Teksgedeelte: Mattheus 9:9-13
Fokusvers: v 9,12-13
Tema: Christus roep sondaars om Hom te volg
Hoofpunt 1: Christus roep sondaars
Hoofpunt 2: Ons volg hom
Inleiding
Broers en susters, vandag het ons die besondere groot voorreg om die Heilige Nagmaal te vier. Die nagmaal is een van die twee sakramente wat die Here vir ons ingestel het om te vier. Die ander een is die doop. Die Here het dit vir sy kerk gegee as tekens en seëls. Dit is tekens, want dit wys na iets toe, en dit is seëls want dit verseker ons van dit waarna dit wys. As ons as gelowiges deelneem aan die sakramente, is dit tot opbou en versterking van ons geloof, want dit is woordverkondiging op ʼn fisiese en tasbare manier waaraan ons kan deelneem. Dit is werklik merkwaardig.
Wanneer ons dan later die Nagmaalsformulier lees, gaan ons sien dat mense wat hardnekkig en moedswillig volhard in sonde, vermaan word om nie nagmaalstafel toe te kom nie. Sulke hardnekkige en moedswillige volharding van sonde toon nie die vrug van ʼn ware geloof nie en daarom word hulle nie uitgenooi na tafel toe nie.
Die formulier sê daarna dat ons wat aan die tafel sit, onsself egter nie as sondeloos beskou nie. Ons is gebroke sondaars wat alleen deur die genade van Christus gered is. Dit is juis waaraan die nagmaal ons herinner. Dit is waarvan dit ʼn teken en ʼn seël is. Dat Jesus se liggaam verskeur is en die bloed wat gevloei het vir ons sondes.
Dit is wat vandag se skrifgedeelte dan ook vir ons leer: dat Jesus ons as sondaars roep om Hom te volg.
Hoofpunt 1: Christus roep sondaars
In die skrifgedeelte wat ons vanoggend saam gelees het, het ons gehoor hoe Jesus vir Mattheus geroep het. Dit is dieselfde Mattheus wat hierdie evangelie geskryf het. Hy sluit sy eie verhaal van hoe hy self geroep is om ʼn volger van Jesus te word, by die boek in. Dit moes vir hom besonders gewees het om dit neer te skryf. Om sy eie verhaal, wat hom persoonlik so diep geraak het, ook in te weef in die groot vertelling van die geskiedenis van Jesus. Hierdie vertelling van sy roeping is midde-in verskeie ander waar Jesus mense genees en ander wonders doen, soos om die storm stil te maak.
Dit is kort na die bekende bergpreek van Jesus, wat strek vanaf hoofstuk 5-7. Die hooftema en boodskap van hierdie preek is dat die koninkryk van God kom. Jesus wys dit deur die wonders wat hy doen na afloop van die preek en deur mense te roep om sy volgers te wees, om burgers van sy koninkryk te word.
Dit is wat Jesus hier vir Mattheus gedoen het. Hy het hom geroep om sy volger te word en die roeping geld vandag ook vir ons. Die Here roep ons, sy kinders, en Hy sê vir ons: “Volg my”. Word my kinders, word burgers van my koninkryk!
Maar hoe dink ons oor hierdie roeping? Wat is ons gesindheid oor die roeping? Is dit werklik vir ons? Sluit ons onsself in by die mense wat die Here roep? Of ag ons onsself as deel van ʼn ander groep? Die teksgedeelte wys nie net vir ons dat die Here vir Mattheus geroep het nie, dit wys vir ons presies watter tipe mens die Here roep. Hy roep sondaars.
Wat beteken dit? Jesus wat self sê: “Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” Almal is tog sondaars? Niemand is uit homself uit op die regte pad nie. Die stelling van Jesus laat dit egter klink of daar so ʼn groep mense is.
Nee, om die stelling te verstaan, moet ons in ag neem vir wie Jesus en in watter konteks hierdie sê. Jesus praat hier met ʼn fariseër en Hy reageer op dit wat die fariseërs vir sy dissipels gesê het. Die fariseërs het Jesus se dissipels gevra hoekom hy saam met tollenaars en sondaars eet.
Mattheus, wat Jesus geroep het, was ʼn tollenaar. In die tydperk was die bekende wêreld onder Romeinse bewind en die Romeinse heersers het belasting gevra van almal oor wie hulle geheers het. ʼn Tollenaar was iemand van die Joodse volk wat vir die Romeinse heersers gewerk het en namens hulle by hulle eie volk die belasting ingesamel het. Hulle was ook bekend daarvoor om meer geld in te samel as wat die belasting is en dan die oortollige geld vir hulleself te hou. Hulle neem dus deel aan die verdrukking van hulle eie volk en maak dit selfs nog erger vir hulle eie gewin. Hulle is dus gesien as volksverraaiers wat teen hulle eie mense gedraai het.
