1 Timoteus 5: 1 – 16

Skrifgedeelte: 1 Timoteus 5: 1 – 16

Fokusvers: 1 Timoteus 5: 1 – 3

Tema: Om in verskillende gemeentelike-verhoudings God te eer

Inleiding

Die Bybelboeke, 1 en 2 Timoteus, asook Titus, staan as die sg. “Pastorale briewe” bekend. Paulus skryf hierdie briewe met één doel en dit is om aan jonger gelowiges leiding te gee oor hulle rol in die gemeente. Die jong Titus en Timoteus word dus deur Paulus toegerus oor hoe hulle as “herders” of “pastors” van hul gemeentes behoort op te tree. Die “Pastorale briewe” is praktiese briewe wat vandag steeds baie bruikbaar vir gemeentes is.

Om in verskillende gemeentelike-verhoudings God te eer

Die apostel, Paulus, is in die eerste bief aan Timoteus, besig om hierdie jong predikant te leer hoe om ‘n wáre herder van God se kudde te wees. Daarom is hierdie ‘n baie persoonlike brief – daar word spesifiek met Timoteus – of met iemand in die amp van predikant – gepraat, maar daar word óók met die gemeente gepraat. Hierdie brief het dus ook die eienskappe van ‘n algemene brief sodat alle lidmate van die gemeente hulle roeping kan verstaan. Iets wat baie sterk in die Pastorale briewe na vore kom, is dat alles in die gemeente tot God se eer moet strek. En daarom is dit nie nét die predikant van die gemeente se optrede wat tot God se eer behoort te strek nie, maar óók die lidmate van die gemeente se optrede. Regdeur hierdie brief gee die apostel, Paulus, vir Timoteus handvatsels waaraan hy kan vashou terwyl hy moet toesien dat alles in die gemeente ordelik verloop. Paulus leer die jong Timoteus oor die plig van húlle wie in die amp van diaken staan, oor húlle wie in die amp van predikant staan, oor húlle wie in die amp van ouderling staan, maar óók oor húlle wie in die amp van gelowige staan. Al praat hierdie hoofstuk, wat ons vanoggend saam gelees het, hoofsaaklik met die diakens, handel 1 Timoteus 5 baie spesifiek oor hoe álle gelowiges mekáár behoort te behandel.

Geinspireer deur die Heilige Gees, begin Paulus in vers 1 om vir Timoteus te sê hoe hy die ouer mans en vroue asook die jonger mans en vroue van die gemeente behoort te behandel. Al is Timoteus ‘n jong man, word dit van hom verwag om alle mense in die gemeente met die Here se Woord te bedien. Natuurlik sou dit dan beteken dat hierdie jong predikant soms die lidmate van die gemeente moet vermaan. Om iemand te vermaan word meestal as iets negatief gesien. Soveel verskillende mense beskou dit as liefdeloos en onsensitief om iemand te vermaan. Maar wanneer ‘n mens se gesindheid rég is wanneer ‘n mens iemand vermaan, kan dit egter ook as iets positief gesien word.

Vermaning” beteken om iemand aan te spreek wie ‘n fout gemaak het. Wanneer ek iemand vermaan, dan wys ek hom/haar op sy/haar sonde. Maar ‘n mens se gesindheid speel ‘n geweldig belangrike rol wanneer ‘n mens iemand vermaan. Wanneer ek iemand met my eie woorde bestraf en ‘n oordeel oor só ‘n persoon vel, dan vermaan ek op die verkeerde manier. Maar wanneer ek egter met ‘n nederinge gesindheid iemand vanuit God se Woord vermaan, dan doen ek dit op die regte manier. God verwag van ons om ons medemens te vermaan deur hulle met sy Woord te bedien. Uit die Bybel moet ek vir my mede-broer en -suster wys dat dít waarmee hulle besig is, nié die Here se wil is nie. Daarom kan vermaning ook as “bemoediging” of “aanmoediging” gesien word. Wanneer ek my medegelowige voor die Almagtige se aangesig bring – en sélf my eie swakheid voor Hom erken – dan vermaan ek op die regte manier. Dan moedig ek hom/haar aan om nie meer verder in die sonde te volhard nie. Vermaning moet dus nie áltyd nét iets negatiefs gesien word nie. Die rége manier om iemand te vermaan, is om hulle in alle liefde en sagmoedigheid – sonder oordeel – na die Here te lei wanneer hulle gesondig het. Wanneer ek besef dat hierdie vermaning die Here se manier is om my nader aan Hom te trek, dán sal die woorde van Psalm 141: 5 ook my woorde wees: “Laat die regverdige my met liefde slaan en my tugtig – dit is uit troue liefde. Hy kan my maar teregwys – dit is olie vir die kop. My kop sal dit nie weier nie.”

