Eksodus 32: 1-35

Teksgedeelte: Eksodus 32:1-35

Fokusgedeelte: Eksodus 32: 30-32

Tema: God is die enigste ware God en Hy vereis dat ons Hom alleen dien en nie afgode nie.

Hoofpunt 1: God is die enigste ware God.

Hoofpunt 2: God vereis dat ons Hom alleen dien en nie afgode nie.

Inleiding

Broers en susters, in vanoggend se Skrifgedeelte sien ons hoe die volk van die Here in afgodsdiens verval. Die vraag waarmee die teksgedeelte ons dan laat, is: dien ons ook afgode? Ons weet ons is nie vir ʼn oomblik beter as die volk van Israel nie.

Ons mag dalk by onsself dink, nee, ons sal nooit tot die vlak van die Israeliete daal nie. Ons sal nie ʼn vreemde beeld aanbid nie, maar broers en susters, afgode is nie net vreemde beelde met name, soos Baal, Atriums of Zeus nie. ʼn Afgod is enige iets wat vir jou belangriker as God is.

Daar is ook ʼn ander manier hoe ons ʼn afgod kan dien en dit is waarskynlik wat die volk in vanoggend se teksgedeelte gedoen het. Dit is wanneer ons “God” dien, maar ons dien Hom nie vir wie Hy is nie, maar vir wie ons Hom maak. Wanneer ons God iets of iemand maak wat Hy nie is nie, dan dien ons ʼn valse weergawe van Hom en dan dien ons ʼn afgod. Ons moet God dien soos wat Hy homself aan ons in die Bybel openbaar. Ons moet Hom dien soos wat Hy gedien wil word.

Hoofpunt 1: God is die enigste ware God.

In ons skrifgedeelte is die volk by die voet van die berg Sinaï. Hulle is al daar van Eksodus 19 af. Die Here is hier besig om sy verbond met sy volk te bevestig. ʼn Verbond is ʼn verhouding met spesifieke grense of rolle wat die partye in die verhouding moet speel. Ons moet raaksien dat dit God is wat met sy volk in die verbond ingaan. Dit is nie die twee partye wat saam ooreenkom op die grense of rolle binne die verhouding nie. Dit is die Here wat na sy volk toe kom en vir hulle sê wat hierdie grense of rolle is.

Hy sê vir sy volk dat Hy hulle God gaan wees en dat hulle sy volk moet wees. Hy is hulle God wat hulle lei, hulle beskerm en vir hulle sorg. Hulle is sy volk wat aan Hom gehoorsaam moet wees. God wys vir ons wie Hy is en hoe ons Hom moet dien. Ons sien dit baie mooi in die woorde van die Here in Exodus 19:4-6: “Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.”

Die volk mag nie teen die berg opgaan nie, maar Moses gaan reeds van Eksodus 19 af op en af teen die berg om te hoor wat die Here vir hom sê oor hoe die volk behoort te lewe. God het egter self vir die volk die tien gebooie in Eksodus 20 vanaf die berg vanuit ʼn groot stormwolk gegee.

In Eksodus 32 was Moses weer op die berg en ons lees in Eksodus 24 dat hy teen die berg opgegaan het en vir veertig dae op die berg gebly het. Die Here het hier vir Moses verder gesê hoe Hy wil hê die volk moet lewe. Hy gee ook vir Moses die tien gebooie op klipafels wat Hy met sy eie hand daarop geskryf het. Ons kan aflei dat, al die vorige kere toe Moses by die berg opgegaan het, hy nie op die berg oornag het nie. Die volk het dus nie vooraf geweet dat hy vir veertig dae sou weg wees nie.  

Hulle word dan ongeduldig. Hulle sukkel om te wag op die Here. Hulle gaan toe na Aäron toe, Moses se broer wat hy in beheer van die volk gelos voordat hy by die berg opgeklim het, en hulle sê toe vir hom in die eerste vers van ons teksgedeelte: “Kom maak vir ons ’n god dat hy ons kan lei. Hierdie man Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.”

Aäron was die hoëpriester. Die priesters moes die godsdiens lei en hy was die leier van die priesters. Aäron moes daarom vir hulle nee gesê het. Ons kan nie vir ons ʼn afgod maak nie. Ons moet die Here dien soos wat Hy gedien wil word. Die Here het net ʼn kort tyd vantevore self vir hulle vanaf die berg in Exodus 20:4-5 gesê: “Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5 Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My.”