Daar was nie ʼn groep mense in daardie tyd wat meer op neergekyk is nie. Hulle word gekategoriseer saam met “sondaars”. Ons almal is sondaars, maar wanneer jy iemand so kategoriseer, dan verwys jy na iemand wat ʼn blatante sondaar is. Iemand wat gereeld growwe openbare sondes doen. Iemand wat gereeld in die openbaar dronk is of nog rowwer dinge doen.
Die tollenaars en die sondaars is dus die groep of klas van mense op wie die Joodse samelewing die meeste neergekyk het. Hulle is die volksverraaiers, die dronkaards, die hoereerders, hulle wat ʼn samelewing laat agteruitgaan. Dit is hulle wat jou ongemaklik en onveilig laat voel as jy verby hulle stap.
Ons lees dan dat, nadat Jesus vir Mattheus geroep het, Hy by hom in sy huis gaan eet het. Daar het baie ander tollenaars en sondaars saam met Jesus en sy dissipels gaan eet.
Die fariseërs aan die ander kant was die morele en godsdienstige leiers in die Joodse samelewing. Hulle het mense geleer wat goed en wat sleg is. Hulle was volgens sosiale standaarde die room van die samelewing. Hulle was die wat hulself nooit gemeng het met die tollenaars en die sondaars nie.
Die fariseërs gaan dan agteraf na Jesus se dissipels toe en vra vir hulle: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?” Waarom meng hierdie man homself met die skuim van die aarde? Hy wat nou die dag so gepreek het oor die wet van die Here. Hy wat homself ook voorhou as ʼn morele en godsdienstige leier? Hoekom meng Hy met die tollenaars en sondaars? Hy is dan seker een van hulle.
Jesus hoor hulle en Hy antwoord hulle dan op ʼn besondere manier. Sy antwoord het drie dele. Hy sê vir hulle: “Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”
Die kernfout wat die fariseërs maak, is dat hulle dink dat hulle nie vir Jesus nodig het nie. Hulle dink nie hulle is sondaars nie. Hulle dink nie Jesus behoort hulle te roep nie, want hulle is sonder Hom reeds op die regte pad, volgens hulle eie oordeel.
In die eerste deel gebruik Jesus die beeld van ʼn dokter. Hy sê dit is tog net siek mense wat na ʼn dokter toe gaan. Gesonde mense gaan nie na ʼn dokter toe nie. Die fariseërs is soos hardkoppige mense wat dink hulle is nie siek nie. Die fariseërs is mense wat dink hulle is gesond.
Dan haal hy vir hulle uit Hosea 6:6 aan. Onthou hulle is die godsdienstige leiers van die Jode. Hulle is veronderstel om die Ou Testament uit hulle koppe uit te ken. Jesus sê vir hulle gaan leer wat beteken Hosea 6:6, waar die profeet vir die volk leer dat die Here nie uitwendige offers soek nie, maar barmhartigheid.
Vir die Here gaan dit nie soseer oor jou uitwendige godsdiensbeoefening nie. Dit gaan vir Hom oor die hart waarmee jy dit beoefen. Die fariseërs was mense wat baie goed volgens die wet van die Here gelewe het, maar hulle het dit gedoen met die verkeerde gesindheid. Hulle het dit gedoen met die verkeerde hart. Hulle het dit gedoen, want hulle het gedink hulle kan hulleself red. Hulle het dit gedoen omdat hulle gedink het dat hulle uit hulleself goed is. Hulle het dit gedoen vir eie gewin en omdat dit tradisie is. Jesus haal vir hulle uit Hosea 6:6 aan en wys vir hulle dat dit gaan oor die hart waarmee jy jou godsdiens beoefen. Jy moet dit nog steeds doen, maar jy moet dit doen met die regte gesindheid.
Laastens sê Jesus dit dan vir hulle reguit. “Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” Jesus sê dus hier dat hy gekom het vir mense wat hulle sonde besef, vir mense wat weet dat hulle Hom nodig het. Hy het gekom vir mense wat weet hulle is siek, meer as net siek, dood sonder hom. Hy het gekom vir mense wat weet hulle is nie op die regte pad nie. Vir mense wat weet dat hulle harte sonder hom heeltemal verrot is, maak nie saak hoe goed hulle buite kan voorhou nie.
Hoofpunt 2: Ons volg hom
Ons moet onsself dan nou afvra: hoeveel fariseër is daar in ons? Ons moet elkeen vir onsself indringend hierdie vraag vra: dink ons soos die fariseërs hier gedink het? Maak ons dieselfde fout? Besef ons ons sonde? Besef ons dat ons Jesus nodig het en dat Hy die enigste een is wat ons hiervan kan verlos? Dink ons ons is beter as die ander mense?
