Teksgedeelte: Psalm 22: 1- 32
Bykomende teksgedeelte: Mat 27: 32 – 56
Fokusvers: 2, 25
Tema: Christus het Godverlatenheid ervaar vir die wat Hom dien, sodat hulle nooit deur God verlaat sal word nie.
Hoofpunt 1: Christus het Godverlatenheid ervaar.
Hoofpunt 2: Christus het Godverlatenheid ervaar vir die wat Hom dien sodat hulle nooit deur God verlaat sou word nie.
Inleiding
Een van die grootste vrae waaroor gelowiges al lank wonder, is die woorde wat Jesus aan die kruis gesê het. Spesifiek die woorde: “My God, my God, waarom het u my verlaat?”. Dit is iets wat vir ons as mense nie sin maak nie. Hoe kan Christus deur sy vader verlaat word? Hulle is dan twee van die drie persone van die Drie-eenheid. Hoe kan Christus, wat self God is, deur sy vader, wat ook God is, verlaat word? Wat ook vir ons vreemd klink, is hoe kan God wat alomteenwoordig is, sy seun verlaat? Dit is waarna ons vandag saam gaan kyk.
Hoofpunt 1: Christus het Godverlatenheid ervaar.
Iets wat ek eintlik te laat in my lewe geleer het, is dat hierdie woorde van Christus ʼn aanhaling is uit Psalm 22. Psalm 22 is ʼn psalm van Dawid. Dawid is hier ʼn psalmdigter wat verduidelik dat hy voel asof hy deur God verlaat is. Die Heilige Gees het in hom gewerk om hierdie psalm te skryf. Dit is regtig hoe Dawid gevoel het toe hy hierdie psalm geskryf het. Wat Dawid egter nie ten volle begryp het nie, is dat die Here hom hier gebruik het om as ʼn profeet te skryf. Sonder dat David dit weet, het hy geskryf van Jesus se kruisiging. Hy beskryf in digterlike taal in hierdie psalm hoe hy regtig voel, maar is terselfdertyd besig om te beskryf wat met Jesus aan die kruis gebeur het.
Dit is werklik merkwaardig. In die tyd toe Dawid hierdie psalm geskryf het, is dit duisende jare voordat kruisiging ontdek is. Tog skryf hy duidelik wat met Jesus gebeur het. Soos wat ons deur die psalm werk, gaan ons dit sien.
Die eerste verwysing in hierdie psalm na Jesus toe vind ons reeds in vers 2. Hier gebruik Dawid die bekende woorde wat Jesus aan die kruis uitgeroep het. My God, my God waarom het u my verlaat? Dawid het hier in hierdie psalm gevoel asof God hom verlaat het. Hy het egter geweet dat God hom nie werklik verlaat het nie, ons sien dit as ons die res van die psalm lees. Ons weet nie presies wat die omstandighede was waarin Dawid hierdie psalm geskryf het nie. As koning was daar baie moeilike en gevaarlike omstandighede waarin Dawid homself bevind en waarin hy waarskynlik die psalm kon geskryf het.
Hy roep uit, my God, my God waarom het U my verlaat, maar hoe kan God dit doen? Hy is dan alomteenwoordig. Hoe kan Hy dan iemand verlaat? Hy kan hy Dawid, of sy eie seun, verlaat? Hy kan niemand verlaat nie, Hy is alomteenwoordig.
Dawid, en die Jode, het ʼn dieper begrip gehad van die teenwoordigheid van God as wat ons deesdae het. Hulle het geweet Hy is alomteenwoordig, maar hulle het verstaan dat daar ʼn spesifieke en spesiale teenwoordigheid van God by sy kinders is. Die uitdrukking wat hulle gebruik het om hierdie spesifieke en spesiale teenwoordigheid te beskryf, is “voor die aangesig van die Here”. Daardie sinsnede word selfs later in Psalm 22 in ons ander fokusvers, vers 25, gebruik.
Om voor die aangesig van die Here te wees beteken om sy besondere seën en genade te ontvang. Dit beteken om in ʼn positiewe verhouding met Hom te wees. Geleenthede waar die Here se woord verkondig word, word gereeld ook beskryf as “voor die aangesig van die Here”.
