Jesaja 9:1-7

Teksgedeelte: Jesaja 8:23- 9:6  (1983 vertaling)

Fokusvers: v5

Tema: Christus het gekom en regeer as ewige koning waardeur Hy vir ons ewige uitkoms gee. Ons moet daarom op Hom vertrou, Hom dien en daarin troos vind.

Hoofpunt 1: Christus het gekom en regeer as ewige koning waardeur Hy vir ons ewige uitkoms gee.

Hoofpunt 2: Ons moet daarom op Hom vertrou, Hom dien en daarin troos vind.

Inleiding

Wat beteken Kersfees regtig vir ons? Wat is ons besig om vandag te vier? Baie mense sal reg antwoord en sê ons vier vandag die geboorte van ons Here Jesus Christus. Die vraag is dan, wat beteken hierdie geboorte werklik? Hoekom vier ons dit? Wat behels dit? Wat hou dit vir ons in?

As jong kind het ek gedink ons is besig om Jesus se verjaarsdag te vier. Dit is in ʼn sin wat ons doen, maar dit is nie naastenby wat dit werklik is nie. Ons vier die koms van die Messias. Ons vier die koms van ons verlosser. Hy wat gekom het om die sonde en die gevolge daarvan te oorwin. Dit is wat ons vier.

Agtergrond

Broers en susters, die teksgedeelte wat ons vanoggend gelees het, is een van die baie duidelike profetiese boodskappe in die Ou Testament oor die koms van die Messias. Dit is geprofeteer meer as 700 jaar voor Jesus se geboorte. Met Kersfees vier ons juis dit. Die Messias het gekom. Ons verlosser is hier. Ons moet dan in dieselfde asem sê: Hy kom weer.

Die Ou Testament profeteer baie duidelik dat daar ʼn Messias gaan kom wat die volk van die Here gaan verlos. Dit is al van die begin van die Bybel af reeds die geval. In Genesis 3, wanneer die Here die vloek oor die slang uitspreek, sê Hy dat daar een vanuit die vrou se nageslag sal kom wat die slang aan die hakskeen sal byt, maar hy sal die slang se kop vermorsel. Dit is Iemand wat as ʼn mens gebore gaan word, wat gaan kom om die duiwel en die sonde finaal te oorwin. Die Jode van die Ou Testament het gelewe met ʼn messias-verwagting. Die moderne Jode lewe steeds met hierdie verwagting. Hulle besef nie dat dit Jesus is wat reeds gekom het nie.

Die aankondiging van die Messias wat kom in vanoggend se teksgedeelte vind plaas in ʼn besonderse konteks. Die Israelitiese volk het na koning Salomo, in sy seun Rehabeam se tyd, in twee ryke geskeur. Dit is die noordelike ryk en die suidelike ryk. Israel het aanvanklik bestaan uit twaalf stamme. Elke stam het sy eie gebied gehad waar hulle gewoon het. Die noordelike ryk het bestaan uit tien van die twaalf stamme en hulle staan in hierdie tyd bekend as “Israel”. Die suidelike ryk het dan bestaan uit twee van die twaalf stamme en hulle het bekend gestaan as “Juda”.

Jesaja het geprofeteer teenoor die konings van die suidelike ryk, teenoor Juda. In hierdie teksgedeelte wat ons gelees het profeteer hy spesifiek teenoor koning Agas. Hy was ʼn wrede en ʼn slegte koning en ons begin reeds van hoofstuk 7 af lees hoe Jesaja teenoor hom profeteer. Dit beteken dat hy vir Agas direk die boodskap van die Here af bring.

Die noordelike ryk en Sirië was in hierdie tyd besig om saam te sweer teen die suidelike ryk. Daar staan in hoofstuk 7 dat dit vir Agas en die suidelike ryk so bang gemaak het dat hulle gebewe het soos bome wat deur die wind gewaai word. Die Here kom dan deur Jesaja na Agas en die volk toe en sê in hoofstuk 7 vers 4 en vers 7: “Sê vir hom: Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net…” “Maar so sê Ek, die Here jou God: Dit sal nie plaasvind nie, dit sal nie gebeur nie…”

Die Here self sê deur sy profeet Jesaja, moet nie bang wees nie. EK is met jou, hulle sal jou nie oorrompel nie. Die hartseer ding is dat, in plaas van om op die Here te vertrou, Agas besluit om eerder die Here te verlaat en ʼn koalisie te vorm met Assirië. Assirië sal ons bystaan, nie die Here nie, het Agas gedink. Ons lees in 2 Konings die hartseer ding dat Agas na die koning van Assirië gaan en hom omkoop met goud en silwer vanuit die huis van die Here, met ander woorde vanuit die tempel, om hom te help. Ons kan in ons taal vandag sê hy gebruik God se geld om ʼn heidennasie om te koop.

