Jesaja 45: 14 – 25

Skrifgedeelte: Jesaja 45: 14 – 25

Fokusvers: Jesaja 45: 21

Tema: God kondig sy Verlossing lánkal reeds aan. Het jy dit al gehoor?

Inleiding

Was jy ook al daarvan beskuldig dat jy hoor, maar nie luister nie? Baie keer sal ons dit vir ons tiener-kinders sê: “Ek het vir jou gesê dit gevaarlik is, maar jy wil mos nie luister nie.” Ons sal dit ook soms in die huwelik hoor: “Het jy my gehoor toe ek jou drie maande terug gevra het om dit of dat vir my te doen? Jy het gehoor, ja, maar jy het dúídelik nie geluister nie.” Van tyd tot tyd word álmal van ons daarvan beskuldig. “Ek het al veréde keer dominee van my siek kleinkind vertel, jy het seker nie mooi geluister nie”.

Ons almal doen dit van tyd tot tyd – ons hoor, maar luister nie. Op ‘n meer ernstige noot kan ons ook die Hére se Woorde hoor, maar nie werklik luister nie. Waarom doen ons dit, geliefdes? Ons is gewoonlik skuldig hieraan wanneer ons die ander persoon té gewoond raak. Sy/haar woorde is só bekend aan ons dat ons hom/haar hoor, maar nie meer aktief luister na dít wat hy/sy sê nie.

God kondig sy Verlossing lankal reeds aan

Verlede week, tydens die Nagmaal, was ons Fokusvers: “Julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekkeloos en sonder liggaamsgebrek is.” Ons het gefokus op die feit dat ons van ons sondige bestaan losgekoop is. Christus het met sy kosbare bloed betaal om ons vry te koop uit die mag van die Bose. Ons is nie met verganklike middele soos goud of silwer of geld losgekoop nie, maar met die enigste middel wat ewig geld en dit is met die bloed wat uit Christus se wonde drup terwyl Hy – Godverlate – daar aan die kruis hang. 

In vanoggend se preek is ons stééds met dieselfde gedagte besig, want tydens vandag se erediens dink ons terúg aan verlede week se Nagmaal. Die Nagmaal is vir elke gelowige só ‘n groot oomblik dat ons dit nie maar net kan kom gebruik en met ons lewe aangaan nie, geliefdes. Dit wat ons verlede week hier aan Tafel beleef het, bly ons by – tot vandag toe nog. Dié van ons wie egter al van verlede week se Nagmaal vergeet het – wie in die afgelope week geleef het asof God nié bestaan nie – het waarskynlik te gewoond geraak aan die gebruik van die Nagmaal én aan God se Stem.

Maar dié van ons in wie die Heilige Gees krágtig werk, dink stééds aan die Boodskap waarop die tekens van die brood en die wyn vir ons wys. En daarom hoor ons vandag wéér van God se Verlossing. Vanuit ‘n gedeelte in die Ou-Testament openbaar God aan ons dat Hy die Enigste Verlosser is. Geliefdes, die woord “verlos” of “Verlosser” kom ses keer in hierdie kort gedeelte voor. In die oorspronklike Taal word die woord “Jeshua” gebruik waarvan Jesus se Naam afgelei is. Die Naam, “Jesus”, beteken letterlik “Verlosser” en dit is Hy ook. En dan is dit baie opmerklik dat die naam, Jesaja, óók op die gedagte van “verlossing” dui. Hierdie profeet van die Here was natuurlik nié die volk, Israel, se verlosser nie, maar sy hele lewensroeping was aan God se verlossing gekoppel.

Die Almagtige God gebruik sy dienaar, Jesaja, om ‘n Boodskap van verlossing aan die gelowiges van daardie tyd te bring. Soos ons weet was die eerste hoorders van hierdie Boodskap in die Babiloniese Ballingskap. Tydens die Babiloniese Ballingskap is die gelowiges van destyds van hulle eie land vervreem en na ‘n totaal ánder land weggevoer. Hulle het dus hierdie Boodskap van verlossing uiters nodig gehad – vir hulle fisiese omstandighede maar óók vir hulle geestelike omstandighede. Fisies het hulle daarna uitgesien om bevry te word – om gered te word uit die hande van wrede, goddelose, mense. Om fisies terug te keer na hulle éie land en met hulle gesinne herenig te word.

