Genesis 22:1-19

Teksgedeelte: Genesis 22:1-19

Fokusvers: v14

Die Here voorsien ʼn offerlam sodat sy mense kan lewe.

Hoofpunt 1: Die Here voorsien aan Abraham

Hoofpunt 2: Die Here voorsien aan Isak

Hoofpunt 3: Die Here voorsien aan ons sodat ons kan lewe. 

Inleiding

Waarom sou God, Hy wat die bron is van alles wat goed is, vir Abraham vra om vir Isak te offer? Dit is iets wat vir ons nie sin maak nie. Baie van die afgodsdienaars van daardie tyd het hulle kinders aan die afgode geoffer. God sê op ander plekke in die Bybel dat Hy die offer van kinders verafsku. In Levitikus 18:21, 20:3 en Deuteronomium 12:30–31, 18:10 verbied hy dit baie duidelik.

God is egter nie hier besig om werklik van Abraham te verwag om sy kind te offer nie. Hy is besig om Abraham te toets. Hy is besig om met Abraham te werk. In hierdie Ou Testamentiese geskiedenisverhale leer ons nie God ken omdat iemand soos Paulus vir ons beskryf wie hy is nie. Ons leer God ken deur te sien hoe hy met mense werk. Ons leer Hom ken in die pad wat Hy met mense soos Abraham gestap het.

As ons na die teksgedeelte kyk, wat vir ons aanvanklik nie sin maak nie, sal ons sien hoe God wonderlike dele van homself aan ons openbaar soos wat die gebeure ontvou.

Die Here voorsien aan Abraham

Met die vorige preek uit Genesis uit het ons gekyk na hoe die Here aan belowe dat Hy getrou sal bly aan sy verbond. Onder andere het God aan Abraham belowe dat hy sy nageslag groot sal maak. Sy nageslag sal die volk van die Here wees. Hulle sal die mense wees wat God dien. Hy sal vir hulle ʼn God wees en hulle moet vir hom ʼn volk wees.

As ons dan verder lees van die geskiedenis van Abraham sien ons dat hy en sy vrou Sara baie oud was en dat dit menslik gesproke onmoontlik vir hulle was om kinders te kry. Die Here laat dan ʼn wonder gebeur en gee aan hulle ʼn seuntjie. Hy gee aan Abraham ʼn nageslag. God wys hoe hy getrou is aan sy belofte wat Hy aan Abraham gemaak het.

Dan gebeur iets wat vir ons vreemd klink. Die Here het deur ʼn wonderwerk Isak vir Abraham gegee en nou vra die Here vir Abraham om Isak vir Hom te offer. Ons moet onthou dat dit waarskynlik ʼn algemene gebruik van die mense van daardie tyd was om kinders aan hulle afgode te offer.

Ons moet ook onthou dat Abraham nie die Bybel gehad het soos wat ons dit vandag het nie. Al wat Abraham van God geweet het, is dit wat God aan hom geopenbaar het. Die Here het direk met Abraham gepraat en dit is wat Abraham van God gehad het.

Toe die Here aan die begin vir Abraham geroep het, het hy vir Abraham gevra om sy verlede agter te laat en die Here te volg. Die Here vra hom om alles wat vir hom belangrik was agter te laat. Hy moet sy familie en die land van sy ouers opoffer om Hom te volg. Abraham is dan gehoorsaam aan die Here en hy doen dit. Hy offer sy verlede op.

Die Here vra egter nou hier vir Abraham om sy seun te offer. Sy seun deur wie die beloftes van die Here sou waar word. Sy seun in wie sy toekoms lê. Abraham het reeds sy verlede vir die Here opgeoffer en die Here vra nou vir Abraham om sy toekoms ook vir hom op te offer. Die Here vereis volkome vertroue en gehoorsaamheid van Abraham.

