1 Konings 3: 1 – 15

Skrifgedeelte: 1 Konings 3: 1 – 15

Fokusvers: 1 Konings 3: 9

Tema: Wysheid, skerpsinnigheid, onderskeidingsvermoë en liefde

Inleiding

Wat sou jy antwoord indien die Here vandág vir jou gevra het: “Vra My wat Ek jou moet gee”? Indien een van óns vandag hierdie vraag moes antwoord, wat sou ons hierop antwoord? Die Here sê Hy kan énige iets vir my gee – sou ek dalk onbeperkte rykdom gekies het? Sou ek dalk vir politieke of persoonlike veiligheid gevra het? Sou ek dalk konstante gesondheid vir my en my gesin gevra het?

Wysheid, skerpsinnigheid, onderskeidingsvermoë en liefde

In 1 Konings 3 kom die Here na Salomo toe met ‘n ope uitnodiging, geliefdes: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?” En dan hoor ons hoedat die jong, Salomo, nié vir rydom óf gesondheid óf beroemdheid óf ‘n suksesvolle lewe gevra het nie. Hy smeek die Here vir besondere wysheid en insig.

Hoe merkwaardig, nie waar nie!? Iemand wat die insig het om só iets van die Here te vra, moes rééds wys gewees het. Vir Salomo om spesifiek wysheid te kies, moes hy rééds oor ‘n mate van wysheid beskik het. En daarom sê ons vandág nog soms dat iemand “die wysheid van Salomo” het. Maar presies wie was Salomo? En wat maak hom, as Bybelkarakter, uniek en besonders? Ons leer Salomo ken as een van die seuns van koning Dawid. Salomo het koning Dawid opgevolg en vir veertig jaar oor Israel regeer (1 Kon. 1-11). Nadat Batseba, in 2 Samuel 12, aan Salomo geboorte geskenk het, lees ons dat Salomo se naam ‘n besonderse betekenis het. Van geboorte af is hy “iemand wie die Here liefhet”

Dit was dan ook koning Salomo wat – op ‘n manier – ‘n voortsetting van sy pa, Dawid, se heerskappy was. Dít waarmee koning Dawid begin het, het Salomo voltooi. En daarom lees ons o.a. hoedat dit Salomo was, wat die Tempel in Jerusalem gebou en óók voltooi het (1 Kon. 4 en 5). Maar dan is dit intressant om raak te lees dat Salomo slegs vir séwe jaar lank aan die Here se Tempel gebou het, maar vir dértien jaar lank aan sy eie, persoonlike, paleis. Hier kan ons reeds iets van koning Salomo se prioriteite begin raaksien.

Ons lees vêrder hoedat koning Salomo oor besonder baie rykdom en roem beskik het (1 Kon. 4) en hoedat sy onderdane hom nie nét gehoorsaam het nie, maar hom byna aanbid het. Ons lees hoe die mense bv. élke dag vir koning Salomo tien vetgemaakte beeste, twintig beeste van die veld, een honderd skape én nog wild vir Salomo en sy vriende gebring het – élke dag! 1 Konings 4 sê vir ons dat Koning Salomo ook vierduisend perdestalle gehad met twaalfduisend ruiters in sy diens. Soos ons later óók sal sien, was Salomo, iemand wie lief was vir getalle:- die Bybel sê dat hy sewehonderd koninklike vroue en driehonderd byvroue gehad het (1 Kon. 11). Dit moet ingedagte gehou word, want in Deuteronomium 17 kry ons die voorskrifte rakende die verkiesing van ‘n koning asook wat sy pligte behels. Dáár lees ons – interessant genoeg – dat ‘n gelowige koning nié baie perde mag aanskaf nie en hy mag ook nie sy onderdane na Egipte laat terugkeer met die doel om meer perde aan te skaf nie. Vêrder word daar gesê: “Die koning mag ook nie vir hom baie vroue aanskaf nie, sodat sy hart nie van die Here afwyk nie. Van silwer en goud mag hy óók nie te veel aanskaf nie.” Nie nét het koning Salomo lynreg teen hierdie voorskrifte van Deuteronomium 17 ingegaan nie, hy het óók nog hierdie volksvreemde vroue se afgode begin aanbid en offerhoogtes vir hierdie afgode gebou sodat hy en sy baie vrouens daar offers aan hulle kon bring (1 Kon. 11). Soos baie ánder Ou-Testamentiese konings, het koning Salomo se heerskappy oor Israel belówend begin, maar trágies geëindig.

