Teksgedeelte: Matt. 5:13-16
Fokusvers: Matt. 5:13-16
Tema: God maak ons die sout van die aarde en die lig vir die wêreld, sodat die mense ons goeie werke kan sien en Hom kan verheerlik.
Hoofpunt 1: God maak ons die sout van die aarde en die lig van die wêreld.
Hoofpunt 2: Mense moet ons goeie werke sien sodat God verheerlik word.
Inleiding
Broers ek susters, baie van u het al die uitdrukking gehoor: “geloof is ʼn private saak”. Volgens ons teksgedeelte, is dit egter nie waar nie. Die Christelike geloof is egter nie ʼn private saak nie. Geloof is ʼn baie persoonlike saak, maar dit is nie ʼn private saak nie.
Hoofpunt 1: God maak ons die sout van die aarde en die lig van die wêreld.
In ons teksgedeelte gebruik ons Here Jesus as deel van sy bergpreek twee metafore om gelowiges te beskryf. Gelowiges word beskryf as die sout van die aarde en die lig van die wêreld, maar wat beteken dit?
Die eerste ding wat ons moet raaksien is dat dit ʼn beskrywing is van wie of wat gelowiges is. Hierdie sê nie dat ons die sout en die lig moet word nie, hierdie sê dat ons reeds die sout en die lig is. Dit is baie soortgelyk aan die saligsprekinge wat net voor ons teksgedeelte staan. Die saligsprekinge is ʼn beskrywing van die burgers van die koninkryk van God. Die bergpreek is die eerste en langste openbare preek van ons Here Jesus Christus wat ons in die Bybel het. Die tema van hierdie preek is die koninkryk van God. Hy begin dan hierdie preek deur te verduidelik hoe die burgers van die koninkryk van God lyk.
Salig is hulle wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van God. Salig is hulle wat treur, want hulle sal vertroos word, ens. Ons, die gelowige mense, is die salige burgers van die koninkryk van God wat al die eienskappe wat beskryf word in die saligsprekinge besit. Dit is wie ons is in Christus deur die krag van die Heilige Gees.
Ons almal moet daarin groei om al hoe meer en meer te word wie ons reeds in Christus is. Ons het daarom die verantwoordelikheid om uit te leef wie God ons gemaak het. Soos wat ons die pad van heiligmaking stap, groei ons om te word soos die saligsprekinge beskryf. Die belangrike ding wat ons egter moet weet, is dat dit is wie ons is. Ons is die burgers van die koninkryk van God.
Ons teksgedeelte kom dan net na die saligsprekinge en maak dit duidelik dat ons nie die eienskappe wat in die saligsprekinge beskryf word, vir onsself moet hou nie. Ons moet dit uitleef. Ons moet as Christene ʼn impak maak en ʼn invloed gaan hê in die wêreld. Ons moet die eienskappe van die saligsprekinge uitleef in die wêreld om ons. Ons is burgers van die koninkryk van God, maar dit beteken egter nie dat ons onsself afsny van die res van die wêreld nie. Ons is nie van die wêreld nie, maar ons is steeds in die wêreld.
Jesus sê dit self wanneer Hy met sy Vader praat in Johannes 17:16-18: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur.” Ons is burgers van die koninkryk van God, maar ons moet ʼn impak en ʼn invloed hier hê in hier in die koninkryk van die wêreld. Daarom gebruik Jesus die twee metafore om ons as gelowiges te beskryf. Julle is die sout van die aarde en die lig van die wêreld. Geloof is daarom nie ʼn private saak nie. As iemand sê geloof is ʼn privaat saak, dan bedoel hulle eintlik dat hulle wil ʼn gelowige wees, maar hulle wil nie hê dat iemand moet agterkom nie.
