Teksgedeelte: Openbaring 4:1 – Openbaring 5:14
Fokusgedeelte: Openbaring 5: 5-8
Tema: Die Lam van God is waardig om die boekrol oop te maak en daarom loof en prys die hele skepping saam met die kerk van alle eeue Hom.
Hoofpunt 1: Die Lam van God is waardig om die boekrol oop te maak.
Hoofpunt 2: Daarom prys die hele skepping saam met die kerk van alle eeue Hom.
Inleiding
Openbaring is vir baie van ons ʼn vreesaanjaende boek. Dit is ʼn boek wat ons bang maak, omdat ons dikwels nie presies verstaan waaroor die boek gaan nie. Die boek is egter nie bedoel om ʼn vreesaanjaende boek vir gelowiges te wees nie. Dit is een wat ʼn wonderlike boodskap van hoop vir gelowiges bring.
Agtergrond
Die boek van Openbaring is ʼn brief wat deur die apostel Johannes aan sewe gemeentes in klein Asië geskryf is. Die getal sewe is simbolies in die boek van Openbaring. Dit is ʼn volheid-getal. Dit beteken dat, alhoewel hierdie brief spesifiek geadresseer is aan hierdie sewe gemeentes, hierdie sewe gemeentes die hele kerk dwarsdeur die eeue verteenwoordig. Die brief is daarom, net soos die res van die Bybel, vir ons vandag ook geskryf.
Binne die eerste paar hoofstukke van Openbaring word elke gemeente op die naam genoem en daar word ʼn kort “brief” aan hulle elkeen geskryf. Ons kan baie leer vanuit hierdie briewe vir die kerk vandag, omdat ons steeds dieselfde foute maak as hierdie sewe gemeentes. Dit is egter nie waarop ons vandag gaan fokus nie.
Nadat Johannes die sewe gemeentes aangespreek het, beskryf hy ʼn reeks visioene wat God aan hom gewys het. Die boodskap van hierdie visioene is die oorwinning wat God gaan behaal oor satan en die sonde.
Die kerk was in die tyd toe die brief geskryf is onder baie radikale vervolging. Johannes, wat die brief geskryf het, is juis verban tot die eiland Patmos weens hierdie vervolging. Soos ons gesê het, is die boodskap van openbaring God wat die satan en die sonde oorwin. Dit beskryf ʼn toekoms waar daar nie meer die gevolge van die sonde is nie. Die vervolging en die leiding sal verbygaan. Dit is daarom werklik ʼn boodskap van hoop vir die gelowiges in daardie tyd.
Ons het egter reeds genoem dat die inhoud van die brief ook bedoel is vir die kerk deur eeue, ook die kerk vandag. Daarom is hierdie brief ʼn boodskap van hoop vir elke gelowige wat dit lees. Die kerk word vandag steeds vervolg. Elke gelowige lei steeds onder die sonde. Die boek van Openbaring vertel vir ons van die wonderlike oorwinning wat God gaan behaal. Dit vertel vir ons dat die swaar en die seer en die vervolging as gevolg van die sonde sal verbygaan. Dit is daarom ʼn boodskap van hoop, ook vir ons vandag.
Voordat ons spesifiek na ons teksgedeelte gaan kyk, moet ons net kyk na wat dit beteken dat die brief ʼn verduideliking van ʼn visioen is. Ons moet dit doen indien ons die boodskap van die visioen reg wil verstaan. ʼn Visioen is nie veronderstel om letterlik geïnterpreteer te word nie. Al die elemente binne ʼn visioen bestaan nie fisies nie, maar is eerder beelde wat vir ons geestelike waarhede leer. Die visioen gebruik simbole of tekens om ʼn boodskap oor te dra.
Ons moet egter nie verdwaal in die interpretasie van besonderhede nie. Ons moenie die elemente van die visioen oor-interpreteer en soek vir betekenis wat daar nie is nie. Ons moet ook nie sterk lyne trek na spesifieke gebeure of persone in geskiedenis nie. Die boodskap van Openbaring is bedoel vir die kerk deur die eeue, nie net vir ons vandag nie. Openbaring bevat ʼn oorkoepelende boodskap wat geldig is vir die kerk in sy geheel deur die geskiedenis, net soos ook die res van die Bybel. Ons moet soek vir die duidelike boodskap wat Openbaring oordra met sy besonderse mooi simboliese taal en beelde.
Hoofpunt 1: Die Lam van God is waardig om die boekrol oop te maak
In die teksgedeelte wat ons gelees het, beskryf Johannes verskeie figure wat hy in sy visioen gesien het. Die figure verteenwoordig elk iets. Dit dra dan vir ons die boodskap van hoofstukke 4 en 5 oor.
