Skrifgedeelte: Romeine 8: 1 – 23
Fokusverse: Romeine 8: 22 en 23
Tema: Beide die skepping én gelowiges sug totdat God ons van hierdie verganklikheid bevry.
Inleiding
Reeds in 2007 is beurtkrag vir die eerste keer geïmplementeer – álle Suid-Afrikaanse huisgesinne sit dus nou al sestien jaar met hierdie probleem. Wanneer ons deur ons land reis, dan is die vervalle geboue en paaie iets wat ons dádelik opmerk. Dit is dán wanneer ‘n mens dankbaar – maar ook hartseer is – dat dit nie nét Venterstad is wat, teen ‘n spoed, agteruitgaan nie. Wanneer ons met ons vriende of familie gesels, dan hoor ons hoe hulle in hulle dorpe en stede ook maar gebuk gaan onder huisinbrake en plaasaanvalle.
Geliefdes, hierdie tipe sosio-ekonomiese verval, is iets wat élke Suid-Afrikaner aan sy/haar eie lyf voel. Ons kan aanhou kla hieroor en mekaar letterlik in ‘n depressie inpraat, óf ons kan na God se Woord toe gaan om geloofs-perspektief op ons omstandighede te kry.
Ons verganklike bestaan
So waar kom hierdie agteruitgaan en verval vandaan? Baie van ons sal moontlik terugdink na die sg. “goeie ou dae” toe ons land se infrastruktuur nié so vervalle was nie. Sommige mense sal dan van mening wees dat die land se agteruitgang toegeskryf kan word aan die nuwe ere waarin ons tans is en hulle sal dan die persone wie nou aan bewind is, die skuld gee vir álles wat vandag skeefloop. Maar wanneer ons egter met onsself eerlik is, sal ons gou agterkom dat die “verval” wat ons tans beleef, lánkal reeds begin het. Reeds in die “goeie ou dae” waarna baie mense verwys, was daar óók maar vorms van korrupsie, agteruitgang en misdaad. Ja, geliefdes, om die antwoord op ons vraag te kry, moet ons vérder in die geskiedenis teruggaan. Om te bepaal waar die agteruitgang en verval sy oorsprong gehad het, moet ons teruggaan – nie maar net 30 jaar terug nie – maar tot by die begin van die heelal se geskiedenis.
Nadat God-Drie-Enig álles – ook die mens – góéd geskep het, het daar egter iets slegs gebeur. Die satan verlei die mens om van die vrug te eet waarvan God hulle verbied het om te eet. Dus kan ons nooit sê dat God die Outeur van Boosheid is nie, maar Hy laat dit wel toe. In Sondag 3 van ons Kategismus bely ons dat God die mens goed en na sy ewebeeld gekep, maar weens die mens se eie sondige geaardheid het ons eerste ouers die leuen van die satan geglo. Die mens het dus aktief gekies om sonde te doen, al was hy heeltemal bewus daarvan dat dit téén God se wil was (Gen. 2: 16 en 17; Gen. 3: 2; Rom. 5: 12). Iets wat hierdie aktiewe besluit aangehelp het, was die leuen wat die slang vir die vrou vertel het.
Sonde kom dus nié van God af nie, geliefdes, maar van die duiwel en vanuit ‘n mens se eie donker hart. Wanneer God dan die sonde toelaat, dan mag ons nie dink dat Hy beheer oor die mens verloor het nie. Hy laat juis die sonde toe, sodat Hy álle heerlikheid en die eer en die lof kan ontvang. Waarom redeneer ons so? Want, geliefdes, dit is juis deur die sonde en gebrokenheid waarin ons God se genade die dúídelikste raaksien. Die Bybel is duidelik daaroor dat die ganse heelal geaffekteer is deur die sonde wat Adam en Eva gedoen het. Die konsekwensies van die eerste sonde was nie nét op Adam en Eva van toepassing nie, maar vir álle mense ná hulle.
Romeine 5 is ‘n gedeelte wat hierdie Skrifwaarheid baie duidelik maak: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het en as gevolg van die sonde die dood, so het die dood ook tot álle mense deurgedring, omdat álmal gesondig het (vers 12). In God se regverdige oordeel oor die sonde, verdien álle mense dus die ewige dood. Dit is dus nie nét Adam en Eva wie deur hulle eie sonde geaffekteer word nie, maar alle mense – ook óns en ons kinders. Die impak van die sondeval is egter nie net tot die méns beperk nie, geliefdes. Dit is nie net ons, ménse, wat deur die aanvanklike sonde geaffekteer word nie, maar selfs die Skepping. God is duidelik hieroor in Genesis 3: 17: “Omdat jy na jou vrou geluister het, en van die boom geëet het waarvan Ek jou verbíéd het om te eet, is die hele aarde deur jou toedoen vervloek.” Daarom word diere bv. ook siek, verlep plante en het ons soms met onvrugbaarheid in die skepping te doen. Paulus sê in Romeine 8: 20 dat die hele skepping aan die nietigheid onderworpe is – die ganse skepping ervaar dus ‘n nietige bestaan van agteruitgang – nie uit eie keuse nie, maar ter wille van Hóm wat dit onderwerp het. Alles in die natuur is dus gehoorsaam aan God, en die manier hoe Hy oor die sonde oordeel. Die hele skepping verduur dan die agteruigang en die wanbalans wat daar soms is, al was dit deur die méns se toedoen.
