Teksgedeelte: Romeine 3:21-31
Fokusvers: v23-24
HK: Sondag 5: V&A 12-15
Tema: Ons is deur God geregverdig op grond van sy genade sodat ons tot eer van Hom kan lewe.
Hoofpunt 1: Ons is deur God geregverdig op grond van sy genade.
Hoofpunt 2: Ons is deur God geregverdig sodat ons tot eer van Hom kan lewe.
Inleiding
Broers en susters, dit is duidelik vanuit die Skrif en ook as ons kyk na ons eie lewens, dat ons sondig is. Daarom verdien ons die ewige straf. Ons verdien die ewige dood. Dit is wie ons in werklikheid is. In ons eerste fokusvers, vers 23, staan daar dat almal gesondig het en daarom het ons nie deel aan die heerlikheid van God nie.
Hoofpunt 1: Ons is deur God geregverdig op grond van sy genade.
Ons verdien die straf van God omdat God regverdig is. Regverdigheid is wanneer jy kry wat jy verdien en ons almal verdien die ewige straf. God is die bron van alle goedheid en sonde kan nie voor Hom bestaan nie. Daarom moet elkeen wat sondig, gestraf word, want dit gaan teen God in. Dit gaan in teen die bron van alle goedheid. As God wou, kon Hy ons almal eenvoudig gestraf het, alle mense hel toe gestuur het en dit sou reg gewees het. Regverdigheid sou dan geskied het.
Julle sal onthou dat ons reeds genoem het dat die Heidelbergse Kategismus in drie dele ingedeel is. Die eerste deel, vanaf Sondag 2 tot 4, handel dan juis oor die diepte van ons sonde. Dit verduidelik vanuit die Skrif hoe verlore ons werklik is. Ons kan onsself nie red nie. Ons is volkome verlore. Ons is afhanklik van God se barmhartigheid.
Ons behandel dan vandag die eerste Sondag van die tweede deel van die Heidelbergse Kategismus, wat handel oor ons verlossing. Dit is Sondag 5. Die laaste deel van die kategismus handel dan oor hoe ons behoort te reageer op ons verlossing. Dit handel oor die lewe van dankbaarheid waarin ons moet lewe. Ons bevind onsself by ʼn draaipunt in die kategismus.
Ons het ook reeds genoem dat die kategismus in hierdie drie afdelings ingedeel is omdat ons gereeld hierdie die afdelings in die Skrif vind. Ons vind dit in teksgedeeltes soos Ef. 2:1-10, maar ons vind dit ook breedweg in die boek van Romeine. Dit is nie presies so ingedeel in Romeine nie, maar breedweg kan ons dit raaksien. Hoofstuk 1 tot 3 handel oor die sonde en waarvan ons gered is. Hoofstuk 4 tot 11 handel dan oor ons verlossing of waarvan ons gered is. Vanaf hoofstuk 12 tot die laaste hoofstuk, hoofstuk 16, handel dan oor hoe ons moet reageer op die verlossing. Ons moet ʼn lewe van dankbaarheid lei tot eer van God. Dit handel oor waarvoor ons gered is.
Ons het vanoggend die laaste verse van hoofstuk 3 gelees. Dit is waar die boek van Romeine ook begin oorbeweeg van ons sonde na ons verlossing toe. Hierdie gedeelte in die Bybel en die Sondagsafdeling wat ons gelees het, pas daarom goed bymekaar, want ons is in albei by ʼn draaipunt. Die diepte van die sonde is reeds bespreek en ons is by die begin van die bespreking van hoe ons van ons sonde verlos word.
Die kategismus begin dan hierdie afdeling met ʼn baie relevante vraag. Dit is ook ʼn vraag wat van nature by baie van ons kan opkom as ons hoor hoe besonder sondig ons is en dat ons net die straf van die Here verdien. Dit is: “Is God dan nie barmhartig nie?” Is God nie ook genadig nie? Is Hy nie ook liefdevol nie?
Die woord barmhartig beteken om aan iemand wat dit werklik nodig het, liefde te bewys. Ons leer dit baie duidelik vanuit die verhaal van die barmhartige Samaritaan wat ons Here Jesus in Lukas 10 vertel. Die barmhartige Samaritaan het die man wat in nood was, wat sy naaste was, gehelp.
