Teksgedeelte: Haggai 1:1-15
Fokusgedeelte: Haggai 1: 13,14
Tema: Die Here gee ons die krag om sy tempel te bou om ons beswil.
Hoofpunt 1: Die Here gee ons krag.
Hoofpunt 2: Die Here gee ons die krag om sy huis te bou tot ons beswil.
Inleiding
Broers en susters, is dit soms vir u moeilik om die Here te dien? Voel jou godsdiens vir jou soos ʼn las? Ons diens aan die Here is ons grootste bron van vreugde in hierdie wêreld, maar gereeld, as gevolg van die sonde, voel dit nie vir ons so nie.
Wat moet ons dan doen wanneer ons moeg word daarvoor om die Here te dien en die dinge van die Here agterlaat in ons lewens? Dit is presies wat gebeur het met die volk van die Here in die boek van Haggai. Kom ons kyk wat die Here deur Haggai vir sy volk, en vir ons, in hierdie teksgedeelte sê.
Agtergrond
Die agtergrond van vanoggend se teksgedeelte is nodig om werklik die inhoud te verstaan. Die volk van die Here het gereeld geval in sonde en afgodsdiens toe hulle in die beloofde land gewoon het. Die Here het dan keer op keer vir hulle profete gestuur om hulle terug te roep na Hom toe. Hulle het egter nie geluister na die profete van die Here nie. Die Here het toe die volk in ballingskap laat wegvoer na Babel toe.
Ons kan wonder hoekom die Here dit aan sy volk sal doen? Dit is ʼn baie swaar straf om te ontvang. Die waarheid is dat die Here hier besig was om sy volk uit liefde te tug. Hy het hulle deur hierdie straf teruggeroep na Hom toe.
Die volk was vir 70 jaar lank in ballingskap. In die tyd het die Persiese ryk die Babiloniese ryk oorwin. Die volk was dus nie meer in ballingskap onder die Babiloniese ryk nie, maar eerder onder die Persiesie ryk. Die Here het toe in die hart van die Persiese koning, Kores, gewerk, sodat hy die Jode toegelaat het om terug te keer na Jerusalem toe. Daar het toe ʼn groep Jode na Jerusalem toe teruggekeer. Ons lees van hierdie geskiedenis in die boeke van Esra en Nehemia. Die profeet Nehemia, van wie ons vandag gelees het, het in hierdie tyd geprofeteer.
Die Here gebruik mense om sy volk te lei in hierdie tyd. Die mense waarvan ons lees in Nehemia is Serubbabel en Josua. Serubbabel was die goewerneur wat die volk polities gelei het. Josua, wat dieselfde naam gehad het as die man wat die volk in die beloofde land ingelei het, was die hoëpriester. Hy het dus die volk op geestelike vlak gelei. Natuurlik gebruik Hy dan ook iemand soos Haggai, om te profeteer teenoor sy volk. Ons lees in Esra en Nehemia hoe die Jode terugkeer na Jerusalem en begin om die tempel, hulle huise, die muur rondom Jerusalem en hulle lewens te herbou. Dit is ʼn tyd van herbou en herlewing vir die volk van die Here.
Hierdie tyd van herlewing kom egter nie sonder sy terugslae nie. Ons lees van baie terugslae in die boeke van Esra en Nehemia. Daar is weerstand vanuit die volk self, asook vyande van buite. Toe hulle in Jerusalem aangekom het, het hulle die tempel se altaar gebou en die fondasies vir die res van tempel gelê. Hulle het toe skielik opgehou om die tempel te bou. Hulle het toe vir ongeveer 16 jaar nie verder aan die tempel van die Here gebou nie. Die gevolge hiervan is radikaal. Die tempel was die sentrale plek van aanbidding vir die volk. Die tempel was die plek waar hulle die Here geloof en geprys het. Ons kan in ons taal sê hulle het vir 16 jaar lank nie kerk toe gegaan nie.
Die ergste is dat die tempel ook ʼn beeld die spesiale teenwoordigheid van God was. Die Here het die tempel aan sy volk gegee as ʼn teken daarvan dat Hy by hulle is en dat Hy onder hulle woon. Hulle kon dus nie hieraan herinner word deur die tempel nie. Wanneer jy ophou om die Here te dien, vergeet jy later van Hom en ook van die seëninge wat Hy vir jou bied.
Die vraag bestaan dan, hoekom het hulle opgehou om die tempel te bou? Was dit omdat hulle lui geword het? Was dit omdat hulle moeg geword het? Was dit omdat die teëspoed te veel geword het vir hulle, of was dit omdat hulle prioriteite verkeerd was? Hoekom het hulle godsdiens vir hulle ʼn las geword? Hoekom word ons godsdiens soms vir ons ʼn las? Hoekom wil ons nie bou aan die tempel van die Here nie? Die waarheid is dat al die bogenoemde waarskynlik waar is.