As ʼn mens sout in ʼn pot kos gooi, gaan ʼn mens dadelik die invloed en die impak van die sout agterkom, ʼn mens sal dit duidelik kan proe. As ʼn mens ʼn lig in ʼn donker kamer in skyn, dan sal ʼn mens dadelik die impak van die lig kan raaksien. Die kamer gaan belig wees. Ons teksgedeelte sê dat sout wat sy maak verloor het en ʼn lamp onder ʼn emmer is, vir niemand iets werd is nie. Dit is nutteloos. Ons moet daarom nie nutteloos wees nie. Ons moet die impak hê wat ons behoort te hê. Ons is Christene, ons is die sout en die lig. As ons ons geloof “privaat” beoefen, dan is ons nie besig om die sout en die lig te wees nie. Dan is ons nie besig om soos ware Christene te lewe nie. Dit is iets waarin ons almal moet groei.
Voordat ons gaan delf in wat die metafore van sout en lig beteken, moet ons net eers ʼn oomblik stilstaan by hoekom ons die sout en die lig is. Hoe het ons sout en lig geword? Wie maak ons Christene? Wie maak ons burgers van die koninkryk van God? Dit is die koning van die koninkryk, die Seun van God, ons Here Jesus Christus. Uit ons eie is ons burgers van die wêreld. Ons het nie toegang tot die koninkryk nie. Dit is alleen Christus wat ons burgers van die koninkryk gemaak het. Ons is almal weens die sondeval in opstand teen die Here. Ons is uit ons eie uit vyande van die koninkryk van God. Christus kom en Hy maak ons kinders van God en burgers van die koninkryk van die Here. Hy doen dit deur die straf vir ons opstandigheid te dra en sy geregtigheid vir ons te gee. Omdat Hy ons skoon gewas het met sy bloed, is ons nou regverdig gemaak. Ons is nou burgers van sy koninkryk. Ons is nou die sout en die lig.
Dit is die Heilige Gees wat in ons harte werk sodat ons in Christus glo. Sodat ons gered word. Dit is ook Hy wat nou steeds in ons harte woon en werk sodat ons al hoe meer en meer daarin kan groei om die sout en die lig te wees vir die wêreld. Dit is alleen deur die krag en die leiding van die Heilige Gees wat ons die sout en die lig vir die wêreld kan wees.
Hoofpunt 2: Mense moet ons goeie werke sien sodat God verheerlik word.
Die vraag bestaan dan, hoe moet ons die sout en die lig wees? Wat beteken die metafore waarmee Jesus ons beskryf? Om dit reg te verstaan, moet ons na die metafore kyk in die konteks waarin Jesus dit gesê het. Hoe sou die oorspronklike aanhoorders van die bergpreek die beelde of metafore verstaan het?
Die mense van die Nuwe-Testamentiese tyd het geweet dat sout smaak gee, net soos vandag. Dit maak kos baie lekker. Sout was egter in daardie tyd relatief duurder as wat dit vandag is. Dit was daarom baie meer kosbaar. Dit is iets wat jy net gebruik het as dit noodsaaklik was. Sout was ook in daardie tyd absoluut noodsaaklik as ʼn preserveermiddel. Dit was voor die tyd vas ys- en vrieskaste. As jy vleis wou preserveer, het jy sout nodig gehad. Dit het baie waarskynlik ook ʼn mediese doel gedien met die ontsmetting van wonde.
So, as ons dan moet lewe as die sout van die wêreld, hoe moet ons dit doen? Ons moet smaak gee, preserveer en ontsmet. Die wêreld waarin ons lewe is een wat besmet is met die sonde. Ons moet verder besmetting en verrotting verhoed deur te preserveer. Ons moet in die wêreld ingaan en ʼn goeie smaak los. Ons moet dit wat besmet is, genees en ons moet dan ook die goeie behou en preserveer.
Lig word natuurlik vandag vir dieselfde dinge gebruik as wat dit in die tyd van die Nuwe Testament gebruik was. Die groot verkil is dat ons vandag elektriese ligte en flitse het. As gevolg hiervan ervaar ons nie die donker tot so ʼn mate soos wat die mense van die Bybelse tyd dit ervaar het nie. As die son ondergegaan het, was daar nie werklik die opsie om baie rond te beweeg nie. Indien iemand noodgedwonge in die nag moes rondbeweeg, was hulle amper seker daarvan dat hulle sou struikel, hulle tone stamp, seerkry en baie waarskynlik val. Die lig is ʼn baie duidelike beeld vir die goeie, waar die duister ʼn beeld is vir die slegte. Hulle het geweet dat die slegte en die sonde net pyn, vrees en chaos veroorsaak, soos iemand wat in die donker rondloop.
