Psalm 66: 1 – 20

Skrifgedeelte: Psalm 66: 1 – 20

Fokusvers: Psalm 66: 20

Tema: Soli Deo Gloria!

Inleiding

Iets waarvoor die Protestantse Reformasie áltyd bekend sal staan, is die sg. “Vyf Solas van die Reformasie”. “Sola” of “Solo” of “Soli” dui alles op dieselfde begrip. Hierdie Latynse woord beteken om alleen – sonder enige hulp of bystand – iets te verrig. Die verskillende uitgange van hierdie woord is maar net die manlik, vroulik en meervoud – maar dit alles word vertaal met “enkel” of “alleen” of “slegs”.

Wanneer ons oor die sg. “Vyf Solas van die Reformasie” praat, dan praat ons dus oor vyf Bybelse begrippe wat die Reformasie-tydperk beskryf. “Sola Scriptura” beteken dat ons geloof “alléén op die Woord/Bybel” gegrond is. Solus Christus beteken dat ons “alléén deur Christus” van ons sondes verlos is. “Sola Fide” beteken dat ons “alléén deur geloof” geregverdig is voor God. “Sola Gratia” beteken dat ons “alléén deur genade” uitverkies is. En “Soli Deo Gloria” beteken dat ons “alléén aan God alle lof en eer” wil gee.

Soli Deo Gloria!

Aangesien ons die afgelope paar jaar reeds na die ánder vier Solas van die Reformasie gekyk het, behandel ons vandag die vyfde – en laaste – Sola: Soli Deo Gloria! Maar wat het Psalm 66 met die vyfde Sola van die Reformasie te doen? Dit het álles daarmee te doen, geliefdes, want in hierdie Psalm word God volledig geloof en vereer en verheerlik. Reformatore, soos Martin Luther, Johannes Calvyn en Martin Bücer sou verséker Psalm 66 gesing en laat sing het tot lof van God se wonderlike genade. Maar, soos ons weet, is hierdie Psalm lánk vóór die Herforming geskryf. Reeds in die Ou-Testamentiese tydperk het ‘n onbekende skrywer hierdie Psalm gedig om sy dankbaarheid teenoor God-Drie-Enig te verwoord. En juis hierin sien ons hoe tydloos die Bybel is, geliefdes. Die inhoud van God se Woord bly aktueel en relevant – óók vir vandág.

Beide Psalm 65 én 66 besing die grootheid en die lofwaardigheid van God-Drie-Enig. Waar Psalm 65 die Almagtige Skepper wil loof en prys vir die wonderlike uitkoms wat Hy in die natuur bring met oorvloedige reën, wil die Psalm wat ons vanoggend saam gelees het, die Here loof en prys vir sy wonderlike uikoms na ‘n tydperk van fisiese lyding. Die skrywer dink terug aan die wonderlike manier waarop God sy voorgeslagte verlos het. Psalm 66 haal Israel se geskiedenis aan deur terug te verwys na twee episodes waar God sy volk gered het deurdat Hy groot waters voor hulle oopgekloof het.

Die eerste waarna Psalm 66 terugverwys, is die gebeure van Eksodus 14 waar die volk, Israel, weggevlug het uit die greep van die wrede Egiptenaars. Daar waar die Verbondsgod aan Moses die opdrag gee om sy hand oor die see op te lig en, met sy staf in sy hand, die see se water te skei sodat die kinders van die Here op droë grond daardeur kan trek. Ons lees hoedat die water van die see soos mure weerskante van hulle gestaan het terwyl die Israeliete daardeur getrek het, en hoe die God die wiele van die Egiptiese strydwaens laat afval het en hoe Hy die Egiptenare in verwarring gebring het en later die see oor hulle laat toegaan het. Die belofte van Moses gaan daardie dag in vervulling toe hy aan die volk gesê het: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nóóit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Hére sal vir julle veg” (Eks. 14: 13 en 14).