Geliefdes, ons leef in ‘n gebroke wêreld. Ons sien dit élke dag rondom ons. Ons ervaar dit óral rondom ons. Afgesien van die skepping, sien ons die nietigheid van hierdie wêreld seker die duidelikste by ménse en hul werksaamhede raak. Korrupsie en wanbestuur is iets alledaags. Wangedrag, mishandeling en haarspraak is aan die orde van die dag. Baie mense skaam hulle nie meer hiervoor nie, geliefdes. Baie mense pleeg ópenlik onreg, en weens ‘n gebrek aan vervolging, kom hulle letterlik met moord weg. Ongelukkig is baie van ons land se leiers die meeste skuldig hieraan. Bykomend hierby word baie staatsinstellings en -geboue nie herstel nie. Weens ons land se hoë werkloosheidsyfer, word die misdaad al hoër en dit voel vir ons asof niemand iets hieraan doen nie. Alles word maar net aanvaar en naderhand raak dit deel van ons land se kultuur.
Maar, soos vroeër in die preek gehoor het, is hierdie “gebrokenheid” wat ons elkeen beleef nie ‘n nuwe ding nie. Dit is ook nie net iets wat ons hier, in Suid-Afrika, vind nie. Reeds vannaf die sondeval, ervaar gelowiges én ongelowiges soortgelyke dinge. Reeds in die boek, Genesis, lees ons o.a. hoedat Kain bv. sy eie bloedbroer doodmaak (Gen. 4: 8). God het ‘n nuwe begin met Noag en sy gesin gemaak omdat die Here gesien het hoe groot die mens se boosheid is, en hoedat álles wat die mense in hul harte bedink het, net slég was, lees ons in Gen. 6: 5 en 6. Daarna lees ons van die inwoners van Sodom en Gomorra en van al die onsedelikheid en moord waarvoor hulle bekend was (Gen. 14-19). Ons lees van die seksuele verleidings (Gen. 39), die pogins tot moord (Gen. 42), die moord (Eks. 1) en so kan ons aangaan. Ons kan aangaan deur te kyk na die Rigtertydperk toe elkeen gedoen het wat goed en reg was in sy/haar eie oë. Toe daar byna géén wet en orde was nie. Ons kan aangaan deur te vertel van al die korrupsie en bedrog wat die konings van die Ou-Testament gepleeg het. Ons kan gaan lees wat die profete skryf oor die sosiale ongeregtigheid van hulle tyd. Ons almal – die hele mensdom – word gekonfronteer met ‘n gebroke wêreld, geliefdes – van die vroegste tye af.
Beide die skepping én gelowiges sug totdat God ons van hierdie verganklikheid bevry
Hierdie sondige optrede het natuurlik ons Here gegrief, geliefdes, en die moderne mens se optrede grief Hom nogstééds (vgl. Gen. 6: 6). “Waarom maak God dan nie net eenvoudig ‘n einde aan al die onregverdigheid nie”, sal baie mense vra. “Waarom laat Hy toe dat goddelose mense soveel mag het?” “Waarom het Hy in die eerste plek toegelaat dat sonde in die wereld ingekom het?”
Natuurlik is daar nie ‘n klinkklare antwoord op hierdie tipe vrae nie, maar ons kan uit die Bybel aflei dat God die sonde en die gevolge van die sonde wél toelaat sodat Hy alle eer kan ontvang. As Heilige God oordeel Hy regverdig oor die sonde. Aangesien Hy die Hoogste Gesag geniet, kan niks en niemand teen God se raadsbesluit ingaan nie. Dit beteken dat God alle mense met die éwige dood sou moes straf aangesien ons almal in sonde ontvang en gebore is. Maar, soos ons weet, is God ook ryk in barmhartigheid en het Hy sy uitverkore kinders innig lief. En daarom stuur Hy die Tweede Adam, Jesus Christus, om te kom herstel waarin die eerste Adam misluk het (Rom. 5). Wanneer die Tweede Adam deur die satan versoek word, dan glo Hy nié die duiwel se leuens nie, en Hy swik ook nie onder groepsdruk nie (Matt. 4). Jesus Christus word Mens. Hy word na hierdie gebroke wêreld gestuur. Hy word, as weerlose Baba, in ‘n gebroke, arm, huisgesin gebore. In álles is Hy aan sy broers gelyk, behalwe in die sonde. Hy weerstaan nie nét versoekings nie, maar voldoen ook ten vólle aan God se wil. Hy vervul die Wet van Moses aangesien Hy nie daarteen kón sondig nie. Hy leef ‘n lewe van volkome gehoorsaamheid en dan is Hy selfs bereid om namens óns sondes aan die kruishout te sterf. Geliefdes, wanneer God ons dan, deur Christus, van hierdie doodsbestaan verlos, dan ontvang Hy alle eer en roem en heerlikheid (Rom. 7: 24 en 25). En dit mag dalk júís die rede wees waarom God die sonde aanvanklik toegelaat het. Sodat die mens se verbasing en dankbaarheid net soveel gróter in die Here sal wees as hulle besef waarvan God hulle wérklik red.
