Jona 1:1-16

Teksgedeelte: Jona 1:1-16

Fokusgedeelte: Jona 1:1-3

Tema: God roep ons en ons moet gehoorsaam wees aan daardie roeping.

Hoofpunt 1: God roep ons.

Hoofpunt 2: Ons moet aan ons roeping van God gehoorsaam wees.

Inleiding

Broers en susters, vra ons genoeg vir onsself die vraag: lewe ons gehoorsaam aan die Here? Lewe ons gehoorsaam aan die roeping wat Hy vir ons gegee het?

Ons elkeen is hier geplaas met ʼn spesifieke rede. Die Here het vir ons elkeen ʼn roeping gegee, saam as gelowiges, maar ook uniek en individueel. Die vraag is of ons daaraan gehoorsaam is.  

Ons het in vanoggend se teksgedeelte gelees hoe Jona aanvanklik nie aan die roeping wat die Here vir hom gegee het, gehoorsaam was nie. Die Here het vir Jona geroep om sy Woord te verkondig, maar hy wou dit nie doen nie.

Agtergrond

Jona was een van die profete van die Ou Testament. Dit beteken dat hy iemand is met die taak om die woord van die Here oor te dra. Hy moet dit wat die Here vir hom sê, vat en dit gaan verkondig. Wat vir Jona spesiaal maak, is dat in hierdie gebeure moes Jona nie die woord van die Here oordra aan die volk van die Here, aan Israel nie, maar hy moes dit oordra aan heidene.  

Die Here sê in vers 2 vir Jona dat Hy teen die stad van Nineve moet gaan praat, want Hy het gesien hoe sleg hulle is. Ons weet uit 2 Konings 14:25 dat Jona geprofeteer het in die tyd van koning Jerobeam die tweede. Die tyd waarin Jona gelewe het, was ʼn tyd van finansiële vooruitgang en vrede vir die volk van die Here. Ons leer ook uit hierdie teksgedeelte dat die Here hom ook gebruik het as ʼn profeet vir die volk van die Here, maar nou roep die Here hom spesifiek om te gaan profeteer teen Nineve.

Ons lees op ander plekke in die Bybel dat Nineve werklik ʼn baie slegte stad was, waar sonde die norm was. In Nahum 3:1 word die stad van Nineve beskryf as bloedbevlekte stad wat vol bedrog en geweld is waar die rowery nie ophou nie. Dit was ʼn baie groot stad en was deel van die opkomende wêreldryk van Assirië. Assirië was besig om die sterkste ryk in die wêreld te word en hulle het dit gedoen deur vrees en geweld.

Hoofpunt 1: God roep ons.

Dit is dan merkwaardig om te sien dat God aan hierdie stad wil liefde en genade bewys. Die boek van Jona wys ons op die oneindige liefde en genade van die Here. Die Here wil sy genade bewys aan hierdie goddelose stad. Daarom roep die Here vir Jona om teen hulle te gaan profeteer. Ons sien dan egter dat Jona dit nie wil doen nie. Hy gaan na die hawe toe en betaal om op ʼn boot te klim op pad na Tarsis toe. Dit was baie waarskynlik moderne Spanje. Hy is in presies die teenoorgestelde rigting op pad.

Ons lees in vers 3 dat hy spesifiek weg van die Here af wou vlug. Die probleem wat hy egter het, is dat ʼn mens nie van die Here af kan vlug nie. As die Here met jou en deur jou wil werk, sal jy dit nie kan keer nie.

Die vraag is dan, hoekom vlug Jona? Hoekom wil hy nie na die Here luister nie? ʼn Mens sou dink dat dit vir Jona lekker sou wees om vir Nineve hulle sondes uit te wys, om vir hulle te gaan sê hoe sleg hulle is. Nineve was tog ʼn groot stad wat deel was van die Assiriese ryk, wat besig was om ʼn bedreiging vir Israel te word. Ons vind Jona se rede eers aan die einde van die boek uit. Ons lees in Hoofstuk 4:2 waar Jona sê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.”

Met ander woorde, Jona wou nie hê dat die Here vir Nineve moes vergewe nie. Sy opdrag was dat hy hulle moes gaan bewus maak van hulle sonde. Hy het geweet dat indien hy dit doen, gee hy vir hulle die kans om te bekeer van hulle sonde. Hy het geweet dat, indien hulle bekeer van hulle sonde, sal God hulle vergewe. Hy weet God as ʼn genadige God, maar hy dink nie dat die stad Nineve genade verdien nie.