En tóg is Salomo baie méér bekend vir sy besondere wysheid Sy begrip, lees ons, was só omvangryk soos die sand van ‘n seestrand. Salomo se wysheid was baie méér as die wysheid van ál die mense uit die Ooste en óók méér as die wysheid van die Egiptenare – mense wat vir hulle wysheid en skerpsinnigheid bekénd was, geliefdes. Saam met Bybelboeke, soos Spreuke en Hooglied, het hy óók nog drieduisend spreuke en eenduisend-en-vyf liedere geskryf (1 Kon. 4). Koning Salomo is, verder, een van die min Ou-Testamentiese karrakters waarna Jesus Christus terugverwys tydens sy dienswerk op aarde. In sy Bergrede sê Jesus dat die sg. “onbelangrike” veldlelies met veel meer prag beklee is as waarmee koning Salomo ooit beklee was (Matt. 6: 29). Later herinner Jesus die Skrifgeleerders en die Fariseërs hoedat die die koningin van die Suide van die uithoeke van die aarde af gekom het om na die wysheid van Salomo te luister (Matt. 12: 42).

Dit is dus duidelik, geliefdes: al het Salomo sy foute gehad, was hy tóg – op sy tyd – ‘n besóderse mens. Aan die begin van sy amptelike dienswerk het hy egter steeds sy prioriteite verkeerd gehad en nie dádelik met die regte dinge begin nie. Dit was die Here se wil dat sy volk ál die aanbiddingsplekke van die heidene in die land, Kanaän, moes vernietig (Num. 33: 51-53). Dit was die Here se wil dat Salomo vir Hom ‘n Tempel moes bou, maar Salomo het vir vier jaar hierdie roeping uitgestel (1 Kon. 6). Vir die eerste vier jaar van Salomo se regering, het hy wél offers aan die Here gebring, maar hy het die reeds-bestaande aanbiddingsplekke van die heidense afgode gebruik om aan die Ware God te offer.

Terwyl Salomo eendag in Gibeon besig was om ‘n duisend offers aan die Here te offer, verskyn die Verbondsgod in ‘n droom aan koning Salomo. Dit is híér waar die Here daardie belángrike vraag vir hom vra: “Wat wil jy hê moet Ek – die Almagtige God – vir jóú doen?” Dit is Salomo se groot toets, nie waar nie? Al het hy die geleentheid daarvoor, vra Salomo egter nié vir wêreldse dinge of vir énige iets wat tot sy eie voordeel sal strek nie. Hy verootmoedig eers homself voor die Almagtige en erkén sy nietigheid voor God. Daarmee saam erken Hy die Here, as Verbondsgod – as die Een wat gelowiges se verlede, hede én hul toekoms in sy Hand hou: “Here my God, U het my koning gemaak in my vader, Dawid, se plek. Máár ek is nog jonk en onervare. Tog moet ek regeer oor die volk wat U uitgekies het. Dit is ‘n groot volk – te veel om te tel!

Hierdie jong koning besef dat hy onervare in die lewe is. Salomo erken sy menslike tekortkomings, geliefdes. Die realiteit is besig om by Salomo in te sink: hy moet leiding neem oor die Hére se eiedom. Hy word gekies om die Here se duurgekoopte kinders op te pas. Hoe kan ‘n blote sondaar-mens só ‘n geweldige verantwoordelikheid nakom? En daarom vra hy drie dinge van die Here: In ons fokusvers vra Salomo, eerstens: “Gee aan my ‘n hart wat luister” Waarom? “Sodat ek U volk rég sal regeer”. Daarna vra hy: “sodat ek kan onderskei tussen goed en kwaad”.

Hierdie jong man vra dus, eerstens, dat hy alléén aan die Hére gehoorsaam sal wees. Hy pleit by die Here vir ‘n hart wat sal luister na dít wat God aan hom beveel. Dit is ware wysheid om vir só iets te vra, geliefdes. Want in Spreuke 1: 7 lees ons tog: “Wysheid en kennis begin met die dien van die Here.” Ware wysheid, geliefdes, is as ‘n mens die Here se grootheid en almag en heerlikheid en liefdevolle genade érken. Om die Here met ‘n gehoorsame hart te dien en te eer – dít is wáre wysheid. En juis dáárvoor vra Koning Salomo.

