Teksgedeelte: Mattheus 14:22-33
Fokusvers: v31
Tema: God red ons ten spyte van ons kleingeloof, daarom moet ons in ons geloof groei.
Hoofpunt 1: God red ons ten spyte van ons kleingeloof.
Hoofpunt 2: Ons moet daarom in ons geloof groei.
Inleiding
Broers en susters, om te sukkel met kleingeloof is deel van die lewe van ʼn gelowige, of ons dit besef of nie. Daar is geleenthede waar ons nie dink of optree soos iemand wat op die Here vertrou nie. Dit gebeur veral in tye van groot angs en vrees.
In vandag se teksgedeelte sien ons hoe Petrus dit doen. Petrus, wat vir ons oor die algemeen lyk soos iemand wie se geloof sterk staan, se geloof wankel. Petrus is iemand wat bombasties en braaf is. Hy is altyd gereed om op te staan vir dit waarin hy glo, al het hy nog nie mooi daaroor gedink nie. In vandag se teksgedeelte sien ons egter hoe hy, die brawe Petrus, bang word. Hy verloor sy fokus op die Here en sy geloof wankel.
Hoofpunt 1: God red ons ten spyte van ons kleingeloof.
Die geskiedenis wat ons gelees het, vind plaas net na Jesus se wonderwerk waar Hy die vyf brode en twee visse vermeerder het om die groot menige mense te voer wat Hom agtervolg het. Jesus leer ons hieruit om geloof te hê in tye van nood en behoeftigheid. In vanoggend se teksgedeelte leer Jesus ons om geloof te hê in tye van vrees. Die groot menigte mense is honger en daar is nie genoeg kos nie. Jesus doen dan ʼn wonderwerk en voorsien kos vir al die mense.
Nadat Jesus hierdie mense met ʼn wonderwerk gevoer het, lees ons in Johannes 6:14-15, wat handel oor dieselfde gebeurtenis, dat die mense hom net daar en dan hulle koning wou maak. Jesus het egter geweet dit is nie die plan wat die Vader vir Hom gehad het nie en daarom het Hy en sy dissipels wegbeweeg van die groot menigte af. Die menigte wou ʼn aardse koning gehad het wat hulle sou verlos van hulle aardse probleme. Ons moet hulle nie kwalik neem nie. Na Jesus se wonderwerk het hulle seker gedink: “Hy moet koning wees. Onder sy koningskap sal daar nooit hongersnood wees nie.” Honger is so ʼn eenvoudige aardse nood wat ons almal het. Ons is afhanklik van kos. Ons wil hê iemand moet ons van ons honger kom verlos.
Jesus is egter nie ʼn aardse koning wat hier is om ons net van ons fisiese nood te verlos nie. Hy is die ewige koning wat ons van ons ewige nood verlos. Dit is hoekom Jesus aarde toe gekom het.
Jesus stuur dan sy dissipels vooruit om op ʼn skuit oor die see van Galilea te vaar, terwyl Hy nog besig was om die mense huis toe te stuur. Hy het nadat Hy die mense huis toe gestuur het, na die berg toe gegaan om daar te bid. Daar staan dat toe dit aand geword het, Hy alleen daar was.
Dit was met ander woorde laatmiddag toe die dissipels op die skuit oor die see van Galilea begin vaar het. Die see van Galilea is ʼn baie klein middellandse see en ʼn mens kan gerieflik in ʼn halwe dag oor die see vaar. As die weer mooi is, kan ʼn mens dit in ʼn paar ure doen. Ons lees egter dat die dissipels in die middel van die see vasgesit het tot die volgende môre toe. Hulle is deur die golwe geteister en die wind was van voor.
Dit beteken hulle het die hele nag deur gesukkel om na die ander kant toe te vaar. Ons moet onthou, ʼn paar van die dissipels was vissermanne van beroep voordat hulle vir Jesus begin volg het. Hulle was daarom waarskynlik ervare seevaarders. Die storm moes baie erg wees vir hulle om die hele nag vas te sit.