ʼn Teksgedeelte in die Bybel wat die teenwoordigheid van God baie goed beskryf, is die priesterlike seën in Numeri 6:24-26:
“ 24 Die HERE sal jou seën en jou behoed; 25 die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; 26 die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.”
Dit is wat dit beteken om op hierdie besonderse manier in die teenwoordigheid van die Here te wees. Eendag wanneer ons in die hemel is, of met die nuwe hemel en die nuwe aarde, gaan ons volkome in die teenwoordigheid van God wees. Ons gaan sy goedheid, genade en seën volkome ervaar. Ons gaan woon in die aangesig van die Here. Ons beleef al reeds iets hiervan in die erediens vandag. Ons proe ʼn stukkie daarvan.
Om Godverlatenheid te ervaar is dus die teenoorgestelde hiervan. Dit beteken dat God sy aangesig van jou af wegdraai. Hy is steeds teenwoordig. Hy is steeds daar. Hy neem egter volkome sy goedheid en sy genade van ons af weg. Wat oorbly, is dan alles wat sleg is. Daar is geen hoop nie, geen goedheid nie, net die kwaad en donker. Daar is dan ook die aktiewe straf van die Here. Dit is die hel.
Hoofpunt 2: Christus het Godverlatenheid ervaar namens die wat Hom dien, sodat hulle nooit deur God verlaat sou word nie.
Soos ons reeds genoem het, toe Dawid die psalm geskryf het, het dit vir hom gevoel asof die Here hom nie seën nie. Hy het gevoel asof die Here sy aangesig van hom af weggedraai het. Dit is werklik hoe dit vir hom gevoel het, maar hy het egter geweet dit nie waar is nie. Hy het geweet die Here is steeds by hom. Dit is duidelik vanuit die res van die Psalm, veral ons tweede fokusvers.
Toe Jesus dit uitgeroep het, toe ervaar Hy ware Godverlatenheid. Die Here het werklik sy aangesig van Hom af weggedraai. Hy het ware helse pyn en smart ervaar vir ons. Dit is die straf wat ons elkeen verdien het as gevolg van ons sondes. Dit is wat ons elkeen vir ewig moes verduur het. Weens ons sonde verdien ons om deur God verlaat en aktief gestraf te word. Dit is egter wat Christus vir ons gedra het. Hy is deur God verlaat sodat ons nooit deur God verlaat sou word nie. Ons mag dalk met tye net soos Dawid voel of God ons verlaat het, maar ons kan weet, dat as gevolg van wat Christus vir ons gedoen het, kan ons nooit deur God verlaat word nie.
As ons dan verder na Psalm 22 kyk, sien ons hoe Dawid profeties die kruisiging van ons Here Jesus Christus verduidelik. In vers 7 en 8 sê Dawid dat hy deur sy volk verag word. Hulle spot hom. Hulle stap by hom verby en skud hulle koppe. Dit dieselfde woorde wat gebruik word in die evangelie volgens Mattheus, wat ons saam gelees het. In Mat. 27 vers 39-40 staan daar ook dat die mense Jesus verag het. Hulle het ook verbygestap en hulle koppe geskud.
Ons lees dan in vers 9 van Psalm 22 dat Dawid sê dat die mense wat hom verag het en nog verder gespot het deur basies vir hom te vra “waar is jou God?”. Jy is mos ʼn kind van God? Hoekom red Hy jou nie? Hulle het dieselfde vir Jesus gesê. Jy is mos die Seun van God, hoekom red Hy jou nie? Hoekom red jy nie jouself nie?
Verder sien ons in vers 16 hoe Dawid sê dat sy tong vaskleef teen sy verhemelte. Hy verduidelik dat hy dors is. In Johannes 19:28 sê Jesus duidelik dat Hy dors is toe hy aan die kruis was. Hulle gee hom toe die asyn wat in spons opgesuig was op die punt van ‘n riet. In vers 19 sê Dawid dat hulle sy klere onder mekaar verdeel het deur die lot te werp. Dit is baie spesifiek. Hulle het Jesus se klere onder mekaar verdeel deur die lot te werp. Psalm 22 is duidelik ʼn profesie van die kruisiging. Dit is geskryf lank voor Jesus gekruisig is.
