Skrifgedeelte: 1 Timoteus 5: 17 – 25
Fokusvers: 1 Timoteus 5: 17 en 18
Tema: Ouderlinge word weens hul roeping geëer.
Inleiding
Waar verlede week se preek, meestal, oor die verpligtinge van die diakens gegaan het, handel 1 Timoteus 5: 17 – 25 oor ‘n ouderling se roeping. Ons sal in vandag se preek raaksien dat daar eintlik twee verskillende tipes ouderlinge is, en dat dit die ouderlinge in die gemeente is wat die grootste verantwoordelikheid teenoor ander lidmate het.
Ouderlinge word weens hul roeping geëer
Verlede week het elkeen van ons diep onder die indruk gekom van ons elkeen se rol in die gemeente. Al het die vorige paar verse uit 1 Timoteus 5 meestal op die diakens se roeping gefokus, het ons raakgesien dat élkeen van ons ‘n doel en ‘n nut in die gemeente het. Alle mense wat in die sg. “amp van die gelowige” staan, het ‘n funskie hier. In vandag se preek gaan ons dit maar net weer raaksien.
Maar vanoggend se Skrifgedeelte praat in veel meer detail met die ouderlinge. Vanuit ons Bybelkennis weet ons dat die term: “ouderling” ‘n Nuwe-Testamentiese begrip is. Natuurlik dui hierdie woord nie slégs op iemand wie in jare gevorderd is nie. Ons moet nooit dink dat dit alléén die “ouer mans” van die gemeente is, wie as ouderlinge mag verkies word nie. Die term, ouderling, beskryf nie ‘n bejaarde persoon nie, maar eerder ‘n man met besondere wysheid en die vermoë om goeie leiding te gee. Tog ís dit baie keer die geval dat ‘n ouer persoon oor meer wysheid en lewenservaring as ‘n jonger persoon beskik. Solank ons altyd net onthou dat dit nie oor die fisiese ouderdom van ‘n persoon gaan nie, maar eerder oor die gawes.
Wanneer ouderlinge in die Bybel verkies is, leer ons hulle ken as mense wie bv. reeds familiehoofde was (vgl. Deut. 19: 12; 21: 19). Die ouderlinge word gereeld saam met dié mense gelys wie op verskeie maniere leiding in die samelewing geneem het Deut. 21; 18-21)(Dan. 22: 13-19). Daarom lees ons gereeld in die Nuwe Testament hoe die ouderlinge met die Joodse Priesterhoofde en ander geestelike leiers geassosieer word. ‘n Ouderling is dus iemand wie die Here spesifiek uitkies en toerus om leiding in die gemeente te neem. Dit is egter eers in die boek, Handelinge, dat die ouderlinge die belangrike rol in die Kerk begin speel soos hulle vandag steeds doen. Daar lees ons hoedat die ouderlinge saam met die apostels gelys word en hoedat daar van húlle verwag word om op ‘n geestelike manier leiding in die eerste gemeentes te neem (Handl. 6, 11, 15 en 20).
In die Pastorale Briewe word die ouderlinge ook “opsieners” genoem wat van die Griekse woord vir “biskoppe” afgelei is. Wanneer iemand ‘n opsiener genoem word, kan ons aan ‘n opsigter van ‘n gebou dink of iemand wat tydens eksamen toesig hou. Ouderlinge moes dus nie net leiding in die gemeente gee nie, maar ook toesien dat alles ordelik in die gemeentes verloop. Ouderlinge moet dus toesig in die gemeente hou. Maar waaroor moet hulle toesig hou? Oor dít wat gepreek word maar óók oor dit wat die lidmate van die gemeente doen en sê. En dan moet hierdie ouderlinge natuurlik met die régte gesindheid toesig hou – nooit deur baaspelerig te wees nie, maar deur met hulle gedrag ‘n boodskap oor te dra. Ouderlinge moet met hulle optrede ‘n voorbeeld vir die gemeente te stel oor hoe ‘n wáre gelowige behoort te leef. Die diens van ouderling verskil van die diens van die diaken in dié sin dat ‘n ouderling geroep word om geestlike leiding in die gemeente te neem. Op ‘n liefdevolle manier behoort hulle oor alle lidmate se geestelike lewens te regeer. Afgesien van die lys voorskrifte waaraan ouderlinge moes voldoen, word hulle óók opgeroep om die gemeente met God se Woord te onderrig (1 Tim. 3: 2; 5: 7) en óók om as herders van God se kudde op te tree (1 Pet. 5).