Die Here het dit vir hulle self gesê en hulle het daartoe ingestem, maar tog vra hulle hier vir Aäron vir ‘n afbeelding, ʼn afgod, wat hulle kan dien en wat hulle kan lei. Ons moet onthou dat hulle net ʼn paar maande voor hierdie nog in Egipte was waar afgode op hierdie manier gedien is. Of Aäron geval het vir die groepsdruk en of hy vrywillig ingestem het, maak nie saak nie. Hy het met sy eie hande moeite gedoen en vir ʼn tyd lank die goue kalf gemaak. Dit was daarom ʼn baie opsetlike en swaar sonde.

Hy sê vir die volk dat hulle al hulle oorbelle vir hom moet bring sodat hy daaruit die goue kalf kan maak. Die vraag bestaan egter: waar het die volk goue oorbelle gekry om die kalf van te maak? Hulle was slawe in Egipte voordat hulle weggevoer is. Ons lees in Exodus 12:35-36 dat die Here dit vir hulle gegee het net voordat hulle Egipte verlaat het. “Verder het die Israeliete die opdrag van Moses uitgevoer, naamlik om van die Egiptenaars silwer- en goue goed sowel as klere te eis. Die Here het gesorg dat die Egiptenaars aan sy volk goed doen, sodat hulle uit Egipte as buit kon wegdra wát hulle ook al geëis het.” Die Here het in die harte van die Egiptenare gewerk sodat hulle dit vir die Israeliete moet gee. Die Here het hulle geseën met goud. Die Israeliete maak dan ʼn afgod van dít waarmee die Here hulle seën.

Dit is iets wat ons ook doen. Die wonderlike dinge waarmee die Here ons seën, vat ons en maak daarvan afgode. Dit kan enigiets wees, selfs goeie dinge. Dit kan ons families of beroepe wees. Dit kan ook die goud wees wat die Here vir ons gegee het. Die geld wat ons so najaag om op te gaar. Ons sal dit dalk nie met ons monde sê nie, maar ons wys dit met ons dade. Ons dien afgode met ons dade heel week lank en dan probeer ons dit regmaak met ons stemme en ons voorkoms op Sondae. Die vraag is, is die Here werklik ons eerste prioriteit?   

Broers en susters, ons is nie seker of die afbeelding wat die Israeliete gemaak het, veronderstel was om God af te beeld, of totaal ʼn ander afgod af te beeld nie, maar albei is gruwelike sondes. Dit is meer waarskynlik dat hulle God self wou afbeeld met die beeld.  Aäron sê in vers 4 en 5: “Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel!” en “Môre is daar ʼn fees vir die Here”.

Indien die bedoeling van die volk was om die Here af te beeld, dan is hulle besig om van die Here iets te maak wat Hy nie is nie. Hulle maak Hom ʼn tasbare, sigbare deel van sy skepping. Hulle maak Hom ʼn kalf, ʼn dier. Die mense heers oor die diere. Dit is verskriklik lasterlik. Dit is egter duidelik die volk se bedoeling. “Kom ons maak vir ons ʼn god wat ons kan lei”.

Broers en susters, ons moenie die Here iets maak wat Hy nie is nie. Ons moenie die Here verander sodat Hy pas by wat ons wil hê Hy moet wees nie. As ons dit doen, dien ons dan nie werklik die Here nie. Ons moet God leer ken en dien vir wie Hy is, nie vir wie ons wil hê Hy moet wees nie. Ons moet Hom nie dien op ʼn manier wat vir ons gerieflik en lekker is nie. Ons moet Hom dien op die manier wat Hy in sy Woord vra om gedien te word.

Dit is ook natuurlik moontlik dat die volk vir hulle ʼn heeltemal ander afgod gemaak het. Dit is moontlik een wat hulle in Egipte gesien het. In hierdie geval verag hulle God heeltemal. Hulle dien dan heeltemal ʼn ander god. Dis is baie ernstig, want hulle skryf dan dit wat die Here vir hulle gedoen het, aan ʼn afgod toe.

Hoofpunt 2: God vereis dat ons Hom alleen dien en nie afgode nie.