Timoteus word opgeroep om álle mense in die gemeente te vermaan – die jong mense maar óók die ouer mense. Natuurlik mag – en móét – Timoteus dit doen omdat hy deur God self geroep en toegerus is vir hierdie besondere amp. Hy moet weer terugdink aan dít wat Paulus maar net in die vorige hoofstuk vir hom geskryf het, nl.: “Laat niemand op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees ‘n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in gedrag, in liefde, in betroubaarheid én in reinheid” (1 Tim. 4: 12). Dit behoort hom te motveer om mense van alle ouderdomsgroepe en sosiale-klasse te vermaan. En natuurlik sou dit beteken dat die jong Timoteus die ouer mense anders sou aan spreek as die jonger mense. Met die nodige respek en agting behoort hy maar net God se Woord aan hulle te bedien – die Gees sal self aan die Woord kom. Die Heilige Gees sal – waar nodig – verandering in die verharde harte bring. 

En dan verskuif die fokus na ‘n ander groep mense in die gemeente – nl. die weduwees. Iemand soos Timoteus word opgeroep om spesifiek aan die weduwees eer betoon – maar daar is ‘n kwalifisering: “dié weduwees wat wérklik weduwees is.” Natuurlik praat Paulus hier van dié vroue wat geen ander heenkome het nie. Van húlle wie nie énige kinders of biologiese broers en susters oor het nie. Húlle is die weduwees waarna die apostel in vers 3 verwys. Paulus maak dit dan ook in die volgende paar verse duidelik dat daar sommige vroue is wie nie wáárlik weduwees is nie. Hulle het dalk nog kinders of kleinkinders wie in staat is om hulle finansiël te versorg. Dán is dit die familie se plig om daardie weduwee te versorg en nie die Kerk se plig nie.

Geliefdes, hoe gerieflik is die nie vir sommige mense om van die Kérk te verwag om na hulle swak en eensame ma of pa om te sien nie. Hierdie kinders of kleinkinders sal die verskoning van ‘n “oorvol skedule” of ‘n “vêr afstand” gebruik en meen dat hulle dáárom nie na hulle familielid kan omsien nie. Maar Paulus maak dit baie duidelik in vers 8 wanneer hy sê dat iemand wie nie na sy/haar eie mense wil omsien nie – verál nie sy/haar éie gesin nie – eintlik slegter as ‘n ongelowige is. Só iemand het die Christelike geloof verloën sê die apostel, want ‘n wáre gelowige tree nie só op nie. ‘n Égte kind van God sal sy/haar gesin en familie bystaan omdat hy/sy besef dat God hulle vir ‘n réde saamgevoeg het. Daarom word elkeen van ons opgeroep dat ons moet gaan dink voordat ons maar net sommer-só van die predikant of van die gemeente verwag om na ons famielielid om te sien (vgl. vers 16). 

Timoteus moet egter op die uitkyk wees vir dié weduwees wat letterlik géén ondersteuningsstelsel het nie – wat totaal en al alléén agtergelaat is. Timoteus moet dié vroue in die gemeente opsoek wat stééds ál haar vertroue en hoop in Gód stel – selfs al het sy alles verloor. Vanaf die Ou-Testament word dit vir ons duidelik dat weduwees baie kosbaar vir God is. Juis omdat ‘n weduwee so weerloos is, gee die Here opdrag dat haar medegelowiges ekstra moeite met só ‘n persoon sal maak. Reeds in Deuteronomium 24: 19 – 21 hoor ons hoe ons gesindheid teenoor húlle moet wees wie hul mans verloor het: In daardie tyd moes die gelowige boere nie die héle oes vir hulself gevat het nie. Wanneer die koringboer bv. ‘n gerf koring op die land vergeet het, dan moes hy daardie koringare op die lande gelos het sodat ‘n weduwee – soos Rut – of ‘n weeskind of ‘n arm vreemdeling die geleentheid kry om van daardie koringare op te tel. Net só moes die olyf-boer nie ál die olywe afgeslaan het nie, maar ‘n handjie vol laat oorbly het vir die weerloses van die omgewing. So-ook moes druiweboer nie letterlik ál sy druiwe afgeoes het nie – want daar moes o.a. vir die weduwees oorgebly het. Dán sal God só ‘n boer se handewerk seën beloof Hy in Deuteronomium 24.

