Psalm 84

Teksgedeelte: Psalm 84

Fokusvers: v6

Tema: Die Here gee vir ons krag op pad na sy lieflike woninge.

Hoofpunt 1: Ons smag na die Here se lieflike woninge.

Hoofpunt 2: Die Here gee vir ons krag op pad na sy lieflike woninge.

Inleiding

Broers en susters, smag ons na die teenwoordigheid van die Here? Is dit iets waarna ons verlang? In Ps. 84 roep die psalmdigter uit hoe wonderlik is die woninge van die Here. Hoe wonderlik is dit om ʼn deel van die Here se teenwoordigheid hier op aarde te mag proe by sy woninge.

Agtergrond.

Die betekenis van Psalm 84 word vir ons duideliker wanneer ons sy konteks in ag neem. Ons lees in die eerste vers dat die Psalm is geskryf deur die “kinders van Korag”. Dit is dus ʼn Psalm wat geskryf is deur die Koragiete. Die Koragiete was ʼn familiegroep binne die stam van Levi. Die Here het die Leviete afgesonder vir die tempeldiens. Ons kan maklik dink dat dit beteken dat al die Leviete priesters was, maar dit is egter nie waar nie. Baie van hulle was priesters, maar die meerderheid van hulle was afgesonder vir ander take om en rondom die tempel. Die Koragiete was spesifiek afgesonder om musiek te maak by die tempel. Hulle moes instrumente bespeel en sing  wanneer die volk die Here by die tempel geloof het. Hulle het ook heelwat van die Psalms geskryf.

Die Koragiete was dus musikante en Psalmdigters in diens van die Here. Psalm 84 is een van die Psalms wat hulle geskryf het. ʼn Ander taak wat hulle by die tempel moes verrig, was om wag te hou by die poorte van die tempel. Die tempel was op ʼn baie spesifieke manier gebou met baie simboliek, soos die tabernakeltent toe die volk deur die woestyn getrek het. Ons lees in Exodus 26 van die spesifieke uitleg van die tabernakel.  

Daar was ʼn opelug area buite wat ons die voorhof noem. Die altaar het hier in die buitelug-area, waar die volk hulle offers gemaak het, gestaan. Die Koragiete moes by die drumpel of die tempelpoorte waghou, die ingang tot die buitelug-area, soos ons ook gelees het in vers 11 van die Psalm.

Daar was dan die tempel gebou self, wat ʼn heilige plek was. ʼn Mens mag nie sommer net daar ingegaan het nie. Net die priesters kon daar ingaan, die Koragiete mag nie daar ingegaan het nie.

Dan was daar ʼn kamer binne in die tabernakel wat geskei is van die res van die tempel deur die voorhangsel. Hierdie kamer het bekend gestaan as die allerheiligste en die ark van die Here het in hierdie kamer gestaan. Niemand mag daar ingegaan het nie. Net die hoëpriester mag een maal per jaar daar ingegaan het namens die volk, met ʼn baie spesifieke fees, om versoening te vra vir die hele volk. Hy mag dit ook net gedoen het na ʼn reeks reinigingsrituele.

Die tempel was ʼn sigbare en tasbare simbool of beeld van die teenwoordigheid van die Here. Dit is die Here wat op ʼn fisiese manier vir sy volk gewys het: ek is by julle. Ek woon onder julle. Ek het my tent onder julle opgeslaan. Die volk was daarom hierdeur ook herinner van die Here se seën, beskerming en voorsienigheid.

Hoofpunt 1: Ons smag na die Here se lieflike woninge (v2-4)

Die Koragiete het wag gehou by die tempelpoorte, die Here geloof en psalms geskryf en daarna gesmag om by die Here te wees.  Dit is waaroor dié psalm gaan. Die Koragiete sien gereeld hoe die priesters by die tempel mag ingaan, maar hulle mag nie. Hulle sien ook gereeld hoe mense op ʼn pelgrimstog tempel toe kom en hulle besef wat ʼn voorreg dit is om by die tempelpoort te mag wees. Ons lees in vers 11 dat een dag in die voorhowe van die Here beter is as ʼn duisend in tente van die goddelose. Hulle smag egter baie moontlik daarna om, soos die priesters, in die tempel in te mag gaan. Hulle smag na iets dieper. Hulle smag daarna om op hierdie manier die teenwoordigheid van die Here te ervaar.

