Skriflesing: Josua 24
Fokusverse: 13,14,15
Tema: Die Here is altyd aan ons getrou. Ons moet daarom aan Hom getrou wees.
Eksegetiese tema: Op grond van God se perfekte getrouheid aan sy verbondsbeloftes en aan ons, moet ons ook nou aan hom getrou wees en afsien van alle afgode.
Hoofpunt 1: Die Here is volkome getrou aan sy verbondsbeloftes en aan sy volk.
Hoofpunt 2: Ons moet nou aan God getrou wees en afsien van alle afgode.
Inleiding
Broers en susters, iemand se laaste woorde voordat hulle oorlede is, dra altyd vir ons besonderse betekenis. Dit dra vir ons besonderse betekenis, want dit sê vir ons waaroor die persoon gedink of geworstel het voordat hulle die ewige met die tydelike verwissel het. Wat was sy laaste wense? Dit dra dikwels vir ons op ʼn spesiale manier tot die persoon se nalatenskap by.
Ons weet nie presies wat Josua se laaste woorde was nie, maar ons weet wel wat sy laaste woorde aan die volk van Israel was.
Hoofpunt 1: Die Here is volkome getrou aan sy verbondsbeloftes en aan sy volk.
Agtergrond oor die teksgedeelte
Nadat Moses oorlede is, het die Here vir Josua gebruik om die volk die beloofde land in te lei. Dit is ʼn baie besonderse tyd in die geskiedenis van die volk van Israel. Die beloftes wat God aan Abraham en aan die volk gemaak het, kom tot vervulling. Hierdie boek gee weer hoe die volk van God hulle werklik in die beloofde land begin vestig. Hulle word werklik ʼn volk met hulle eie land dit is dus ʼn nuwe era in die geskiedenis van Israel.
Deur die loop van die boek lees ons van al die uitdagings wat daar vir die volk was om in die beloofde land in te trek, maar ook van hoe wonderbaarlik die Here hulle as volk in die beloofde land ingelei en daar gevestig het. Die Here het baie wonders gedoen om sy volk daar te vestig.
Josua maak hier in die laaste hoofstuk van die boek, kort voor sy dood, die volk bymekaar by die berg Sigem om met die volk ʼn gesprek te voer. Daar word interessant genoeg in die hoofstuk net voor hierdie een ook vermeld dat Josua die volk bymekaar maak om met hulle te praat. Dit word beskryf as Josua wat afskeid neem. So, alhoewel Josua reeds afskeid neem in hoofstuk 23, is dit nie sy laaste gesprek met die volk nie. Ons teksgedeelte handel oor hierdie laaste gesprek wat vir ons opgeteken staan. Die gesprek vind plaas by Sigem. Dit is ʼn stad in Kanaän waar Abraham destyds ʼn altaar vir die Here gebou het. Ons lees hiervan in Genesis 12. Die Here het hier met Abraham ʼn verbond gesluit, waar die Here aan Abraham belowe het dat sy nageslag ʼn groot volk sal word, dat Hy vir hulle ʼn beloofde land sal gee en dat sy volk tot seën sal wees vir al die nasies.
Josua versamel dan die hele Israel hier om te vergader voor die aangesig van God. Hier waar God met hulle voorvader Abraham ʼn verbond gesluit het. Dit dui daarop dat hierdie gesprek of vergadering ʼn baie belangrike een was, juis omdat daar gemeld word dat dit voor die aangesig van God gedoen word.
God is en bly altyd getrou
Verse 2-13: Josua is besig om aan die volk te verduidelik hoe die Here aan sy volk en sy verbond deur die loop van die geskiedenis getrou was. Hulle is nou ʼn groot volk en hulle het die beloofde land waarin hulle kan woon en die Here dien. Hy wys vir hulle hoe die Here om elke hoek en draai aan sy belofte getrou was en hulle gedra het.
Josua praat hier in die eerste persoon, maar dit is nie Josua wat hier praat nie. Die is die Here wat Josua gebruik as mondstuk. Ek, julle Here, was en is en bly getrou aan julle. Die Here het wonders voor hulle oë laat gebeur. Hy het vir hulle ʼn land gegee waarvoor hulle nie gewerk het nie, stede wat hulle nie gebou het nie en wingerde wat hulle nie geplant het nie. Die Here het vir hulle alles gegee wat hulle het en hulle gedra deur elke situasie.