In die proses verval hy ook in afgodsdiens deur die Assiriese se afgode te dien. Ons lees in 2 Konings 16 dat Agas die altaar in die tempel van die Here verander het sodat dit soos ʼn Assiriese altaar lyk. En die verskriklikste van alles is dat hy selfs van sy eie seuns in die vuur geoffer het (2 Konings 16:3). Hierdie, saam met die verdere verval van die suidelike ryk, het toe later tot die Babiloniese ballingskap gelei. Agas en die volk was nie op ʼn goeie plek nie.

Hoofpunt 1: Christus het gekom en regeer as ewige koning waardeur Hy vir ons ewige uitkoms gee.

Dit is ten midde hiervan dat Jesaja hierdie boodskap van verlossing aan Agas, aan die volk en aan ons bring. Dit lyk menslik gesproke vir Agas en vir die volk onmoontlik. Hoe sal hulle kan bly staan teen die noordelike ryk en Sirië. Hulle dink die enigste uitweg vir hulle is koalisies met vreemde volke en oorlog. Hulle verval dan in sonde, wantroue in God en afgodsdiens.

Hulle staar vas in hulle huidige probleme, die oorlog wat op hulle voorstoep staan en hulle vergeet dat God almagtig is. Jesaja bring dan vir hulle die boodskap: “Die Messias gaan kom, Hy gaan regeer en in sy ryk sal daar vrede wees.” Soos ons lees in ons fokusvers: “Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”

Die verlossing wat Jesaja aan koning Agas voorhou, kan aanvanklik vir ons vreemd klink. Hy sê dat verlossing gaan kom in die vorm van ʼn kind. Hierdie is egter duidelik nie net ʼn kind of ʼn Seun nie. Dit is hierdie Seun wat ʼn ewige ryk van vrede gaan bring. Hy sal genoem word: “magtige God”. Dit is duidelik nie net ʼn menslike seun nie. Hierdie is duidelik ook nie net verlossing van hulle tydelike aardse probleme nie. Hierdie is ewige verlossing wat aangekondig word.

Dit word vir ons bevestig in die Nuwe Testament wanneer Matteus in hoofstuk 4:15-16 direk vers 1 en 2 van ons teksgedeelte aanhaal. In vers 23 en 1 profeteer Jesaja reeds die gebied waar Jesus gaan bedien en wat Hy gaan doen. In ander vertalings is dit vers 1 en 2. Die vers- en hoofstuknommers is egter later eers bygesit. Dit was nie deel van die oorspronklike teks nie.

“23 Maar in die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie. In die verlede het die Here die gebiede Sebulon en Naftali verneder, maar in die toekoms sal Hy die pad na die see van Galilea toe, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene in ere herstel. 1 Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn.”

Die Here verander die donker in die lig. Hy gaan uitkoms vir sy volk gee. Daar staan in vers 3 dat dit gaan gebeur soos die dag toe Midian verslaan is. Dit verwys na die manier hoe God in die tyd van Gideon in die boek van Rigters die volk die oorwinning gegee het teen die Midianite. Dit was ʼn oorwinning wat God op ʼn absolute bonatuurlike manier aan sy volk gegee het. Wat dus hier beklemtoon word, is dat God gaan uitkoms gee op ʼn bonatuurlike manier vanuit sy almag.

Ons kom dan by ons fokusverse, waar die Here verduidelik hoe Hy dit gaan doen. ʼn Seun gaan gebore word en Hy gaan regeer oor die koninkryk van vrede. Daar word geprofeteer oor Jesus se koms.

Die vraag waarmee dit ons laat, is wat beteken die koms van Christus vir ons? Dit is duidelik dat Agas hom nie aan die koms van die Messias en God se ewige verlossing gesteur het nie. Hy het homself vasgestaar in sy probleme en op sy eie plannetjies staatgemaak om dit op te los. Ons kan gereeld so vasgevang word in die dinge van hierdie lewe, dan ons vergeet van die dinge van die lewe hierna. Agas het nie besef dat sy ware probleem nie die komende oorlog is nie. Ons besef nie dat die probleme wat ons in die gestig staar, nie werklik ons grootste probleem is nie.