Johannes sien ʼn troon en ʼn heerlike Gestalte wat daarop sit. Die Gestalte wat op die troon sit, verteenwoordig God die Vader, wat ewig regeer oor alle dinge. Hy sien nie vir God self nie, geen sondige mens kan God sien en bly lewe nie. Hy sien dus net ʼn beeld wat God verteenwoordig. Daar is verskeie glans- en glorieryke voorwerpe rondom die troon wat God se wonder en se grootheid uitbeeld. Hierdie beeld beteken duidelik dat God die een is wat regeer oor alle dinge. Hy is die een wat oordeel. Hy is die een wat alles geskep het en dit in stand hou. Hy is die een wat in beheer is.
Daar is dan sewe vuurfakkels, wat beskryf word as die sewe geeste voor sy troon. Dit verteenwoordig die Heilige Gees. Dit is nie sewe aparte geeste nie. Die getal sewe, soos reeds genoem, is in die boek van Openbaring ʼn beeld vir volheid en volmaaktheid. Die sewe fakkels en die sewe geeste verteenwoordig daarom die Heilige Gees in sy volheid.
Rondom die troon is daar ook vier lewende wesens en vier-en-twintig ouderlinge wat op vier-en-twintig trone sit. Die vier lewende wesens het elemente van mense, diere en engele en daarom verteenwoordig hulle die hele skepping. Die vier-en-twintig ouderlinge verteenwoordig die kerk deur alle eeue. Dink maar aan die twaalf stamme van Israel en die twaalf apostels. Dit is daarom al die gelowiges reg deur die geskiedenis.
In die regterhand van die Gestalte wat op die troon sit, is daar ʼn boekrol wat geseël is met sewe seëls. Die boekrol stel God se ewige plan voor, daarom word dit beskryf dat dit aan albei kante vol geskryf is. Die oopmaak en lees van die boekrol stel die openbaring en die uitvoering van God se ewige plan voor. Daar word dan gevra, wie is waardig om die boekrol oop te maak? Wie is waardig om die plan van God uit te voer? Aanvanklik word daar gesê dat niemand dit kan doen nie. Nie een kom na vore nie. Daar is niemand wat waardig is om dit te doen nie.
Dit laat Johannes ween, dit maak hom hartseer, want dit beteken daar nie hoop is nie. Daar is geen mens of skepsel wat die goeie reddende plan van God kan uitvoer nie. Dit is waar. Geen mens of skepsel kan dit doen nie. Daar word hierna gesê dat daar is Een wat dit kan doen. Hy is nie ʼn skepsel nie. Hy is die leeu van Juda uit die wortel van Dawid. Hy is die seun van God. Hy is God self. Ons moet ons afhanklikheid van hierdie Een besef.
Dit is net Christus wat die boekrol kan oopmaak. Hy is die een wat die Vader se ewige plan van oorwinning openbaar en uitvoer. Christus word beskryf as die leeu van Juda. Die wortel van David. Hy is die een aan wie die oorwinning behoort en dit is saam met Hom wat ons ook oorwinnaars is.
Wat egter merkwaardig is, is dat wanneer Johannes vir Christus sien, word Hy in hierdie geval nie uitgebeeld as ʼn leeu nie, maar eerder as ʼn geslagte lam. Christus is die leeu van Juda uit die stam van Dawid wat met mag die satan en die sonde oorwin het, maar die manier hoe Hy dit gedoen het, is besonders. Hy het die oorwinning behaal deur homself op te offer. Hy het homself gegee as die perfekte lam om geoffer te word vir al ons sondes.
Hy is die vervulling van die Ou Testamentiese offers. In die Ou Testament moes die volk ʼn lam offer vir hulle sondes. Dit is nadat hulle met die tiende plaag, in die boek van Eksodus, die bloed van ʼn lam aan hulle deurkosyne moes smeer. God het die huise wat die bloed aan hulle deurkosyne gesmeer het, nie getref met die tiende plaag nie. Die offer van die lam het vooruit gewys na Jesus toe, die ware perfekte Lam van God. Jesaja profeteer reeds in Jesaja 53:7 dat die Messias gaan wees soos ʼn lam wat geslag gaan word.
Christus is die enigste een wat waardig is om die boekrol te ontvang. Christus het aarde toe gekom en mens geword sodat hy die sondes van die mens kon dra. Hy het al die gevolge van ons sonde op Homself geneem. Hy het die straf wat ons verdien het, self gedra. Hy is egter ook God wat die dood oorwin het sodat ons, sy kinders kan lewe. Ons het deur Hom toegang tot die ewige lewe. Hy het die dood en die duiwel oorwin en ons wat in Hom is, is saam met Hom oorwinnaars.
Dit is die hoopvolle boodskap van Hoofstukke 4 en 5 van die boek van Openbaring. God regeer oor alle dinge. Hy sit op die troon. Hy het ʼn ewige plan vir alle dinge. Hierdie plan gaan uitgevoer word, want Christus is die een wat uitvoer en openbaar sodat ons dit kan raaksien.