Ons kan dink dat hulle waarskynlik baie bang geword het. Hulle het vir seker baie moeg geword. Die see was in die Joodse kultuur veral iets waarvoor hulle baie bang was. Reg deur die Ou Testament is die see gebruik as ʼn beeld van vrees weens sy woeste, groot en onbeheerbare aard. Dit maak sin as ʼn mens daaraan dink. Die see is ʼn groot onbeheerbare donkerte waarteenoor jy magteloos staan.
Die dissipels is dan in die skuit, in die middel van die see, in die storm vasgevang. Hulle sien hoe Jesus op die water na hulle toe aangeloop kom. Dit is ʼn wonderwerk wat duidelik wys dat Jesus groter is as enige storm. Hy is ook in beheer van die wette van die natuur. Hy loop op die water. Hy sink nie.
Die dissipels verstaan egter nie wat aan die gebeur is nie. Hulle dink Jesus moet ʼn spook wees. ʼn Mens kan mos nie op die water loop nie. Hulle glo nie dit is Jesus nie en hulle word baie bang. Hulle het van angs begin skreeu. Jesus sê dan vir hulle: “Wees gerus, dit is Ek. Moet nie bang wees nie.” Die dissipels is egter steeds bang. Ons moet nie hier neerkyk op die dissipels nie. Ons sou waarskynlik self bang gewees het. Vasgevang in die middel van die see in ʼn storm met ʼn man wat op die water na jou toe loop. Jy kan nêrens heen gaan nie. Jy het die hele nag probeer om êrens te kom, maar jy het dit nie reggekry nie.
Dit is net Petrus wat dan sê: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” Dit is ʼn oomblik wat groot geloof geverg het. Petrus vertrou hier op die Here. Jesus antwoord hom dan en sê vir hom om te kom. Petrus het uit die skuit geklim en op die water begin loop. Dit is groot wonderwerk. Dink jouself vir ʼn oomblik in, jy loop op die water in ʼn groot storm. Petrus het egter toe agtergekom hoe sterk die wind is. Hy het weer bang geword. Hy het nie meer gefokus op Jesus waarheen hy gestap het nie. Hy het weggekyk na die wind en die storm. Hy het toe weer begin sink.
Broers en susters, ons moet nie hierdie verhaal oor-vergeestelik nie, maar die boodskap is tog duidelik. Ons moet leer om op die Here te vertrou in tye van vrees en angs. Daar is ook spreekwoordelike storms in ons lewens. Daar is ook tye wat ons vasgevang voel, soos die dissipels in die middel van die see. Daar is ook tye wat dinge gebeur wat ons nie verstaan nie. Ons moet dan leer om alleen op die Here te vertrou. Om vanuit geloof in Hom te reageer.
Wanneer ons egter ons fokus op Hom verloor, dan begin ons ook sink. Wat mooi is om raak te sien, is dat Jesus sy dissipels en die storm in sy hand vashou. Hy is besig om hier met sy dissipels te werk. Hy bring vir Petrus op ʼn plek waar hy sy afhanklikheid van die Here besef.
In hierdie groot oomblik van desperaatheid, waar Petrus begin sink, roep Petrus dan uit: “Here, red my!”. Dit is ʼn groot oomblik. Dit is ʼn belangrike oomblik. Dit is iets waardeur elke gelowige moet gaan. Dit hoef nie noodwendig in so ʼn angstige groot oomblik te wees nie, maar ons moet elkeen besef dat ons volkome afhanklik is van die Here. Gereeld wys die Here dit vir ons, deur ons in uitdagende situasies te plaas.
Ons moet op ʼn plek kom waar ons besef dat ons nie onsself kan red nie. Dit is net die Here wat ons kan red. Dadelik steek die Here dan sy hand uit en red vir Petrus.
Hoofpunt 2: Ons moet daarom in ons geloof groei.
