Teksgedeelte: 2 Tim 3:1 – 2 Tim 4:8
Fokusgedeelte: 2 Tim 3: 16-17
Tema: Die hele Skrif is deur God uitgeasem om in die waarheid te onderrig, sodat ons wat in diens van God staan, volkome toegerus sal wees vir elke goeie werk wat ons moet doen.
Hoofpunt 1: Die hele Skrif is deur God uitgeasem.
Hoofpunt 2: Die hele Skrif is nuttig om ons in die waarheid te onderrig, sodat ons wat in diens van God staan, volkome toegerus sal wees vir elke goeie werk wat ons moet doen.
Agtergrond oor die Reformasie:
Broers en susters, 31 Oktober 1517 word beskou as die dag waarop die Reformasie begin het. Dit was ʼn beweging binne die kerk wat ʼn groot invloed op die hele wêreld gehad het. Dit word die Reformasie genoem, want die kerk het gereformeer, die kerk het verander. Die doel was dat dit terug verander na die manier hoe dit volgens die Bybel behoort te wees. Hulle het teruggekeer het na die kerndinge toe.
Op daardie oomblik in die kerkgeskiedenis daar net een denominasie in die meeste dele van die wêreld en dit was die Rooms-Katolieke Kerk. Daar was egter baie slegte gebruike en tradisies binne die Rooms-Katolieke Kerk wat nie Bybels is nie. Ons gaan nie vandag diep in al die geskiedenis ingaan nie, maar ʼn man met die naam van Martin Luther, wat ʼn monnik in die Rooms-Katolieke Kerk was, het agtergekom hierdie gebruike is heeltemal verkeerd en teen die Bybel. Daarom het hy op die dag van 31 Oktober 2024, 95 stellings teen die deur van die kerk vasgeslaan. Dit is 95 sake waaroor hy met die kerk verskil het.
Sy hoop was nie dat die kerk sou skeur nie, maar eerder dat die kerk weer terug op die regte pad sou kom. Dit het egter nie gebeur nie en die kerk het ongelukkig geskeur. Alle denominasies wat binne die protestantse tradisie is, het uit die reformasie ontstaan. Ons gemeente is ook deel van die gereformeerde tradisie. Ons noem onsself ook daarom die Gereformeerde Kerk, want ons is deel van die kerk wat gereformeer het om volgens die Bybel te wees. Iemand het egter eenmaal gesê ons moet onsself eerder die “Reformerende Kerk” noem. Ons moet altyd reformeer na die Woord toe, want as ons onsself weer kan kry, dan het ons van die pad afgedwaal.
Die Reformasie het vyf kernbeginsels gehad. Daar word gereeld na verwys as die vyf “Solas”. Dit is: want die beginsels word gereeld na verwys in sy Latynse vorm:
Sola Scriptura – Die Skrif alleen is gesaghebbend.
Sola Gratia – Genade alleen is genoegsaam vir redding.
Sola Fide – Geloof alleen is die middel om genade te ontvang.
Solus Christus – Christus alleen is die middelaar van redding.
Soli Deo Gloria – Eer aan God alleen vir redding.
Ons kan al vyf die bogenoemde beginsels vanuit die Woord bespreek, maar ons gaan vandag net na een kyk.
Inleiding
Ons gaan net na die eerste een kyk, Sola Scriptura. Wat beteken dit dat die Woord alleen gesaghebbend is? Wat is die Woord van God? Is dit maar net nog ʼn boek wat deur mense geskryf is? Verder kan ons vra watter rol die Bybel in die lewe van ʼn gelowige speel. Is dit maar net ʼn mooi boek met goeie raad wat ons kan volg as dit vir ons werk? Of is dit die Woord van God? Is dit ons hoogste bron van waarheid en gesag?
Agtergrond van die teksgedeelte
Die teksgedeelte wat ons gelees het vanoggend, sê vir ons wat die Woord van God is en watter rol dit in ons lewens speel. Dit is vanuit die tweede brief aan Timoteus vanaf die apostel Paulus. Paulus skryf dit aan Timoteus vanuit die tronk, kort voordat hy die doodstraf sou ontvang. Dit is daarom ook die laaste brief wat ons in die Bybel van Paulus het.
Dit is weens die verhouding wat die twee gehad het ʼn baie intieme en persoonlike brief. Paulus noem homself aan die begin van die eerste brief Timoteus se geestelike pa. Hy verwys ook aan die begin van hierdie brief na Timoteus as sy geliefde seun. Timoteus is ʼn jong predikant of voorloper in die gemeente in Efese wanneer Paulus vir hom hierdie brief skryf. Hy was sy mentor en het hom gehelp en geleer hoe om ʼn predikant te wees.
Paulus is in die teksgedeelte wat ons gelees het, besig om vir Timoteus te bemoedig in sy dienswerk. In hoofstuk 3:1-12 wat ons gelees het, verduidelik hy vir Timoteus dat ons nou in swaar tye lewe. Dit is die eindtye en dit sal nie met gelowiges goed gaan in hierdie eindtye nie. Dit is die tyd tussen Jesus se hemelvaart en sy wederkoms. Die mense gaan hulself volkome aan die sonde oorgee. Die pyn en lyding wat ʼn gevolg is van die sonde, gaan prominent wees en gelowiges gaan vervolg word.