Vêrder is Psalm 66 ‘n terugverwysing na Josua 3 waar die volk van die Here by die Jordaan-rivier aangekom het. Hulle moes hierdie rivier oorsteek om Kanaän – die Beloofde Land – binne te gaan. Wéér het die Here daardie dag sy almag getoon toe Hy die water van die Jordaan-rivier laat opdam het – en ‘n onsigbare wal gevorm het teen die druisende rivierstroom. God toon dus twéé keer sy wonderlike verlossing deur wáter heen – wat vir ons, as Nuwe Testamentiese gelowiges, ‘n heenwysing na ons en ons kinders se doop is. Maar tussen hierdie twee gebeure – tussen die uittog uit Egipte en die inname van die Beloofde Land, Kanaän – lê daar egter ‘n droewige, droë, dódelike woestyn. God se uitverkore kinders moes dus déúr hierdie woestyn reis om uiteindelik die verlossing te ontvang. Daar is nie ‘n ander pad as die pad as die “woestyn-pad” nie. Daar is nie ‘n ander uitweg nie, geliefdes. Dít is die manier waarop God met sy kinders gewerk het – en stééds werk. Hy gee die belofte van herstel en redding en uiteindelik laat gaan Hy hierdie belofte in vervulling, maar tussen die belofte en die beloning lê daar ‘n barre woestyn.

En presies dít het die gelowiges tydens die Reformasie ook beleef. Soos ons weet was die meeste mense van destyds lidmate van die Rooms-Katolieke Kerk. Ongelukkig het hierdie Kerk, in daardie tyd, baie mense verwar. Hulle het bv. sekere mense as “heiliges” verklaar en sou déúr hierdie mense en tót hierdie mense bid. Dit is dus niks anders as afgodery nie. Verder sou hulle baie klem op die pous geplaas het. Wat hy ookal gesê het, het die gelowiges gedóén – selfs al was dit onBybels en sonde in die Here se oë. Tesame hiermee het die Rooms-Katolieke Kerk geleer dat ‘n mens alleen op grond van goeie werke gered word. “Dit is slegs wanneer ‘n mens goeie dade doen dat ‘n mens hemel toe kan gaan”, sou hulle sê. Alle mense wat níé hierdie sienings wou aanvaar nie, is nie net versóót nie, maar vervólg. Ons dink o.a. aan hoe “Bloedige Maria” honderde Hervormers op brandstapels laat verbrand het. ‘n Woestyn-typerk in die Here se Kerk wat verwarring en angs en selfs die dóód gebring het. Die gelowiges van daardie tyd sou ook, soos die skrywer van Psalm 66, gesê het: “U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ‘n mens silwer louter. U het ons in ‘n vangnet laat beland, ‘n las op ons skouers gelê. U het mense oor ons koppe laat ry – Ons het (letterlik) deur vuur en water gegaan” (Ps. 66: 10-12). 

Maar, geliefdes, die Here het – soos in die tyd van Psalm 66 – ‘n belofte gegee waaraan Hy getrou was. Juis omdat die gelowiges tydens die Reformasie hul medegelowiges met die Here se Woord verlig het, het Hy aan hulle uitkoms gegee. Juis omdat die prominente figure in die Reformasie-tydperk die Here se Waarheid uitgelig en verkondig het, het die Here aan hulle “na oorvloed uitgelei” soos ons in Psalm 66: 12 lees. En dit is waarom die sg. “Vyf Solas” van  die Reformasie so belangrik was en is, geliefdes. Want deur hierdie vyf Skrifwaarhede word die hele Evangelie opgesom.

Want dit is alleen God se Woord wat gesag het, en nie die uitsprake van die Pous of selfs die standpunte van ‘n Kerk nie. Dit is alleen God se Woord wat oor outoriteit beskik en nie mensewoorde nie – selfs al is die persoon wat die uitspraak maak ook hóé belangrik (2 Pet. 1: 21). Jesus Christus word verskeie kere in die Nuwe Testament “die Woord van God” genoem (vgl. Joh. 1). God laat sy eie Seun Mens word, sodat Hy sy Vader se volmaakte wil aan ons kan kom bekendmaak. God se Woord verskyn físies aan alle mense en deur sy volmaakte, gehoorsame, lewe verstaan ons God se wil vir ons lewens net nóg beter. Jesus Christusalléén – bewerk vir ons versoening met God deur sy eie lewe te gee. Aan die kruis ervaar Hy baie méér benoudheid as wat ‘n mens in ‘n woestyn beleef – deur sy aardse lewe gaan Hy deur veel érger dinge as wat énige van die Reformatore óóit deurgemaak het. Hy sterf die vloekdood ter wille van God se uitverkore kinders. Waarom? Want Hy het geweet dat sy Vader vir Hom uitkoms en éwige oorvloed beloof. Na drie dae oorwin Hy die dood en ontvang Hy die Ewige Lewe!