Hier, in 1 Timotheus 5, is dit vir ons duidelik dat daar twee verskillende groepe ouderlinge is. Paulus onderskei in ons fokusgedeelte tussen die sg. “regeer-ouderlinge” en die “leer-ouderlinge”. Die leer-ouderlinge is ouderlinge wat hulself baie spesifiek toespits op die leer/dogma van die Kerk. Leer-ouderlinge verklaar en verkondiging die Woord van God en onderrig die gemeente daaruit. Die sg. “leer-ouderlinge” is dus die predikante. Die “regeer-ouderlinge” is die normale ouderlinge soos ons hulle ken – hulle word deur die Here geroep om leiding in die gemeente te neem en hulle behoort toe te sien dat alles in die gemeente ordelik verloop.
Vanaf die Nuwe Testament word alle wáre Christelike gemeentes dus geestelik versorg deur ouderlinge. In God se alwysheid het Hy besluit om sy gemeente te laat onderrig, vermaan en versorg deur ménse. Maar – soos ons kan sien – is hierdie nie maar gewone mense nie, geliefdes. Hulle word spesifiek deur God afgesonder, geroep en toegerus vir ‘n baie besonderse dienswerk. En tog bly hulle maar net sondaar-mense. Daarom behoort ons hulle te respekteer weens hulle roeping en hulle amp. Ongelukkig is daar ‘n handjie vol ouderlinge wie se optrede nié met hulle status/amp ooreenstem nie. Lidmate verloor gou vertroue in só ‘n persoon en dit mag veroorsaak dat hul vertroue in Gód ook skade lei. En daarom behoort ons, wie leer- of regeer-ouderlinge is, waardig ons roeping te leef (Ef. 4: 1).
Omdat hierdie só ‘n belangrike diens in die Here se Kerk is, kry ons op verskeie plekke in die Bybel die opdrag om aan die ouderlinge/opsieners eer te bewys. Ook hier, in ons fokusgedeelte, sê Paulus: “Laat dié ouderlinge, wat goed leiding gee, dubbele eer ontvang, verál diegene wat hard werk aan Woordverkondiging en onderrig.” Alle lidmate behoort dus dié ouderlinge te respekteer en te eer. Nie noodwéndig vir die ménse wie hulle is nie, maar omrede hulle in hierdie besonderse diens staan. Juis omdat God hulle uitgekies het en omdat Hy hulle waardig ag vir vir hierdie amp. Wanneer ons hier, in 1 Timoteus 5, lees dat ons dubbele eer aan die ouderlinge behoort te bewys, dan word daar ‘n woord gebruik waarvan ons kerklike term “honnorarium” afgelei word. Natuurlik bedoel die Heilige Gees hier dat ons die ouderlinge behoort te eer weens hulle roeping, maar ons moet óók fisiese eer aan hulle eer bewys deur hulle te versorg soos wat hulle die gemeente versorg. En daarom leef ons hierdie Bybelse beginsel uit deur aan die predikant ‘n “honnorarium” te betaal vir die dienswerk wat hy in die gemeente doen. Die leer-ouderling – of predikant – ontvang egter nie ‘n salaris by die gemeente nie, maar ‘n “honorarium” (vgl. Handl. 4: 34; 19: 19; 1 Kor. 6: 20; 7: 23). ‘n Predikant word nie vergoed/beloon vir werk wat reeds afgehandel is nie, en daarom ontvang hy nie aan die einde van die maand ‘n salaris nie. Aan die begin van die maand word daar vir hom ‘n honorarium betaal sodat dít hom in staat kan stel om, sorgvry, sy werk in die gemeente te kan doen.
En dan lees ons iets vreemds in ons tweede fokusvers – daar in vers 18. Dírek nadat Paulus van die dubbele eer praat wat ons aan predikante moet bewys, sê hy: “Jy mag nie ‘n bees wat graan trap, muilband nie,” en “‘n arbeider is sy loon werd”. Wat het dit met ‘n leer-ouderling se dienswerk en versorging te doen? Dit het álles daarmee te doen, geliefdes! In die Ou-Testamentiese tydperk sou die mense ‘n bees oor graan laat loop het sodat die koringkorrels van die koringare geskei kon word. Hulle sou die dier – heeladag – oor en oor laat loop het oor die koringare. In Deuteronomium 25: 4 staan daar dat mens nie só ‘n dier mag “muilband” terwyl hy koring dors nie. Om iets te muilband beteken om so ‘n dier se bek toe te maak met ‘n stuk leer terwyl hy werk – amper soos ‘n masker wat ‘n mens vir ‘n hond sou opsit sodat hy niemand byt nie. Dus mag die mense van die Ou-Testamentiese tyd nie daardie bees se bek toegemaak het, terwyl hy onophoudelik gewerk het nie. Daar moes geleentheid aan daardie bees gegee word sodat hy kan eet en drink terwyl hy die graan trap.