Dit is wat ons nou ervaar. Hy sê in vers 12: “Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word”. Hy herhaal net wat Jesus gesê het in Joh. 15:20: “As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg”. Die wêreld het Jesus gehaat, daarom sal hulle ons ook haat. Timoteus het hierdie eerstehands in Efese ervaar. Ons moet ook onsself daaraan herinner dat Paulus hierdie skryf net voordat hy doodgemaak sou word vir sy geloof. Dit is ook wat ons ervaar wanneer ons werklik opstaan vir ons geloof in die ongelowige wêreld.
Hoofpunt 1: Die hele Skrif is deur God uitgeasem
Ten midde van hierdie swaarkry bemoedig Paulus vir Timoteus om te volhard in sy bediening. Moenie dat die swaarkry jou onderkry nie, Timoteus. Paulus sê vir hom in vers 14 en 15: “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.”
Hou vas aan jou geloof, hou vas aan die woord, hou vas aan jou verlossing in Christus.
Broers en susters, die Inhoud van hierdie teksgedeelte is in die eerste plek vanaf Paulus aan Timoteus in hulle konteks. Die waarhede van hierdie teksgedeelte is egter steeds vir ons waar vandag. Die bemoediging en die troos daarvan is net so vir ons ook van toepassing. Ons almal is nie jong predikante in Efese nie, maar ons is almal gelowiges met die opdrag om die Woord te verkondig. Ons almal lewe op die oomblik in die “laaste dae” en ervaar die gevolge van die sonde en die vervolging.
Die Woord van die Here is en bly altyd relevant. Dit is ons enigste bron van gesag. Dit is waar ons, net soos Timoteus, die “kennis sal ontvang wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus”. Die bemoediging en troos van hierdie woorde is daarom vir ons vandag ook waar.
Dit is vanuit die Woord wat ons van ons Here Jesus Christus hoor. Ons weet vanuit die Woord dat ons sondig is. Ons weet vanuit die Woord dat ons redding nodig het. Ons weet vanuit die Woord dat dit ons Here Jesus Christus is wat deur sy dood en opstanding vir ons redding bewerk. Die Heilige Gees werk dan deur die Woord in ons harte sodat ons in die Woord van God glo.
Daarom was die beginsel van Sola Scriptura so belangrik in die reformasie. Die kerk moet nie van die Woord afwyk nie.
Paulus verduidelik dan in vers 16 – 17 wat die Woord is en watter rol dit in ons lewens moet speel:
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”
Dit is ons fokusverse vanoggend. Daar staan dat die hele Skrif deur God geïnspireer is. Ons moet net die konteks onthou, vroeër sê Paulus dat Timoteus opgelei is in die “Heilige Skrif”. Hy verwys waarskynlik hier na die Ou Testament waarmee Timoteus grootgeword het. Dit is die “Heilige Skrif” wat Jesus ook gelees en uit gepreek het. Wanneer Paulus dan hier praat van die “hele Skrif”, verwys hy dan ook na dit wat nou geskryf is. Dit wat hy, Petrus, Johannes en Lukas geskryf het. Dit wat deur die Here geïnspireer is.
Die woord wat hier vertaal word met geïnspireer kan eintlik meer direk as “uitgeasem” vertaal word. Die Woord is deur die Here uitgeasem. Dit beklemtoon dat Hy die bron van sy Woord is. Soos wat ons moet uitasem wanneer ons praat, so het God die Woord ook uitgeasem. Die Woord kom van God af. Dit is sy woord.
Die manier hoe Hy dit uitgeasem het, of soos ons dit nou vertaal “geïnspireer” het is egter baie belangrik. Dit bepaal hoe ons die Bybel lees en verstaan. Die Here het nie die Bybel net laat af aarde te kom uit die Hemel uit die. Die here wys vir ons dat Hy deur sy Heilige Gees met mense gewerk het binne hulle kontekste en omstandighede sodat hulle die Bybel sou skryf.
Dit beteken dat die Bybel is ʼn boek wat van God af kom, deur mense. Mense het die Bybel geskryf, in hulle omstandighede, met hulle persoonlikhede, kennis en styf style. Hulle het ook ʼn gehoor in gedagte gehad. Hulle skryf spesifiek in die eerste plek vir daardie gehoor om vir hulle ʼn boodskap oor te dra. God het egter in hulle gewerk deur die Heilige Gees en sy Woord deur hulle uitgeasem. Daarom kom die Woord van die Here af en is dit ook relevant vir ons. Die boodskap is daarom in die eerste plek vir die eerste lesers, maar dit is ook vir ons.
Daarom is die woord van God ook gesaghebbend. Dit is die enigste en hoogste gesag, want dit kom van God af, nie van mense af nie. Dit kom van God af deur mense, maar van God af.
Hoofpunt 2: Die hele Skrif is nuttig om ons in die waarheid te onderrig, sodat ons wat in diens van God staan, volkome toegerus sal wees vir elke goeie werk wat ons moet doen.