Ons is ook mense in nood. Ons is in besondere groot nood. Ons is weens ons sonde mense wat die ewige dood verdien en daarom moet ons besef dat ons God se barmhartigheid en genade nodig het. Dit is Hy wat ons verlore sondaars red. God red ons vanuit sy groot genade. Genade is onverdiende guns. Ons teksgedeelte sê dit in soveel woorde in ons tweede fokusvers, vers 24. Ons word deur sy genade, sonder verdienste, geregverdig.
As regverdigheid geskied wanneer jy kry wat jy verdien en genade geskied wanneer jy onverdiende guns kry, dan is onregverdigheid wanneer jy onverdiende afguns ontvang. Dit is wanneer jy iets sleg kry wat jy nie verdien nie. God is regverdig en genadig. Hy is egter nooit onregverdig nie. Hoe werk dit? Hoe is God genadig en regverdig? Ons bely dit in die antwoord op hierdie vraag in Sondag 5. Ons lees dat, alhoewel God genadig is, vereis sy regverdigheid dat die sonde nie ongestraf bly nie. Iemand of iets moet die sondeskuld betaal.
Die kategismus vra dan: kan ek self betaal en steeds die ewige lewe kry? Die antwoord is nee, want ek maak elke dag as gevolg van my ongehoorsaamheid my skuld by God nog groter en verdien daarom steeds die ewige dood. Ek is te ver in die skuld dat ek ooit volkome sal kan betaal. Al manier hoe ek kan betaal, is deur die ewige dood. Ek kan nie daarvoor betaal en die ewige lewe ontvang nie.
As ek dan nie self kan betaal nie, kan iets of iemand anders wat God geskep het, vir my sonde betaal? Die antwoord is weereens nee, want God kan mos nie iemand anders wat ook onvolmaak is, vir my sonde laat betaal nie. Dit is ook nie moontlik vir ʼn gewone mens of dier om die mens se skuld te betaal nie. Iemand wat self te diep in skuld is om vir hulleself te betaal, kan mos nie jou skuld kom afbetaal nie. ʼn Dier kan ook nie vir ons betaal nie. In die Ou Testament het die Israeliete diere vir hulle sondes geoffer. Dit was egter nooit omdat die dier werklik vir hulle sondes sou kon betaal nie. God het dit van sy volk beveel sodat hulle daaraan herinner sou word dat die sonde ʼn gevolg het en daardie gevolg is die dood. As die dier doodgemaak is, moes hulle daaraan herinner word dat dit eintlik hulleself is wat moes doodgegaan het. Ons weet ook nou dat die geofferde diere ook ʼn heenwysing na Christus, wat die perfekte offer is, was.
Daarom is die laaste vraag wat die kategismus vra, as ek nie self kan betaal nie en iemand anders of ʼn dier nie vir my kan betaal nie, wie kan vir my betaal? Hoe moet die een dan wees wat my weer vir God aanvaarbaar kan maak? Die antwoord is dat dit iemand moet wees wat ʼn volmaakte mens is, want dit is die mens wat gesondig het, maar tog ook iemand wat sterker is as enige iets of iemand is wat God gemaak het. Dit moet iemand wees wat werklik die ewige straf van God volkome kan dra en die dood kan oorwin. Hy moet daarom ook self God wees. Dit is net ons verlosser, ons Here Jesus Christus, wat vir ons kan betaal sodat ons die ewige lewe kan hê.
Dit is daarom alleen deur ons Here Jesus Christus wat God sy volkome Genade en Regverdigheid aan ons openbaar. Hy is genadig wat Hy red ons sonder dat ons dit verdien, maar Hy is ook regverdig want die sonde bly nie ongestraf nie, dit word volkome gestraf op ons Here Jesus Christus.
Dit is wat ons dan Juis in ons fokusverse lees:
23 Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24 maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.
Ons word nie vrygespreek of geregverdig op grond van enige iets wat ons doen nie. Ons word alleen vrygespreek op grond van geloof in Christus. Daarom sê vers 27 dat ons nie op onsself kan roem nie. Dit is glad nie ons wat onsself red nie. Dit is alles op grond van genade wat ons deur geloof gered word.
Ons kan moontlik dink dat om te glo is dan iets wat ons self doen. Ek het geglo en daarom word ek gered. Geloof is egter nie iets wat ons self doen nie. Dit is iets wat ons van God af kry. Dit is iets waarin ons die verantwoordelikheid het om te lewe, maar dit is iets wat ons kry as ʼn gawe of ʼn geskenk van God. Ons lees dit in Ef. 2:8.
