Efesiërs 4: 17 – 24

Skrifgedeelte: Efesiërs 4: 17 – 24 (2020-Vertaling)

Fokusvers: Efesiërs 4: 24 (2020-Vertaling)

Tema: Vir ons om aan God gehoorsaam te wees, moet die ou mens sterf en die nuwe mens opstaan.

Inleiding

Wanneer ‘n mens vir ‘n gelowige sou vra: “Wat is, volgens jou, die belángrikste ding wat ‘n Christen moet doen?” “Wat dink jy maak die Here bly as Hy na jou kyk?” Dan sal die meeste gelowiges antwoord dat ‘n mens God behoort te eer en aan God gehoorsaam behoort te wees. En dit is heeltemal reg, geliefdes. Dít wat God van elkeen van ons vra, is om aan Hom gehoorsaam te wees. Ons eer Hom deur dit te dóén wat Hy van ons verwag.

Christus maak ons een met Hom

Iets wat egter uiters belangrik is, is dat ‘n mens eers ‘n totale omgeer in jou lewe behoort te ondergaan vóórdat ‘n mens wérklik aan die Here gehoorsaam kan wees. Soveel kerkmense sal die regte antwoord op ons vraag gee, maar dit nie met hulle lewe wys nie. Soveel gelowiges sal dat dit vir God belangrik is om Hom te doen wat Hy van ‘n mens vra, maar in praktyk doen hulle net mooi die teenoorgestelde. Tewyl hulle wéét dat ‘n mens die Here behoort te eer, sal hulle in hulle sonde volhárd. Wanneer iemand bv. die sonde wat in ons Skrifgedeelte gelys is, áánhou doen, dan is hy/sy nie werklik gehoorsaam aan die Here nie. Dit help niks mens sê dat jy die Here moet eer, maar jy wys dit nie met jou lewe nie. Dit is dán wanneer mense – verál jongmense – dwarsdeur iemand sal sien. Hulle sal gou raaksien dat jou woorde en jou dade nie ooreenstem nie, en dan sal hulle ook minder respek vir jou hê. Hoeveel te meer sal God nie ons ware intensies raaksien nie, geliefdes?

Nee ons, as gelowiges, word opgeroep om te lewe in ooreenstemming met dít wat ons sê. “Wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is”, sê Paulus in hierdie hoofstuk se heel eerste vers (Ef. 4: 1). Hierdie hele hoofstuk is dus ‘n ernstige oproep dat gelowiges sal dóén dit wat hulle sê. Kinders van die Here behoort nie in sondige optrede te volhard nie, maar in onderlinge liefde wat op ‘n eenheid in Christus uitloop (vers 4). Deur die kragtige werking van die Heilige Gees roep die Here ons op om nie meer soos die wêreldse mense te lewe nie. Ons behoort nie gevoelloos, losbandig en onrein te wees nie, want sulke dinge vervreem ons van God, sê Paulus in vers 18. Gelowiges wat daarvoor bekend is om hierdie tipe sondes te doen, is niks beter as die heidene nie (vers 17). Selfs al hulle dat ‘n mens aan God gehoorsaam moet wees en selfs al spoor hulle ander aan om God te eer, dui hulle gedagtes op niks, geliefdes, want dit wat hulle sê strook glad nie met dit wat hulle dóén nie.

Jakobus sê in sy brief: “Wees doeners van die Woord, en nie slegs hoorders van die Woord, wat julleself mislei nie. Want wie ‘n hoorder van die Woord is en nie ‘n doener nie, is soos iemand wat sy eie gesig in ‘n spieël sien. Hy sien homself, gaan weg en vergeet onmiddellik hoe hy gelyk het. Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener. As iemand dink dat hy godsdienstig is en nie sy tong kan beheer nie, mislei hy homself; so ‘n mens se godsdiens is tevergeefs” (Jak. 1: 22 – 26). Om te kan dóén wat die Here van ‘n mens vra, is nie altyd maklik nie, geliefdes, maar dit ís moontlik! Te danke aan die Heilige Gees se genade is dit tog vir sommige mense moontlik om in gehoorsaamheid aan God te leef. As gelowiges behoort élkeen van ons dus gereeld onsself te herinner wie ons, deur die genade, is. Deur die Here se genade het ons Jesus Christus leer ken, en dít is wat ons van die goddelose, wêreldse, mense onderskei. Om Christus te mag leer ken is nie vir elkeen beskore nie. Dit is nie ‘n reg wat elkeen van ons het nie, maar ‘n voorreg. Hoe leer ‘n mens Jesus Christus ken? Alleen deur die verkondiging van sy Woord, natuurlik (vgl. Rom. 10).