Maar, soos ons weet, dui hierdie verlossing, waarvan Jesaja praat, óók op geestelike verlossing. Deur sy profeet, Jesaja, verkondig die Here Hoop en Herstel en Vergifnis. Ja, deur Jesaja, wys die Here vir sy volk dat Hy lankmoedig is. Dit beteken dat God letterlik stadig van kwaadword is. Anders as ons, mense, tree die Here nie té vinnig op nie. Wanneer sy kinders Hom teleurstel, deur sonde te doen, dan is Hy geduldig met ons, geliefdes – maar nét tot op ‘n punt. God is nie nét liefdevol en genadig nie, maar ook regverdig. En daarom eis Hy gehoorsaamheid. Aangesien Hy die Enigste Ware God is, verwag Hy van álle mense dat hulle Hom sal erken as die Belangrikste. Natuurlik sal daar altyd mense wees wat dink dat hulself of iemand wat hulle ken, nét so belangrik soos die Here is. Daar sal altyd mense wees wat ligtelik is en met die Here se genade speel. Ongelukkig is dit baie keer gelowiges wat van beter behoort te weet – kérkmense wie te gewoond aan die Here se vergifnis geraak het.

Net soos die gelowiges in Jesaja se tyd, dink hierdie gelowiges: “Ag dit is nie so erg as ek hierdie of daardie sonde doen nie – ek het al iets soortgelyks gedoen en niks oorgekom nie. Die Here sal verstaan. Soos in die verlede sal Hy my maar weer vergewe.” Geliefdes, wanneer ons só redeneer, dan stel ons die Here op die proef. Mense wat doelbewus in hulle sonde volhard, neem nie God se Regverdigheid ernstig op nie. Ons Almagtige God duld dit egter nie dat nietige mense sy genade misbruik nie, en daarom tree Hy áltyd op! Al vat Hy lank om kwaad te word, oordeel Hy wel op sy tyd, en op sy wyse. Die Babiloniese Ballingskap was die manier waarop God sy volk geoordeel het omdat Israel hulle teen die Here bly verset het. Hy het egter nie sy kinders onkant gevang met hierdie vervreemding nie, geliefdes. Van die vroegste tye af kondig Hy reeds die konsekwensies aan van mense wie teen Hom verhard. Reeds in die Woestyn het die volk, Israel, teen die Here in opstand gekom. Gedurig deur was gelowiges onvergenoegd. Keer op keer het gelowiges van die Here afvallig geraak – Hom uitgetart deur hulle sondige optrede.

En tog, en tog, het God ván hulle vergewe. Nadat Hy oor jare en oor geslagte hulle geloof in Hom gelouter het, vergewe Hy tog. Natuurlik nie álmal wat in opstand teen Hom kom nie, maar nét húlle wie Hy uitverkies het en wat waarlik berou oor hul sondes het. Daarom laat God tóg ‘n klein groepie gelowiges terugkeer en bevry God hulle uit hulle treurige omstandighede in Babel (vgl. o.a. Esra 6, Jes. 50: 15-18). Want God kondig sy verlossing aan – van die vroegste tye! Direk na die sondeval kondig God sy verlossende-genade aan – saam met sy oordeel: “Hy sal jou aan die hakskeen byt, maar jy sal sy kop vermorsel” (Gen. 3: 15). Die feit dat God sy volk, kort daarna, uit die hande van die wrede Egiptenare gered het, dui in werklikheid op sy verlossing (Deut. 15). En dan is dit natuurlik God se profete wat sy Verlossing die duidelikste aankondig. Die Here maak gebruik van nietige mense om sy verlossing aan te kondig. Profete soos Jesaja, Jeremia, Esegiël en soveel ander is voorbeelde hiervan.

Maar die Here maak óók van nietige mense gebruik om sy verlossing prakties te bewerk. Die hele Jesaja hoofstuk 45 is ‘n Godspraak aan koning Kores. Kores was die heidense koning van Babel, en tog gebruik God vir Kores om sy volk uit ballingskap te verlos. Al is Kores ‘n ongelowige, is hy deur die Here gesalf en aangestel om die gelowiges te red. In hierdie hele hoofstuk lees ons wat die Here alles vir Kores doen: “Ek stel jou as heerser aan”, sê die Here in vers 1. “Ek gaan self voor jou uit en maak die hoogtes gelyk..” (vers 2). “Ek sal vir jou skatte gee”, sê die Here vir Kores. “Rykdomme wat weggesluit is” (vers 3). Die Almagtige sê Self vir Kores: “Ek het jou op jou naam geroep, Ek gee jou ‘n eretitel, hoewel jy My nie ken nie. Ek rus jou toe vir ‘n taak al ken jy My nie” (vers 4 en 5). In die gedeelte wat ons gelees het sê God dat Hy die opbrengs van groot en finansiël sterk lande, soos Egipte en Kus vir Kores wil gee. Waarom sal die Here dit wil doen, geliefdes? Waarom sal Hy soveel voorspoed vir iemand soos Kores wil gee? Waarom kies Hy juis hierdie ongelowige om sy volk uit die Ballingskap te verlos? Drie keer in hierdie hoofstuk kry ons die antwoord, geliefdes (verse 6, 14, 24)! Die Here gebruik iemand soos Kores sodat alle mense kan bely: “Waarlik, God is by jou, en daar is geen ander nie. Daar is nie nóg ‘n God nie” (vers 14).

