Handelinge 5: 17 – 42

Teksgedeelte: Handelinge 5: 17 – 42

Fokusverse: Handelinge 5: 30 – 32

Tema: Getuig van Jesus Christus se hemelvaart!

Inleiding

Vanoggend se Skrifgedeelte laat u dalk terugdink aan ‘n reeks preke waarna ons verlede jaar geluister het. Vroeg in verlede jaar het ons die voorreg gehad om regdeur die boek, Handelinge, te werk. En in die eerste paar hoofstukke van hierdie boek lees ons hoe die kerk gegroei het. Soos die mense van Jesus gehoor het, só het die kerk uitgebrei. Ons Here, Jesus, se dissipels het hulle werk ernstig opgeneem. Hulle is nou nie meer dissipels, of “navolgers”, van Jesus Christus nie, maar apostels: hulle is nou hulle “gestuurdes” van Jesus Christus (vgl. Matt. 28: 19 en 20). Die apostels is gestuur om die mense te vertel dat Jesus Christus werklik geleef het en dat Hy ook uit die dood opgestaan het.

God het Jesus uit die dood opgewek en tot in die hemel verhoog

Dit is die tweede keer in die boek, Handelinge, dat die apostels vervolging beleef het. Die eerste keer wat die apostels vervolg is, was toe Petrus en Johannes ‘n verlamde man genees het (Hand. 3 en 4) en nou word hulle vervolg omdat die apostels siekes genees het en omdat hulle die Goeie Nuus van Christus verkondig het. Al is dit maar die begin-hoofstukke van die boek, Handelinge, het die vervolging reeds begin. Eers is die gestuurdes net in die tronk gegooi, maar in hierdie gedeelte lees ons dat hulle ook geslaan is. Hulle word egter albei kere verbied om óóit weer énige iets in die Naam van Jesus Christus iets te verkondig.

Waarom word die apostels hieroor vervolg? Want ons lees dat die Sadduseërs met afguns vervul was (vers 17). Húlle wou die eer ontvang het waarmee die mense die apostels geëer het.

Nóg ‘n rede vir die apostels se vervolging was die Sadduseërs se verstaan van die Skrif. Hierdie groep mense het nie in die opstanding van Jesus Christus geglo nie. Hulle het ontken dat Jesus die dood oorwin het. En daarom het hulle óók nie geglo dat mens uit die dood sal opstaan en die ewige lewe ontvang nie.

Ons hoor in ons fokusverse dat die apostels juis dít verkondig het: “Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te laat hang.” Die Sadduseërs sou daarom ook elkeen van óns vanoggend gevang en laat slaan het omdat ons netnou bely het dat Jesus op die derde dag uit die dood opgestaan het en omdat ons glo dat ons ewig sal leef. Geliefdes, die Sadduseërs het die Wet van Moses oorbeklemtoon en die genade van Christus onderbeklemtoon – eintlik heeltemal ontken! Hulle het nie geglo dat Jesus Christus gekom het om gelowiges vry te spreek nie (vgl. Gal. 2: 15-17). Beide die Fariseërs én Sadduseërs het geglo dat mens die Wet moet gehoorsaam om vryspraak van jou sondes te ontvang.

Die Sadduseërs was daarom oortuig dat die apostels ‘n valse boodskap verkondig, waar dit eintlik die teenoorgestelde was. En daarom word die apostels vir ‘n tweede keer in die tronk gegooi – want die Saduseërs was ook polities aan bewind. Maar, deur die Here se genade, word sy Evangelie nie deur mense ingeperk nie! ‘n Engel het in die nag die tronkdeure vir die apostels oopgemaak en gesê: “Gaan staan in die tempel en gaan verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.” Maar wat presies is hierdie “volle boodskap van die nuwe lewe”? Presies dit waarvan ons in ons fokusverse gelees het.