Broers en susters, ek is nie besig om Agas se probleme te verklein nie. Ek is ook nie besig om min te maak van die probleme wat ons elke dag ervaar nie. Die waarheid is egter dat vir God niks onmoontlik is nie en Hy gaan ons op sy tyd en op sy manier daarvan verlos. Al is dit in die lewe na hierdie een. Die vraag wat ons eerder onsself moet afvra, is weet ons wat gebeur in die lewe na hierdie een?  

Die verlossing wat Jesaja in ons teksgedeelte aankondig, is nie net tydelike verlossing van tydelike aardse probleme nie, dit is ewige verlossing van die ewige sonde en die gevolge daarvan. Dit is wat ons eintlik vier met Kersfees. Die Messias het gekom. Die verlosser is hier.

“Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”

Hoofpunt 2: Ons moet daarom op Hom vertrou, Hom dien en daarin troos vind.

Wat beteken hierdie woorde van ons fokusvers egter? Ons gaan nou saam kyk na elke sinsnede in ons fokusvers en kyk na wat dit vir ons beteken.

“Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee;”

Hierdie woorde wys duidelik daarop dat Jesus as ʼn mens gebore is. Hy is volkome mens soos ek en jy. Die woorde hierna wys egter dat Hy nie net ʼn mens is nie. “ʼn Seun is aan ons gegee…”. Ons ewige Vader het vir ons sy ewige seun gegee. Jesus is nie net ʼn mens nie, Hy is ook God. Daarom het Hy ook nooit gesondig nie. Daarom is Hy die enigste een wat die sonde kan oorwin en ewig kan regeer. Die geboorte wys op sy menslikheid, maar dat Hy gegee is, wys op sy ewige Goddelikheid.

“Hy sal heers, …”

Die koms van die Messias en die verlosser, beteken ook die koms van ons koning. Hy wat werklik regeer oor alle wêreldmagte. Daar is geeneen bo hom nie. Hy is volkome in beheer. Hierdie woorde is veronderstel om baie ontnugterend te wees het vir Agas. Agas jy is nie regtig die een wat heers nie. God is die een wat heers en Hy stuur sy seun die Messias om te heers. Vertrou Hom, volg Hom en buig neer voor Hom. Dit is egter nie wat hy doen nie.

Hierdie woord is ook ontnugterend vir ons. Dit is Christus wat heers oor alles en ook oor ons lewens. Ons moet daarom op Hom vertrou en Hom volg. Ons moet ook in Hom troos vind ten midde van ons teëspoed. Die vraag is of ons dit doen? Of maak ons op onsself staat soos Agas?

Die volgende woorde verduidelik dan Hoe Christus se heerskappy is en volkome gaan wees met sy wederkoms.  

“Wonderbare Raadsman…”

ʼn Raadsman is ʼn man met wysheid wat vir jou raad kan gee. Hierdie woorde beteken ook dat Jesus alles doen volgens ʼn ewige wyse raadsplan. Hierdie raadsplan is goed en Hy is die wonderbare raadsman wat dit gaan uitvoer. Die woord “wonderbaar” moet ook verstaan word dat Hy dit doen deur wonderwerke. Hy regeer op ʼn bonatuurlike manier. Hy is daarom die een wat met groot wysheid op ʼn bonatuurlike manier sy ewige plan uitvoer.   

“Magtige God…”

Jesus word hier duidelik beskryf as magtige God. Sy almag as een van die drie persone van die enigste ware God word hier uitgelig. Hy is God, net soos wat die Vader en die Gees God is. Hy is almagtig. Dit is die krag waarmee Hy regeer.

“Ewige Vader…”

Dit is merkwaardig dat Jesus hier beskryf word as ons “Ewige Vader”. Hoe kan die Seun beskryf word as “Vader”? Die woord “Ewig” verwys verder na sy ewige Godheid. Hy is nie geskep of gemaak nie, Hy is ewig net soos die Vader en die Gees. Hy word dan hier beskryf as “Vader” omdat Hy soos ʼn vader ons beskerm en vir ons sorg, omdat Hy vir ons lief is. Sy koningskap gaan nie een wees van onderdrukking nie. Dit gaan eerder een wees van liefde, soos wat ʼn vader lief is vir sy kinders.    

