van Hom is Hy besig om gelowiges se visie te verbreed. Christus laat hulle met ander oë na die vervulling van God se Ou-Testamentiese beloftes kyk. Deur sy eerste preek veroorsaak Christus óók dat gelowiges met ander oë na Homself kyk, nl. dat Hy aan verskeie dinge nuwe betekenis kom gee het.  

Waar lê jou skat?

In hierdie gedeelte van die Bergrede gee Jesus Christus vir sy navolgers uitsonderlike wysheid. Hy leer ons dat ons fokus nie op áárdse dinge moet wees nie, maar dat ons eerder ons fokus op hémelse dinge sal stel. En, soos ons weet, word hierdie wysheid nie deur álle mense aanvaar nie. Net wáre gelowiges glo wat in hierdie gedeelte staan. Net wáre kinders van God ontvang die insig van die Heilige Gees om skatte in die hemel bymekaar te maak – en só onderskei ons dan onsself van die goddelose mense. As gelowiges, is ons nié oor aardse skatte besorg nie, maar oor hemelse skatte. Want ons wéét: – dít is daar waar ons Váder is. En dit is ook waarheen óns op pad is. En al is hierdie hemelse skatte onsigbaar, is dit baie meer ég en wáár as die tydelike skatte wat mense op die aarde bymekaar maak. Omdat ons gelowiges is, weet ons dat hierdie skatte wél bestaan, al kan ons dit nie sien nie. Al sien ons ook nie vir God fisies raak nie, wéét ons dat Hy bestaan! Ons gló dit! Ons geloof maak dit werklik aan ons moontlik om die onsigbare te sien.

Dieselfde geld vir hierdie hemelse skatte. Ons het die geloofs-wysheid om in te sien dat hierdie onsigbare skatte ewig sal hou. Enige aardse objek het maar net ʼn sekere raklewe, maar ons hemelse skatte kán nie vernietig word nie. Ons lees in vers 20 dat ons hemelse skatte nie deur motte verweer sal word nie. Ons hemelse skatte sal nie kan roes nie. Ons lees in vers 20 dat ons hemelse skatte nooit gesteel sal word nie. “Waar jou skat is, dáár sal jou hart ook wees”, sê Jesus in vers 21. Wat ook al vir jou die heel belangrikste in die lewe is, dáár sal jou grootste liefde ook wees. Dáár waar jou skat is, dáár sal jou fokus wees. Dáár waar die mees belangrikste ding vir jou is, dáár sal jou lojaliteit ook lê.

Waaraan is jy die meeste lojaal? Jou werk, die sport wat jy beoefen, dalk jou gesin? Ons maak ʼn fout wanneer ons dink ons kan ewe lojaal aan iets op aarde én aan God kan wees. Ons moet aardse dinge soos ons beroep of selfs ons gesinne belangrik te ag, maar dit kan nooit swaarder weeg as ons liefde vir ons God nie. Die oomblik wanneer iets vir jou meer waarde het as jou geloof in God-Drie-Enig, dan word dit ʼn afgod.

Materiële dinge – veral géld – word baie maklik ʼn afgod. Daarom gebruik Jesus dit juis as voorbeeld hier in Mattheus 6. Jesus Christus sê dat ‘n mens nie vir God én Mammon kan dien nie. Mammon is die afgod van rykdom – die geldgod. Wanneer jy slégs geld of sukses najaag, dan is jou fokus dáárop en nie meer op God nie. Om geld na te jaag kan ʼn goeie ding wees. Dit gee aan ‘n mens motivering – iets om voor te werk. Maar dit kan egter ook ʼn bodemlose put wees, want mens sal nooit werklik tevrede wees met jou hoeveelheid geld of besittings nie. Wanneer mens geldgierig is, sal jy nooit voel dat jy het nou genoeg nie. Om geld na te jaag ten koste van iets of iemand is ʼn verslawing waarmee gebreek moet word, geliefdes. Wanneer jy op die verkeerde manier streef om meer en meer te kry, dan word jy al verder van God en jou gesin verwyder. ‘n Mens kan nie God én geld dien nie. “Jy kan nie twee base dien nie”, sê Jesus in vers 24. Wanneer geld, of geldgierigheid, jou beheer, sal jy altyd streef na meer, maar nooit genoeg kry nie.

