Skriflesing: 1 Korintiërs 12:29-13:13
Fokusverse: 2,13
Tema: Die Here het vir ons gawes en selfopofferende liefde gegee waarmee ons mekaar moet dien, anders is ons niks.
Hoofpunte:
- Die Here het vir ons gawes en selfopofferende liefde gegee.
- Ons moet mekaar met die gawes wat God vir ons gegee het uit selfopofferende liefde dien, anders is dit tot niet.
Inleiding
Broers en susters, liefde is vir ons as mense so belangrik. Dit is iets wat ons almal nodig het. Dit vorm so ʼn sentrale deel van ons verhoudinge. Dit is iets wat ons almal ervaar en van weet, maar dit is tog so moeilik om reg te verstaan en te beskryf.
In vandag se teksgedeelte leer ons wat liefde is. Paulus skryf onder die inspirasie van die Heilige Gees vir ons hierdie besonder mooi lied of gedig oor die liefde. Daarom is dit vir ons as gelowiges ʼn baie bekende gedeelte en die berymde lied is ook net so bekend: “praat ek mense engele tale”.
Wat kan ons uit hierdie gedeelte leer? Wat leer ons van die liefde?
1. Die Here het vir ons gawes en selfopofferende liefde gegee
Agtergrond van teksgedeelte
Die konteks waarbinne hierdie lied geskryf is, is werklik merkwaardig. Dit bring soveel meer betekenis tot die gedeelte. In hoofstukke 11-14 praat Paulus met die gemeente in Korinte oor hulle samekomste of eredienste. Daar was probleme binne hulle samekomste. Mense het gekom en hulle gawes onder mekaar uitgeleef, maar daar was nie orde en dit was nie opbouend nie. Daarom sê Paulus vir hulle in hierdie gedeeltes dat hulle mekaar altyd ordelik moet dien, tot opbou van die gemeente. Die grootste probleem was dat hulle dit nie uit liefde vir mekaar gedoen het nie.
Paulus sê daarom vir die gemeente dat hulle die liefde moet nastreef. Hy onderbreek homself en skryf hierdie pragtige lied oor die liefde. Die ware liefde. Liefde wat net van God af kom.
Paulus beskryf vir ons in die verse wat liefde is – agape liefde
Paulus beskryf in hierdie verse vir ons wat liefde is. Hy gebruik die woord agape. Daar is baie verskillende woorde vir liefde in die oorspronklike Grieks. Dit is omdat die Griekse mense geweet het dat daar baie verskillende soorte liefde is.
Agape verwys dit na ‘n suiwer, opsetlike, opofferende liefde wat doelbewus die beste vir ’n ander begeer. Dit is liefde wat nie iets terug wil hê nie. Liefde wat nie selfgesentreerd is nie. Om ons te help om dit beter te verstaan, sal ek dit negatief stel. Wanneer word ‘n verhouding ‘n negatiewe verhouding? Sodra jou primêre doel met die verhouding is om jouself te dien. Wanneer dit net gaan oor waarvan jy hou en wat die ander persoon vir jou kan gee, gaan dit nie meer daaroor om die ander persoon te dien nie. Wanneer iemand in so ‘n verhouding is, breek hulle mekaar net af, maar wanneer albei partye in die verhouding mekaar opreg liefhet, wanneer hulle agape vir mekaar het, bou hulle mekaar op.
Sonder liefde beteken jou dade en jou diens niks nie (Vers 1-3)
Paulus gebruik in verse 1-3 verskeie hiperbole om te beskryf dat jy groot dinge kan doen, maar as jy nie liefde het nie, is jy niks. Al praat jy mense engele tale, al het jy al die kennis, al het jy die geloof om berge te kan versit, maar jy het nie liefde nie, is jy niks.
As die onderbou van jou dade nie die agape liefde is nie, is die hart agter die daad nie suiwer nie en dan beteken dit niks nie. Die onderbou of fondasie van ons diens aan ander moet liefde wees, anders is ons diens nie waar en suiwer nie. Dan doen ons dit om die verkeerde redes.
Liefde is nie ʼn gevoel nie, dit is ʼn daad of ʼn manier van optree (Vers 4-7)
Verse 4 tot 7 beskryf dan liefde met baie pragtige byvoeglike naamwoorde. Dit is lankmoedig en vriendelik. Dit beskryf ook wat dit nie is nie. Dit praat nie groot nie en word nie verbitterd nie. Dit is ‘n goeie manier om dit te vertaal as byvoeglike naamwoorde, maar in die oorspronklike taal is al hierdie byvoeglike naamwoorde eintlik werkwoorde. Liefde is ‘n werkwoord. Ware Bybelse agape-liefde is nie ‘n gevoel nie. Dit is ‘n daad. Ons kan dalk aardse liefde as ʼn gevoel beskryf. ʼn Emosie wat by jou opkom, veral wanneer jy verlief is. Emosies en gevoelens kom en gaan, maar Bybelse liefde is nie ʼn gevoel nie. Dit is ‘n manier van optree. Dit is iets wat ons elke dag moet kies om te doen. As Christene het ons die verantwoordelikheid om in liefde teenoor mekaar op te tree.
2. Ons moet mekaar met die gawes wat God vir ons gegee het uit selfopofferende liefde dien, anders is dit tot niet.
Ons moet kies om met lankmoedigheid teenoor mekaar op te tree. Dit beteken om geduldig te wees teenoor mekaar. Ons moet kies om nie vinnig kwaad of geïrriteerd te word nie. Ons moet kies om vriendelik teenoor mekaar te wees en nie net ons eie belang te soek nie, maar om die belang van ander te soek. Dit is die kern van agape liefde. Dit is liefde wat selfopofferend die belang van ander voor jou eie belang stel.