Intussen het God vir Moses laat weet wat gebeur het. God is alwetend en Hy sien alles raak. Ons moenie dink ons kan dinge vir die Here wegsteek nie. Hy sê vir Moses dat hy Hom nie moet probeer keer nie. Hy is toornig teenoor sy volk en Hy gaan hulle vernietig.

Moses praat dan met die Here en dit lyk asof Moses die Here oortuig om nie sy volk te vernietig nie. Dit kan vir ons aanvanklik vreemd klink. Het Moses veroorsaak dat God van plan verander? Kan ons mense God se plan verander? Die antwoord is nee. God het ʼn ewige plan en daardie plan sal geskied. Dit was nooit deel van die Here se plan om die volk te vernietig nie. Hy het belowe dat Hy dit nie sal doen nie.

Dit is juis een van die dinge wat Moses vir die Here sê. Die argumente waarmee Hy die Here “oortuig”, is argumente wat gebaseer is op die Here se karakter. Die Here is hier besig om met Moses en met ons te werk. Hy gebruik Moses as deel van sy ewige plan. Hy wys duidelik vir ons en vir Moses hoe Hy voel oor die sonde en wat ons verdien as gevolg van ons sonde. Hy is ook besig om Moses te vorm in ʼn sagmoedige en nederige leier. Die Here sê vir Moses, ek sal my volk vernietig en vir jou ʼn groot nasie maak. Met ander woorde, ek sal voor begin met jou, Moses. Ek sal jou die nuwe Abraham maak. Tog sê Moses nee. Ek dien vir U, Here, nie vir myself nie.  U is getrou. U het ʼn belofte gemaak aan Abraham. Ek weet U gaan getrou bly aan daardie belofte.

Op hierdie manier gebruik die Here Moses se versoek as deel van Sy ewige plan. Dit is ook hoe dit werk wanneer ons tot die Here bid. Ons gebede verander nie die Here se plan nie, maar Hy gebruik ons gebede as instrument binne sy plan. Die Here het toe daarvan afgesien om die volk volkome te vernietig en Moses is weer teen die berg af om self te sien wat die volk gedoen het. Toe Moses die goue kalf sien, was hy so kwaad dat hy die twee kliptafels met die tien gebooie op neergegooi het.

Boers en susters, die berg Sinaï was ʼn baie hoë berg. Dit moes baie swaar gewees het om twee kliptafels teen die berg af te dra. Dit is ook twee kliptafels waarop die Here self geskryf het. Moses moes baie kwaad gewees het om daardie kliptafels net so neer te gooi. Dit beeld egter ʼn baie belangrike ding uit. Die volk was nie getrou aan die verbond nie. Hulle het deur hulle afgodsdiens die verbond verbreek. Daarom is dit gepas dat Moses die tafels waarop die vereistes van die verbond geskryf is, gebreek het.

Die volk word op drie maniere gestraf vir hulle sonde. Eerstens laat Moses hulle die afgod afbrand en maal tot ʼn poeier. Hy gooi dan daardie poeier in water en hulle moet daardie water drink. Water is ʼn baie kosbare en noodsaaklike bron in die woestyn. Dit is daarom ʼn groot straf om dit baie onaangenaam te maak om water te drink.

Hierna versamel Moses die mense wat teen die afgodery was, die Leviete, sy eie stamgenote. Die Here beveel dan deur Moses die Leviete om hulle eie familie, vriende en bure dood te maak. Hulle het dit toe gedoen en rondom drieduisend mense is doodgemaak.

Laastens tref die Here die volk met ʼn ramp vir hulle sonde. Ons kan aflei dat hierdie ramp waarskynlik ʼn plaag was.

Broers en susters, hierdie strawwe klink dalk vir ons baie erg. Dit is erg. Ons moet egter besef dat hierdie strawwe reeds genade is. Die volk het verdien om totaal uitgewis te word. Almal het verdien om dood te gaan. Die feit dat die volk nie vernietig is nie en net gestraf is, is genade. Die Here wys ook vir die volk dat wat hulle gedoen het, verkeerd is. Hy lei hulle terug op die regte pad.

Broers en susters, dit klink vir ons rof, maar dit is omdat ons nie altyd die grootheid van ons sonde besef nie. Ons besef nie die ware gevolge van die sonde nie. Die gevolg van die sonde is die dood. Hulle het teen God gesondig en daarom verdien hulle die dood.