Mens sal dan moet kies tussen die wáre God of jou afgod. Ons kan nie ewe lojaal aan altwee wees nie. Gelowiges besef daarom dat die regte keuse Gód is. Om aan God, alléén, lojaal te wees, is wat God van sy kinders verwag. Dit is nie altyd ʼn maklike keuse nie, want die sonde in ons wil altyd sélf laat regkom. Ons verkies dit baie keer om hard te werk sodat ons wéét ons het genoeg in die lewe. Ons wil dikwels sélf sorg – net ingeval God dalk nié voorsien nie. 

Wanneer mens só voel, dán ervaar ‘n mens druk. Dan beleef mens ʼn groot bekommernis. In hierdie tye kan mens se gesinslewe skade lei, want mans en vroue voel gedruk om harder te werk ter wille van versorging van hulle gesinne. As gelowiges, is dit ons plig om hard te werk (vgl. Gen. 2: 15; 3: 19) maar áltyd in afhanklikheid van God. Ons hoef nooit te voel dat ons self planne moet maak om vir ons gesin te sorg nie, geliefdes, want ons bly tog altyd afhanklik van die Here. God bly vir ons sorg!

Dit is ons Hemelse Vader Wie ons gemaak het wat ons vandag is. Dit is alleen Gód wat aan ons elkeen die geleenthede gegee het om te bereik wat ons bereik het. Dit is alleen Hy wat ons elke dag dra. Wat aan ons genoeg insig gegee het sodat ons, as gelowiges, vandag hier wīl wees. Dit is die Hére wat gesorg het dat ons sy kinders is. Dat ons in Hom glo. Dit is alleen sy Gees wat veroorsaak dat ons Hóm bo materiële afgode kies. Wanneer ons dit besef, dan beteken die verse wat op ons Skrifgedeelte volg, vir ons só baie. “Daarom (omdat jy God as jou énigste Eienaar kies) moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet of oor wat julle sal drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is dit lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?” Jesus Christus belowe vandag aan ons dat ons nie ons hoef te bekommer oor dinge soos kos en klere nie. As ons die Here as ons Énigste Here kies, dan gee Hy die waarborg aan ons dat Hy vir éwig vir ons sál sorg.

Hoe kyk jy daarna?

Jesus sê in vers 21: “Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” En dan gaan Jesus áán met hierdie gedagte in vers 24 en sê dat ‘n mens nie vir God én Mammon kan dien nie. Hierdie twee verse is baie bekende Bybelverse wat gelowiges graag aanhaal. Want met hierdie woorde wil Jesus dan sy navolgers se uitkyk op die lewe verander. Maar tússen hierdie twee bekende uitsprake van Jesus lees ons ‘n ánder gedeelte – ‘n gedeelte wat baie mín gelowiges sal aanhaal. In Mattheus 6: 22 en 23 sê Jesus: “Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog boos is, sal jou hele liggaam donker wees. As die lig in jou donker is, hoe groot is die duisternis nie!

En al klink hierdie verse asof dit nie regtig sin maak in die konteks waarin dit staan nie, sê Jesus dit met ‘n rede, geliefdes.In ons fokusverse gebruik Jesus dan hierdie metafoor van ‘n mens se oog wat soos ‘n lamp/lig vir ons liggame is. Indien ‘n mens se oog suiwer/onbesmet is, dan sal jou hele liggaam verlig wees, sê die Here. Maar indien ‘n mens se oog “boos” of “verkeerd” of “sleg” is, dan sal ons liggame donker wees. Die Here praat hier oor die manier waarop ons na dinge in die lewe kyk. Verál dan oor die manier waarop ons na sy versorging vir ons in die lewe kyk. Ons kan hierdie beeld beter probeer verstaan deur aan iemand te dink wat ‘n bril dra: Daardie persoon kyk na alles in die lewe deur sy/haar bril. Wanneer die bril se lense skoon is, dan sien die persoon alles mooi helder en duidelik, maar wanneer die bril se lense vuil of gekraak is, dan sal hy/sy súkkel om alles mooi te sien.

