Teksgedeelte: Ps. 118: 1-29
Fokusvers: v22
Tema: Die Here is goed, sy goedertierenheid is tot in ewigheid en daarom moet ons Hom loof.
Hoofpunt 1: Die Here is goed, daarom moet ons Hom loof.
Hoofpunt 2: Sy goedertierenheid is tot in ewigheid, daarom moet ons Hom loof.
Inleiding
Broers en susters, het u al ooit gewonder wat die laaste psalm was wat Jesus hier op aarde gesing het voordat Hy gekruisig is? Om psalms te sing was deel van die Jode se leefwyse en daarom kan ons met baie sekerheid sê dat Jesus ook psalms gesing het. Baie van die Psalms profeteer oor Hom. Dit is wonderlik dat Hy kon deelneem aan die sing van die psalms wat Hy gekom het om te vervul.
Agtergrond
Psalm 118 is een van die psalms wat baie duidelik oor Jesus profeteer. Dit is die psalm wat die meeste in die Nuwe Testament met verwysing tot Jesus aangehaal word. Wat ook merkwaardig is dat dit baie waarskynlik die laaste psalm is wat Jesus gesing het voordat hy gevange geneem is om gekruisig te word.
Jesus is met die fees van die Pasga verraai en gevange geneem. Hy en sy dissipels het saam in die bokamer die Pasga gevier, waar Jesus ook die nagmaal ingestel het. Lank voor Jesus se tyd en selfs vandag nog, is daar die gebruik onder die Jode om met die fees van die Pasga ʼn reeks psalms saam met die maaltyd te sing. Hierdie reeks begin by Psalm 113 en eindig by Psalm 118. Psalm 118 is dus die laaste Psalm in hierdie reeks en is daarom waarskynlik laaste gesing. Hulle het party van die psalms voor die ete gesing en ander na die ete, maar dit was die gebruik van die Jode met hierdie fees.
Hierdie reeks psalms staan bekend as die “Hallel” psalms. Dit is psalms wat die Here loof omdat Hy die volk uit Egipte verlos het. Dit staan daarom ook bekend as die “Egiptiese Hallel” psalms. Die woord “Hallel” is ook die eerste deel van die woord “Halleluja” wat beteken “Loof die Here”. Dit is daarom duidelik ʼn reeks lofpsalms.
Wanneer daar dan in Mat. 26 vers 30 staan: “Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe”, kan ons met redelike sekerheid sê dat Jesus en sy dissipels saam Psalm 118 gesing het net voordat Hy verraai en gevange geneem is om gekruisig te word. Dit waaroor die psalm geprofeteer het, was besig om te gebeur. Wanneer ons saam deur die psalm werk, kan ons maar net wonder waardeur Jesus gegaan het toe hy hierdie woorde gesing het. Hy het natuurlik geweet wat gaan gebeur. Hy het geweet die psalm profeteer oor Hom.
Wanneer ons die psalm met daardie agtergrond lees, kry dit vir ons merkwaardige betekenis. Ons moet egter nie die oorspronklike konteks vergeet nie. Die psalm is baie waarskynlik gesing wanneer die volk met spesiale geleenthede by die tempel ingegaan het. Die koning, die volk en die priesters kry elkeen kans om te sing. Presies wie waar sing, is oop vir bespreking, maar daar is dele wat duidelik gesê word deur die volk of deur die priesters, ens.
Hoofpunt 1: Die Here is goed, daarom moet ons Hom loof.
Die psalm begin en eindig met dieselfde woorde: “LOOF die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!” Hierdie frase wat herhaal word, bind die psalm tot ʼn mooi eenheid en dit dra ook die kern-idee van die psalm dadelik oor. Die res van die psalm loof dan meer spesifiek die Here vir sy goedertierenheid. Die psalmdigter deel dan hoe hy tot die Here uitgeroep het in sy groot benoudheid en hoe die Here hom gered het.
Die eerste ding wat ons raaksien, is dat die woord “LOOF” aan die begin in hoofletters is. Die rede is dat dit ʼn baie sterk oproep tot lof aan die Here is. Daar staan dan loof die Here want Hy is goed. Ons moet hom loof want Hy is goed, nie net omdat Hy goed doen nie. Ons moet nie net die Here loof omdat Hy goeie dinge doen in ons oë nie, ons moet Hom loof want Hy is goed.
Dan staan daar dat die Here se goedertierenheid tot in ewigheid is. Die woord “goedertierenheid” word ook vertaal met “liefde”, of “troue liefde”, in die 1983- en 2020-vertalings. Dit is dus liefde wat vas bly staan. Liefde wat die Here altyd aan ons bewys omdat hy getrou en standvastig is. Ons moet die Here loof, want Hy is altyd teenoor ons liefdevol weens sy getrouheid.
