Openbaring 8:1-5

Teksgedeelte: Openbaring 8:1-5

Fokusgedeelte: Openbaring 8:4-5

Tema: God laat die skepping reageer wanneer die koninkryksgebede van die gelowiges deur God verhoor word.

Hoofpunt 1:  God laat die skepping reageer wanneer die koninkryksgebede van die gelowiges deur God verhoor word.

Hoofpunt 2: Daarom moet ons koninkryksgebede bid.

Inleiding

Het dit al vir jou gevoel asof jy teen die plafon vas bid? As of jou gebede op dowe ore val? Dit is baie moontlik dat ons in tye van ons lewens voel asof ons gebede nie werklik ʼn verskil maak nie, asof dit nie werklik iets beteken nie.

Dit is egter nie die waarheid nie. Ons gebede het ʼn baie groot invloed. Die gebed van die gelowige is ʼn baie kragtige ding, maar hoe werk dit? God het mos ʼn ewige plan? Alles gebeur volgens God se plan. Kan ons God se plan verander deur gebede? Waar pas ons gebede in by God se ewige plan?

Dit is wat ons leer in die teksgedeelte wat ons vandag gelees het. Dit wys ook vir ons dat ons gebede sinvol is. Ons gebede word verhoor. Ons gebede het werklik ʼn baie groot effek en is deel van God se ewige plan.

Hoofpunt 1:  God laat die skepping reageer wanneer die koninkryksgebede van die gelowiges deur God verhoor word.

Johannes vertel in ons teksgedeelte verder van die visioene wat God hom laat sien het. Hy vertel het spesifiek van hoe Jesus die laaste en sewende seël van die boekrol oopmaak. Dit beteken dat Hy God se plan van oordeel oor die sonde en oorwinning oor die satan uitvoer. Soos wat die visioen verloop het, het ons gesien ons hoe Jesus die seëls een vir een oopmaak en hoe die sondige mensdom met die oopmaak van elke seël op ʼn ander manier gestraf word.

Nadat Jesus die laaste seël oopgemaak het, lees ons dat dit vir omtrent ʼn halfuur lank stil was in die hemel. Dit is stil in die hemel om te wys dat die oordeel van die sewende seël buitengewoon groot is. Daar is ʼn stilte voor die storm. ʼn Oomblik van groot afwagting vir die groot oordeel wat op pad is.

Johannes vertel dan dat hy in die visioen sewe engele sien, elk met ʼn trompet. Die oordeel van die sewende seël behels dat elke engel, een vir een, na mekaar op hulle trompette gaan blaas. Elke keer wat daar ʼn volgende een blaas, word daar ʼn volgende oordeel aangekondig. Nadat die trompet geblaas is, vind die straf dan plaas.

Ons moet onthou dat die getal sewe in die boek van Openbaring ʼn simbool is vir volheid of volledigheid. Dit is ʼn beeld wat Johannes gebruik wat uit die Ou Testament kom. Dit verwys terug na die Here wat in ses dae alles geskep en op die sewende dag gerus het. Die sewe seëls wat oopgemaak word, is dus die volledige plan van oorwinning en van oordeel wat uitgevoer word. Die sondaars wat sewe maal geoordeel word, is die volmaakte of volledige oordeel.

Later in die boek, na die sewe trompette, kom daar ook sewe “skale” of eerder “bakke” voor, wat vol is van die Here se oordeel, wat uitgegiet word op die aarde. Dit is dus drie siklusse van sewe. Die sewe seëls, die sewe trompette en die sewe bakke. Dit is egter nie drie aparte dele of tye van oordeel nie. Baie mense heg hierdie “tye van oordeel” aan spesifieke tye in die geskiedenis of aan gebeure vandag. Hulle gebruik dit dan om die wederkoms van Jesus te voorspel. Dit is egter nie Johannes se bedoeling nie. Die sewe trompette is deel van die laaste seël en die sewe bakke is deel van die laaste trompet. Dit is duidelik eerder alles ʼn groot beeld van God se volkome en volmaakte oordeel en oorwinning van die Sonde.