Alles gebeur presies volgens God se ewige plan. Die hoogtepunt daarvan is Christus se sterwe en opstanding. Op hierdie manier oorwin hy die dood, die sonde en die duiwel. Alle gebeure voor dit bou daartoe op, en alle gebeure na dit wys daarheen terug en is daarop gebou. Dit is die hoogtepunt van alle geskiedenis. Christus toon hierdeur God se almag, genade en regverdigheid aan ons. Hy is die een wat God se ewige plan openbaar en uitvoer.
As ons dan die res van die boek gaan lees, sien ons dat die uitvoer van die plan beteken om die satan en die sonde te oorwin. Ons gaan vir seker volkome verlos word van die satan en van die sonde. Die oorwinning is reeds behaal aan die kruis. Christus gaan weer kom en Hy gaan alles nuut maak. Daar gaan ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde wees waarin ons vir altyd saam met God gaan woon.
Hoofpunt 2: Daarom prys die hele skepping saam met die kerk van alle eeue Hom.
Dit is die troosryke boodskap van hierdie visioen! God sit op die troon. Hy regeer oor alle dinge. Ons kan met sekerheid weet dat God se ewige plan van oorwinning deur Christus uitgevoer word. Daarom loof en prys ons Hom saam met die hele skepping en die kerk deur alle eeue.
Wanneer ons dan moedeloos voel oor hoe dinge hier vandag verloop, wanneer dit vir ons hopeloos lyk, wanneer ons nie menslik gesproke ʼn positiewe uitweg sien nie, moet ons juis hieraan herinner word. Dit is maklik om vasgevang te word in die swaarkry van hierdie bedeling. Dit is maklik om soms te wil moed opgee.
Soos reeds genoem, het die eerste gemeentes wat hierdie brief ontvang het, waarskynlik baie radikale vervolging ervaar. Hulle was in die minderheid teenoor die wat hulle vervolg het. Hulle kon maklik moed opgegee het en dan het die kerk tot niet gegaan.
Ons ervaar vandag steeds vervolging. Ons ervaar vandag steeds die gevolge van die sonde. Ons ervaar die swaarkry en die seer van hierdie aardse bestaan. Ons moet egter nie toelaat dat dit ons onderkry nie. Christus is die een wat sy kerk onderhou. Hy voer God se ewige plan uit. God sit op die troon. Hy regeer. Daar is sewe geeste voor sy troon, hulle brand soos fakkels. Dit is die Heilige Gees wat ook nou in ons woon. Dit is Hy wat ons hieraan herinner en dit in ons harte vestig.
Wanneer ons dan moedeloos voel, moet ons hieraan herinner word. Ons moet ook bid dat God dit weer in ons harte sal vestig deur die Heilige Gees. Hy word daarom juis op baie plekke in die Bybel die trooster genoem. Hy gee ons nuwe moed en nuwe krag. Ons kan daarom met vrede in ons harte die gevolge van die sonde en die vervolging weerstaan deur die krag van die Heilige Gees en ook uitsien na die wederkoms van Christus.
Hy is die Lam van God. Hy is waardig om die seëls oop te maak. Hy is waardig om God se ewige plan uit te voer en te openbaar. Hy het ons elkeen persoonlik volkome gered van die sonde deur homself vir ons op te offer.
Daarom is ons nie in hierdie lewe hopeloos nie. As ‘n mens na die nuus kyk, koerant lees, om ons rondkyk en die verval sien, is dit maklik om te dink daar is nie verlossing en redding vir ons nie. As ons deur verskriklike swaar persoonlike omstandighede gaan, maak nie saak wat dit is nie, is dit maklik om handdoek te wil ingooi.
Ons is egter nie verlore nie. Die oorwinning is reeds behaal. Ons moet daarom ook mense wees wat van hoop getuig. Ons moet lewe met hoop in ons harte en die hoop bring aan die mense rondom ons. Dit maak nie saak wat in die wêreld gebeur, of wat met ons persoonlik gebeur nie, God se plan van verlossing en oorwinning is reeds behaal.
Slot
Ons het begin deur te sê dat die boek van Openbaring gereeld vir ons ʼn boek is wat ons bang maak. Dit is ʼn boek wat vir ons moeilik is om te verstaan. Dit is egter nie ʼn boek van vrees nie, dit is ʼn boek van hoop.
Ons het vandag die hoopvolle boodskap ontvang dat God in beheer is. Christus voer sy ewige plan uit. Deel van sy ewige plan is dat Christus homself opgeoffer het vir my sondes. Hy is die lam van God wat vir my geslag is. Hy het die dood oorwin. Hy gaan weer kom en Hy gaan alles weer nuut maak.
Kom ons loof daarom saam met die ganse skepping en die kerk van alle eeue. Die leeu van Juda uit die wortel van Dawid. Die lam van God. Hy wat waardig is om die boekrol te ontvang.
Amen.