Hierdie jong, onervare, koning smag na wysheid, want hy wil die Here se vólk op die régte manier regeer – sy tweede versoek aan die Here. Hy wil dus nie nét getrou aan die Hére wees nie – hy wil ook sy médemens rég hanteer. Hy besef dat die volk se ganse bestaan afhang van hoe hy hulle regeer. Sy invloed, as koning, kan hierdie mense maak of breek. En daarom skryf Salomo in Spreuke 3: 5: “Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie.” Al hoe hy – en énige ander leier – God se geliefde eiendom op die regte manier kan beinvloed, is as hulle by die Hére wysheid ontvang. En daarom bely Salomo juis dít in Spreuke 2: 6 wanneer hy sê: “Ja, nét die Here gee wysheid. Uit sy Mond kom kennis en verstandigheid.”

Die laaste wens waarvoor Salomo die Here vra, is dat God aan hom die insig sal gee sodat hy sal kan onderskei tussen dít wat reg is, en dít wat verkeerd is. Met hierdie wens, smeek Salomo die Here dat hy in – alle omstandighede – sal kan weet wát om te doen. Orals waar Salomo gaan – of hy in sy amptelike hoedanigheid werk en of hy op sy eie is – wil hy kan onderskei tussen die Hére se wil en sy éie sondige wil. Salomo smeek die konstánte werking van die Heilige Gees in sy lewe af, geliefdes. Want, soos ons weet, is dit alléen die Heilige Gees wat aan ‘n mens daardie gevoel gee oor dít wat reg in die lewe is, en dít wat verkeerd is. Dit is nét die Heilige Gees wat aan ‘n mens onderskeidingsvermoë kan gee.

Ja, geliefdes, selfs al kón Salomo énige iets daar by Gibeon van die Here vra, vra hy net vir één ding en dit is dat die Here aan hom wysheid sal gee. Insig oor hoe hy hierdie komplekse lewe kan aanpak. Vir Salomo is die belángrikste ding waarna hy kan smag, wysheid. Goddelike wysheid. En, soos ons weet, is dít ‘n tipe wysheid wat áltyd in liefde uitgevoer sal word. Dit is presies waarvoor ons bid as ons nuwe ampsdraers in die Kerk bevestig: “Here, skenk aan hulle wysheid, skranderheid, onderskeidingsvermoë en liefde.” Later in Salomo se lewe, sou hy skryf: “Ja, wysheid is beter as koraal. Niks wat begeerlik is, kan daarmee vergelyk word nie” (Spr. 8: 11).

Omdat Salomo nié vir ‘n lang lewe, of vir rykdom of vir die ondergang van sy vyande gevra het nie (vers 11), het die Here daardie dag aan sy se versoek voldoen. Die Here beloof in vers 12: “Ek gee aan jou wysheid en insig soos níémand vóór jou gehad het of ná jou sal hê nie.” Maar vêrder ook dít, geliefdes: In sy liefde sê die Here in die volgende vers aan Salomo: “Ook wat jy nié gevra het nie, gee Ek aan jou…” En daarom ontvang Salomo – bykomend by ál sy wysheid en insig – óók nog rykdom en aansien.

Soos ons aan die begin van die preek gehoor het, het hierdie wysheid van Salomo nie regdeur sy lewe stand gehou nie. En daarom is ons fokus nie op Salomo nie, maar eerder op die Een wie uit Salomo se nageslag gebore sou word. Wanneer God aan Dawid, die vader van Salomo, die belofte gee nl. “Jou huis en jou koninskap sal vir áltyd bestendig wees voor My. Jou troon sal vir altyd in stand bly” (2 Sam. 7: 16) dan word hierdie belofte deur die Eerste Koms van Christus vervul. Jesus Christus is die Enigste Wáre Koning, geliefdes. Selfs al het koning Salomo besondere insig en wysheid gehad, is ons Verlosser, Jesus Christus, die Koning waarop ons vanoggend wil fokus. Met sy kruisiging en nuwe lewe het Hy die sonde én die dood finaal oorwin! As Énigste Almagtige Koning verpletter Hy die satan en heers Hy tot in alle ewigheid!

Saam met die apostel, Paulus, kan ons mekaar daarom herinner en sê: “Aan Gód is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die Wysheid wat van God kom: die Vryspraak, die Heiliging, die Verlossing” (1 Kor. 1: 30). 

Slot

Geliefde in die Here, wat sou jy antwoord indien God vandag vir jou vra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee”? Sou jy dalk onbeperkte rykdom gekies het? Sou jy dalk vir veiligheid gevra het? Dalk vir konstante gesondheid? Of sou jy die insig gehad het om vir wysheid te vra? Wáre wysheid. Góddelike wysheid. Amen.