Christus het ons liefgehad met ware agape liefde
As sondaars moet ons eerlik met mekaar wees. Ons het nie mekaar volmaak lief nie. Ons is almal dikwels selfgesentreerd. Al lyk dit op die oppervlakte of ons dade mooi is, is ons in ons harte steeds selfsugtig. Ons dien mekaar dalk net vir die erkenning, of om onsself goed te laat voel. Dit was vir seker die geval in die gemeente in Korinte. Daarom moedig Paulus hulle en ons aan om mekaar uit ware liefde te dien, maar ons kan dit nie uit ons eie uit doen nie. As mense kan ons nie volmaak liefhê nie.
Die enigste Mens wat volmaak liefgehad het, was God wat mens geword het. Ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Hy was die een wat ons werklik liefgehad het met ‘n ware selfopofferende liefde. Daar is nie vir ons ʼn beter voorbeeld van selfopofferende liefde as dit wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het nie. Hy het homself vir ons opgeoffer. Hy wat God is, het mens geword om ons te kom dien. Hy het sy lewe opgeoffer en vir ons gesterf sodat ons kan lewe. Hy het die regverdige straf vir ons sondes gedra, die ewige dood, sodat ons die ewige lewe kan hê, sodat ons kinders van God kan wees.
As kinders van God moet ons sy voorbeeld volg en liefhê soos wat Christus liefgehad het.
Efesiërs 5:1-2: “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ja, ‘n offer wat vir God aanneemlik was.”
Nou, ons wat in Christus lewe, moet soos Christene lewe. Die Heilige Hees woon in ons en het ons tot geloof in Christus gebring. Hy lei ons ook en gee ons die krag om as Christene te lewe, spesifiek om mekaar lief te hê soos Christene moet. Maar dit is steeds ons verantwoordelikheid. Ons moet liefhê soos Christene moet. Ons moet mekaar liefhê met agape liefde.
Die rede hiervoor lees ons in verse 8-13. Ons lees dat al die gawes wat God vir ons in hierdie bedeling gegee het, is net ten dele en dit sal vergaan. Al die gawes wat God vir ons gee in hierdie bedeling is egter genoegsaam vir die doel waarvoor hy dit bestem het, maar dit is net ten dele. Die enigste drie wat nie verganklik is nie, is geloof, hoop en liefde, en die grootste hiervan is die liefde. Dit is ons band met Christus. Dit is omdat God ons liefgehad het dat Hy vir ons al hierdie wonderlike dinge gegee het. Dit is ook die bron waaruit ons dienswerk teenoor mekaar kom.
Ons moet nou vanuit hierdie liefde mekaar dien
Ons moet tot die Here bid en vir Hom vra dat Hy deur sy Heilige Gees hierdie agape liefde in ons harte vir mekaar sal kweek. Hy gee ons ook elkeen gawes en ons moet hierdie gawes gebruik om mekaar te dien. Elkeen van ons het ten minste een gawe, almal van ons het waarskynlik meer as een. Dit is enige vermoë wat God vir ons gee wat ons kan gebruik tot opbou van mekaar en van sy koninkryk.
Dit is enige iets – van gasvryheid en vriendelikheid tot leierskap en die speel van instrumente. Om goeie tegniese vermoëns te hê sodat die projektor en PowerPoint opgestel kan word of om iets te bou of om te help die skaap spit met die gemeente-ete. Dit is ook dinge soos sing in die kerk tot eer van die Here en tot opbou van mekaar en om vir mekaar te bid. Of om mekaar in ag te neem en te ondersteun in moeilike tye. Daar is nog soveel meer. Enige iets wat die Here vir ons gee wat ons kan gebruik tot opbou van sy koninkryk.
Al die bogenoemde dinge is wel nie maklik nie. Dit is ʼn opoffering wat ‘n mens moet maak, maar dit is juis hoekom ons dit uit agape liefde vir mekaar en vir God moet doen. Uit selfopofferende liefde, omdat Christus ons op hierdie manier liefgehad het.
Ons elkeen is geroep om te dien met die gawes wat God vir ons gegee het.
Ons elkeen is geroep om te dien met die gawes wat God vir ons gegee het. U sien baie van ons dink dat die kerk ʼn plek is waarheen ʼn mens kom om gedien te word. Ons het weens die tydsgees ʼn verbruikersmentaliteit. Ons kom nie kerk toe om te dien en te kyk hoe ons die kerk kan opbou nie, maar ons kom kerk toe uitsluitlik om gedien te word.
Ons moet kerk toe kom om te dien en nie om gedien te word nie. As die kerk so funksioneer waar almal so gesteld is daarop om mekaar te dien, gaan jy ook natuurlik self gedien word. Dit is natuurlik baie belangrik om by die kerk deur ander ook gedien te word, maar dit moet nie die enigste rede wees hoekom jy kom nie. Die kerk is nie ʼn vakansieboot of ʼn “cruise ship” waar mens net agteroor lê en gedien word nie. Die diakens bring verversings en die ouderlinge kyk dat alles reg en gemaklik is. Die predikant is dalk die kaptein of eerder die vermaak op die boot. Nee dit is nie die geval nie. Die kerk is ʼn oorlogskip waar elkeen aan boord ʼn spesifieke kardinale taak het om te verrig. Elke persoon op die boot moet sy rol speel en bydra tot die effektiwiteit van die boot.
Slot
Broers en susters, liefde is vir ons as mense baie belangrik. Ons het vandag geleer dat ware, Bybelse agape liefde, selfopofferende liefde is, omdat Jesus ons so lief gehad het en homself vir ons opgeoffer het. Ons moet mekaar ook nou so met hierdie liefde liefhê en mekaar daardeur dien.
Amen