Dink ons dat ons uit ons eie uit goeie mense is? Ja, ons doen goeie dinge. Ons help mense. Ons kom dalk gereeld kerk toe. Ons is nie soos die tollenaars en die sondaars nie. Ons is darem nie soos die mense wat by die kroeë uithang en rondslaap nie. Nee, ons is beskaafde mense wat bydra tot die samelewing. Ons is nie soos hulle nie, ons meng nie met hulle nie.
As ons so dink, dan sê die Seun van God vir ons dat Hy niks het om vir ons te sê nie. Dit is ʼn slegte plek om te wees. Om te wees op ʼn punt waar Jesus self niks het om vir jou te sê nie. Ons moet onsself daarom ernstig en indringend afvra: maak ons dieselfde fout as die fariseërs? Besef ons dat ons Jesus nodig het en getuig ons lewens en gedagtes daarvan? Besef ons dat ons sondaars is vir wie Jesus gekom het?
Ons kan op twee maniere dieselfde fout maak wat die fariseërs gemaak het. Ons kan dink ons is te goed en ons het nie vir Jesus nodig nie, of ons kan dink ons is te sleg en Hy kan ons nie red nie. In albei gevalle dink ons ons het nie vir Jesus nodig nie. In die eerste geval dink ons dat ons sal regkom op ons eie. By die laaste besef ons nie hoe groot die reddingskrag van Jesus is nie.
Die enigste manier hoe ons tot die ware besef dat ons sondaars is vir wie Jesus gekom het, kan kom, is deur die werk van die Heilige Gees in ons harte. Dit is Hy wat ons laat besef hoe sondig ons is. Dit is ook Hy wat ons na Jesus laat gryp vir ons redding. Hy laat ons ook glo in wie Jesus is, dat Hy ons redder en ons verlosser is.
Dit is dus waarvoor ons moet bid. Dat die Heilige Gees sal ingryp in ons harte en ons harte sal verander sodat ons gereed sal wees vir die roepstem van Jesus.
Ons moet besef hoe sondig en verlore ons is sonder Christus. Ons lees in Ef. 2:3 ons is van nature kinders van die toorn van God. Ons verdien as gevolg van wie ons van nature is, die straf van God. Ons is vrot tot in ons kern. Uit ons eie uit soek ons nie die wil van God nie. Ons soek net die sonde. Ons is van nature lief vir dit wat afbreek maak en seer maak. Ons is van nature lief vir die sonde en nie vir God nie.
Die Heilige Gees leer ons ook deur die Woord wie Christus is. Hy is die Seun van God wat gekom het om die straf wat ons verdien het, te dra, sodat ons kan lewe. Sy liggaam is geskeur en sy bloed het gevloei sodat ons kan lewe. Dit is waaraan ons herinner word met die nagmaal. Hy is ons verlosser en dit is waar vir elkeen wat deur die krag van die Heilige Gees in Hom glo. Hy roep ons om sy dissipels te wees.
Soos wat hy Matteus geroep het, roep hy ook elkeen wat in Hom glo. Die antwoord op hierdie roepstem is om Hom te volg met jou lewe. Mattheus het hierna ʼn volger van Jesus geword. Hy het heeltemal bekeer van sy ou lewe en radikaal vir Jesus gevolg. Hy het een van Jesus se dissipels geword. Hy het na Jesus se dood en opstanding ʼn leier in die kerk geword en ook hierdie boek geskryf waar hy die geskiedenis van Jesus hier op aarde vertel.
Ons volging van Jesus gaan waarskynlik nie lyk soos die van Mattheus nie, maar die beginsel daarvan is dieselfde. Ons moet dit doen met ons hele lewe. Ons moet ons ou lewens agterlaat en die Here voluit volg hier waar die Here ons geplaas het.
Baie van ons het die voorreg om in die kerk groot te word in gelowige huise. Ons kan dan vra, hoe moet ons ons ou lewens agterlaat? Hoe moet ons vir Jesus volg? ʼn Mens doen dit deur elke dag te bekeer van jou sondige aard. Ons leer elke dag deur die krag van die Heilige Gees om te groei in geloof en heiligmaking.
Slot
Broers en susters, wanneer ons nou tot die nagmaaltafel nader, doen ons dit dan nie uit ʼn plek waar ons dink dat ons sondeloos is nie. Ons doen dit juis omdat ons weet dat ons sondaars is wat die Here geroep het. Ons word deur die nagmaal daaraan herinner dat Hy ons verlos het deur die straf vir ons sondes te dra. Sy liggaam is verskeur en sy bloed het gevloei.
Mag die nagmaal ons altyd hieraan herinner en ons geloof hierin versterk.
Amen.