Hebreërs 6:13-20

Teksgedeelte: Hebreërs 6:13-20

Fokusgedeelte: v18 -v19

Tema: God se belofte en eed dat Hy sy woord gestand sal doen, spoor ons aan tot ʼn onbeweeglike hoop wat dien as ons lewensanker.

Hoofpunt 1: God maak ʼn belofte en lê ʼn eed af dat Hy sy woord gestand sal doen.

Hoofpunt 2: Dit spoor ons aan tot ʼn onbeweeglike hoop wat dien as ons lewensanker.

(Die doop van “Isabel van der Walt”. Dogter van Frans en Kira van der Walt)

Inleiding

Broers en susters, in hierdie lewe het ons ʼn anker nodig. Iets wat ons vas en stabiel hou. Iets wat maak dat die storms van die lewe ons nie oorrompel nie.  Dit vraag is, wat is ons anker? Wat is die enigste ding waarop ʼn mens werklik kan staatmaak om jou stabiel te hou in die storms van die lewe?  

Ons teksgedeelte vanoggend wys baie duidelik vir ons dat ons lewensanker God se getrouheid is. Ons weet dat Hy nooit teen sy woord sal ingaan nie. Hy het ʼn verbond met ons gesluit en Hy sal daaraan getrou bly. As Hy iets sê, dan doen Hy dit en ons mag daarin onuitspreeklike troos vind.

Ons het vanoggend ook die baie groot voorreg om deel te hê aan iemand wat die teken van die verbond ontvang as ʼn bewys van die Here se getrouheid. Die doop van Isabel van der Walt. Ons sien die beloftes wat Hy aan Haar maak, en ook aan ons gemaak het en ons mag daarin vandag opnuut troos vind.

Agtergrond

Ons teksgedeelte vanoggend kom uit die boek Hebreërs. Ons sien dat die boek begin deur voorgehou te word as ‘n teologiese verhandeling (veral aangedui deur hfst. 1). Die liggaam lees dan soos ‘n mondelinge preek wat gelewer is met die gebruik van spreektaal (vgl. 13:22). Die boek eindig soos ‘n brief (13:22-25). Wat is dit dan – ʼn teologiese verhandeling, ʼn preek of ʼn brief? Die antwoord is dat dit al drie is. Die boek moet verstaan ​​word soos ‘n teologiese dokument, gehoor word soos ‘n preek en gelees word soos ‘n brief.

Ons is baie onseker wie die boek van Hebreërs geskryf het. Dit is egter nie nodig om bekend te wees met die menslike outeur van die boek om die boodskap van die boek te verstaan nie. Ons weet dat die boek, net soos die res van die Bybel, geïnspireer is deur die Heilige Gees.

Wat interessant is van die boek, is dat dit geskryf is in redelike gevorderde Grieks, maar dat dit duidelik gerig is aan bekeerde Jode. Die outeur neem aan dat die leser of hoorder die Ou Testament as gesaghebbend aanvaar. Dit wys dan op baie plekke in die boek hoe Jesus die een is wat die Ou Testament kom vervul het. Dit wys duidelik vir die lesers en hoorders dat Jesus die Messias is oor wie die Ou Testament geprofeteer het.

Die doel van die boek is ook duidelik. Dit is om die lesers en die hoorders te bemoedig. Hulle het duidelik vervolging ervaar. Dit is ook om ons vandag te bemoedig. Ons moet bemoediging vind in wie Jesus is en wat Hy vir ons kom doen het. Iets anders wat opvallend is, is dat die outeur ook verduidelik hoe ons Here Jesus Christus drie ampte volkome volstaan. Dit is dat Hy koning, priester en profeet is.

Hoofpunt 1: God maak ʼn belofte en lê ʼn eed af dat Hy sy woord gestand sal doen

Dit is juis ons gedeelte vanoggend waar die outeur verduidelik dat Jesus die enigste ware hoëpriester is. Dit staan in die laaste vers wat ons gelees het: “Hy is die ewige hoëpriester volgens die orde van Melgisedek”. Ons gaan egter later kyk na presies wat dit beteken. (Gen. 14)

Ons begin nou eers by die begin van ons teksgedeelte. In vers 13-15 gebruik die outeur ʼn beeld vanuit die Ou Testament om iets vir sy gehoor en vir ons vandag te wys, sodat hulle en ons daardeur bemoedig mag word. Hy haal vanuit Genesis 22 aan. Dit is waar Abraham sy seun, Isak, aan die Here moes offer en waar die Here weer sy verbond met Abraham, en so met sy volk en met ons, bevestig. Om werklik die boodskap van die Hebreërs-skrywer in hierdie gedeelte te verstaan en daardeur bemoedig te kan word, moet ons net eers weer kyk wat in Genesis 22 gebeur het.