Dit is wat die Here hier doen. Hy toets vir Abraham. Hy vereis volkome getrouheid van Abraham. Natuurlik weet ons dat die Here alwetend is. Hy het geweet wat gaan gebeur. Hy het geweet dat Abraham nie vir Isak sou offer nie. Hy het dit self gekeer. Hy het ook geweet dat Abraham gehoorsaam sou wees. Dit is juis deur hierdie toets wat die Here hierdie gehoorsaamheid binne Abraham gekweek het. Die Here het deur die Heilige Gees in Abraham se hart gewerk en vir hom die krag gegee om gehoorsaam te wees.

Die Here werk in ons harte deur die Heilige Gees en laat alles in ons lewens met ons gebeur dat ons daardeur kan groei in ons geloof. Die verhaal wat ons vanoggend gelees het, is nie die Here wat werklik vir Abraham vra om sy seun te offer nie. Dit is die Here wat met Abraham werk, soos wat Hy ook met elke gelowige werk. Dit is ook die Here wat vir ons wys wie Hy is deur hoe Hy met Abraham werk. Ons sien in die verhaal hoe die Here volkome getrouheid vereis, maar ook hoe Hy voorsien.

Ons sien dit van die begin af in die manier hoe die Here  vir Abraham in vers 2 vra: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet…en offer jou seun as brandoffer…”. God vra nie net “ Offer jou seun as brandoffer” nie. Hy sê “Jou enigste seun, wie jy lief het, Isak”. Die Here weet wat hy van Abraham vra. Hy vra dit met innigheid. Hy weet hoe moeilik dit is.

Ons lees dan presies wat Abraham se reaksie was. Daar staan dat hy vroeg die volgende môre opgestaan en begin reageer het. Baie mense interpreteer hierdie as ʼn bewys van Abraham se gehoorsaamheid. Dat Abraham ʼn gesindheid gehad het waar hy vir die Here sê: “Wat ook al U sê Here, sal ek doen. As U sê spring, vra ek hoe hoog”. Dit is moontlik, maar ons moet onthou dat Abraham ʼn mens is net soos ons. Dit was waarskynlik eerder vir Abraham ontsettend moeilik om aan die Here gehoorsaam te wees. Hy het eerder vroeg op gestaan omdat hy nie kon slaap nie. Hy het dadelik aan die werk gespring, want hy wou dit verby kry. Hy kon nie langer daaroor tob nie. Wat die Here hier van Abraham vra, is groter as wat ons kan begryp. Dit is onuitspreeklik. Die Here vra vir Abraham om sy seun te offer.

Abraham het op hierdie punt baie diensknegte, maar hy kap self die hout. Hy kap self die hout waarop hy sy seun moet brand as offer. Hy weet dit is iets wat hy moet doen. Ons kan net dink met watter emosie hy die hout moes kap. Hy kap hout soos ʼn man met ʼn wroeging in sy hart. Ons lees ook nie dat hy vir Sara iets vertel nie. Hoe sê ʼn mens so iets vir jou vrou?

Hierna gaan Hy en sy seun op ʼn uittog na die berge van Moria toe. Dit is ʼn uittog wat drie dae lank geneem het. Vir drie dae lank moet Abraham saam met sy seun trek na die plek toe waar hy sy seun moet offer. Dit moes werklik senutergend wees. Hoe doen mens dit vir drie dae lank met die wete dat jy op pad is om die seun vir wie jy lief is, jou enigste seun, te offer.

Abraham sien dan die plek waar hy vir Isak moes offer en hy sê vir sy diensknegte wat saam met hulle daar was dat hulle nie saam met hom moet kom nie, maar dat hulle daar moet bly en dat hy en die seun sou terugkom.

Is dit net ʼn wit leuentjie om die diensknegte rustig te hou? Of het Abraham rêrig geglo dat hy en die seun sou terugkom? As ons Hebreërs 11:17-19 lees, sien ons dat Abraham geglo het dat God weer vir Isak uit die dood uit sal opwek.

“17-18 Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. 19 Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het”.

