Teksgedeelte: Fil. 1:12-26
Fokusvers: v21
Tema: As gevolg van die evangelie is om te lewe vir ons Christus en om te sterwe vir ons wins.
Hoofpunt 1: As gevolg van die evangelie…
Hoofpunt 2: As gevolg van die evangelie is om te lewe is vir ons Christus en om te sterwe is vir ons wins.
Inleiding
Broers en susters, is u bang vir die dood? Daar is baie mense wat bang is vir die dood. Die mens is altyd bang vir dit wat hy nie ken of verstaan nie. Hy is bang vir dit waaroor daar baie onsekerheid is. Daarom is feitlik alle kinders bang vir die donker, want hulle weet nie wat in die donker vir hulle wag nie. Dit is ook die rede hoekom die wêreld bang is die dood, hulle weet nie werklik wat aan die ander kant van die dood vir hulle wag nie. As Christene weet ons dat ons nie hoef bang te wees vir die dood nie.
Ons kan onsself egter afvra: sien ons uit daarna om dood te gaan? Dit klink dalk vir ons soos ʼn vreemde vraag. Kan enige mens daarna uitsien om dood te gaan? Wat werklik merkwaardig is, is dat die apostel Paulus in die teksgedeelte wat ons vandag gelees het, in vers 23 sê dat hy daarna verlang om heen te gaan. Hoekom sê hy dit? Is hy baie depressief? Is hy moontlik moedeloos? Nee, die teendeel is waar. Hy is vreugdevol. Maar hoe werk dit dan? Dit is waarna ons vandag gaan kyk.
Agtergrond
Om hierdie teksgedeelte te verstaan, is dit nodig om te weet dat Paulus hierdie brief skryf vanuit die tronk. Hy sit in die tronk omdat hy vervolg is omdat hy die evangelie verkondig het. Hy is baie waarskynlik in Rome in die tronk. Hy skryf die brief aan die gemeente in Filippi.
Die gemeente het iemand met die naam van Epafroditus gestuur om vir Paulus ʼn tipe fisiese ondersteuning te stuur. Dit was waarskynlik kos of geld. Paulus skryf dan vir die gemeente hierdie brief en stuur dit saam met Epafroditus terug. In die gedeelte wat ons gelees het, verduidelik Paulus vir die gemeente vanaf vers 12 tot 19 hoe die Here iets wat van buite af vir ons sleg lyk, gebruik vir die goeie. Paulus sê dat dit ʼn goeie ding is dat hy in die tronk is. Hoe kan dit ooit ʼn goeie ding wees om in die tronk te wees? Dit maak nie vir ons sin nie. Paulus is ʼn apostel wat die evangelie aan mense wil verkondig, ʼn mens sal mos dink dat vir hom om in die tronk te wees, sou ʼn slegte ding wees, want hy kan dan nie meer vrylik die evangelie verkondig nie.
In die eerste plek sê hy dit is goed, want hy het nou die geleentheid om die evangelie te verkondig aan almal in die tronk. Hy sê dat hy nou die evangelie kon verkondig aan die hele keiserlike wag. Dit is met ander woorde die wagte wat hom moet oppas in die tronk. Dit is mense wat andersins nie die evangelie sou gehoor het nie. Dit is werklik besonders. Dit wys vir ons waar Paulus werklik sy vreugde vind. Hy vind dit nie in aardse dinge of aardse voorspoed nie. Hy vind dit in die Here. Hy vind dit in die verkondiging van die evangelie. Om hierdie rede kan hy in die tronk sit, vol van vreugde, want hy het die geleentheid om die evangelie te verkondig vanuit die tronk.
In die tweede plek sê dat dit ʼn goeie ding is, want die broers buite die tronk verkondig nou die evangelie met meer ywer. Dit wil weereens nie vir ons sin maak nie. As een van die predikante in die gereformeerde kerk tronk toe gaan omdat hy die evangelie verkondig het, dink ʼn mens mos dat die res van ons, menslik gesproke, dan sal ophou om die evangelie te verkondig. Dit is egter nie wat gebeur nie. Paulus wys deur sy voorbeeld dat die evangelie die moeite werd is om voor tronk toe te gaan. Dit is die moeite werd om voor dood te gaan. Ons moet nie bang wees om die evangelie te verkondig nie.
Die broers buite die tronk word dan op hierdie manier aangevuur om die evangelie met meer ywer te verkondig. Wat werklik interessant is, is dat Paulus sê dat sommige dit doen omdat hulle jaloers is op Paulus, en ander doen dit met opregte bedoelings. Sommige doen dit vanuit liefde vir Paulus en ander doen dit om Paulus se gevangenisskap vir hom swaarder te maak. Hoekom sommige jaloers sou wees op Paulus, en sy gevangenisskap swaarder sou wou maak, kan ons net spekuleer. Ons ken nie werklik die omstandighede nie. Ons het net hierdie brief, maar ons weet dat dit nie vir Paulus saak maak nie. Solank die evangelie verkondig word.