Broers en susters, ons is nie die volk van Israel wat Josua hier toespreek nie, maar ons is ook God se volk. Ons is sy kinders. Kan ons nie ook getuig dat alles wat ons het van die Here af kom nie? Sien ons nie raak hoe hy ons gedra het deur elke situasie waarin ons onsself bevind nie? Die goed en die sleg.
Broers en Susters, die beginsel is vir ons steeds waar. Die Here is en bly altyd getrou aan ons. Hy is die een wat ons gedra het tot waar ons vandag is en Hy is ook die een wat ons deur die res van ons lewens met Hom gaan dra.
Hoofpunt 2: Ons moet nou aan God getrou wees en afsien van alle afgode.
Ons moet nou die Here dien in opregtheid en waarheid
Nadat Josua vir die volk gesê het “Kyk hoe die Here aan julle getrou was en steeds is”, sê hy vir hulle “Vrees daarom dan nou die Here en dien Hom in opregtheid en in waarheid.” Wees nou ook aan hom getrou. Moet nie ander afgode dien nie. Opregtheid en waarheid kan ook vertaal word met volledigheid, betroubaarheid of sekerheid. Dit beteken dat jou diens aan God altyd vas moet staan. Dit moet nie vals, halfhartig of verdeeld wees nie.
Die kern van die verbond is die Here wat sê, “ek sal vir julle ʼn God wees, en julle moet vir my ʼn volk wees”. Die Here is ons getroue God wat ons geskep, uitverkies het en ons onderhou en ons beskerm. Ons moet as sy volk aan Hom gehoorsaam wees en Hom eer. Ons moet Hom dien met ons lewens. Dit behels dat ons gehoorsaam aan sy wet lewe.
Broers en susters, Israel het dit nie reggekry nie, die boek wat volg op Josua is Rigters. ʼn Algemene refrein in die boek van Rigters is “elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë”. Dit was ʼn baie donker tyd in die geskiedenis van Israel. Die hele verhaal van die Ou Testament is waar die volk van die Here hulself in sonde bevind, die Here hulle dan verlos en weer tot Hom terugroep.
Hulle het dit nie reggekry om vir God ʼn volk te wees nie, maar die Here kom elke keer en hy roep hulle weer terug uit sy genade. Maar, broers en susters, ons moenie na Israel kyk en dink dat ons tog beter as hulle is nie. As dit van onsself afgehang het, sou ons ook nie ʼn volk van God kon wees nie. Geen mens kan voldoen aan die verbondsvereistes nie. Geen mens lewe volkome volgens die wet van die Here nie.
Jesus is vir ons die volmaakte vervulling van die verbond
Daarom het Christus gekom. Hy is volledig gehoorsaam aan die Vader. Hy het al die verbondsvereistes nagekom. Hy is die vervulling van die verbond. In 2 Korinthiërs 5:21 lees ons “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
Die term “sonde vir ons gemaak” kan so verstaan word: die Vader het hom hanteer asof Hy al die sonde van al die gelowiges gedoen het. Die regverdige straf wat ons elkeen verdien weens ons al ons sonde, verlede hede en toekoms, het Jesus namens ons gedra, maar nie net dit nie. In Hom word ons die geregtigheid van God. Alles wat hy verdien het kry ons. Hy het ons nuwe mense gemaak. Op hierdie manier het Christus ons met God versoen. Hy het ons kinders van God gemaak. Deur Hom is ons God se verbondsvolk.
Dit is deur die krag van die Heilige gees wat ons glo en die Here kan dien, maar dit bly steeds ons verantwoordelikheid- ons moet kies.
Dit is die Heilige Gees wat in ons woon en geloof in Christus in ons wek. Ons is dan nuwe mense wat getrou is aan God. Dit is ʼn noodwendige gevolg dat ʼn ware gelowige goeie werke sal doen en sal lewe tot eer van God. Hulle sal groei in heiligmaking. Dit beteken dat gelowiges stelselmatig deur die loop van hulle lewens groei in geloof en so ook groei in gehoorsaamheid aan God. ʼn Goeie boom sal goeie vrugte dra, maar bome groei, word groter en lewer meer vrug soos wat hulle groei.