Net só moet hy, wie die Evangelie verkondig, nie van kos en water ontneem word terwyl hy op die dorsvloer van die Kerk arbei nie (vgl. 1 Kor. 9: 9 ev.). Want net soos enige ánder arbeider is hy ook sy loon werd. Ek, as lidmaat, het daarom die plig om toe te sien dat my dankoffer met God se wil in lyn is, sodat die werksaamhede in die gemeente kan aangaan. ‘n Predikant (leer-ouderling) behoort egter nie nét fisies/finansiël versorg te word nie, maar ook geestelik. Om toe te sien dat die predikant en sy gesin geestelik goed versorg is, is trouens véél belangriker as om hulle maar net finansiël goed te versorg.
Maar hoe word ‘n predikant geestelik versorg? Wie troos die trooster? Dit is híér waar die waar die regeer-ouderlinge weer inkom, geliefdes. Dit is verál die predikant se wyksouderling wat – saam met al die ander ouderlinge – die predikant geestelik moet versorg. In julle bevestigingsformulier word julle, as ouderlinge van die gemeente, opgeroep om o.a. “die beienaar van die Woord met goeie raad bystaan” en “…verál oor die leer en wandel van die predikant toesig hou, sodat alles tot opbouing van die Kerk mag strek en sodat geen vreemde leer voorgedra word nie.”
Verder maak 1 Timoteus 5 dit duidelik dat dit ook die ouderlinge is wie die Kerklike vermaning en Tug moet toepas (Heidelbergse Kategismus Sondag 31). God het aan húlle die opdrag gegee om toe te sien dat alle lidmate tot sy eer leef. Saam met die predikant, is húlle die herders van God se kudde. Die ouderlinge waak oor elke lidmaat van hierdie gemeente se geestelike lewe en sal eenmaal daarvan rekenskap moet gee. Wat ‘n geweldige verantwoordlikheid, geliefdes! En daarom behoort kandidate nie ligtelik oorweeg word wanneer die gemeente nuwe ouderlinge wil verkies nie. Iemand wat bv. ónlangs tot geloof gekom het kan nie as ouderling oorweeg word nie. Iemand wie se openbare optrede kommerwekkend is, en van opsetlike sonde getuig, kan nie vir hierdie heilige diens ooweeg word nie. Paulus sê in vers 22: “Moenie iemand oorhaastig die hande oplê nie…”
Geliefdes, soos u kan sien, is die amp van die ouderling ‘n besonderse amp. Dit is ‘n roeping wat nie ligtelik opgeneem kan word nie en dit is ‘n diens wat geweldig baie verantwoordeliheid verg. En tóg het God in sy alwysheid besluit dat Hy ménse wil gebruik vir hierdie diens. Ons behoort egter te onthou dat dit nié die ouderlinge of selfs die predikant is, wie die belángrikste in die Kerk is nie. Jesus Christus is die Koning van die Kerk. Dit is Hy Wie bereid was om vir die uitverkore gemeentelede se sondes aan die kruishout te sterf. Dit is Hy Wie deur sy Vader vervloek is, sodat daar versoening vir sondes moontlik gemaak kan word – ook vir die ouderlinge se sondes. Dit is alléén Jesus Christus Wie die Almag het om die dood te kon oorwin. En dit is ook Hy Wie die Kerkraad toerus deur sy Woord en deur sy Gees.
Op hul eie beteken die ouderlinge níks vir die gemeente nie, geliefdes. Maar juis omdat God-Drie-Enig hulle roep en toerus en bekwaam maak vir hul roeping, daarom is hulle noodsaaklik in hierdie gemeente en daarom verdien hulle eer – sommige van hulle dúbbele eer.
Slot
Mag u, as ouderlinge, dan nederig in u roeping wees en altyd onthou dat dit Chrístus se gemeente is en dat u maar net tydelik deur Hom gebruik word. En mag u, as gemeente, op ‘n gesonde manier die ouderlinge eer – nooit weens die ménse wie hulle noodwendig is nie, maar weens hulle besonderse roeping.
Ja, geliefdes, dink aan die ouderlinge in u gebede. Doen vir hulle voorbidding sodat hulle met die regte gesindheid, en met besonderse wysheid, en met getroue gehoorsaamheid hulle roeping sal uitleef, want die ouderlinge waak oor julle geestelike lewe. Amen.