Daar is ook ʼn sterk verband tussen die lig en die waarheid in Bybel. Die valsheid word dan vergelyk met die donker. Om ʼn lig vir die wêreld te wees, beteken daarom grotendeels om die wêreld bloot te stel aan die waarheid. Ons moet mense wys wat die werklikheid is, sodat mense in die lig kan wandel en sodat hulle die seer van die valsheid kan vermy.
ʼn Merkwaardige ding is dat Jesus homself die lig noem in Joh. 8:12: “EN Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” As ons dan as die lig moet lewe, dan moet ons mense wys op die ware lig. Ons moet hulle wys op die waarheid. Ons moet hulle wys op Christus, want dit is alleen deur Christus wat hulle die ewige lewe kan verkry. Christus se lig skyn nou deur ons en ons moet dit nie wegsteek nie.
Hoe moet ons dan nou prakties die sout en die lig wees in ons lewens, in ons konteks? Ons moet ʼn impak en ʼn invloed hê daar waar ons is. Hierdie teksgedeelte sê dat ons as gelowiges die sout van die aarde en die lig vir die wêreld is, maar dit beteken nie dat ons elkeen individueel ʼn wêreldwye invloed moet hê nie. As gelowiges moet ons almal saam ʼn wêreldwye invloed hê. Daar is sommige van ons wat geroep word om ʼn sendeling te wees op ʼn ander plek as hier. Dit is persone wat die dele van die wêreld wat nog nie bereik is nie, moet gaan bereik. Indien dit jou roeping is, moet jy daardie roeping opvolg. Die res van ons het egter die roeping om sendelinge te wees hier waar ons is. Ons moet die sout en die lig wees hier waar ons is. Op die plaas, in Oviston. Ons moet die sout en die lig wees vir die mense om ons, vir die mense met wie ons elke dag te doen het.
Daar waar Christene betrokke is, moet daar goeie smaak en waarheid wees. Dit beteken daar moet goeie werke tot eer van die Here gedoen word. Daar moet ook genesing, preservering en die aflegging van valsheid wees. Die waarheid van die evangelie moet verkondig en uitgeleef word.
Daar staan in die laaste vers dat ons goeie dade moet doen sodat die mense dit kan sien en ons Vader kan verheerlik. Die eerste ding van ons in hierdie vers raaksien, is dat ons al hierdie dinge doen tot eer van die Here. Dit is sodat ons Vader wat in die hemel is verheerlik kan word. Ons moet dit nie doen vir onsself nie, maar vir Hom. Verder sien ons dat mense in ons goeie werke moet kan sien dat ons Christene is. Dit is in die manier hoe ons lewe en ook die manier hoe ons reageer op die situasies in die lewe. Ons lewens en reaksies moet getuig van die hoop wat in ons is.
Hierdie gedeelte beteken egter nie dat ons nie verbaal ook die evangelie moet verkondig nie. Baiemaal gebruik ons teksgedeeltes soos hierdie een as ʼn verskoning om nie die evangelie verbaal te verkondig nie. Ons moet dit doen. Om die lig te wees, beteken om die waarheid van die evangelie te verkondig. Om die evangelie verbaal te verkondig, is ook ʼn goeie werk. Op hierdie manier is ons die sout en die lig daar waar ons is. Op hierdie manier het ons die impak en die invloed wat ons as Christene behoort te hê. Dit is wie ons is as burgers van die koninkryk van God.
Slot
Broers en susters, ons het begin deur te sê dat baie mense dink dat geloof ʼn private saak is. Dit is egter nie waar van die Christelike geloof nie. Geloof is ʼn persoonlike saak, maar dit is nie ʼn private saak nie. Die mense om ons moet weet dat ons gelowiges is. Ons word geroep om ʼn impak te maak en ʼn invloed te hê daar waar ons is. Ons moet die sout en die lig wees daar waar ons gaan. Mense moet ons goeie werke sien en ons Vader in die hemel verheerlik.
Amen