Soos ons reeds gesê het, moes Abraham hier sy seun, Isak, geoffer het. Dit is iets wat ons nie vir onsself kan indink nie. Dit moet verskriklik wees om dit te moet doen. Wat egter hier aan die gebeur is, is dat dit is ʼn toets van Abraham se geloof en gehoorsaamheid. Dit is nie in werklikheid die Here wat wil hê dat Abraham sy seun moet offer nie. Die Here het in Genesis 12 aan Abraham belowe dat Hy onder andere vir Abraham ʼn groot nageslag sou gee. Hierdie nageslag sou die volk van die Here word en nou vra die Here vir hom om vir Isak, die een deur wie die belofte van die Here waar sou word, te offer.

Hierdie belofte is deel van die verbond wat die Here met Abraham gemaak het. Dit is hierdie selfde verbond wat die Here met die volk van die Ou Testament gehad het, en dit is dieselfde verbond wat die Here met ons vandag het. Ons vier vandag die Heilige Doop, waar Isabel die teken van die verbond ontvang.

Die vraag is dan of Abraham op die belofte van die Here vertrou het. Vertrou hy daarop dat die Here getrou sal bly aan sy verbond? Die antwoord is dat Hy het. Hy vat vir Isak om geoffer te word. As ons Hebreërs 11:17-19 lees, sien ons dat Abraham geglo het dat God weer vir Isak uit die dood uit sal opwek. “17-18 Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. 19 Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.”

Op die laaste oomblik keer die Here vir Abraham en gee aan Abraham ʼn ram om te offer in die plek van sy seun. Dit is ook ʼn duidelike beeld van ons Here Jesus wat homself gegee het as offer in ons plek.  Daarna herbevestig die Here sy verbond met Abraham. Dit is ook die woorde wat aangehaal word in ons teksgedeelte. Genesis 22:15-18: “Die Engel van die Here het weer uit die hemel na Abraham geroep en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê ’n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem. In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.”

Die Hebreërs-skrywer verduidelik dan wat ʼn wonder dit is wat die Here hier gedoen het. Nie net weet ons dat die Here ʼn belofte gemaak het en altyd getrou is aan sy beloftes nie. Hy lê ook ʼn eed by homself. Die Hebreërs-skrywer sê dan in verse 16-17: “Mense lê ’n eed af by iemand groter as hulleself. Vir hulle is dit die bevestiging van ’n saak, en dit sluit alle teëspraak uit. En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met ’n eed gewaarborg.”

Wanneer mense ʼn eed aflê, is dit altyd by iets groter as hulself, maar daar is niks hoër of groter as God nie. Daarom lê Hy ʼn eed by homself af. Die vraag is dan, wat beteken dit dat God ʼn eed by homself afgelê het? Die 1953 vertaling sê dat God by homself gesweer het. Met ander woorde, God sê hier vir Abraham en vir ons, Ek sweer by myself dat Ek getrou sal bly aan my verbond. Jy kan my glo. Wat Ek sê, is waar. Vertrou in my.

Hoofpunt 2: Dit spoor ons aan tot ʼn onbeweeglike hoop wat dien as ons lewensanker.

Die Here het nie nodig gehad om ʼn eed af te lê nie. Sy woord is genoeg. Hy kan immers nooit jok nie. Dit gaan totaal teen sy natuur in om te jok. Tog maak die Here hier ʼn eed. Hoekom doen Hy dit?

Ons lees in vers 17-18: “En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met ’n eed gewaarborg. Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ’n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is.”

Die Here doen dit vir ons. Hy doen dit om ons te verseker dat sy besluit onveranderlik is.  Hy doen dit om aan ons te waarborg dat Hy sy woord gestand sal doen. Hy doen dit vir Isabel wat vandag die teken van die verbond ontvang. Dit is om ons aan te spoor om vas te hou aan die hoop wat daar vir ons binne in die verbond lê.

Broers en susters, besef ons elke dag die troos daarvan dat ons met die Here in sy verbond lewe? Die genade wat die Here aan ons bewys het deur met ons in die verbond te gaan? Broers en susters, die verbond is nie iets wat ons gekies het nie. Dit is iets wat God met ons gemaak het. Dit is iets wat Hy uit genade vir ons gedoen het. Daarom noem baie teoloë dit ʼn genadeverbond. Dit is iets wat God uit genade doen, want dit is alleen deur hierdie verbond wat ons gered word.

Dit is uit genade uit wat die Here met ons in hierdie spesiale verbondsverhouding gaan. Hy maak hierdie verbond met Abraham en sy nageslag. Ons lees dan baie merkwaardig in Gen. 22 vers 18: “In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.” Van die begin af was dit God se plan om alle nasies in te sluit by die verbond, nie net die Jode nie. Hy het dit gedoen deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom is ons ook kinders van Abraham. Deur Hom het ons ons deel aan hierdie verbond. Hy maak hierdie verbond met ons. Hy maak dit ook met ons en ons nageslag. Daarom ontvang Isabel vandag die teken van die verbond.