Ons kan nie die Here se teenwoordigheid werklik volkome hier op aarde ervaar nie, weens ons sonde kan ons nie in God se heilige teenwoordigheid wees nie. Sy heiligheid sal ons eenvoudig verteer. Daarom staan daar in Exodus 33 vers 20: “…geen mens kan My sien en bly lewe nie.” Ons kan egter net die Here se teenwoordigheid ervaar soos Hy homself aan ons openbaar. Vir die volk van die Ou Testament was een van die groot maniere hoe God dit gedoen het, die tempel. Hulle kon by die tempel iets ervaar van die teenwoordigheid van God. Vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges is dit wanneer ons die Woord van die Here hoor, Hom saam loof, wanneer ons saam die gemeenskap van gelowiges ervaar. Dit is wanneer ons dit doen wat ons in die hemel gaan doen. Ons ervaar daarom ʼn stukkie van die teenwoordigheid van die Here in sy erediens, hier vandag.

In vers 3 sê die psalmdigter dat sy hart en vlees tot eer van Here jubel. Daar is ʼn groot vreugde in die psalmdigter, want hy weet hy is by die woning van die Here, maar tog ten midde van hierdie vreugde is daar ʼn smagting daarna om dit werklik volkome te ervaar. Die vraag is of ons dan hierdie vreugde en smagting binne ons het? Besef ons hoe lieflik is die wonings van die Here? Besef ons werklik wat ʼn wonderlike voorreg dit is om ʼn erediens by te woon? Ervaar ons ʼn jubelende vreugde soos ons vandag hier sit? Het ons ook die smagting daarna om iets dieper te ervaar? Om werklik by die Here te wees?

Baiemaal by begrafnisse vind ons troos daarin dat iemand nou by die Here is. Die begrafnis van ʼn gelowige is daarom ʼn troosryke ervaring, maar iemand wat in hierdie lewe nie by die Here wou wees nie, gaan nie in die lewe hierna by die Here wees nie. Die psalmdigter sê in vers 4 dat hy half jaloers is op die mossies en die swaeltjies wat nes maak in die voorhof naby die altaar. Hulle woon hulle hele lewens daar in die voorhof van die tempel. Sy maak daar ʼn nes vir haar kleintjies. Die psalmdigter wens dat hy so op hierdie manier by die tempel van die Here kon woon, dat hy op so ʼn permanente basis die teenwoordigheid van die Here op hierdie manier kon ervaar.

In vers 5 staan daar: “Welgeluksalig” is hulle wat woon in die Huis van die Here en Hom gedurig prys.” Welgeluksalig is ʼn woord wat ons nie baie gebruik nie. Ander vertalings sal eenvoudig sê  “gelukkig”. Die woord wat hier in die Hebreeus gebruik word, beteken egter meer as net gelukkig. Dit is ʼn sterker woord as net gelukkig. Daarom word die woord “welgeluksalig” gebruik. Drie woorde wat al drie gelukkig beteken: “wel”, “gelukkig” en “salig”.  Geluk is ʼn emosie wat kom en gaan. Welgeluksaligheid is ʼn dieper geluk. Dit is nie ʼn geluk wat kom en gaan soos ʼn emosie nie. Dit is ʼn woord wat beteken jy is in jou hart en siel gelukkig. Dit is geluk wat ʼn mens net in die Here kan vind. Dit behels ook die Here se seën. Daarom word hierdie woord ook soms vertaal met “geseënd”.  Daarom smag die psalmdigter daarna om by die Here te wees en Hom te loof. Hy weet dit is waar ʼn mens ware geluk vind.

Hoofpunt 2: Die Here gee vir ons krag op pad na sy lieflike woninge (6-8)

In vers 6 begin die psalmdigter om te dig oor die mense wat op ʼn pelgrimstog is na die tempel toe. “Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is.” Die pad na die tempel toe is in hulle harte. Dit is deel van wie hulle is. Hulle smag daarna om na die tempel van die Here toe te gaan. Hulle smag daarna om in die teenwoordigheid van die Here te wees.

