Teksgedeelte: 1 Korintiërs 11: 17-34
Fokusgedeelte: 1 Korintiërs 11: 23-26
Belydenis: HK So 28. V&A 75 – 77
Tema: Die Here gee vir ons die nagmaal om dit te vier ter herinnering en bevestiging van dit wat Hy vir ons gedoen het.
Hoofpunt 1: Die Here gee vir ons die nagmaal.
Hoofpunt 2: Ons moet die nagmaal vier ter herinnering en bevestiging van dit wat Hy vir ons gedoen het.
Inleiding
Broers en susters, dit is ongelukkig die geval dat die dinge wat die kernagtig is tot die Christelike geloof, gereeld die minste oor gepraat en gepreek word deur gelowiges. Die rede hiervoor is dat daar aangeneem word dat almal dit reeds weet. Die gevolg is dat ons mekaar soms nie herinner aan wat hierdie kernaspekte werklik beteken nie. Ons neem aan dat almal reeds weet wat die evangelie is. As ons onsself weer kry, het ons baie van die aspekte van hierdie kernsake vergeet. Ons neem ook aan dat almal reeds weet wat die nagmaal is. Daarom het ons vandag die voorreg om na die nagmaal te kyk en herinner te word aan wat dit werklik beteken.
Hoofpunt 1: Die Here gee vir ons die nagmaal
In Sondag 28 van die Heidelbergse Kategismus wat ons gelees het, en ook Sondag 29 wat daarna kom, lees ons alles wat ons bely aangaande die nagmaal. Hierdie Sondagsafdelings haal direk aan uit 1 Kor. 11 wat ons saam gelees het. In hierdie teksgedeelte herinner Paulus die gemeente in Korinte wat die nagmaal werklik beteken. Dit is ook waaruit waar ons gaan kyk en onsself gaan herinner wat die nagmaal werklik is en beteken.
In 1 Korintiërs is Paulus besig om te reageer op probleme wat daar binne die gemeente van Korinte was. Hy spreek hulle onenigheid aan. Daar was ook baie gemeentelede wat seksueel immoreel opgetree het en hulle samekomste was onordelik. Dit is van die sake wat Paulus aanspreek. Daar was onder andere ook die probleem dat die gemeente die nagmaal verkeerd gevier het.
Dit is waarskynlik die geval dat hulle elke keer wat hulle op Sondae bymekaargekom het die nagmaal gevier. Hulle het nie die gebruik soos ons gehad waar ons net vier maal per jaar die nagmaal vier nie. Ons doen dit juis so sodat die nagmaal nie afgewater word nie. Die Here se bevel aan ons is egter net dat ons die nagmaal gereeld moet vier. Hoe gereeld word deur elke gemeente bepaal. Die Korinte het dan elke Sondag bymekaargekom en die nagmaal gevier. As ons die res van die brief van 1 Korintiërs lees, sien ons, soos ons reeds genoem het, dat hulle samekomste onordelik was. Die viering van die nagmaal, wat vir hulle deel was daarvan, het hulle onordelik en verkeerd gevier.
Die nagmaal is ʼn feestelike ete. Dit is vandag nog vir ons ʼn feestelike ete, maar dit is ʼn feestelike ete wat reg en ordelik gevier moet word. Die Korinte het die nagmaal waarskynlik meer feestelik gevier, en dit is goed. Hulle het lekker saam geëet en gedrink en saam feesgevier. Hierdie dinge is goed. Dit is ʼn groot deel van die nagmaal. Dit is die rede hoekom ons aan tafel nagmaal vier, want die nagmaal is ʼn ete. Dit is ook hoekom ons ʼn nagmaalsete het na die tyd. Dit is om daardie feestelikheid te behou. Wat die Korinte egter verkeerd gedoen het, is dat daar geen orde was nie, maar nog erger as dit, hulle het geheel en al vergeet hoekom hulle die nagmaal vier en wat dit beteken. Die mense het dronk geword het aan die nagmaalwyn. Die ryk mense het hulleself ooreet en die arm mense het honger gely. Hulle het ook nie vir mekaar gewag nie en het net onordelik “feesgevier”.
Dit is binne hierdie konteks wat Paulus die gemeente van Korinte teregwys en ook vir hulle leer wat die nagmaal is en wat dit beteken. Dit is ook hieruit wat ons baie leer van wat die nagmaal is en wat dit beteken. Wat dit is wat ons vandag hier vier.
Die nagmaal is iets wat Jesus vir ons gegee het om ons geloof te versterk. Dit is nie iets wat ons red nie. Dit is eerder iets wat ons aan ons redding herinner en ook ons redding aan ons bevestig. Die nagmaal is deur die Here aan ons gegee tot ons seën. Dit is ʼn wonderlike feesmaal wat ons met vreugde kan en mag vier. Natuurlik ordelik en met die regte doel en ontsag, anders as die Korinte, aan wie Paulus geskryf het.
Dit is ook iets wat ons moet vier. Die Here beveel ons om dit te vier. Jesus beveel in verse 23 – 26, “doen dit tot my gedagtenis”. Daarom moet ons dit doen om te onthou wat Hy vir ons gedoen het, om onsself te herinner aan sy reddingsdade. Hy sê verder in vers 26: “Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.” Dit beteken dat die viering van die nagmaal ʼn verkondiging van die evangelie is. Die nagmaal is sigbare en tasbare woordverkondiging. Dit is ʼn baie groot genade. Die Here verkondig nie net sy evangelie aan ons met woorde wat ons kan hoor nie. Met die nagmaal verkondig hy dit ook aan ons met dinge wat ons kan sien en proe.