Hoofpunt 1: Die Here gee ons krag.
Ons lees in Esra in die vierde hoofstuk wat gebeur het dat die volk opgehou het om die tempel te bou. Daar staan dat teëstanders of vyande gekom het en hulle verhinder het om verder te bou. Daar staan letterlik dat hulle die volk van die Here se hande slap gemaak en hulle bang gemaak het. Ons lees dan in Esra 4:23 dat die vyande van die volk die bou van die tempel met mag en geweld tot stilstand gebring het. Dit was dus vir die volk lewensgevaarlik om die tempel verder te bou.
Ons weet ook soos wat ons gelees het in ons teksgedeelte dat die volk ekonomiese agterstand ervaar het in die 16 jaar wat hulle nie aan die tempel gebou het nie. Die volk was van alle kante af ontmoedig om die tempel te bou. Hulle het eenvoudig nie kans gesien om verder te bou nie. Hulle was te besig om te fokus op oorlewing om die tempel te bou. Ons lees in ons teksgedeelte in vers 2 dat die volk sê: “dit is nie nou die tyd om die Tempel te herbou nie.” Met ander woorde, ons moet nie nou die tempel bou nie. Ons moet wag tot dit met ons beter gaan. Ons moet wag tot ons geld het, of krag het of kans sien, maar net nie nou nie.
Ons situasie is waarskynlik nie so radikaal soos die Jode s’n nie, maar ons voel ook soms soos die Jode hier gevoel het. Ons ervaar ook dinge wat ons hande slap maak en wat ons ontmoedig. Dit voel vir ons ook asof ons eenvoudig net nie nou die krag het om ook nog aan die kerk aandag te gee nie. Ons het nie nou die krag om aan die Here aandag te gee nie.
Wat se die Here dan deur die profeet van Haggai aan die volk en ook vir ons? Hy sê vir hulle in vers 4: “Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl my huis in puin lê?” Met ander woorde, die volk het net gefokus op hulle eie huise en nie op die tempel van die Here nie.
Verder sê die Here vir hulle kyk, julle het gesaai, maar niks ingebring nie. Julle het baie geëet, maar nie versadig geword nie. Julle het gedrink. maar nie genoeg gekry nie. Julle het klere aangetrek ,maar nie warm geword nie. Dit voel vir julle asof julle geld in ʼn sak met gate sit. Dit is duidelik dat die volk finansieel swaargekry het, maar hulle het kos gehad om te eet en klere gehad om aan te trek. Hulle het geld gehad. Dit het net vir hulle gevoel asof die geld net so vinnig uitgaan soos wat dit inkom. Hulle het in die swaarkry net op hulleself gefokus en nie op die Here nie.
Baie van ons het waarskynlik ook al so gevoel. Ons kom net nie voor nie. Ons bly net onvergenoegd met dit wat ons het. Ons lees ook in die teksgedeelte in vers 10 dat die Here droogte oor hulle pad laat kom het. Die Here laat dit toe, want Hy is besig om hulle terug te roep na Hom toe. Hy sê dit is omdat hulle Hom nie eerste stel nie dat hulle so swaar kry. Hulle bou eerder aan hulle eie huise as wat hulle bou aan die tempel van die Here.
Broers en susters, dit is waar dat die Here op hierdie manier met die volk gewerk het en vandag nog steeds so met ons werk, maar dit is nie noodwendig so dat indien iemand swaarkry, dit is omdat hulle gesondig het nie. Iemand soos Job het baie swaargekry en dit is duidelik dat dit nie was as gevolg van sy sonde nie. Dit is egter steeds waar dat die Here alles oor ons pad laat kom met ʼn rede. In die geval van die volk, het Hy hulle laat swaarkry sodat hulle moet besef dat hulle na hom toe moet terugkeer en dat hulle Hom as hulle hoogste prioriteit moet stel.
Hy stuur ook vir Haggai om dit vir hulle te sê. Die Here werk duidelik met sy volk. Hy sê vir hulle: Slaan ag op dit wat ek vir julle sê. Begin weer om te tempel te bou en verheerlik my.
As ons aanvanklik hierdie woorde hoor, kan ons maklik dink dat die Here hierdie vir die volk sê omdat Hy dit nodig het. Alhoewel die Here alle lof en eer verdien, is dit is egter nie waar nie. Die Here het nie sy volk nodig nie. Hy sê vir die volk dat hulle die tempel moet herbou en Hom moet verheerlik, want dit is wat hulle nodig het. Dit is nie wat Hy nodig het nie. Dit is vir ons ook waar. Ons dien nie die Here omdat Hy dit nodig het nie. Ons dien die Here omdat ons dit nodig het.