Daarom word die verskillende groepe mense opgeroep tot lof aan die Here in verse 2 tot 4. Die volk van Israel word eers opgeroep tot lof aan die Here. Dan word die Huis van Aäron opgeroep tot lof aan die Here. Dit verwys na die priesters en dan laaste word almal wat die Here vrees opgeroep tot lof aan Hom. Die bedoeling is duidelik. Almal moet die Here loof.
Die psalmdigter begin dan in vers 5 met ons deel hoe hy tot die Here uitgeroep het in sy benoudheid, en hoe die Here hom dan gered het. Dit is daarom ʼn gepaste psalm om te sing oor hoe die Here die volk uit Egipte gered het. Die psalmdigter sê in verse 6 en 7 dat as die Here vir hom is, wie kan teen hom wees. Dit is baie dieselfde woorde wat Paulus in Rom. 8:31 sê. Dit is die bemoedigendste woorde wat ons as Christene kan hoor. Ons weet dat ons niks hoef te vrees nie, want God is vir ons. Hy is almagtig, daarom kan niks teen ons wees nie.
Dit is daarom ook soos die psalmdigter in verse 8 en 9 sê baie beter om op God te vertrou as wat ʼn mens op ander mense vertrou, al is die ander mense baie bekwaam of, soos daar vir ons vertaal word, “edel”. Dit is net God op wie ʼn mens werklik kan vertrou. Hy is die enigste wese wat volkome betroubaar is.
In vers 10 tot 12 verduidelik die psalmdigter hoe hy sy vyande oorwin het. Hy gee alle eer aan die Here, maar hy sê tog dat hy dit gedoen het. Broers en susters, dit is gereeld hoe die Here in ons lewens met ons werk. Die Here is almagtig en alles werk volgens sy plan, maar ons het ʼn verantwoordelikheid in daardie plan. Ons moet steeds iets doen. Ons vertrou volkome op die Here, maar dit beteken nie dat ons agteroor moet sit en niks doen nie. Die ou kerkvaders het ʼn slagspreuk gehad: “ora et labora”. Dit beteken “bid en werk”. Dit verduidelik die balans in die lewe mooi. Jy moet nie net op jouself staatmaak en alles vanuit eie krag doen nie. Dan is jy hoogmoedig en goddeloos. Jy moet egter ook nie net op God vertrou en dan agteroor sit en niks doen nie, dan is jy ongehoorsaam. Ons moet bid en werk en dan alle eer aan die Here gee, want Hy gee vir ons die krag en die vermoë om te werk. Dan is die Here soos vers 14 sê “ons sterkte en ons Psalm”. Hy gee ons die krag en alle eer kom Hom toe.
Vers 15 en 16 praat dan van die regterhand van die Here wat kragtige dade doen. Die Here het nie werklik ʼn regterhand nie. Die “regterhand” is net ʼn beeld daarvan dat die Here sy “slim hand” gebruik om die kragtige dade te doen. Met ander woorde, wanneer die Here met ons werk, is dit nie net iets wat Hy sommer terloops doen nie. Dit is iets waarop hy fokus, waaragter hy sy vermoë inspan. Dit is iets wat ons verstand te bowe gaan. Dat die almagtige God en Vader wat alles geskep het en onderhou, met sy “regterhand” aan ons klein en nietige mense aandag gee, intiem en persoonlik. Dit toon sy groot liefde vir ons. Daarom moet ons Hom loof.
Hoofpunt 2: Sy goedertierenheid is tot in ewigheid, daarom moet ons Hom loof.
Vers 17 en 18 is dan werklik aangrypend. Veral as ons besef dat Jesus baie waarskynlik hierdie gesing het kort voor sy kruisiging: “Ek sal nie sterwe nie, maar lewe en die werke van die HERE vertel. Die HERE het my hard gekasty, maar my aan die dood nie oorgegee nie.”
Die psalmdigter het hier sy eie konteks in gedagte. Die Heilige Gees het egter hier in hom gewerk om te profeteer oor Christus. Die psalmdigter praat hier van hoe die Here rowwe teëspoed oor sy pad laat kom het, maar hom daaruit gered het. Hy het nie gesterwe nie, maar bly lewe en nou wil hy almal vertel van die werke van die Here. Jesus sing hierdie psalm. Hy weet hy gaan binnekort gekruisig word, maar hy weet dat hy nie finaal gaan sterwe nie. Hy gaan die dood oorwin sodat almal van ons wat in Hom glo, nie sterwe nie, maar bly lewe, sodat almal van ons van die werke van die Here vertel. Die Here het my nie aan die dood oorgegee nie.
Vers 19 en 20 handel oor die poorte van die tempel. Soos ons vroeër genoem het, is hierdie psalm waarskynlik ook gesing toe die volk by die tempel ingegaan het met spesiale geleenthede. Die tempel was ʼn beeld vir die teenwoordigheid van God. Ons weet egter nou dat ons deur Christus in die volkome teenwoordigheid van God in die hemel kan wees. Dit is deur Christus wat ons deur die poorte van die hemel kan ingaan.