As ons dan weer kyk na ons teksgedeelte, sien ons voordat die engele op hulle trompette blaas, gebeur daar egter iets anders in die hemel. Johannes sien ʼn ander engel wat ʼn goue wierookbak na ʼn altaar toe dra. Hierdie wierookbak is ʼn beeld wat kom vanaf die soenoffers van die Ou Testament, soos ons lees in Levitikus 16. Die volk van die Ou Testament moes op ʼn baie soortegelyke manier aan die Here ʼn offer bring vir hulle sondes sodat hulle weer met God versoen kon word. Dit is egter Christus wat hierdie offer werklik kom vervul het. Dit is deur Christus se offer wat ons werklik met God versoen is.

Binne-in die wierookbak is daar gloeiende kole, wierook en die gebede van al die gelowiges. Die kole en die wierook simboliseer ons gebede wat skoongebrand en gereinig word sodat dit vir God aanneemlik is. Soos wat ons gereinig word deur Christus, sodat ons met God versoen kon word, so word die gebede gereinig sodat dit vir God aanneemlik is. God gebruik dan hierdie gebede op ʼn besonderse manier.

Hoofpunt 2: Daarom moet ons koninkryksgebede bid.

Gereeld is ons gebede selfsugtig, of selfgesentreerd en vol sonde. In hierdie bedeling is alles wat ons doen met sonde bevlek. Selfs ons beste dade is uit hul eie uit nie vir God aanneemlik nie. Deur die genade word ons gebede gereinig sodat dit koninkryksgebede is, sodat dit nie gaan oor onsself nie, maar sodat dit gaan oor die koninkryk van God. Die kern van hierdie gebede is die woorde “laat U koninkryk kom” soos Jesus ons geleer het om te bid.

Dit is ʼn vers vanuit die bekende “Onse Vader”-gebed wat Jesus vir ons geleer het in die bergpreek in Mat 6:9: “Ons vader in die Hemel, laat U koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” Ons kan onsself egter afvra: is dit dan verkeerd om oor persoonlike dinge te bid? Dit is glad nie verkeerd om met die Here jou diepste persoonlike begeertes te deel nie. Dit is nie verkeerd om te bid vir jouself, vir jou gesin, of vir jou werk, of vir die dinge wat vir jou belangrik is nie. Dit is ʼn kerndeel van ons persoonlike verhouding met God.

Dit gaan eerder oor die ingesteldheid waarmee ons hierdie persoonlike dinge bid. Bid ons vir hierdie dinge omdat ons ons eie gewin daarin soek? Maak ons asof God ʼn “vending machine” is waar ons net kan vra en Hy moet dit vir ons gee, of soek ons werklik die koninkryk van God in ons gebede? ʼn “vending machine” is daardie boks wat ‘n mens soms in die stede by hospitale ens. sien. Daar is ʼn venster waardeur ‘n mens kan kyk en dan is daar koeldranke en sjokolades in die masjien. Jy tik dan ʼn nommer in die masjien in vir watter koeldrank of sjokolade jy wil hê, gooi jou geld in en dan kom die item wat jy gekoop het onder uit. Is dit hoe ons God sien? Vra ons net vir Hom wat ons wil hê? Probeer ons dan moontlik met goeie werke betaal? Sien ons gebede net as ʼn manier om iets van God af te kry of gaan dit uiteindelik oor die uitbou van sy koninkryk? Dit is iets waarin ons as gelowiges moet groei. Ons moet daarin groei dat ons gebede al hoe meer en meer koninkryksgedrewe is.

Die manier hoe ons daarin groei, is deur die werk van die Heilie Gees in ons harte. Dit is Hy wat ons harte verander sodat ons koninkryksgedrewe word in al ons doen en late. God is dan vir ons die belangrikste. Ons strewe daarna om sy koninkryk op te bou en uit te bou. Wanneer ons met die Here worstel, wanneer ons met Hom ons harte deel, wanneer ons bid vir ons geliefdes en vir die dinge wat vir ons belangrik is, dan is dit deel van ons koninkrykswerk. Alles wat ons doen, doen ons dan tot eer van God. Alles wat vir ons belangrik is, is vir ons belangrik omdat dit vir God belangrik is. Dit is God wat het daardie roeping in ons harte geplaas het. Wanneer ons tot die Here bid en ons harte met hom deel, sal dit dan koninkryksgedrewe wees. Dit is waarin ons in ons lewens groei.