Hoofpunt 1: As gevolg van die evangelie…
Dit maak nie saak wat gebeur nie. Paulus verheug homself daarin dat die evangelie verkondig word. Dit is waarin hy sy vreugde vind. Of hy in die tronk is of nie. Of dit gebeur in opregtheid of met bybedoelings. Dit maak nie saak nie. Solank die evangelie verkondig word, sal Paulus homself daarin verheug. Ons kan ook onsself afvra: is dit werklik waarin ons ons vreugde vind? Vind ons, soos Paulus, ons vreugde in die verkondiging van die evangelie, of vind ons dit eerder in aardse dinge? Vind ons ons vreugde in die Here, of vind ons dit in die dinge van die wêreld?
In vers 19 sê Paulus dan dat hy homself nie net daarin verbly dat die evangelie verkondig word nie, hy verbly homself ook in sy redding. Hy weet dat as gevolg van die Heilige Gees wat in hom werk en ook as gevolg van die gemeente se gebede, al die dinge sal uitloop op sy redding. Broers en susters, dit is waarin ons ook ons vreugde moet vind. Nie in die eerste plek in die dinge van hierdie wêreld nie, maar in die dinge van die Here. In die feit dat ons deur die werk van die Heilige Gees in ons harte gered is.
Dit is die Heilige Gees wat in ons harte kom werk, net soos Hy in Paulus s’n kom werk het, sodat ons geloof in Christus kan hê waardeur ons gered word. Ons weet dat ons hierdeur, deur geloof in Christus, gered word en daarin vind ons werklik ons vreugde en vrede. Paulus sê, omdat hy weet dat hy gered is, het hy daarom die vrymoedigheid en die ywer om Christus met sy hele wese te verheerlik in lewe en in sterwe.
Broers en susters, is dit nie ʼn besonderse gesindheid om te hê nie? Een waar ʼn mens volkome lewe vir Christus en waar jy weet dat alles wat gebeur, ten goede sal meewerk, soos ons lees in Rom. 8. Niks kan jou teleurstel of onderkry nie, want jy vind nie jou vreugde in die dinge wan hierdie wêreld nie. Die dinge van hierdie wêreld sal jou altyd êrens teleurstel. As Paulus sy vreugde gevind het in aardse voorspoed, sou hy nie die bogenoemde in sy brief geskryf het nie.
Paulus sê egter dat dit wat hom oorgekom het, gebruik die Here vir die bevordering van die evangelie, en ook vind hy sy vreugde in sy redding. Daarom verheug hy homself. Dit beteken nie dat hy nie hartseer is daaroor dat hy in die tronk is nie, natuurlik is hy hartseer daaroor. Hy is egter ten spyte daarvan verheug in die dinge van die Here. Ons aardse omstandighede bly ʼn realiteit. Dit is gereeld vir ons baie swaar, maar ons moet dit ervaar in die regte perspektief.
Omdat Paulus sy ware vreugde vind in die Here, sê hy die volgende besonderse woorde: om te lewe is vir my Christus en om te sterwe is vir my wins.
Hoofpunt 2: As gevolg van die evangelie is om te lewe is vir ons Christus en om te sterwe is vir ons wins.
Omdat Paulus werklik sy vreugde vind in die Here, vind hy daarin vreugde om te bly voortlewe tot eer van die Here. Indien die Here dit so bepaal dat hy moet heengaan, vind hy ook daarin vreugde, want dan kan hy by die Here wees. Paulus is daarom nie bang vir die dood nie, inteendeel, hy sien daarna uit. Hy is egter ook dankbaar indien die Here dit so bepaal dat hy kan bly voortlewe, want dan kan hy hier vir die Here lewe.
Kom ons kyk eers na hoekom Paulus uitsien na die dood. Dit is iets wat vir baie van ons baie vreemd klink. Hoe kan dit wees? Soos ons reeds gesê het, die dood is iets waarvoor ons as mense gewoonlik baie bang is. Dit is juis omdat die mensdom so onseker is oor wat na die dood vir hulle wag. Hulle is ook bang om alles te verloor wat hulle hier op aarde bymekaar gemaak het. Hulle is ook bang dat hulle nie weer hulle geliefdes sal kan sien nie.
Dit is een van die wonderlikste dinge daarvan om ʼn Christen te wees. Ons weet wat met ons gebeur na die dood en dit is nie iets wat ons hoef te vrees nie. Paulus se in vers 23 dat hy daarna verlang om heen te gaan en by Christus te wees. Hy sê dat dit vir hom verreweg die beste sal wees, want dan is hy by die Here. Hy sien eintlik daarna uit om dood te gaan. Dit is heeltemal die teenoorgestelde van die wêreld wat bang is om dood te gaan. Hy weet dat niks wat hy hier op aarde bymekaar gemaak het, kan opweeg teenoor hoe wonderlik Christus vir hom gaan wees nie. Hy weet ook dat hy weer verenig gaan word saam met sy geliefde medegelowiges, waar hulle saam die Here gaan dien in die bedeling na hierdie een.