Indien jy ʼn Jood was wat nie in Jerusalem gewoon het nie, moes jy volgens Deuteronomium 16 vers 16 drie maal per jaar op ʼn pelgrimstog na die tempel toe vir feeste gegaan het. Hierdie pelgrimstog was ʼn groot uitdaging. Dit was voor die tyd van karre. Dit was baie gevaarlik en het baie lank geneem. Hulle moes waarskynlik met esels, wat hulle goed gedra het, na Jerusalem toe gestap het. Hulle het deur die droë woestyn gestap. Daarom staan daar in vers 7 “As hulle deur die Droë Laagte trek, maak hulle dit ’n fonteinland; ook oordek die vroeë reën dit met seëninge.” Die lieflikhede van die tempel is so groot dat die droë woestyn soos ʼn fonteinland voel. In ʼn sin is dit ʼn fonteinland, want die Here se seën is met hulle op hulle reis.  Daarom staan daar in vers 8: “Hulle gaan van krag tot krag; elkeen van hulle sal verskyn voor God in Sion.” Sion is die plek waar die tempel gestaan het.

Die Here gee vir hulle krag op hulle reis na sy tempel toe, op pad na sy teenwoordigheid toe. Broers en susters, die pelgrimstog na Jerusalem was vir die Jode iets wat hulle fisies moes doen, maar dit was nie net ʼn fisiese reis vir hulle nie. Daar is ʼn reeks psalms wat spesifiek geskryf is om gesing te word gedurende hierdie pelgrimstog. Dit staan bekend as die Pelgrimsliedere en is van Psalm 120 tot 134. Wanneer ʼn mens hierdie psalms lees, kom ʼn mens agter dat hierdie psalms ook oor ʼn geestelike reis handel, nie net die fisiese nie. Die geestelike reis na die teenwoordigheid van die Here toe.

Ons is ook op ʼn reis na die teenwoordigheid van die Here toe. Ons gaan nie soos die Jode fisies op ʼn pelgrimstog nie, maar die inhoud van hierdie psalm is steeds waar vir ons vandag. Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is. Ons is werklik sielsgelukkig hier op aarde wanneer ons ons krag in die Here vind op pad na sy teenwoordigheid toe.

Die lewe voel vir ons gereeld soos ʼn woestynland, maar saam met die Here is dit ʼn fonteinland. Ons gaan van krag tot krag, omdat die Here vir ons krag gee op die pad na sy teenwoordigheid toe.  Ons leer egter in die Nuwe Testament nog meer oor die pad na die Here toe. Jesus sê in Joh. 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Ons lees ook die volgende merkwaardige ding in Mat. 27:51: “En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder…”

Die gebaande weë waarvan ons gelees het in vers 6 van ons teksgedeelte, weet ons nou is Christus. Dit is Hy wat in ons harte woon. Dit is deur Hom wat ons die ware teenwoordigheid van die Here kan ervaar. Hy was ons skoon van ons sondes sodat ons in die heilige teenwoordigheid van die Here kan staan. Dit is die betekenis van die voorhangsel wat geskeur het. Deur Christus het ons toegang tot die allerheiligste. Hy maak ons heilig. Wanneer die Vader nou na ons kyk, sien Hy nie ons sonde raak nie, maar Hy sien vir Christus.

Die krag wat ons ontvang van die Here op pad na sy teenwoordigheid toe, weet ons nou kry ons deur die Heilige Gees. Hy lei ons ook op die regte pad. Dit is Hy wat ons na Christus toe laat bekeer. Hy is die een wat ons weë baan. Hy is ook die een wat ons krag gee en ons troos wanneer ons deur die woestynland trek. Is dit nie baie troosryk nie? Gereeld smag ons daarna om na die Here toe te gaan, want ons is moeg vir die woestyn waardeur ons moet trek. Wanneer die lewe vir ons te swaar raak, moet ons krag skep by die Here. Ons is nou reeds deur Hom welgeluksalig.

Slot

Broers en susters, ons moet vandag opnuut besef deur die woorde van die Koragiete hoe lieflik die wonings van die Here is. Ons is welgeluksalige mense, omdat ons aan die erediens van die Here kan deelneem, omdat ons nou reeds ʼn deel van die Here se teenwoordigheid kan proe.

Ons is egter nog nie daar nie. Ons kan nie die volkome teenwoordigheid van die Here ervaar nie. Dit is iets waarna ons smag in hierdie lewe. Die enigste pad daarheen is deur ons Here Jesus Christus. Hy is die weg en die waarheid en die lewe. Die Here stuur ook vir ons die Heilige Gees om ons te lei en krag te gee op hierdie pad na Hom toe. Saam met Hom is ons werklik sielsgelukkig, al gaan dit hoe swaar. Mag ons saam met die Koragiet ervaar: Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is.

Amen.