Om hierdie verlossing van Jesus Christus vir ons eie lewens te ontvang, is dit vir ons nodig om daarin te gló, geliefdes. Al hoe ek van my stapel sondes vergewe kan word, is as ek wérklik gló dat Jesus Christus reeds die volle prys daarvoor betaal het. Al hoe ek verlos kan word van al my bekommernisse rakende my sonde en my gebroke verhouding met die Here, is as ek vás glo dat Jesus Christus wérklik ook vir my sonde ten volle betaal het. Dit is nie deur goeie werke óf deur wetsonderhouding wat ek verlos word nie. Ek word van my sonde verlos alléén deur my geloof in Jesus Christus.

Geloof is egter nie iets wat ons uit onsself kan regkry nie. Ek het nie sélf die vermoë om in God-Drie-Enig glo nie. Uit my eie sou ek nooit Christus as my Enigste Verlosser gekies het nie (Rom. 3: 10, 21-26). En dit is waar God se genade inkom, geliefdes. Want alleen deur genade ontvang ek ware geloof. Geloof is ‘n gawe van God. Dit is God, die Vader, wat – deur die werking van die Heilige Gees – vir my die geloof gee wat nodig is om deur Christus verlos te word!

Wanneer ons die grootsheid hiervan besef, sal ons nie anders kán as om God te loof en te prys vir sy wonderlike en liefdevolle optrede nie. Ons sal nie anders kán as om uit te roep: “Soli Deo Gloria!” nie. Soos die onbekende digter van Psalm 66 wil ons die Here prys en eer vir die onverdiende verlossing wat Hy aan élke gelowige bring. Die digter van Psalm 66 is só dankbaar teenoor die Here dat hy só vê gaan as om “almal op aarde” op te roep om te juig tot eer van God (vers 1). Hy roep letterlik álle mense – gelowiges én ongelowiges – op om die eer van God se Naam te besing. Ja, geliefdes, selfs dié wat nie die almag van die Here wou erken nie, sal in onderdanigheid na God toe kruip (vers 3). Alle volke moet God prys, “want dit is alleen die Skepper wat aan ons lewe gee, en nie toelaat dat ons voete swik nie”, sê vers 9. God gee nie maar nét die aanvanklike lewe wanneer Hy ons skep nie, Hy gee óók aan ons núwe lewe wanneer Hy ons tot geloof bring deur sy Gees. Hoe wonderlik is dit nie!? Hy herskep ons sodat ons – selfs in die moeilikste van moeilike omstandighede – kan moed hou.

Saam met Ou-Testamentiese Israeliete, die digter van Psalm 66 én die Reformatore van die 16de eeu sal ons vir álmal rondom ons wil wys dat die Here getrou bly aan sy Woord. Daar is stééds ‘n beloning wat vir ons wag – selfs al is ons dalk nou in die barre woestyn. Dít wat God beloof het, sál Hy uitvoer. Die Here sal óns ook uitlei na oovloed soos wat Hy aan ál die gelowiges in die geskiedenis gedoen het. Ons het oorgenoeg bewyse hiervan, geliefdes. Waarom twyfel ons dan so maklik? Waarom kyk ons so vas in ons huidige omstandighede? Waarom sien ons net die stof en die sand en die droogte rondom ons raak?

Slot

Mag Psalm 66 en die gebeure rondom die Reformasie ons geloofsperspektief gee sodat ons verby ons huidige omstandighede kan kyk. Ons is nie die énigste geslag – die enigste volk – wat dit dalk nóú moeilik het nie. Dit is die manier waarop God met ál sy kinders werk, geliefdes. Daar is nie ‘n ander pad as die “woestyn-pad” nie. Die Heilige Gees wys ons egter vandág dat hierdie pad nie ‘n dodelike pad is nie, maar een wat na nuwe lewe en vreugde in die Here lei.

Mag jy vashou aan die Here se beloftes – mag jy volhard in die geloof – totdat jy die beloning van die Ewige Lewe ontvang. En terwyl jy daaraan vashou, mag jy besef dat dit alléén Gód is wat geprys moet word. Hy hou ons nie net staande deur hierdie chaotiese lewe nie – Hy verlos ons deur Christus op grond van sy wonderlike genade. Roep daarom – élke dag – uit: “Aan God alleen alle eer!” “Soli Deo Gloria!” Amen.