Soos met baie ánder dinge in die Bybel dui Jesus se woorde híér nie op hoe ons fisies na dinge kyk nie, maar eerder hoe ons na die lewe, as geheel, kyk. Deur die Here se genade sien gelowiges dinge soos dit werklik is. Wanneer ons na die Here en na ons eie lewe en na ons geloof kyk, dan is dinge vir ons duidelik. Dit is vir ons maklik om die Here se hand in ons lewens raak te sien, want ons kyk deur ‘n eenvoudige bril wat net één, skóón lens het. Te danke aan Christus, is gelowiges se visie dus helder en duidelik, maar ongelowiges sien dinge ánders.

Wanneer óngelowiges na die lewe kyk, dan is dit so al asof hulle deur ‘n bril met ‘n dubbele lens kyk. Hulle sien nié dinge soos dit wérklik is nie. Ons kan sê dat hulle deur ‘n bril kyk wat twee lense het. ‘n Bril wat vuil lense het. Ongelowiges kyk na God-Drie-Enig deur ‘n bril wat gekrapte/gekraakte lense het. Daarom praat Jesus van die sg. “bose oog” in vers 23 (2020-Vertaling). Ongelowiges se uitkyk op die lewe is besmet met hulle liefde vir geld en hulle liefde vir besittings. Hierdie tipe mense maak vir hulle skatte hier op aarde bymekaar, want hulle toekomsvisie is beperk! Hulle kan nie insien dat Jesus Christus juis gekom het om ons uit hierdie gebroke wereld te réd nie! (vgl. Fil. 3: 18 – 21)

Mense wie deur jaloesie, geldgierigheid en sondige begeertes gelei word, se hele menswees word naderhand dónker. Maar wanneer ons deur die Here se Lig verlig word, dan sal ons met ‘n ánder ingesteldheid lewe. Dan sal ons met ánder oë na hierdie lewe én na ons geloof in God-Drie-Enig kyk.

Te danke aan die ware geloof, wat die Heilige Gees aan ons skenk, vertrou ons ten vólle op God. Ons verstande én ons harte word verlig sodat ons sal aanhou glo dat ons Váder die Een is Wie vir ons sorg. Ons hoef nie vir ons skatte hier op aarde bymekaar te maak nie, want hierdie lewe is net tydelik. Ja, geliefdes, Hy Wie hierdie preek lewer, is sélf die Lig Wie ons verlig (Joh. 9: 5). Die Here het dit eeue terug reeds aan gelowiges beloof: “Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie; die Hére sal vir jou ‘n éwige Lig wees, en jy sal roem in jou God” (Jes. 60: 19). Ja, Hy is sélf die Lig (Joh. 1: 8) want Hy het alle duisternis oorwin. Hy het alle fisiese én geestelike donkerte deurgemaak toe Hy totale godverlatenheid aan die kruis moes deurmaak.

Geliefdes in die Here, óns God is Lig en daar is géén duisternis in Hom nie (1 Johannes 1: 5). Wandel in sy Lig – elke dag van jou lewe. Wees dankbaar dat Hy jou verstand en jou gedagtes verlig sodat jy op ‘n eenvoudige manier in Hom kan glo. Wees dankbaar dat die Heilige Gees jou geloofsvisie verlig sodat jy élke dag God-Drie-Enig kan raaksien in jou lewe. En wees dankbaar dat jy die toekomsvisie het om in te sien dat daar vir jou ‘n hemelse skat wag wat gewaarborg is, nl. die Ewige Lewe!

Slot

Mag ons gedurende hierdie Paastyd verlig word, sodat ons hierdie gedeelte rég verstaan. Mag ons werklik insien hoe nódig ons Jesus Christus se kruisdood en opstanding het.

Sónder sy liefde vir sondaars en sónder sy almag oor die dood, sou ons, soos ‘n blinde, in die donker bly rondtas het (Deut. 28: 29). Maar nou het daar vir ons ‘n Lig gekom – die Helder Môrester, Jesus Christus – Wie ons héle ménswees kom verlig het (2 Pet. 1: 19; Op. 22: 16). Amen.