As ons dan verder ons fokusvers lees, sien ons die Woord het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek. Dit is sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.
Met ander woorde, die woord van God leer ons wat waar is en hoe ons moet lewe. Ons gaan eers kyk na die eerste stelling, dit leer ons wat waar is. Ons fokusvers gebruik die volgende woorde: “in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel”. Dwaling moet bestry word, verkeerdhede moet reggestel word. Ons moet bly by die waarheid wat in die Bybel staan. Ons moet daarom. soos reeds genoem, eerder bekend staan as die reformerende kerk. Ons moet deurlopend reformeer om nader aan die Woord van God te lewe. Ons moet die mense rondom ons met die Woord bemoedig en vermaan om dit ook te doen. Indien ons dit wil doen, moet ons die Woord van God lees en leer ken. Ons moet weet wat die waarheid is, sodat ons die dwaling kan bestry.
Dit is belangrik om raak te sien dat dit nie ons waarheid is wat ons nastreef nie, maar die waarheid van die Woord. Dit is ʼn algemene ding wat ons by die wêreld hoor. Lewe jou eie waarheid. Doen wat goed is in jou eie oë. Dit is nie wat die Woord vir ons leer nie. Ons moet lewe volgens die waarheid van God, nie volgens ons eie waarheid nie.
Verder lees ons in ons fokusvers dat die Woord “’n regte lewenswyse kweek” sodat “die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk”. Hier staan dat ons ons hele lewenswyse volgens die Woord moet inrig. Ons moet dus nie die Woord toepas op net ʼn deel van ons lewens nie, maar op ons hele lewenswyse. Wanneer ons enige besluit neem, moet ons onsself afvra: “Wat moet ek besluit sodat ek volgens die wil van God lewe?”
Wanneer hier staan “sodat die man wat in diens van God staan toegerus kan wees vir elke goeie werk”, verwys dit waarskynlik in die eerste plek na predikante. Ons moet onthou dat Paulus besig is om hier vir Timoteus te bemoedig vir sy dienswerk as jong predikant. Die Woord moet die predikante toerus vir hulle werk. Die vraag is dan: wat is die werk van die predikant? Predikante moet die gemeentelede toerus met die Woord. Die gemeentelede moet dan die Woord verder gaan verkondig. Almal staan in diens van die Here, nie net predikante nie. Ons almal het ʼn roeping wat ons moet uitlewe. Die Here het ons elkeen met ‘n rede geplaas waar ons is in ons omstandighede.
Op hierdie manier is hierdie skrifgedeelte op ons almal van toepassing. Die Woord rus ons elkeen toe vir elke goeie werk wat ons doen in diens van die Here. Dit bemoedig en vermaan ons en gee ons die krag sodat ons in diens van die Here kan staan.
Broers en susters, vanoggend se teksgedeelte spreek ons baie sterk aan om die Woord van die Here te lees. Een van die dinge wat gebeur het as gevolg van die reformasie wat ons vandag vier, is dat die Bybel na die algemene spreektaal van die volk vertaal is. Voor dit was die Bybel net in Latyns en ʼn paar ander tale beskikbaar, wat jou gemiddelde man op straat nie kon lees nie. Ons kan dit lees. Ons kan die Here se Woord self inneem en ons doen dit nie. Die vraag is besef ons wat ʼn voorreg dit is om die Woord te hê? Ons het die Woord wat deur God self uitgeasem is vir ons om te lees. Het ons ʼn smagting tot die Woord? Maak ons die Woord prioriteit in ons lewens?
Daar is moontlik baie van u wat nie gereeld self stiltetyd hou nie. Dit is ʼn gewoonte wat noodsaaklik is om aan te leer vir elke gelowige. Al is dit net tien minute ʼn dag is dit tien minute ʼn dag meer as vroeër. Ons elkeen moet ʼn smagting na die Woord van die Here kweek deur gedissiplineerde stiltetyd. Ons doen dit nie net omdat ons moet nie, dit is nie veronderstel om ʼn las te wees nie. Dit is ʼn groot vreugde en ʼn groot voorreg dat die lewende God vir ons elkeen sy Woord gegee het.
Psalm 1:2 sê: “Welgeluksalig is die man wie se behae in die wet van die Here is en hy oordink dit dag en nag.” Welgeluksalig beteken ʼn diep sielsvreugde. As ons ons vreugde in die Woord van die Here vind, dan het ons ʼn ware diep sielsvreugde wat deur niks geskud kan word nie.
Slot
Broers en susters, die Woord is deur die Here uitgeasem. Hy het dit deur die Heilige Gees in die harte van die mense wat die Bybel geskryf het, geïnspireer. Daarom is die Woord vandag steeds relevant. Dit is ons hoogste en enigste gesag. Dit is ons bron van waarheid waarmee ons die valsheid moet bestry. Dit is ook waarvolgens ons ons lewens inrig. Dit berei ons voor vir elke goeie werk wat ons in diens van die Here doen.
Wat ʼn voorreg is dit nie om die Woord van die Here te mag lees nie.
Amen.