En ons almal weet hoe ons Here, Jesus Christus, die weduwees van sy tyd behandel het – met sensitiwiteit, agting en respek. Hy het hulle, wie wérklik weduwees was, innig jammer gekry (vgl. Luk. 7: 12, 13). Daarom skryf Jakobus bv. in sy brief: “Egte suiwer godsdiens voor God, die Vader, is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van hierdie wêreld” (Jak. 1: 27). Natuurlik word daar ook iets van die gelowige weduwee in die gemeente verwag: – sy moet bekend wees vir haar goeie dade: nl. dat sy haar kinders goed opgevoed het, dat sy vreemdelinge gehuisves het, dat sy die voete van haar medegelowiges gewas het, dat sy die verdruktes gehelp het en dat sy – oor die algemeen – goed gedoen het waar sy kon.

Klink dit nie ook vir jou soos die soort dinge wat ons Here, Jesus Christus, gedoen het tydens sy aardse lewe nie? (Matt. 25: 31 – 46). Tog het Hy véél meer as dit gedoen, geliefdes! Hy was bereid om vir weerlose, eensame, swak gelowiges se sondes te stérf! Jesus Christus was bereid om deur sy Vader verlaat te word, sodat ons deel van sy geestelike huisgesin – die gemeente – kan word. Wanneer Christus egter drie dae later ook die dood oorwin, dan kry ons deel aan hierdie oorwinning, geliefdes! Daarom is ons nie moedeloos en treurig en ledig en bemoeisiek soos ‘n wêreldse weduwee nie. Nee, elkeen van ons leef met ‘n doel! Elkeen van ons het ‘n roeping om te vervul, want ons Here het uit die dood opgestaan! Hy het die laaste vyand oorwin, en daarom leef ons met vreugde vir Hom – ten spyte van ons aardse omstandighede.

Ons besef dat ons ‘n plig teenoor ons medemens het wat al vêrder uitkring. Ons het ‘n plig teenoor ons eie gesin (vers 8), ons het ‘n plig teenoor ons breër familie (vers 16), en uiteindelik het ons ook ‘n plig teenoor ons medegelowiges van hierdie gemeente. Dit is verál die diakens – maar ook elkeen wat in die amp van gelowige staan – wat hierdie plig teenoor die lidmate moet nakom. Die diakens se hoof-roeping is nié om die liefdegawes tydens of ná die erediens in te vorder en die geld in die konsistorie te tel nie. Diakens behoort toe te sien dat almal in die gemeente met Christus se liefde bedien te word. Tog is dit ook hulle verantwoordelikheid om dié lidmate van die gemeente, wat finansiël swaarkry, te versorg. Ek, as “gewone lidmaat” kan die diakens hierin bystaan deur daardie daardie persoon te kontak wie bv. lanklaas by die kerk was. Ek kan die diakens met hulle dienswerk help deur bv. ‘n oper hand te hê sodat al die behoeftige lidmate van hierdie gemeente versorg kan word.  

Slot

Geliefdes, 1 Timoteus 5, leer ons hoe ons gesindheid teenoor ons medemens behoort te wees. Ons behoort mekaar geestelik op te pas. Soos ‘n herder sy kudde skape van die gevaar te beskerm, só behoort ons mekaar ook te bewaar teen die wêreld – maar óók teen onsself.

Elkeen van ons behoort moeite te doen met die verskillende verhoudings waarmee ons hier, in die gemeente, te doen kry. Of ons leiding gee, en of ons vermaan – of ons behoeftiges help en of ons sélf gehelp word –  mag ons God met ons optrede eer! Mag ons dít wat ons doen, met die regte gesindheid doen – tot eer en tot lof van God! Amen.