Weens ons gebrokenheid sou álmal van ons soos dié mense geleef het wat in Efesiërs 4: 18 en 19 beskryf word (vgl. Gen. 6: 5; 8: 21). Maar deur die genade van Woordverkondiging het ons ons Verlosser, Jesus Christus, leer ken! Omdat God ryk is aan barmhartigheid en ons innig liefhet, onderrig Hy ons oor wie ons was maar óók wie ons nou, deur die genade van Christus, geword het (verse 20 en 21). Deur sy Enigste Seun onderrig God ons in die énigste Waarheid (Joh. 14: 6), nl. dat ons die ou mens in ons moet aflê en met die nuwe mens beklee moet word (o.a. Matt. 4: 17; Luk. 3; Luk. 15: 10). Waarvan praat Paulus hier as hy vertel van die ou mens wat afgelê moet word, en die nuwe mens wat aangetrek moet word? Hy praat hier van bekering! Ons het al in die verlede gehoor dat dit net wáre gelowiges is wat bekering kan ondergaan. Daar is sg. kerkmense wat net eenvoudig nié van hulle sondes wil bekeer nie. Ons bely dat hierdie tipe mense nié die ewige lewe sal ingaan nie, omdat hulle nie wil bekeer nie. Want mense wat aanhou sonde doen, is mense wat nie met hulle optrede wýs dat hulle ware gelowiges is nie.

Maar mense wat egter erns met hulle geloof maak, sal hulself gereeld herinner dat hulle één met Christus is. Dit is vir ons wonderlik wanneer ons onthou dat ons, as gelowiges, deel het aan al Christus se weldade. Hiervoor het Jesus, self, in Johannes 17: 21 gebid. Hy bid tot sy Vader en sê: “Ek bid dat hulle (die gelowiges) almal één mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U. Dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” Jesus Christus het dus sy Vader gesmeek dat Christene, sáám met Hom en die Vader, Een mag word! (Joh. 17: 20).  

Daarom moet die ou mens sterf

Die feit dat gelowiges met Christus én God een is, maak ons so dankbaar, geliefdes! Ons is nie net dankbaar dat Christus vir ons sonde gesterf het nie. Ons is óók dankbaar dat ons één met Hom is. Ons is dankbaar dat die Heilige Gees ons aan Christus vasbind. En omdat ons só innig dankbaar teenoor Christus is, wil ons nie aanhou sonde doen nie. Want Christus het die straf op ons sonde op Hóm geneem. Christus moes gestérf het om te betaal vir élke keer wanneer ons sonde doen. Omdat ons dankbaar teenoor Jesus se betaling is, wil ons dan met ons sonde breek. Wanneer ons die proses van bekering ondergaan, sal ons met sondes wil breek. Dan sal ons nooit weer in ons sonde wil voortleef nie. Maar mens kan jouself net halfhartig bekeer. Omdat ons swak is en van nature die sonde liefhet, kan ons bekeer maar dit nie werklik bedoel nie. Dit is wanneer iemand sê hy/sy is bekeer, en kort daarna maar net weer dieselfde sonde doen. Of wanneer iemand, vir ‘n kort tydjie, oor sy/haar sonde spyt kry, maar dan daarvan vergeet en net aangaan met sy/haar “ou lewe”. Dán het iemand net gedeeltelik bekeer.

Volgens ons Belydenis bestaan wáre bekering uit twee dele, nl. die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens (Heildelbergse Kategismus Sondag 33). Paulus praat van presies dieselfde ding hier in Efesiërs 4 as hy sê dat ‘n mens die ou mens moet aflê en die nuwe mens moet aantrek. Ons bely dat hierdie afsterwing van die ou mens drie dinge behels: In die eerste plek is dit ‘n opregte berou dat ons, deur ons sondes, God vertoorn het. Dit beteken dat ons opreg jammer is dat ons buite God se wil optree. En daarom, omdat ons nie God wil teleurstel nie, begin ons om hierdie tipe sondes te haat. Dit is die tweede stap wanneer ons die ou mens wil afsterf. Ons is van kleins af geleer dat ons nie mag haat nie. Maar ons mag wel een ding haat en dit is die sonde. Wanneer ons iets – veral die sonde – haat, dan sal ons niks daarmee te doen wil he nie. En daarom bely ons, laastens, dat ons van die sonde sal wil wegvlug. Ons vlug van ons sondes weg omdat ons beséf dat ons ons Vader teleurstel wanneer ons sonde doen.