Vers 22 is dan werklik aangrypend. Dit is die mees aangehaalde vers vanuit die Ou Testament in die Nuwe Testament. “Die steen wat die bouers verwerp het, het ’n hoeksteen geword.” Jesus haal hierdie vers uit die psalm aan met verwysing tot homself in Mat. 21:42, Mark. 12:10-11 en Luk. 20:17. In die oorspronklike konteks verwys hierdie vers waarskynlik na die koning, of na die volk wat volkome verlore gelyk het, maar deur God gered is en ʼn prominente plek gegee is. Hierdie vers het egter baie sterk geprofeteer oor Jesus.
Hy is die steen wat deur die bouers verwerp is. Hy is deur sy volksgenote verwerp. Hulle het hom laat kruisig. Hy is deur die Romeine wat hom onskuldig bevind het, gekruisig. Sy vriende en volgelinge het hom verlaat. Judas het Hom verraai en Petrus het hom verloën. Tog het hy, die steen wat die bouers gesê het is nie goed genoeg nie, die hoeksteen geword. Dit is die mees prominente steen waarop die res van die stene leun, wat die hele res van die gebou bepaal.
Petrus verwys dan weer na Jesus as die hoeksteen nadat Hy na die hemel toe opgevaar het in Handelinge 4:11. Paulus verduidelik in Ef. 2:20 in sy beeld oor die kerk dat ons almal lewende stene is. Ons is die kerk, nie die gebou nie, maar Christus is die hoeksteen. Laastens verwys Petrus weer na Jesus as die hoeksteen in sy eerste brief in 1 Pet. 2:7-8.
Hierdie psalm handel oor die volk wat die Here verlos het, maar dit profeteer baie duidelik oor Jesus en Hy het dit baie waarskynlik gesing net voor sy kruisiging. Hy het geweet hy is die steen wat die bouers verwerp het. Hy het dit gesing net voordat Hy verwerp sou word.
Vers 24 se dan: “Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”
Baie mense haal hierdie vers aan om die Here te loof oor die nuwe dag wat Hy vir ons gegee het. Daar is niks fout daarmee om die Here te loof vir elke dag wat Hy vir ons gee nie. Elke dag wat ons kry, is genade van die Here af en nog ʼn geleentheid om tot eer van Hom te lewe. Hierdie vers verwys egter in die konteks na die dag wat die Here die volk verlos het. Die oorspronklike psalmdigter het ʼn dag en gebeurtenis in gedagte gehad. Die volk het dit gesing wanneer hulle by die tempel ingegaan het. Die Jode in Jesus se tyd het dit gesing om te dink aan die dag wat die Here hulle uit Egipte verlos het. Vandag kan ons dit sing oor die dag wat Jesus opgestaan en die dood oorwin het.
Broers en susters, dit is wat ons elke Sondag vier. As ons mooi gaan kyk na hoe die kruisiging van Jesus verloop het, sien ons dat Hy op die Sondag opgestaan het uit die dood. Wanneer ons dan hier op ʼn Sondag bymekaarkom, vier ons juis dit. Ons verlosser het opgestaan. Hy leef. Dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees.
Voordat die Psalm eindig, lees ons nog ʼn merkwaardige ding in vers 27: “Die HERE is God, en Hy het vir ons lig gegee. Bind die feesoffer met toue, tot by die horings van die altaar.”
Bind die feesoffer met toue. Jesus het hierdie gesing net voordat Hy homself vir ons sou opoffer. Die volk het natuurlik ook as deel van hulle godsdiens by die tempel. Alle offers het egter vooruitgewys na Jesus, wat die volkome en finale offer sou wees vir ons ons sondes. Boers en susters, die waarheid is dat die sonde die dood verdien. Wanneer die volk in die Ou Testament diere geoffer het, is hulle daaraan herinner. Besef ons dit altyd in die moderne tyd? Besef ons altyd wat die gevolge van ons sonde is? Hulle is daaraan herinner. Hulle moes ʼn dier doodmaak vir hulle sondes. Die diere kon egter nooit werklik betaal nie. Dit is net Jesus wat vir ons sondes kon betaal het, en Hy het.
Slot
Broers en susters, hierdie psalm handel oor die volk wat die Here loof vir sy verlossing. Dit was reeds vir die psalmdigter en vir die volk baie betekenisvol, maar soos wat die Here met sy volk gewerk het, soos wat hierdie psalm deur die eeue gesing is, het die betekenis net nog ryker geword. Die Here het dit al duideliker gemaak hoe Hy die een is wat ons red. Dit het sy klimaks bereik met ons Here Jesus Christus se sterwe en opstanding.
Mag ons saam met die kinders van God en saam met Jesus in die nag wat hy verraai sou word, altyd sing: “Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!”
Amen.