“Vredevors…”

Laastens gaan Hy ook Vredevors genoem word. Sy koningskap gaan een van volledige vrede wees. Die vraag is dan, wat is ware vrede? Beteken dit eenvoudig dat daar nie konflik of oorlog gaan wees nie? Dit is nie net dit nie. Dit beteken dat Christus alles wat skeiding maak tussen ons en God gaan verwyder. Hy gaan ook alles wat skeiding maar tussen mens en mens verwyder. Sy koninkryk gaan op hierdie manier een van vrede wees.

Dit is die sonde wat skeiding maak tussen ons en God en tussen mekaar. Dit is juis die sonde wat Hy kom oorwin. Hy doen dit deur die skuld van die sonde namens ons te dra en ons skoon te was, sodat ons werklik voor God kan verskyn en met Hom in ʼn vredevolle verhouding te kan lewe. Weens die sondeval is ons almal sondaars en vyande van God. Ons is elkeen sondig en is eintlik vyande van God. Christus kom en kom maak ons weer burgers van God se koninkryk en kinders van God. Indien ons werklik met God in ʼn vredevolle verhouding lewe, lewe ons dan ook met mekaar in ʼn vredevolle verhouding. Op hierdie manier is Christus die ware Vredevors wat ware vrede bewerk. Hy roei die wortel wat onenigheid saai, uit.  

Hy stuur dan vir ons die Heilige Gees. Die persoon van die drie-eenheid wat in ons woon. Dit is Hy wat vir ons geloof in Christus gee waardeur ons burgers word van sy vredevolle koninkryk. Dit is ook Hy wat in ons harte werk sodat ons reeds in hierdie bedeling in vrede met God en in vrede met mekaar wil lewe. Ons doen dit deur die wet van God te onderhou. Elke koninkryk het wette. Die tien gebooie is die wette van die koninkryk van vrede. Die eerste tafel leer ons hoe om in vrede met God te lewe en die tweede tafel leer ons hoe om in vrede met mekaar te lewe.

Christus het al hierdie dinge reeds vir ons bewerk en gaan dit eendag met sy wederkoms volbring. Daarom moet ons altyd, wanneer ons sy eerste koms vier, dit doen met ʼn smagting na sy wederkoms. Dit is wanneer al hierdie dinge waarvan ons nou gehoor het, volledig volbring gaan word.

Deur Christus se eerste koms ervaar ons Hom nou reeds as Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Ons gaan egter dit volkome ervaar met sy wederkoms, wanneer die finale verlossing aanbreek, wanneer die koninkryk van ware vrede volkome kom.

Die vraag is of ons nou daarna uitsien en of ons nou reeds lewe met Christus as ons Here. Die konteks van ons teksgedeelte vandag wys duidelik dat Agas homself nie gesteur het aan Christus se eerste koms nie. Ons moet nie vandag hier wegstap en onsself nie steur aan Christus se wederkoms nie. Besef ons die wonder daarvan dat ons verlosser gekom het, ons reeds verlos het en weer gaan kom om ons finaal te verlos? Ons is nie net verlos van ons tydelike aardse probleme nie, al is dit vir ons nou steeds swaar. Ons is ook verlos van ons ewige probleme. Ons is verlos van ons sonde. Wat ʼn groot troos.

Die Here het ons nie net kom verlos nie, maar Hy regeer ook ewig. Hy is die Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Ons is burgers van sy ryk. Ons lees juis in die laaste vers: “6. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.” Ons moet erken dat Hy regeer en op Hom vertrou, nie op onsself en ons eie planne nie. Ons moet diensbaar wees aan Hom en in sy koninkryk lewe.

Slot

Broers en susters, ons het begin deur te sê dat ons vandag, met Kersfees, die koms van ons Here Jesus Christus vier. Die vraag wat ons toe gevra het, is: Wat beteken die koms van ons Here Jesus Christus?

Jesaja het dit reeds 700 jaar voor die koms van Christus geprofeteer. Christus het gekom en regeer as ewige koning waardeur Hy vir ons ewige uitkoms gee. Ons moet daarom op Hom vertrou, Hom dien en daarin troos vind.

Amen.