Hy vermaan vir Petrus oor sy kleingeloof dadelik nadat Hy hom gered het. Wat ons egter moet raaksien, is dat Jesus vir Petrus red ten spyte van sy kleingeloof. Jesus sê nie vir Petrus dat Hy gaan wag totdat sy geloof sterker is voordat Hy hom red nie. Hy red hom dadelik.
Ons mag moontlik gereeld self so dink oor ons geloof of oor die Here. As Petrus gewankel het in sy geloof, gaan ons vir seker ook wankel in ons geloof. Ons dink dan dat, omdat ons kleingeloof het, of wankel in ons geloof, die Here ons nie sal red nie. Dit is egter nie waar nie. Hy red vir Petrus al was hy in daardie oomblik kleingelowig en dit is vir ons ook waar.
Dit is vir sondaars en kleingelowiges soos ons vir wie Jesus aan die kruis gesterf het. Hy red ons nie omdat ons ʼn sterk geloof het nie. Hy red ons uit genade uit. Daar is niks wat ek en jy kan doen om ons redding te verdien nie. Al wat ons bydra tot ons redding, is die sonde waarvan ons gered moet word. Christus moes die straf vir ons sondes dra, sodat ons skoon gewas kon word. Hy het ook die dood oorwin sodat ons die ewige lewe kan hê. Hy het al hierdie dinge vir ons gedoen. Ons kleingeloof gaan dit nie wegneem nie. Dit is die evangelie.
Geloof in die evangelie is ook ʼn geskenk wat aan ons gegee is deur die Heilige Gees wat in ons harte werk. Dit is Hy wat ons herinner aan die beloftes van die Here. Dit is ook deur Hom wat ons groei in die geloof. Die Here gee ons die opdrag en die krag deur die Heilige Gees om in ons geloof te groei. Daarom vermaan Jesus vir Petrus en vra vir hom: “waarom is jy so kleingelowig?” Ons moet egter nie toelaat dat ons kleingelowigheid ons laat twyfel in ons redding nie. Die Here werk met ons deur hierdie situasies.
Daar in ongelukkig baie gelowiges wat nie geloofsekerheid het nie. Hulle glo hulle is te kleingelowig of nie goed genoeg nie. Hulle kyk na die storm rondom hulle en begin dan sink. Ons moet al daardie twyfel, vrees en angs vir die Here gee en op Hom fokus. Ons moet bid: “Red my, Here”, want dit is net Hy wat ons kan red. Op hierdie manier werk die Here met ons soos wat Hy met Petrus gewerk het.
Petrus en Jesus klim toe hierna in die skuit nadat Hy vir Petrus gered het. Die wind het gaan lê en die dissipels sê toe: “U is waarlik die Seun van God.”
Petrus word dalk alleen vermaan vir sy kleingeloof, maar al die dissipels staan hier skuldig. Die res het nie eers uit die skuit geklim nie. Ons staan natuurlik self ook skuldig. Tog, na hierdie gebeurtenis, besef en erken die hele groep dat Jesus die Seun van God is. Jesus het vir hulle gewys dat Hy in beheer is van die storm. Hulle hoef nie bang te wees nie. Jesus is die Seun van God. Ons hoef nie bang te wees nie.
Jesus leer ons dat ons op Hom moet vertrou in tye van angs en vrees en al kry ons dit nie reg nie, kan ons met sekerheid steeds weet dat Hy ons sal red. Hy stuur vir ons sy Heilige Gees om ons aan sy beloftes te herinner.
Slot
Broers en susters, wanneer u dan weer ʼn spreekwoordelike storm in u lewe ervaar, fokus op die Here. Besef dit is Hy alleen wat jou kan en sal red. Nie net van jou aardse nood nie, maar ook van jou ewige nood. Hy het aan die kruis gesterf vir kleingelowiges soos ons.
Vertrou op Hom en glo in Hom.
Amen.