Ons kan ook met sekerheid weet dat die sonde wat daar egter steeds in ons gebede is, deur die genade deur Christus gereinig word. Dit is wat uitgebeeld word deur die kole en die wierook wat saam met ons gebede in die bak is.

Die gebede en die vuur word dan op die aarde uitgegiet en die gevolge daarvan is geweldig. Die stilte word dan die storm. Die koninkryk van God is aan die kom. Almal wat teen Hom in opstand is, word geoordeel. Ons lees daar kom donderslae en ʼn aardbewing. Die Here gebruik die gebede van gelowiges in sy ewige plan van oordeel en oorwinning. God gebruik ons nietige gebede wat deur Christus gelouter is as instrument in sy hand met die oordeel van die wêreld en in die oorwinning van die vyand. Hy laat die skepping reageer wanneer die gebede van die gelowiges op die aarde uitgegiet word. Is dit nie wonderlik nie?

Dit beteken ons gebede is nooit sinneloos nie. God het van altyd af ʼn ewige plan van oorwinning oor die vyand en ons gebede is deel van daardie plan. God is daarom nooit verras deur ons gebede nie. Dit is nog altyd deel van sy plan. Indien God wou, kon Hy eenvoudig alleen die oorwinning behaal het. Hy kies egter om ons te gebruik in hierdie oorwinning. Hy gebruik ons, en in hierdie geval spesifiek ons gebede, as ʼn instrument in sy hand om die oorwinning te behaal.

Ons moet daarom nooit bang wees om te bid nie. Gebede behoort nie die laaste ding te wees wat ons doen in tye van nood nie. Dit behoort die eerste ding te wees. Nie net in tye van nood nie, ook in tye van voorspoed om ons dankbaarheid ten toon te stel. Indien ons iemand vra vir hulp en hulle sê dat hulle vir ons sal bid, voel dit vir ons soms stomp. Dit voel vir ons asof daardie persoon ons nie werklik wil help nie. Ons sou eerder wou hê dat daardie persoon fisies moet opdaag en iets moet doen. Dit is omdat ons dikwels nie die ware krag van gebed besef nie.  

Dit bemoedig ons om gedurig te bid. Hierdie gedeelte bemoedig ons spesifiek om saam met al die gelowiges deur die eeue te bid: “laat U koninkryk kom”, maar wat beteken hierdie woorde? Hoe kan God se koninkryk kom? Is Hy nie nog altyd die een wat regeer nie? Hoe kan ʼn koninkryk kom wat nog altyd bestaan?

Dit is waar dat God nog altyd regeer. Hy is nog altyd die koning van die heelal. Met die sondeval het dit egter so gebeur dat baie Hom verwerp as koning. Wanneer die “koninkryk kom” is wanneer elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Hy koning is. Die kinders van God en die engele van God gaan dit aanhou doen. Die wat hom egter verwerp het, die sondige mensdom, die satan en sy trawante, gaan dit doen wanneer hulle finaal oorwin is. Die woorde “laat u koninkryk kom” beteken daarom ook: “oorwin finaal die koninkryk van die wêreld en van die duiwel”. Hierdie gebede word dan in ons teksgedeelte uitgegiet oor die sondige wêreld. Die gebede wat verhoor word, is die duiwel wat oorwin word. Die gebede is nie verniet nie. Die gebede is nie niks werd nie. Dit is nog altyd deel van God se plan van oorwinning.

Slot

Broers en susters, ons het begin deur te vra: voel dit vir jou of jy soms teen die plafon vas bid? Voel dit vir jou of jou gebede nie verhoor word nie? Voel dit vir jou of jou gebede nie enige iets werd is nie?

Ons het vandag geleer die antwoord op die bogenoemde is altyd: nee! Ons gebede word verhoor. Ons gebede beteken baie. Dit het ʼn baie groot effek. Die gebed van die gelowige is ʼn kragtige ding.

Johannes gee vir ons deur die visioen wat God vir hom laat die volgende boodskap: God gebruik ons gebede, wat deur Christus gereinig is, op ʼn baie kragtige manier as instrument in sy hand in sy ewige plan van oorwinning en verlossing.

Amen