Die Boodskap van die Nuwe lewe is die vollédige boodskap van God se Evangelie. Dit is die Goeie Nuus dat ons Here Jesus werklik Mens geword het en tussen sondaars kom woon het (Joh. 1: 14). Dat Hy o.a. wonderwerke gedoen het (vgl. o.a. Matt. 8 en 9). Deel van hierdie Boodskap is dat Hy, met nederigheid, na Homself as die verwagte Verlosser verwys. Want alleen Hy is die langverwagte Leidsman en Verlosser, geliefdes (Hand. 5: 30)(vgl. Jes. 33: 22; Hebr. 2: 10). Hy het leiding gegee aan almal wat verward was. Jesus Christus is die Een in wie alle gelowiges hulle hoop geplaas het. Die Een wie niemand ooit kán of sál teleurstel nie. Alleen Hy is die Verlosser wat deur God Self aangewys is. Christus moes nie net aan sy navolgers leiding gee nie. Hy moes ook, ter wille van sy navolgers, lyding verduur het. En dit is aan die kruis waar Hy die meeste gely het. Daar moes die ergste lyding denkbaar deurmaak. Hy moes namens ons ly, al het Hy dit nie verdien nie. Sy lyding was so erg dat Hy moes uitroep: “My God, My God, waarom het U My verlaat?” Daarna het Hy gesterf. Dit alles is deel van die volle Boodskap wat die apostels moes gaan verkondig het.

‘n Verdere deel van die volle boodskap kom in vers 31 na vore, nl. die verhoging en hemelvaart van Christus. En dit is, veral hier, waar die Goeie Nuus inkom, geliefdes! Ons Here het nie nét vir ons sondes betaal deur aan die kruis te serf nie. God die Vader wek Hom ook op uit die dood! Op hierdie manier oorwin Christus die laaste vyand – met sy opstanding oorwin Hy die dood (vgl. 1 Kor. 15: 26).

Daarom kon Hy na die hemel toe opvaar. Hierdie geloofs-feit is vir ons belangrik, geliefdes, juis omdat ons Donderdag Christus se hemelvaart herdenk het. Aan die kruis moes Christus verneder word, maar in die hemel word Christus verhoog. Hy ontvang die ereplek in die hemel: Hy mag gaan sit aan die Regterhand van God. En ons het die sekerheid dat Hy vanuit die hemel sal terugkom om die gelowiges na Hom toe te neem. Dít is die volle boodskap van die nuwe lewe! Ja, dít is die boodskap wat elke gestuurde van God moet verkondig.

Getuig gedurig daarvan

Die volle Boodskap van die Evangelie is dus die apostels se getuienis. Hulle het, daagliks, saam met Jesus Christus geleef. Hulle het Hom sien wonderwerke doen. Hulle het gesien hoe Hy gely het. Hulle het gesien hoe Hy sy laaste asem uitgeblaas het. Die apostels het selfs gesien hoe Jesus Christus na die hemel toe opgevaar het (Matt. 28: 16-20).

Hulle is só oortuig van dit wat hulle gesien en beleef het, dat hulle selfs aan die hoëpriester en die regter die Evangelie verkondig (Hand. 5: 29-32). Hulle is bereid om enige plek te preek: in die tronk, in die tempel, op die strate, selfs in die hof. Die apostels het dus Jesus se laaste opdrag aan hulle, baie ernstig opgeneem (Matt. 28: 16-20). As Jesus met sy Hemelvaart vir hulle sê dat hulle na al die nasies toe moet gaan en van die mense dissipels moet maak, dan doen hulle dit. Hulle het werklik Hom aan alle mense bekendgestel. Die apostels het dit wat hulle van Jesus gesien en gehoor en beleef het, in woorde omgesit. Die apostels se getuienis oor Jesus Christus se lewe en sterwe is dus op wáre feite gebaseer. Die feit dat hulle Hom werklik geken het, maak hulle getuienis net nog méér geloofwaardig. Maar wat die apostels se getuienis die meeste geloofwaardig maak, is die feit dat die Heilige Gees saam met hulle getuig. “…Ons is getuies hiervan, ons én die Heilige Gees wat deur God gegee is…” sê die apostels in vers 32. Soos ons weet is die Heilige Gees die Derde Persoon in die Drie-Eenheid, en daarom kan ons sê dat God self, saam met die apostels, getuig.

1 Johannes 5: 6 – 12 is ook ‘n gedeelte wat oor die getuienis van die lewe en sterfte van Jesus Christus gaan.

Daar lees ons dat dit God én die Heilige Gees is wat getuig (1 Joh. 5: 6 en 9).

Iemand wat die gawe van geloof het, sal dus die Heilige Gees se getuienis aanvaar.

Maar iemand wat nie uitverkies is nie, sal nie hierdie getuienis glo nie (1 Joh. 5: 10). Só ‘n persoon sal soos die Joodse Raad wees wat die apostels wou doodmaak omdat hulle nie hierdie getuienis oor Christus wou aanvaar nie (Hand. 5: 33).