Ons moet besef dat hy wil nie doodgaan omdat die lewe vir hom sleg in is nie, nee, hy wil doodgaan omdat hy besef dat die lewe hierna vir hom baie beter sal wees. Ons kan vir onsself afvra of ons ook so voel? Of is ons te lief vir die dinge van hierdie lewe? As ons eerder wil bly in hierdie lewe as om by die Here te wees, moet ons onsself elkeen ondersoek en afvra of ons nie iets in hierdie lewe verafgod nie. Ons moet reeds in hierdie lewe ʼn diepe smagting hê om by die Here te wees.
Dit beteken hoegenaamd nie dat ons nie die dinge van hierdie lewe mag geniet of belangrik moet ag nie. Paulus sê juis in vers 22 dat vir hom om te bly lewe, beteken vir hom vrugbare arbeid. Hy sê ook in vers 24 dat dit vir die gemeente in Filippi noodsaakliker is dat hy bly lewe. Daarom, as iemand dink dat ek uitsien om na die Here toe te gaan, maar ek dink nie ek kan nou na die Here toe gaan nie, want ek het ʼn roeping teenoor my kinders, of teenoor my plaas, of teenoor my werk, of moontlik teenoor al die bogenoemde, dan is dit nie verkeerd nie.
Die Here plaas ons hier in hierdie wêreld, hier in Venterstad, in ons families, met die werke wat ons moet doen, met ʼn rede. Hy het vir ons elkeen ʼn unieke roeping hier op aarde en hy hou ons aan die lewe om hierdie roeping uit te voer. Ons elkeen speel ʼn rol in die opbou van die koninkryk van God. Daarom kan ons ook soos Paulus sê: daar is ʼn tweestryd in my. Ek sien uit om na die Here toe heen te gaan, maar ek besef hy het steeds ʼn roeping vir my hier op aarde. As ons met hierdie gesindheid lewe, gee dit ʼn dieper sin aan die lewe en aan die sterwe.
As die Here ons in hierdie bedeling in die lewe hou, dan is dit met ʼn rede. Dan het ons steeds ʼn roeping. Die dinge wat ons in hierdie lewe doen, het steeds ʼn doel en ʼn rede. As ons dan sterwe, maak nie saak hoe tyding of ontydig dit volgens ons mag wees nie, kan ons weet dat dit volgens die Here se ewige plan is en dat dit vir ons verreweg beter is.
Hoe lyk dit in die regte lewe? Hoe lyk dit in situasies waarin ons ons werklik kan bevind? Dit mag dalk vir sommige van ons voel asof ons daaglikse werk nie sinvol is nie. Ons kan wonder hoekom die Here ons hier geplaas het. Die waarheid is dat die Here vir jou ʼn roeping en ʼn plan het. Hy het ʼn taak wat Hy wil hê jy hier moet verrig. God wil elkeen van ons, hier waar ons is, gebruik om te bou aan sy koninkryk. Hoe weet ek wat is my roeping? Dit is deur tyd te spandeer saam met die Here, deur te kyk watter geleenthede en gawes Hy vir jou gee en die besluite saam met Hom te neem.
Ons kan ook wonder hoekom iemand vir lank op ʼn siekbed lê? Hoekom hou die Here so iemand aan die lewe? Die rede daarvoor is dat die Here het nog ʼn plan met daardie persoon se lewe het. Al is die persoon heeltemal bedlêend. Die Here werk met so iemand. So iemand kan ʼn gebedslewe hê wat min van ons kan hê. Die Here kan ook deur daardie persoon werk met daardie persoon se familie.
Verder kan ons ook wonder hoekom die Here iemand laat sterwe. Ons wonder dit veral as dit volgens ons ʼn ontydige dood is. Vir die Here is alles egter tydig. Alles gebeur volgens sy ewige plan. Ons kan dan met vrede in ons harte weet dat daardie persoon sy of haar rol reeds gespeel het. Daardie persoon is nou by die Here en dit is vir hom of vir haar verreweg die beste.
Slot
Broers en susters, ons het begin deur te vra of ons bang is vir die dood. Dit is natuurlik vir die mens om bang te wees vir die dood. Dit is want die mens is onseker wat vir hom wag na die dood. Ons het egter vandag vanuit Paulus se gesindheid geleer om nie bang te wees vir die dood nie. Ons weet presies wat vir ons wag na die dood. Dit is nie iets waarvoor ons moet bang wees nie. Dit is iets waarna ons kan uitsien.
Die feit dat ons uitsien na die dood beteken egter nie dat ons nie uitsien na die lewe nie. Ons weet dat, so lank die Here ons hier in die lewe laat bly, Hy ʼn baie spesifieke plan vir ons het. Ons elkeen het ʼn roeping hier op aarde wat ons moet vervul en hierdeur gebruik God vir ons om sy koninkryk te bou.
Broers en susters, mag hierdie gesindheid ook in ons wees. Mag ons ook soos Paulus kan sê dat om te lewe is vir my Christus en om te sterwe is vir my wins.
Amen.