Efesiërs 1: 3-14

Teksgedeelte: Ef. 1:3-14

Fokusvers: V:3

Belydenis: HK So. 8 V&A

Tema: Die Vader het ons geskep deur Christus, deur wie ons verlos is, sodat ons deur die Heilige Gees kan groei in heiligmaking tot eer van God.

Inleiding

Aangesien daar net een God is, waarom praat ons dan van die Vader, Seun en Heilige Gees?

Ons bely in Sondag 8 dat, alhoewel God ʼn unieke en enkelvoudige geestelike wese is, het Hy homself ook in sy Woord bekend gemaak as drie onderskeie persone. (Mat. 28:19 en 2 Kor. 13:13).

Daar is baie ateïste wat sê dat die Drie-eenheid onlogies is. 1 + 1 + 1 kan nie gelyk aan 1 wees nie. Dan is daar baie gelowiges wat sê dit is iets wat ʼn mens net moet glo. Dit is ʼn misterie.

Die Drie-eenheid soos ons dit bely in Sondag 8.

Alhoewel dit waar is, dit is ʼn misterie, beteken dit nie dat daar nie baie dele is van die Drie-eenheid wat ons wel kan verstaan nie. Ons kan dit verstaan soos die Here dit aan ons openbaar in sy Woord. Daar is vir seker dele wat bo ons verstandelike vermoë is. As ons God volkome kon verstaan, dan was Hy nie God nie. Dit beteken egter nie dat ons nie al die dele wat Hy aan ons openbaar, moet probeer verstaan nie. Die Drie-eenheid is ook nie onlogies nie. God is nooit onlogies nie. Soos ons bely, openbaar God homself as een wese, maar drie persone.  

God sê dus nie 1 + 1 + 1 = 1 nie. 1 + 1 + 1 = 3. 1 persoon + 1 persoon + nog 1 persoon is 3 persone. God is 3 persone, maar net 1 wese. ʼn Ander manier om daaraan te dink is deur dit so te verduidelik: God is nie die Vader nie. God is nie die Seun nie. God is nie die Heilige Gees nie. God is die Vader, Seun en Heilige Gees. Die Vader is God. Die Seun is God en die Heilige Gees is God.

God is drie afsonderlike persone wat met mekaar in verhouding staan. Die drie persone kan onderskei word, maar nooit geskei word nie, want God is een wese. Die woord “wese” beteken manier van bestaan of manier van wees. Binne ons raamwerk van die lewe, dit wat ons verstaan, kan een persoon altyd net een wese wees. Dit is egter nie so met God nie. God is een wese, maar drie persone.

Beelde wat gebruik word om die Drie-eenheid te beskryf.

Baie mense het al baie beelde probeer gebruik om die Drie-eenheid te verduidelik. Dit is egter nie goed om dit te doen nie. Daar is nie ʼn wêreldse beeld wat werklik die Drie-eenheid volkome kan saamvat nie. ʼn Gebrekkige beeld sal God dan op ʼn gebrekkige manier beskryf en dit is lasterlik.

Dit is dalk goed om van die beelde te bespreek en dan te sien waar die beelde gebrekkig is. Ek het al gehoor hoe iemand die Drie-eenheid verduidelik soos H2O of water. Water wat ys, ʼn vastestof, water, ʼn vloeistof, en stoom, ʼn gas, kan wees. Die beeld het dele wat sinvol is. Die “H2O-beeld” beklemtoon die een wese van water en die drie state waarin water voorkom, soos die drie persone, maar daar is egter ʼn fout. God is al drie persone gelyktydig. Water kan net in een in staat wees op een slag, afhangend van die temperatuur.

ʼn Ander beeld wat gebruik word, is om drie afsonderlike persone te neem. Ons kan enige drie persone kies. Ons sê maar Johannes, Petrus en Markus. Al drie is afsonderlik persone, maar al drie is “mens”. So is God drie persone maar al drie persone is “God”. Die fout kom egter daarby in dat, alhoewel al drie die persone (Johannes, Petrus en Markus) “mens” is, is hulle al drie nie net “mens” nie, maar mense. Hulle is aparte mense, met verskillende menslike nature. Petrus was meer bombasties as Johannes. Johannes was meer teruggetrokke as Petrus. Hulle het verskillende menslike nature gehad. God het net een Goddelike natuur.  Hy is drie persone, maar een Goddelike wese met een natuur. Hy is nie gode nie. Hy is God.

Die Drie-eenheid in Ef. 1: 3-14

Ons het reeds gesê dat die drie persone van God onderskei kan word, maar nooit geskei kan word nie. Werk die drie persone van God dan afsonderlik van mekaar? Nee. Weens hulle eenheid werk hulle altyd saam. Daar is dinge wat God doen, waar die Vader voorop staan, en waar die Seun voorop staan en die Heilige Gees ens., maar hulle werk altyd saam.

Ons teksgedeelte in Ef. 1 wys baie mooi hoe die drie altyd saam werk. Vers 1 tot 14 is in die Grieks een lang sin. In hierdie sin verheerlik en loof Paulus  God vir al die wonderlike dinge wat Hy vir ons gedoen het. Die lof hou nie op nie. Paulus sê dat ons die Here moet loof in vers 3, 6, 12 en 14. Daarom is die een lang sin wat net oorvloei van een vers tot die volgende, vol van lof aan die Here vir alles wat Hy vit ons gedoen het. Hy wat ons geseën het met alle geestelike seëninge.

Wat baie mooi is van hierdie verse, is dat die samewerking van die Drie-eenheid duidelik daarin getoon word. Reeds in die eerste sin, wat dien as inleiding, sien ons die werking van al drie.  “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” Die Vader gee die seëninge van die Gees aan ons deur die Seun.