 Hy het geweet dat God deur Isak vir Hom ʼn groot nageslag sou gee. Daarom het hy vertrou dat die Here weer vir Isak uit die dood uit sou laat opstaan. Hy het vertrou dat die Here getrou sou bly aan sy belofte. Abraham het dus nie ʼn wit leuentjie vertel nie. Hy het geweet dat Isak sou lewe, want God het belowe dat Isak sou lewe. Hy het net nie geweet hoe nie. Hy het egter geweet dit gaan so wees.

Hy sit toe die hout op sy seun Isak se rug en die twee gaan alleen na die plek toe wat die Here vir Abraham gewys het. Isak vra egter vir sy pa waar die offerlam is. Ons het die vuur en die hout, maar ons het nie die ram nie. U kan uself indink hoe Abraham moes gevoel het. Hoe moet hy in sy seun se oë kyk en hom op hierdie vraag antwoord.

Die Here voorsien aan Isak

Ons  lees dan die merkwaardige antwoord van Abraham. Die Here sal vir homself die offerlam voorsien. Baie mense kan dink dat Abraham eenvoudig weer hier ʼn leuen vertel het. Dat hy weer hier net iets sê sodat Isak kan rustig bly. Dit is egter, soos reeds vroeër bespreek, nie die geval nie. 

Abraham het nie geweet wat gaan gebeur nie. Hy het egter een ding geweet en dit is dat die Here sal voorsien. Hy het nie verstaan hoe of hoekom nie, maar hy het verstaan dat nie saak maak wat gebeur nie – die Here sal voorsien.

Baiekeer wanneer ons die verhaal lees, probeer ons net onsself vereenselwig met Abraham. Ons dink dat ons as gelowiges moet leer om te vertrou op God soos wat Abraham het. Alhoewel dit waar is, is daar ʼn ander deel van hierdie geskiedenisverhaal. Abraham is nie die hoofkarakter nie, Isak ook nie. God is die hoofkarakter. Ons as mense kan egter leer deur Abraham en deur Isak.  

Dit wil voorkom asof die eerste Jode wat hierdie verhaal gelees het, hulself eerder vereenselwig het met Isak. Hulle besef dat as Isak nie gelewe het nie, het hulle as volk nie bestaan nie. Die volk van Israel is die nageslag van Abraham. Isak is aan Abraham gegee as ʼn wonderwerk. Die volk is tot stand gebring deur Isak. Die volk is ook onderhou deur God wat voorsien.

God voorsien ʼn ram om geslag te word in die plek van Isak. God voorsien ʼn ram om geslag te word in die plek van Israel.  Die volk van Israel het besef dat hulle alleen deur die genade en voorsienigheid van God tot stand gebring is en onderhou word. Hulle is die seuntjie wat doodgemaak sou word en het in die eerste plek nie gelewe as dit nie vir God was nie. Die volk van Israel het besef dat hulle alleenlik bestaan as gevolg van God se genade. Ons moet dit ook besef.

Hulle stap toe verder saam en Abraham bou ʼn altaar en hy bind sy seun vas en hy sit hom op die altaar. Ons lees glad nie dat Isak terugbaklei het nie. Ons weet nie hoe oud Isak was nie, maar hy was oud en sterk genoeg om hout by ʼn berg op te dra. Abraham was hier al baie oud. Isak kon terugbaklei het as hy wou. Hy het waarskynlik ʼn goeie kans gestaan om te wen. Hulle albei het egter geweet dat die Here sou voorsien.

Abraham vat dan die mes en hy lig dit op, hy is gereed om sy seun te slag. Op die laaste oomblik gryp die Here in. Abraham hoor ʼn stem roep: “Abraham, Abraham.” Die stem sê: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

Abraham kyk toe op en hy sien ʼn skaapram wat se horings in ʼn bos vas gevang is. Hy sien dat die Here toe vir homself ʼn offerlam voorsien het. God voorsien ʼn offerlam om in die plek van Isak geoffer te word. God voorsien ʼn offerlam om in die plek van Israel geslag te word. God voorsien ʼn Offerlam om in ons plek geslag te word.

Die Here voorsien aan ons sodat ons kan lewe. 