God-Drie-Enig is veronderstel om alle eer en lof en heerlikheid te ontvang en nie ménse nie. Wanneer mense egter ander dinge verafgod – wanneer hulle sekere mense ophemel of hulle vertroue in dooie afgode stel, dan sál God sorg dat álle mense besef dat Hy die Enigste Ware God is. As Enigste Skepper van hemel en aarde sê die Here in vers 18: “Ek is die Here; daar is geen ander nie.” “Wat Ek, die Here, sê, bring redding. My woorde gee lewe” (vers 19). Hy sal die menslik onmoontlike moontlik maak en lewe uit ‘n doodsituasie bewerk. Hy gebruik juis soms mense wat ons in die minste sou verwag om merkwaardige dinge te doen. Hy doen dít sodat ons sy grootheid en almag deur daardie mense se swakheid kan raaksien, geliefdes. In God se algemene genade gebruik Hy dan vir koning Kores om die volk, Israel, se verlossing te bewerk. As knegte van die Here moes Kores én Jesaja iets buitengewoons doen – iets waarin die Here se volk misluk het. Kores het hulle fisies bevry waar Jesaja hulle op hul geestelike verlossing gewys het.

Het jy dit al gehoor?

Eeue later is daar egter weer ‘n Kneg van die Here gebore. Een Wie nie maar net ‘n skaduwee was van God se verlossing nie, maar die Verlosser sélf. Voor die Skepping van die wêreld het God Hom reeds aangewys om sy kinders te verlos. Nie maar net ‘n handjie vol mense tydens die Ballingskap nie, maar miljoene der miljoene gelowiges – oor alle eeue vanuit alle kulture en tale en nasies. Jesus Christus – die Ware Verlosser – bring nie net fisiese redding en uitkoms nie, maar redding van die ewige dood. Met sy kosbare bloed betaal Hy die volledige prys om ál God se uitverkore kinders vry te koop van hulle sondes. Hy sterf die dood namens ons, sodat ons nie ewig gepynig sal word nie. Na drie dae staan Hy egter op uit die dood, want die dood het geen houvas op Hom nie. Lankal reeds het die Here aangekondig dat Hy verlossing en vryspraak vir gelowiges gaan bring, en eindelik is dit hier! Christus is nie maar net nóg ‘n heenwysing na die Een wat sal kom nie, maar die Een Self. Deur Christus se kruisdood en opstanding bewys God-Drie-Enig vir alles en almal: “Daar is geen god buiten My nie; nét Ek is regverdig. Dit is net Ek wat kan red” (vers 21).

Die vraag word nou aan elkeen van ons gerig: “Het jy al hierdie verlossingsboodskap gehoor?” Het jy wérklik dit al gehoor, tot so ‘n mate dat jy Christus se verlossing verstaan? Is jy oortuig daarvan dat Hy jou, persoonlik, verlos het? Of spook en spartel jy hier op aarde omdat jy onseker is oor waar jy die ewigheid gaan spandeer? Ja, my broer en suster, het jy wérklik al hierdie Verlossingsboodskap gehoor – let jy op die detail van Christus se redding en verlossing – vir jou persoonlik? Of is jy dalk al té gewoond aan hierdie Boodskap? Het jy oor die jare dalk al só gewoond geraak aan jou Verlosser se Stem dat jy Hom hoor, maar nie meer werklik luister nie? Dat jy op ‘n traak-my-nie-agtige manier voortgaan met jou eie lewe – en in jou eie sonde – omdat jy regtig die konsekwensies van jou ongehoorsaamheid aan jou eie lyf voel nie?

Slot

Geliefdes, God is regverdig. Hy is nie vêr weg of onaktief nie. Hy tree óp op sy tyd en oordeel op sy manier. Niks wat ons doen, gaan by Hom verby nie. Maak daarom seker dat jy op die regte manier reageer wanneer jy die Here se Verlossingsboodskap hoor.

Mag ons opnuut verstom wees oor wat Christus se verlossing vir ons, persoonlik, inhou. Mag ons nooit só gewoond aan sy Woord raak dat ons dit hoor, maar nie meer werklik luister nie. Amen.