Hy begin dan verduidelik hoe alles saamwerk in vers 4, waar hy sê dat die Vader ons in die Seun uitverkies het voordat die wêreld geskep is. “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.”

Ons leer in die eerste plek hieruit dat ons, en alles anders in die wêreld, geskep is. Ons lees in Kolossense 1:16 dat die Vader deur die Seun geskep het. Ons lees in Genesis dat die Heilige Gees ook teenwoordig is. Daar staan “laat Ons die mens in ons beeld skep”. Die Vader, die Seun en die Heilige Gees is al drie ewig, want God is ewig.

Verder sien ons in vers 5 dat die Vader ʼn ewige plan het en Hy voer sy ewige plan uit. “In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.”

Alles gebeur volgens sy genadige beskikking. Alles gebeur omdat Hy dit so beskik en in genade het Hy dit so beskik dat ons deur Christus gered is. Ons sien baie mooi hier die samewerking tussen die Vader en die Seun. God het ʼn ewige plan. In sy ewige plan red Hy ons van ons sonde deur sy Seun. Die Seun is volkome gehoorsaam aan die Vader en in sy gehoorsaamheid red Hy ons deur die straf wat ons verdien het, te dra.

Hoe wonderlik is dit nie. Daarom weef Paulus weer lof en prys vir die Here by hierdie sin in, in vers 6. Ons moet onthou dat dit die kern-idee van hierdie sin is. Dit is waarmee dit begin het in vers 3. Ons lees dan in vers 7 hoe ons deur Christus gered is: “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God”.

Christus het ons skoon gewas met sy bloed. Hy het gesterf vir ons sondes. Sy bloed het gevloei in die plek van ons bloed. Ons almal het gesondig en daarom verdien ons die dood. Dit is die dood wat Christus vir ons gedra het. Ons lees dan van vers 8 tot 10 hoe Paulus beskryf dat al hierdie dinge gebeur het volgens God se ewige plan. Dit is Hy wat alles bepaal wat gebeur. Dit is Hy wat regeer. Wat ek ook baie mooi is, is hoe die Vader deur die Seun regeer. Ons lees aan die einde van vers 10 dat die Vader alles onder die hoofskap van Christus geplaas het. Alles is deel van Christus se koninkryk.

Ons word dan merkwaardig juis burgers van hierdie koninkryk deur Christus, volgens verse 11 en 13. Nie net was Christus ons skoon van ons sondes deur sy bloed nie, Hy maak ons ook nuwe mense. Hy maak ons kinders van God. Lede van die volk van God. “Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het.”

Die laaste deel van vers 13 begin dan die werk van die Heilige Gees verduidelik. “In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël.”

Ons kom dus tot geloof in Christus deur die Heilige Gees. Hy wat in ons harte werk, gee ons geloof in Christus sodat ons deur Christus lede kan word van God se volk. As ons dan die Heilige Gees in ons harte het, kan ons weet dat ons kinders van God is. Daar staan juis in vers 14 dat Hy ons waarborg is.

Baie mense vra gereeld die vraag: “Hoe kan ek weet dat ek ʼn gelowige is?” Die antwoord is, as die Heilige Gees in jou is, dan is jy ʼn gelowige. Dan kan jy weet dat al die “geestelike seëninge” waarvan daar in hierdie verse gepraat word, vir jou gegee is in genade deur die Vader, Seun en Heilige Gees.

As die Heilige Gees in ons is, dan toon ons die vrug van die Gees. Dit is iets waarin ons groei soos wat ons ons lewenspaaie stap saam met die Heilige Gees. Daar word na hierdie proses verwys as die pad van heiligmaking. Dit is waar ons al hoe nader en nader groei aan die Here. Ons word wie ons alreeds is in Jesus. Ons redding is ʼn eenmalige proses. Die Vader het dit reeds vir ons gegee deur Christus, maar heiligmaking is ʼn pad met op- en afdraandes, wat ons deur die krag van die Heilige Gees stap.

Kyk die wonderlike samewerking van die Drie-eenheid. Ons kom tot geloof in Christus, deur die werking van die Heilige Gees in ons harte volgens die ewige plan van die Vader.

Die Drie-eenheid werk altyd saam. By die skepping het die Vader deur die Seun geskep, terwyl die Heilige Gees ook teenwoordig was. By die verlossing is dit die Seun van die Vader wat homself vir ons geoffer het en Hy is met die Heilige Gees gesalf om dit te kon doen. By ons heiligmaking is dit die Heilige Gees wat ons verander om al meer soos Jesus te wees, sodat die Vader die eer sal kry.

Dit is ook die groot doelwit en opdrag van hierdie teksgedeelte. Ons moet God Drie-enig loof vir al die wonderlike geestelike seëninge waarmee Hy ons geseën het. Ons doen dit deur te weet wat dit alles is. Wat die rol is wat elke persoon van die Drie-eenheid in samewerking met mekaar speel, en hulle daarvoor te loof in woord en daad.

Slot

Ons het begin deur te sê dat baie Christene nie werklik die Drie-eenheid verstaan nie. Ongelukkig probeer baie nie om dit te verstaan nie, want dit is net ʼn “misterie wat ons net moet glo”. Dit is waar God is groter as wat ons ooit sal kan verstaan. Ons moet egter steeds probeer om Hom te verstaan soos wat Hy homself aan ons openbaar.

Hy openbaar homself as drie-enig, Vader, Seun en Heilige Gees, en ons moet Hom ook so ken en eer.

Amen.