Om hierdie rede is almal wat teenwoordig is ook deel van die nagmaalviering. Dit is nie net die persone wat die nagmaal fisies gebruik wat deel is nie. Die kinders wat nog nie kan nagmaal gebruik nie, kan dit sien. Hulle is op hierdie manier deel van die viering van die nagmaal. Dit is dieselfde met die doop. Die doop is ook ʼn sigbare verkondiging van die evangelie. Die hele gemeente wat die doop sien, neem deel aan die doop, nie net die gesin wat dit doen nie. Die sakramente is sigbare woordverkondiging.
Hoofpunt 2: Ons moet die nagmaal vier ter herinnering en bevestiging van dit wat Hy vir ons gedoen het.
Dit is om hierdie rede dat ons belydenis ook vir ons uit die Skrif uit wys dat die nagmaal vir ons ʼn teken is. Dit is ʼn teken wat na iets toe wys. Dit is egter nie net ʼn teken nie, dit is ook ʼn seël. Baie van u het dalk al hierdie woorde gehoor. Die sakramente (beide die doop en die nagmaal) dien vir ons as ʼn tekens en seëls, maar wat beteken dit?
Soos reeds genoem, ʼn teken is iets wat na iets anders toe wys. Wanneer Jesus ons beveel en sê doen dit tot my gedagtenis, sê Hy: “Onthou! Hierdie brood en hierdie wyn wys na iets toe, dit wys na dit toe wat jy moet onthou”. Die brood is ʼn teken van die liggaam van Christus wat gebreek is en die wyn is ʼn teken van die bloed van Christus wat gevloei het. Dit wys ons daarop dat ons Here Jesus Christus die straf van die dood vir ons gedra het. Dit is tekens wat ons hieraan herinner.
Die nagmaal is ook ʼn seël wat ons daarvan verseker dat dit waarna hierdie tekens wys, vir ons ook waar is. Wanneer mense in die ou dae briewe geskryf het, het hulle daardie briewe geseël om die leser te verseker dat daardie brief van hulle af kom. Hulle het met was hulle unieke seëlring afgestempel op die geseëlde brief.
As ons sien hoe die brood gebreek word, dan word ons daaraan herinner en daarvan verseker dat Jesus se liggaam vir ons gebreek is. As ons sien hoe die wyn in die beker in vloei, dan word ons daaraan herinner en daarvan verseker dat sy bloed vir ons gevloei het. Hy het doodgegaan sodat ek kan lewe. Ons lees ook daarom dat, so seker soos wat ons die van die brood eet en van die beker drink, ons met sekerheid kan weet dat ons deel het aan die liggaam van Christus.
Verder is die nagmaal iets wat ons saam vier as gelowiges. Daar is groot simboliek van eenheid in die nagmaal. Ons kom almal saam as lidmate van die een liggaam van ons Here en neem saam deel aan die nagmaal. Ons is as kerk deel van die een liggaam van Christus. Daar is ook tog iets in die nagmaal wat persoonlik vir ons elkeen waar is. Dit is iets wat ons elkeen vir onsself moet toe-eien. Christus het vir my gesterwe. Hierdie is waar vir my. Dit is ʼn teken en ʼn seël vir my. Die nagmaal is iets wat ons as kerk saam vier, maar die beloftes van die nagmaal is persoonlik waar vir my.
Daarom het ons elkeen ook die verantwoordelikheid om die nagmaal reg te vier. Die ouderlinge hou toesig oor die nagmaaltafel. Dit is een van die redes hoekom die ouderlinge huisbesoek doen voor nagmaal, maar die grootste verantwoordelikheid lê by die gelowige self. Ons teksgedeelte sê in vers 27-29: “Elkeen wat op ’n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself ”
Soos ons reeds gesê het, hou die ouderlinge toesig oor die nagmaaltafel. Hulle hou toesig oor die hele gemeente en die woordverkondiging, maar so ook die nagmaaltafel. Petrus skryf aan die gemeentes in 1 Pet. 5:1-2: “As mede-ouderling en getuie van die lyding van Christus en ook deelgenoot aan die heerlikheid wat geopenbaar sal word, dring ek by die ouderlinge onder julle daarop aan: Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; ”
Hulle moet daarom seker maak dat, sover hulle weet, almal wat nagmaal gebruik gelowiges is wat verstaan wat die nagmaal beteken. Dit is daarom goed om huisbesoek te doen by almal wat nagmaal gebruik, sodat die ouderlinge kan getuig oor almal wat nagmaal gebruik. Huisbesoek gaan egter nie net oor nagmaal nie. Huisbesoek gaan oor baie meer as dit. Die ouderlinge moet werklik daartoe streef om ʼn liefdevolle en vertrouensverhouding te hê met die mense in hulle wyk, sodat hulle die wyk kan dien en lei in die woord van die Here en sodat hulle ook oor die persoon in die wyk se lewe kan getuig sover moontlik. “Huisbesoek voor elke nagmaal” is net ʼn baie gesonde praktiese reëling wat die gemeente gebruik.
Die grootse verantwoordelikheid lê egter steeds by die gelowige self. Ons ouderlinge kan nie namens ons kom nagmaal gebruik nie. Dit is ons wat dit gebruik en dit is die Here wat ons daartoe uitnooi. Ons moet seker maak dat ons die nagmaal reg vier. Dit beteken dat ons moet besef dat Christus vir ons sondes gesterf het. Dit is sy liggaam wat vir my gebreek is. Dit is sy bloed wat vir my gevloei het. Hy het Godsverlatenheid vir my gedra. Hy het die dood vir my gedra. Dit is weens my sonde.
Deel van die nagmaal vier is ʼn sondebesef.
Amen.