“8 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.”
Hoofpunt 2: Ons is deur God geregverdig sodat ons tot eer van Hom kan lewe.
Ons teksgedeelte stel dan in die laaste vers, vers 31, die volgende belangrike vraag:
31 Hef ons dan deur die geloof die wet op?
Met ander woorde, kan ons noudat ons weet dat ons alleen deur die geloof vanuit genade in ons Here Jesus Christus gered word, nou maar lewe soos ons wil? Ons hoef nie meer volgens die wet van God te lewe nie. Ons kan nou net eenvoudig doen wat ons wil solank ons glo, dan sal ons gered word.
Die antwoord wat ons lees in vers 31 is:
Beslis nie. Ons laat die wet juis tot sy reg kom.
Paulus verduidelik deur die res van die boek wat dit beteken dat die wet nou “tot sy reg kom”. Ons lees ʼn deel hiervan in Rom. 8:3-4:
3 …Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. 4 Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees…
Ons lewe nou deur die krag van die Heilige Gees tot eer van God en ons doen dit deur aan sy wet gehoorsaam te wees. Ons is nie nou gehoorsaam aan die wet sodat ons gered kan word nie. Ons het reeds baie duidelik bepaal dat dit nie moontlik is nie.
Ons lewe nou gehoorsaam aan die wet omdat ons reeds gered is. Dit is ʼn onomkeerbare reaksie wat ons sal hê as gevolg van die Heilige Gees wat in ons harte woon en werk. Ons is nou nuwe mense wat volgens die wet van God lewe en wil lewe. Dit is die Heilige Gees wat in ons harte kom werk sodat ons kan glo in ons Here Jesus Christus, deur wie ons gered word. Die Here gee aan ons die gawe van die geloof deur die Heilige Gees. Hy werk ook egter in ons harte deur die Heilige Gees, sodat ons groei om volgens sy wil te lewe.
Dit is waar dat ons as gelowiges steeds sonde doen. Ons doen elke dag steeds sonde, maar ons is nie gemaklik in die sonde nie. Omdat die Heilige Gees ons harte verander het, wil ons nie meer die sonde doen nie. Ons wil nou tot eer van God lewe, omdat Hy ons gered het. Soos ons ʼn pad saam met die Here stap, soos ons Hom leer ken en sy wil leer ken, groei ons al hoe meer en meer om tot eer van Hom te lewe. Die sondeskuld is reeds van ons verwyder deur Christus, maar die sondesmet kleef steeds aan ons. As God nou na ons kyk, sien hy nie meer ons sonde nie, Hy sien net sy Seun raak vir wie ons lief is. Dit is wat dit beteken om vrygespreek om geregverdig te word. Ons is nou regverdig voor God.
Ons ervaar egter steeds die invloed van ons sonde in hierdie bedeling as gevolg van die sondesmet wat steeds aan ons kleef. Ons kan gelukkig weet dat, eendag wanneer ons hemel toe gaan en met die nuwe hemel en die nuwe aarde, gaan ook die sondesmet van ons af verwyder word en ons gaan volkome vry van die sonde en die gevolge van die sonde lewe. Dit is werklik iets om na uit te sien.
Slot
Broers en susters, ons het begin deur weer te besef hoe sondig ons werklik is. Ons het onsself weer daaraan herinner dat elkeen van ons die straf van die ewige dood as gevolg van ons sonde verdien. Dit is waar vir alle mense.
Ons word toe gelaat met die volgende vraag wat ons kategismus ook vra: “Maar is God dan nie barmhartig nie?”. Is God nie genadig nie?. Die antwoord is: “Ja, God is barmhartig en genadig.” Hy sien ons in ons nood raak en Hy verlos ons daarvan sonder dat ons dit enigsins kan verdien.
God is egter ook regverdig en daarom kan die sonde nie ongestraf bly nie. Dit is hoekom God sy Seun, ons Here Jesus Christus, gestuur het om mens te word om die straf vir ons sonde te dra. Hy het volkome mens geword sodat hy die straf van die mens kon dra. Hy is ook volkome God en daarom kon Hy die straf van die dood volkome dra en die dood oorwin, sodat ons die ewige lewe kan hê.
God het op hierdie manier sy genade en sy regverdigheid aan ons geopenbaar en aan ons bedien. Ons kan daarom nou nie anders as om ons lewes so in te rig om Hom te dien nie.
Amen