Romeine 8 se eerste paar verse bevestig dit, geliefdes. In verse 1 tot 3 lees ons dat daar dus nou géén veroordeling vir dié mense wat in Christus Jesus is nie. God het met die sonde afgereken deur sy Eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur, en só het God die sonde in die sondige bestaan van die Mens veroordeel. Deur Christus word daar dus aan die eis van God die Vader voldoen. ‘n Ware Mens betaal vir die sonde van talle ander mense, maar aangesien Christus ook méér as ‘n Mens is, kan Hy God se oordeel deurmaak én verhoog die Vader Hom weer deur Hom uit die dood op te wek.
Natuurlik sal daar altyd dié mense wees wat teen God en sy genade in opstand wil kom. Mense wat hierdie gebroke wereld net vérder wil verwoes met hulle woorde en dade. Paulus praat van hierdie mense in vers 5: “Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheer, hou hulle besig met dinge van die sondige natuur.” Christus het hierdie mense se oordeel nié op Hom geneem toe Hy gesterf het nie – hulle oordeel lê nog voor. Maar ons, wie, deur die genade, kinders van God is, word deur die Heilige Gees beheer, en daarom hou ons ons ook besig met die dinge van die Gees (vgl. vers 14 – 17). Vers 6 sê: “Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar dié dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede.”
Al leef ons dus in hierdie gebroke werklikheid, ervaar gelowiges nuwe lewe en vrede in ons harte, geliefdes, want ons wéét tog dat hierdie wêreld aan die verby gaan is. Ons is losgekoop om in God se Ewige Tuiste te gaan woon. “Omdat ons God se kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgenename saam met Christus” (vers 17). Ons kan nie meer wág om bevry te word van hierdie gebroke bestaan en éwig by die Here te gaan woon nie! Ons fokusvers sê dat ons én die skepping tesame sug totdat hierdie dag sal aanbreek. Ons smág daarna en verláng na hierdie bevryding wat aan ons én aan die skepping belowe word, geliefdes. Want, saam met die natuur, ervaar gelowiges die agteruitgang, die mishandeling en die besoedeling van hierdie goddelose mense.
Die oorspronklike Taal sê dat die hele skepping tesame sug en tesame in “barensnood” is. Soos ‘n vrou wat op die punt is om geboorte te gee, só voel die ganse skepping tot nou toe. Die skepping ervaar dus die ongerief, opoffering en moeite wat hierdie gebroke wêreld vir hulle inhou. Maar hierdie geboortepyne, waarin die skepping verkeer, dui ook op iets positiefs. Nuwe lewe is aan die kom, en daarom sien die skepping gewéldig daarna uit om herskep te word. Hierdie aarde is aan die verbygaan, geliefdes, en dit is góéd so, want God gaan binnekort kom om dit te herskep. Deur sy Seun, Jesus Christus, gaan Hy weer kom om oor al die goddeloosheid en die wanbestuur en wangedrag te kom oordeel. “Kyk, Ek maak alles nuut”, sê God. “Laat hom wat dors het, kom. En hy sal vind hy is My kind. Ek is ‘n God vir hom!” (SB 57: 4). Sien jy ook uit na hierdie dag, geliefde? Sug jy ook van verlange en het jy ‘n hoopvolle afwagting wanneer jy na die wêreld rondom jou kyk? Of sug jy in moedeloosheid en wanhoop?
Slot
As gelowiges hoef ons nooit moedeloos te voel nie – selfs al is ons deel van hierdie gebroke werklikheid. Want deur die Heilige Gees ontvang ons ‘n nuwe lewe en ervaar ons vrede. Ons wéét dat hierdie aarde, soos ons dit vandag ken, nié ons ewige tuiste is nie. Ons mag uitsien na ons ware Woonplek wat God binnekort aan ons gaan bekendmaak.
Terwyl ons vir hierdie heerlike Dag wag, moet ons na die Here se Hand bly soek in ons land se omstandighede. Ons behoort te bid vir bekering vir hierdie goddelose mense wat net aanhou afbreek en verniel, want dít wat hulle doen is nie reg nie. Ons behoort ook vir ons land se leiers te bid, geliefdes, dat hulle hulle gawes rég sal gebruik en hulle verantwoordelikheid sal besef.
Dit wat ons rondom ons beleef: die verval, die misdaad, die minagting teenoor God – dit is nie nuwe dinge nie, geliefdes. Dit is ook nie dinge wat uniek aan Suid-Afrika is nie. Dit is alles dáár sodat gelowiges, saam met die Skepping sal sug. Sodat ons net nog méér na Christus se beslisse Wederkoms sal verlang. Amen.