Maar God sal sorg dat die getuienis van sy Eniggebore Seun wél gehoor word, want hierdie getuienis is Goeie Nuus! Diegene wat hierdie getuienis gelowig aanvaar, ontvang die ewige lewe (1 Joh. 5: 11 en 12). En dit is waarom God ook gesorg het dat sy apostels hierdie Goeie Nuus vérder kon versprei. Die Joodse Raad wou die apostels doodmaak, maar Gamaliël oortuig die Raad om die apostels uit te los (verse 38 en 39). Al was Gamaliël deel van die Joodse Raad, is hy deur God gebruik om, op daardie oomblik, ánders as die res te dink. God kan enige iemand gebruik om sy wil uit te voer.

Op hierdie manier word die deure vir die Evangelie vir die apostels oopgemaak. Die Joodse Raad dreig hulle wel en sê dat hulle nooit weer in die Naam van Jesus te praat nie. Die apostels word selfs geslaan omdat hulle getuig het van die Een wat hulle gestuur het. Maar niemand het tog gesê dat mens dit maklik gaan hê as jy oor Christus getuig nie – inteendeel. Die apostels is egter bereid om enige iets deur te maak omdat hulle graag aan God gehoorsaam wil wees. ‘n Nuwe deur gaan vir hulle oop – hulle kan nou, elke dag, mense in die tempel en in hulle huise van die Here leer. Al word die apostels gedreig en geslaan, hou hulle nie óp om te verkondig dat Jesus die Christus is nie. In hulle geestesoë hou hulle die opgestane Christus in die oog! Hulle Enigste Koning wat na die hemel opgevaar het!

Voel jy ook só passievol oor Jesus Christus? Sal jy ook aanhou van Hom vertel, al word jy deur mense verbied? In vandag se tyd verbied niemand ons om oor Christus te praat nie, en tog praat ons heeltemal te min oor Hom. Ons vermy baie keer die onderwerp en praat baie makliker oor dít wat in ons boerderye aangaan of oor hoe die naweek se sport afgeloop het. Mens hoef nie hééltyd oor die Here te praat nie, geliefdes, maar as die geleentheid kom, is ons bereid om dit te doen?

Dink hieraan volgende keer as jy met jou werknemer gesels. Of wanneer jy met jou kolegas by die werk gesels. Begin dalk daarmee om – meer gereeld – Bybelgedeeltes met jou kinders en kleinkinders te deel. Wees bereid om oor Jesus Christus se dood en opstanding met jou familielede te gesels. Die feit dat Hy vir ons sondes gesterf het en die dood oorwin het, is immers Goeie Nuus!

Wanneer ons ons medemens liefhet, sal ons tog hierdie Goeie Nuus met hulle wil deel, nie waar nie? Wanneer ons met ander mense oor geloof praat, sal dit ons nader aan mekaar bring. Want ewe skielik het jy en jou werknemers iets in gemeen. Ewe skielik het jy en jou kleinkind iets in gemeen. Wanneer ons, met ander mense, oor Jesus Christus praat, dan kom daar wedersydse respek. Deur hierdie Volle Boodskap oor te dra, kan daar ‘n positiewe gesindheid tussen jou en die ander persoon gekweek word. Hou daarom aan om oor die Here te getuig, al wil daardie ander persoon dit dalk nie hoor nie. Maak nie saak hoe die persoon teenoor jou reageer nie, hou maar net aan om te sê dat Jesus die Christus is.

Slot

‘n Mens getuig van iets wat jy beleef het. ‘n Mens getuig van iets waarvan jy oortuig is. Die apostels kon oor Jesus se lewe, lyding, kruisiging en Hemelvaart getuig, want hulle het Hom werklik geken. Hulle het saam met Hom geleef.

Ons het Donderdag die voorreg gehad om aan Jesus se hemelvaart te dink. Dink ons maar net aan al hierdie wonderlike dinge, of vertel ons dit aan ander mense? Christus het na die hemel opgevaar nadat Hy sy kerk volledig toegerus het om van Hom te getuig.

God rus vandag nog sy kerk volledig toe. Daarom mag ons nie doelloos voel of passief wees nie, geliefdes. Deur die werking van die Heilige Gees behoort ons aan ander mense te vertel dat ons Hom weer uit die hemel verwag. Dat ons die belofte het dat Hy weer sál terugkom net soos Hy na die hemel opgevaar het. Amen.