Die drukkende vraag is dan, wat beteken dit om in ʼn verbond met die Here te lewe. Die kern van die verbond is dat God ons God is, en ons sy volk is. Dit beteken dat wanneer God met ons in ʼn verbond gaan, belowe Hy om ons God te wees en ons het die verantwoordelikheid om sy volk te wees. God belowe om ons te beskerm en te versorg en om vir ons alles te gee wat ons nodig het. Hy belowe vir ons sy seën. Dit beteken dat ons sy goedheid en genade ervaar. Ons het dan die verantwoordelikheid om sy volk te wees. Ons moet aan Hom gehoorsaam wees, hom dien en Hom eer.

Ons kan dit egter nie regkry nie. Ons kan nie ons verantwoordelikheid binne die verbond nakom nie. Tog onderhou God self sy verbond en Hy doen dit deur sy Seun. Daarom het ons ʼn onbeweeglike hoop in die genadeverbond wat die Here met ons maak en met ons onderhou. Ons lees in die laaste twee verse van ons teksgedeelte, Hebreërs 6:19-20: “Hierdie hoop besit ons as ’n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.”

Omdat Jesus die verbond vir ons vervul het, is dit vir ons ʼn onbeweeglike lewensanker. Ons kan nie uit ons eie uit gehoorsaam wees aan die verbond nie, maar Jesus was in ons plek gehoorsaam. Hy is volkome gehoorsaam aan sy Vader. Met sy kruisiging het Hy ons ongehoorsaamheid op homself geneem en die regverdige straf daarvoor gedra. Hy het nie net dit gedoen nie, maar Hy gee ook aan ons sy gehoorsaamheid. Hy maak ons regverdig. Hy onderhou die verbond in ons plek. Deur die genadige redding van Christus, het ons deel aan die genadeverbond.

Broers en susters, die groot klem van vandag se woordbediening is dat ons hierin moet troos en stabiliteit vind. Dit is die woorde waarmee die Hebreërs-skrywer ons vandag bemoedig. Dit is die hoop wat ons het wat dien as ons ware lewensanker. Ons lewe in ʼn verbond met die Here. Hy het belowe en ʼn eed afgelê dat Hy daaraan getrou sal bly en Hy doen dit deur sy Seun. Ons het ook die groot voorreg om te mag aanskou hoe Hy hierdie genadeverbond vandag ook met Isabel sluit, waar sy die teken van die verbond ontvang het.

Die Hebreërs-skrywer verduidelik op ʼn besondere manier spesifiek hoe Jesus dit doen. Hy doen dit deur op te tree as ons enigste ware hoofpriester. Soos ons vroeër gesê het, staan Jesus volkome in drie ampte. Hy is die ware volkome profeet, priester en koning. In hierdie teksgedeelte leer die Hebreërs-skrywer vir ons hoe Jesus ons profeet is.

Wat beteken en behels die ampte profeet, priester en koning? Die profete was verantwoordelik vir alle kommunikasie wat van God af kom. Christus is self die woord van God en daarom is Hy die volmaakte profeet. Die priester was verantwoordelik vir die diens aan die Here. Ons kan sê alle kommunikasie aan die Here. Christus is die volmaakte hoëpriester, want Hy tree vir ons in as middelaar. Hy was ons skoon sodat ons voor God kan verskyn. Dit is die spesifieke klem van ons teksgedeelte vandag. Hy is ons voorloper. Hy bring ons in die allerheiligste. Dit is die deel van die tempel in die Ou Testament wat ʼn beeld was vir die teenwoordigheid van God. Dit beteken dat ons deur Hom tot God mag nader en in sy teenwoordigheid mag kom. Die koning is verantwoordelik daarvoor om te regeer. Hy moet sorg dat die wet van die Here gehoorsaam word en Hy het die verantwoordelikheid om die volk te beskerm. Christus is die koning van alle konings. Hy onderhou die wet van die Here en Hy beskerm sy volk.

Die laaste ding waaraan daar aandag gegee moet word in die teksgedeelte, is die feit dat die Hebreërs-skrywer sê dat Jesus ʼn priester is volgens die orde van Melgisedek. Wat beteken dit? Dit is nog ʼn beeld vanuit die Ou Testament wat sy vervulling in Jesus vind. In Genesis 14 ontmoet Abraham ʼn man met die naam Melgisedek. Dit is ʼn man waarvan ons nie baie weet nie. Wat ons wel weet, is dat hy ʼn koning en ʼn priester was. Die Hebreërs-skrywer wys vir ons dat hy ʼn vooruitwysing was na Christus, wat die volmaakte koning-priester is.

Slot

Ons het aan die begin erken dat ons in hierdie lewe ʼn anker nodig het. Ons teksgedeelte vanoggend het duidelik vir ons gewys wat daardie anker is. Die Here het belowe en lê met ʼn eed af dat Hy getrou sal bly aan sy verbond met ons. Hy het ook sy Seun gestuur wat as ons ewige hoëpriester die verbond vir ons onderhou. Hierin vind ons ʼn onbeweeglike hoop wat dien as ons lewensanker.

Amen.