Dít is waarheen ons werk, wanneer ons die ou, sondige, mens in ons wil laat afsterf. Maar, geliefdes, om nét die sonde te haat en daarvan weg te vlug is nie genoeg nie. Die ou, sondige, mens in ons moet nie net stérf nie. Die nuwe, gehoorsame, mens in ons moet ook ópstaan.

Daarom moet die nuwe mens opstaan

Efesiërs 4 én Sondag 33 maak dit duidelik dat ons, as nuwe mense, in Christus kán leef. Dit gebeur wanneer die nuwe mens in ons opstaan. Dit gebeur wanneer ons die wáre bekering ondergaan. Dán word ons nie meer deur die sonde gedring nie (Rom. 6: 12). Dán word ons deur die Heilige Gees gedring. En dit is alleen moontlik as ons één met Christus word. Romeine 6: 10 sê: “Christus het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God.” Toe Christus dus gesterf het, het Hy die mag van die sonde, eens en vir altyd, weggeneem. En dan lees ons in Romeine 6: 11: “Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, Omdat julle een met Jesus Christus is.” Hierdie wete sal ons help om makliker met ons sonde te breek, geliefdes, want dan besef ons dat die sonde nie soveel mag oor gelowiges het nie. Aangesien ons één met Christus is, is sy oorwinning oor die dood soveel stérker as die mag van die sonde.

Dit is wat Paulus bedoel wanneer hy in vers 23 sê: “Julle moet eerder in die aard van julle denke vernuwe word.” Gelowiges behoort tot die besef te kom wie ons deur die genade van ons Here, Jesus Christus, geword het! Ons is erfgename van God – mede-erfgename sáám met Christus (Rom. 8: 17). Méér as oorwinnaars! (Rom. 8: 37). En daarom háát ek nie maar net die sonde en wil ek daarvan wegvlug nie. Ek ervaar óók ‘n vreugde in die Here en ek het ‘n ywerige lus om opnúút aan God gehoorsaam te wees. Die Heilige Gees maak van my ‘n núwe mens wat ‘n lus en ‘n liefde om volgens God se wil te leef. Ons fokusvers beveel ons om onsself te “beklee” met die nuwe mens. Ware bekering is dus soos wanneer ek ou, vuil, klere uittrek, en splinternuwe, skoon, klere aantrek. Die nuwe mens in Christus het ook eienskappe van Hóm: “Trek die nuwe mens aan wat in ware geregtigheid en heiligheid geskep is”. Paulus maak dit duidelik dat, wanneer ons hierdie eienskappe uitleef, ons optrede sal ooreenstem met die manier waarop God ons geskep het.

As ons so luister na hoe ‘n nuwe mens, in Christus, lyk, en ons kyk na onsself, dan behoort ons onsself die volgende vrae vra: Lyk ons soos ‘n nuwe mense in Christus? Of lyk ons meer soos die ou, sondige mense? Het ons ‘n hartlike vreugde in God? Is ons ópgewonde en blý wanneer ons aan die Here dink? Het ons ‘n lus om gehoorsaam aan God te lééf? Of luister ons eerder na ons eie begeertes? Het ons ‘n liefde vir God se Wet? Is dit ons begeerte om nét goeie dinge te doen?

Slot

Geliefdes, mag elkeen van ons daarna strewe dat ons woorde en dade presies met mekaar ooreenstem. Dit help niks ‘n mens sê maar net dat dit belangrik is om aan die Here gehoorsaam te wees, maar ons wys dit nie met ons optrede nie. Ware bekering is om met jou ou, sondige, lewe te breek en dit werklik te bedoel én dit te wys. Dit is om te besef wie jy eens op ‘n tyd wás, maar wie jy ook nou, deur die genade, geword het. Dit is om in totale ooreenstemming met die manier waarop God jou geskep het, te leef. Is dit die manier waarop jy leef?

Amen.