Ons het dit nodig om die tempel van die Here te bou en Hom te verheerlik, want dit is waarvoor ons geskep is. As ons dit doen waarvoor ons nie gemaak is nie, dan is ons nie gelukkig nie, maar as ons dit doen waarvoor ons gemaak is, dan vind ons ware geluk en vergenoegdheid. Waar ons vroeër baie geëet het en nie tevrede gestel is nie, kan ons nou honger wees en steeds tevrede wees, want ons is tevrede in die Here.
Broers en susters, die Here roep sy volk om hulle prioriteite reg te kry in ʼn baie moeilike tyd, in ʼn tyd wat hulle heeltemal moedeloos was. Dit het vir hulle gevoel asof hulle net nie die krag het nie. Ons lees egter in verse 12 tot 15 dat die Here vir die volk nuwe krag gee deur sy Gees en deur Haggai wat sy woord aan hulle bedien het. Die Here sê in vers 13 vir die volk: “Ek is by julle”. Met ander woorde, julle is nie alleen nie. Ek is groter as julle vyande. Ek is groter as julle swaarkry. Stel my eerste. Bou my tempel. Ek self gee vir julle die krag.
In die Nuwe -Testament kom Christus aarde toe. Hy is waarlik God met ons. Daarom word Hy “Emmanuel” genoem, wat beteken “God met ons”. Deur Christus weet ons God is met ons, daarom gee God ons ook die krag om ons prioriteite reg te stel. Om Hom eerste te stel en te bou aan sy tempel.
Dit is merkwaardig dat die volk geluister het. Hulle het gereageer en die tempel toe binne vier jaar klaar gebou. Iets wat vir hulle onmoontlik gevoel het, wat hulle vir 16 jaar lank nie kans gesien het om te doen nie, het hulle deur die krag en die genade van die Here reggekry.
Hoofpunt 2: Die Here gee ons die krag om sy huis te bou tot ons beswil.
Hoe moet ons dan egter te werk gaan om te bou aan die tempel van die Here in ons dag en tyd. Hoe lyk dit prakties vir ons?
Ons Here Jesus het aarde toe gekom en baie dinge van die Ou Testament vervul en daarom lyk dit vir ons vandag anders. Hy het gekom om ons kinders van God te maak. Hy het dit gedoen deur ons te verlos van ons sondes, deur die straf daarvoor te dra en ook die dood te oorwin sodat ons vir ewig God se kinders kan wees. Hy stuur ook die Heilige Gees om in ons harte te woon. Hy werk in ons harte en skenk aan ons die geloof. Iets wat werklik besonders is, is dat God nou in ons teenwoordig is. Waar die tempel in die Ou Testament die teken was van God se teenwoordigheid, is God nou self deur sy Gees in ons harte teenwoordig. Hy lei ons, gee ons krag en lei ons in ons prioriteite. Ons lees daarom in 1 Korintiërs 6:19-20 : “Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: 20 julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.”
Broers en susters, die kerk is nie die gebou nie, ons is die kerk, ons is die tempel. Ons lees in Efesiërs 2:20-22: “20 Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. 21 In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, 22 in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.” As ons vandag die tempel van God wil opbou, moet ons mekaar opbou en uitbou. Ons moet Christus, ons hoeksteen, verkondig aan mekaar en aan almal. Hulle het in die antieke tye, wanneer hulle ʼn huis gebou het, eers ʼn hoeksteen gelê. Die hoeksteen is die grootste steen waarop al die ander stene gelê het. Dit is ook die steen wat bepaal het in watter rigting die mure gaan.
Ons bou ook op die fondasie van die apostels en die profete. Dit verwys na die Ou en Nuwe Testament. Ons moet die woord verkondig. Ons moet die stene wat daar reeds is, sterk maak en nuwe stene versamel om die huis van die Here te bou.
Slot
Broers en susters, dit is soms vir ons moeilik om te bou aan die tempel van die Here. Soms voel ons godsdiens vir ons soos ʼn las. Dit is egter nie ʼn las nie. Dit is wat ons nodig het. Dit is wat werklik vir ons goed is. Die Here gee dan vir ons in ons omstandighede, maak nie saak hoe moeilik dit is, of hoe moeg ek is nie, die krag om weer aan die tempel te bou.
Ons is die tempel. Ons moet mekaar opbou en uitbou tot eer van die Here.
Amen.