In vers 23 is daar ʼn radikale ommekeer in Psalm 22. Tot nou toe was Psalm 22 ʼn uitroep tot God om hulp. Vanaf vers 23 is dit ʼn loflied tot die Here. Dawid wat besef dat, al voel hy asof die Here hom verlaat het, het Hy nie werklik nie. Hy besef dat die Here getrou was, is en steeds gaan wees. As Dawid maar net geweet het dat hierdie volkome vervul sou word in Christus. Vers 25 wat sê dat God ons nooit van sy aangesig sal verberg nie. Met ander woorde, God wat altyd ons met sy teenwoordigheid sal seën. Ons weet dat hy dit vandag vir seker sal doen as gevolg van Christus.
Hierna sing hy van vers 29 tot 30 van die nageslag wat altyd die Here sal dien en van die Here wat altyd sal heers as koning. Christus, die nageslag van Dawid, is die volkome vervulling van hierdie psalm. Hy kom aarde toe en stig sy kerk. Hy verseker dat ʼn nageslag Hom sal dien. Hy vaar na sy kruisiging op na die hemel toe en regeer oor die aarde.
ʼn Koning is nie ʼn koning sonder onderdane nie, daarom sal Jesus altyd onderdane hê. Dit is ook die rede wat ons kan weet dat Christus self sy kerk sal onderhou. Hy doen dit natuurlik deur die krag van die Heilige Gees. Dit is die Heilige Gees wat in die harte van mense werk om hulle tot bekering te bring, sodat hulle werklik deel vorm van sy kerk. Dit beteken egter nie dat ons net kan agteroor sit en niks doen nie. Dit is Hy wat ons gebruik om dit te doen. Hy werk in ons harte deur die Heilige Gees en gebruik ons dan as instrumente in sy hand om sy kerk te onderhou. Dit is werklik die besonderse ding. Ons weet dat Christus sy kerk onderhou, maar hy gebruik ons om dit te doen en daarom moet ons elkeen ons unieke en spesifieke roepings dag tot dag as deel van die kerk van die Here uitleef. Dit is ons elkeen se verantwoordelikheid, nie net die kerkraad s’n nie.
Die spesifieke opdrag in hierdie psalm hoe ons elkeen dit moet doen, veral in die laaste paar verse, is dat ons ons nageslag moet leer van die Here. Ons het die verantwoordelikheid om die kerk van die Here te laat voortbestaan deur die volgende geslag van Hom te leer. Ons moet ons kinders so grootmaak dat die kerk bly voortbestaan totdat Hy weer kom. Ons weet nie wanneer Hy weer kom nie en ons moet altyd gereed wees vir sy wederkoms, maar tot dan toe, terwyl ons nog in hierdie bedeling is, moet ons aanhou om die goeie stryd te stry.
Wanneer ons dan ook dink aan die verkiesing wat hierdie week plaasgevind het, moet ons onthou dat dit net tydelike aardse heersers is. Die ware koning van alle dinge is ons Here, Jesus Christus. Hy het neergedaal en homself tot die dood toe aan die kruis verneder. Die Vader het Hom hierna verheerlik en Hom mag gegee oor alle dinge.
Slot
Broers en susters, ons het begin deur te sê dat die uitroep van Jesus “My God, my God, waarom het u my verlaat?” vir baie Christine deur die eeue nie sin gemaak het nie. Dit is steeds iets wat te groot is vir ons om werklik ten volle te begryp.
Ons weet egter dat dit beteken dat Jesus helse pyn en smart vir ons verdra het. God het sy aangesig van Hom af weggedraai. Hy is deur God verlaat. Dit is die straf op die sonde wat ons elkeen verdien het, wat Hy vir ons gedra het.
Wanneer ons egter dan soos Dawid voel, as ons dan hopeloos voel, voel asof alles agteruit gaan, moontlik voel asof God sy aangesig van ons af wegdraai, kan ons weet dat hy dit noot werklik doen nie. Hy het sy Seun gestuur om Godverlatenheid te ervaar sodat ons nooit deur Hom verlaat sou word nie.
Amen