Hoe hoër ons agting is vir God, hoe groter is ons haat vir die sonde. As ons besef hoe hoog God is, besef ons hoe erg sonde teen Hom is. As ons besef hoe erg sonde teen God is, besef ons hoe genadig God teenoor ons is wanneer Hy ons red. Jou redding in Christus gaan eers vir jou werklik iets beteken as jy besef waarvan jy gered is.

Broers en susters, daar gebeur ʼn merkwaardige ding net voordat God die volk met die ramp tref. Moses sê vir die volk in vers 30: “Julle het ’n ernstige sonde gedoen, maar ek klim nou na die Here toe op en miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.”

Moses sê dan vir die Here in vers 32: “Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.” Met ander woorde, Moses sê vir die Here: “Straf vir my, nie die volk nie. Haal my naam uit die boek van die lewe uit, gee vir my die ewige dood”. Moses probeer die volk se straf namens hulle dra, maar hy kan nie. Hy is ʼn sondige mens net soos ons. Hy kan nie vir ons sondes betaal nie. Die Here se vir Hom: “Nee, Ek sal hulle wat teen My gesondig het, se name uit my boek uitvee…”

Broers en susters, dit is almal van ons. Ons almal het teen die Here gesondig. Ons almal verdien dat ons name uit die boek van die lewe uitgevee word. Ons het daarom iemand nodig wat die straf vir ons sonde kan dra, maar dit kan nie ʼn ander sondige mens soos Moses wees nie. Dit is net Jesus, die sondelose Lam van God, wat kan betaal vir ons sondes.

Moses het gedien as die middelaar tussen die volk en God. Daarom wil hy ook instaan vir die sondes van die volk. Hy was egter nie die volmaakte middelaar nie. Hy het net vooruitgewys na die perfekte middelaar wat sou kom. Dit is Jesus Christus. Hy is volkome getrou aan die verbond. Deur Hom word die kliptafels nie gebreek nie, maar juis volkome nagekom. Deur Hom is ons God se volk. Met sy sterwe en opstanding het Hy die straf vir ons sondes gedra en ons nuwe mense gemaak wat lede is van die volk van God. Deur Hom is ons name in die boek van die lewe geskryf vir altyd. Hy stuur ook sy Heilige Gees vir ons as waarborg.

Dit is ook die Heilige Gees wat in ons harte werk, sodat ons nie meer afgode wil dien nie. Broers en susters, ons sal nooit uit ons eie uit die Here dien nie. Uit Israel se geskiedenis is dit duidelik dat dit nie saak maak hoeveel kanse die Here die volk gee om Hom te kies nie, hulle doen nooit nie. Ons moet nie vir een oomblik dink dat ons enigsins beter is as Israel nie. Ons sal altyd ander afgode najaag. Ons harte moet eers verander word deur die Heilige Gees.

Alhoewel ons harte vernuwe is deur die werk van Christus en die Heilige Gees, hunker ons sondige vlees in hierdie bedeling tog steeds na ons afgode toe. Ons moet daarom onsself afvra: buig ons soms voor die goue kalf, wat dit ook al in ons lewens mag wees? Is ons werklik besig om die Here alleen te dien en dien ons Hom soos wat Hy gedien wil word?

Kies ons soms om kerk te mis vir ons eie gerief? (Die afgod van gerief) Sal ons soms eerder saam skinder as om verwerp te word deur ons vriende? (Die afgod van aansien) Sal die kerk dalk leeg wees as daar ʼn groot rugbywedstryd in kerktyd uitgesaai word? (die afgod van sport of stokperdjies) So kan ons elkeen self dink aan plekke in ons eie lewens waar ons ʼn goue kalf dien eerder as die lewende God. Probeer ons God inpas in hoe ons godsdiens wil beoefen, of wil ons regtig die Here dien soos Hy vra, al vereis dit opoffering?

Slot

Die volk van die Here het in vandag se teksgedeelte hulleself skuldig gemaak aan afgodery. Dit is sonde wat die dood verdien, net soos ons sonde ook die ewige dood verdien. Tog was die Here teenoor hulle genadig, en ook teenoor ons, deur Jesus wat namens ons die tafels van die verbond nagekom het, sodat die wat in Hom glo, se name nooit uit die boek van die lewe gevee sal word nie. Daarom, deur die Heilige Gees, wil ons Hom alleen dien soos wat Hy gedien wil word.

Amen.