Alhoewel dit die Heilige Gees is wat vir ons geloof gee en vir ons die krag gee om getrou te wees aan God, bly dit wel ons verantwoordelikheid. Dit bly iets wat ons moet doen. Ons moet kies om God te dien en om Hom te vrees. Daarom sê Josua in vers 15 vir die volk om te kies of hulle die Here wil dien en of hulle ander afgode wil dien.
Ons moet bekeer van alle ander afgode en kies om die Here te dien.
Josua sê dat hulle moet kies tussen die afgode van die Egiptenare, of die afgode van die Kanaäniete. Dit is afgode wat lede van die volk op verskillende tye in die geskiedenis gedien het. Ons kan dalk hierna kyk en wonder hoekom die volk hierdie afgode sal dien? In vandag se tyd het ons baie ander afgode. Enige iets wat vir ons belangriker is as die Here, is vir ons ʼn afgod. Ons moet introspeksie doen en bepaal of daar enige iets is wat prioriteit bo die Here geniet.
Dit kan selfs iets positief en opbouend wees, soos ons families, kinders of eggenote. Dit kan ons loopbaan wees of stokperdjies. Hierdie dinge is goed en ons mag dit baie hoë prioriteite maak, dit mag net nooit ons hoofprioriteit wees nie. Die Here moet ons hoofprioriteit wees en ons moet al hierdie dinge doen en opbou tot eer van die Here. Ons moet elke dag aktief kies om die Here te vrees en om Hom eerste te plaas in ons lewens. Dit beteken ook dat ons moet bekeer van ons afgode af.
Ek en my huis, ons sal die Here dien.
Josua sê dan iets baie merkwaardig. Hy sê dat ongeag wat die volk doen, hy en sy huis gaan die Here dien. Hy kies die Here. Maak nie saak wat die volk doen nie, of wat die mense rondom hom doen nie, hy en sy familie sal die Here dien.
Josua is hier vir ons ʼn goeie voorbeeld. Nie net in sy getrouheid aan die Here nie, maar ook in die leiding wat hy in sy familie neem. Ouers het die verantwoordelikheid om hulle kinders groot te maak in die vrees van die Here. Die Here werk deur sy verbond met persone, maar dit loop deur tot hulle families en die families loop so deur tot ʼn volk. Die Here se verbond is met jou en jou nageslag, daarom gee die Here ook aan ouers die opdrag om ook hulle kinders groot te maak in die vrees van die Here. As ouers werklik die keuse maak om die Here te dien, maak hulle ook die keuse om hulle kinders groot te maak in die vrees van die Here.
Deel van die verantwoordelikheid van ʼn ouer is om jou kind te laat leer van die Here. Dit is ʼn baie goeie ding vir kinders om katkisasie by te woon en ouers moet seker maak dat hulle kinders dit goed doen. Dit is wel nie in die eerste plek die verantwoordelikheid van die kerk om kinders oor die Here te leer nie, dit is in die eerste plek die werk van die ouers om kinders oor die Here te leer. Kinders, ek praat nou ook met julle. Julle moet vir julle ouers luister en getrou julle katkisasiewerk doen. Die kans is ook baie goed dat julle ook eendag ouers gaan wees. Dan gaan julle ook vir julle kinders moet leer oor die Here, net soos julle ouers ook julle geleer het.
Slot
Broers en susters, die teksgedeelte wat ons vanoggend gelees het, bevat Josua se laaste woorde aan die volk. Sy laaste boodskap is duidelik en dringend. Hy wys vir hulle hoe die Here deur die loop van die volk se geskiedenis aan hulle getrou was en steeds getrou bly. Hy roep hulle dan op en sê vir hulle – kies. Julle moet kies om God te vrees. Om aan hom getrou te bly soos wat hy aan julle getrou bly.
Broers en susters, ons, moet elke dag kies om die Here te dien sodat ons ook soos Josua kan sê: maar ek en my huis, ons sal die Here dien.
Amen