Daar is nie ʼn sterker parallel in die Ou Testament wat getrek kan word na dit wat Jesus vir ons gedoen het in die Nuwe Testament nie. Die Here vra vir Abraham om sy enigste seun, vir wie hy lief is, vir Hom te offer. Hy voorsien dan egter ʼn offerlam om in sy plek geoffer te word.

Die Here offer sy enigste Seun vir wie hy lief is, vir ons. Hy voorsien ʼn offerlam in ons plek om geoffer te word. Ons lees in Joh. 1:29:

“Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”

Ons lees dan verder in Johannes die bekende vers Joh. 3:16 :

“16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

God se enigste seun vir wie hy lief is, het hy gegee as offerlam om dood te gaan sodat ons kan lewe. God voorsien ʼn offerlam in die plek van Isak. God voorsien ʼn offerlam in die plek van Israel. God voordien ʼn offerlam in ons plek.

God het geweet wat gaan gebeur. God het geweet hoe Abraham en Isak en die volk Israel sou optree aangaande hierdie gebeure. Hy het ook geweet dat Hy sy Seun sou stuur om in ons plek geoffer te word. Daarom is hierdie gebeure so besonders. Dit is so ʼn duidelike voorskadu van Christus.

Abraham noem toe die plek: “Die Here sal voorsien.” Daar ontstaan toe ʼn gesegde onder die Jode: “ Op die berg sal die Here voorsien”. Broers en susters, dit is die kernboodskap van die teksgedeelte. Die Here sal voorsien. Dit is al waaraan Abraham kon vashou in die moeilike tyd toe die Here hom getoets het.

Dit is alleen deur die Heilige Gees wat Abraham hierdie vertroue op die Here se voorsienigheid gehad het. Dit is dieselfde vir ons ook. Dit is deur die werk van die Heilige Gees dat ons vertroue op die Here groei, daarom moet ons bid dat die Here dit in ons harte sal vestig. Mag hierdie gesegde dan onder ons ook bestaan. Mag ons, wanneer ons baie uitdagende omstandighede ervaar, ook vir mekaar sê: “Op die berg sal die Here voorsien”.

Wanneer ons nie weet hoe of hoekom nie, wanneer ons heeltemal moedeloos is, wanneer ons net in hopeloosheid vir die Here vir vra: Hoekom?, moet ons onsself aan hierdie gesegde herinner: “Op die berg sal die Here voorsien”. Ons weet nie hoe nie, ons weet nie wanneer nie, ons weet net “Op die berg sal die Here voorsien”.

Abraham het dit geglo. Dit was nie hoegenaamd vir hom maklik nie. Dit was bitter uitdagend, maar hy het dit geglo en daarom word hy die vader van die gelowiges genoem. Die Here het hier die absolute vertroue van Abraham vereis en ook die krag om dit te doen in hom bewerk. Hy het daarom ook weer hierna sy verbond met Abraham bevestig.

Die Here herinner vir Abraham aan die beloftes wat Hy aan hom gemaak het. Sy nageslag sal groot wees. Hy sal aan hulle die beloofde land gee en die volk sal vanuit hierdie land lewe tot seën van al die nasies. 

Slot

Abraham het nie verstaan hoekom of hoe die Here hom gestuur het om sy seun te offer nie. Abraham en die volk van Israel het nie geweet dat dit sou wees om ʼn voorskadu te wees van Christus nie. Hulle het egter geweet dat dit daarop wys dat die Here sal voorsien.

As dit swaar gegaan het met die volk, as hulle nie geweet het hoekom of hoe die Here uitdagende omstandighede in hulle lewens toelaat nie, het hulle vir mekaar gesê: “Op die berg sal die Here voorsien.”

Broers en Susters, ons kan en moet mekaar ook daaraan herinner. Die Here het op die berg voorsien. Op die berg van Moria vir Abraham, maar ook op die berg van Golgota vir ons. Die Here voorsien self ʼn offerlam sodat sy mense kan lewe. 

Amen