Jona het gedink dat God se genade net vir homself en vir sy mense moes wees. Hy wou nie God se genade deel met ander mense nie. Is dit omdat hy hoogmoedig is? Is dit omdat hy dink dat die ander mense te sondig is om die genade van die Here te ontvang? Is dit omdat hy nie genade verstaan nie? Dit is waarskynlik al die bogenoemde.

Broers en susters, die enigste verskil wat daar tussen ʼn gelowige en ʼn ongelowige is, is genade. As dit nie was vir die genade van die Here nie, sou daar geen verskil wees het tussen ons gelowiges en die ongelowiges nie. Ons almal is besmet met die sonde. Ons almal verdien die ewige straf van die Here. Ons is nie beter as ander nie.

Dit is waarskynlik wat Jona nie raakgesien het nie. Dit is ook gereeld wat ons nie raaksien nie. Ons is gemaklik daarmee dat net ons en dalk ons mense gered word, maar ons het nie liefde vir die mense wat ons sien as ongelowiges nie. God het ons nie sy kinders gemaak omdat ons beter is as ander nie. Hy doen dit alleen uit sy genade. Die Here het sy Seun gestuur om ons in genade te red. Ons lees in Ef. 2:8-10: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Jona se optrede weerspieël ons eie. As ons nie ons eie sonde raaksien nie, dan het ons geen behoefte aan genade nie en dan gun ons dit ook nie vir ander nie. As ons as kerk so is, dan stagneer ons en ons leef ons nie na buite toe nie. Daarom moet ons, anders as Jona, besef dat ons uit genade alleen gered is van ons sondes. Ons is nie vir ʼn oomblik beter as ander nie.

Die Here roep ons elkeen om sy Woord te verkondig en om sy liefde en sy genade te bedien aan ander. Ons moet daarom vra dat die Here ons deur die Heilige Gees lei, sodat ons ons sonde besef, in die genade wat die Here vir ons gegee het sal glo, daarin vreugde sal vind en dit sal gaan verkondig aan almal. Toe Jona ongehoorsaam is en begin vlug het, kon die Here hom net daar gestraf het, maar nee, die Here bewys genade aan hom. Hy werk met hom. Hy help hom weer op die regte pad. Die genade wat Jona nie wou bewys aan die mense van Nineve nie, wys die Here nou reeds aan Hom.

Jona is op ʼn die skip saam met ongelowige matrose en die Here stuur ʼn verskriklike storm om Jona terug te roep. Jona is in die leerskool van genade. Die leerskool van genade kom soms in die vorm van ʼn storm. Die matrose gooi die skip se kosbare vrag in die see. Dit is eers wanneer jy die dood in die gesig staar, dat jy besef dat aardse dinge nie werklik waarde het nie. 

Die ironie is dat Jona, die profeet van die Here, nie na die Here se stem wou luister nie. Jona lê onder in die boot en slaap, maar die rowwe, ongelowige matrose was egter dadelik gewillig om te erken dat dit wat nou gebeur, bonatuurlik is. Hulle almal roep daarom uit en bid tot hulle afgode, maar Jona bid nie tot God nie. Hy bid nie vir homself nie en hy bid ook nie vir sy medemens nie.

Die matrose moet hom wakker maak en sê dat hy moet begin bid. Ons kan in ons woorde vandag sê dat dit nie die dominee is wat die matrose aanmoedig om te bid nie, maar eerder die matrose wat die dominee aanmoedig om te bid. Is dit nie ironies nie?

Hoofpunt 2: Ons moet aan ons roeping van God gehoorsaam wees.

Die manne sê toe vir mekaar dat hulle lootjies moet trek om te sien wie se skuld dit is dat hulle in die storm vassit. Loting was ‘n algemene vorm van waarsêery in die antieke wêreld, dit was ʼn manier wat gebruik is om die wil van die gode te ontdek. Op hierdie geleentheid maak die Here hiervan gebruik om sy wil bekend te maak. Hy is natuurlik ook Here oor die lote. Hy wys dan vir Jona direk op sy sonde.

Jona moet dan erken waarmee hy besig is. Hy moet teenoor die matrose, maar ook teenoor homself erken dat hy is besig om te probeer vlug van die Here af. Hy is besig om ongehoorsaam te wees. Hy erken dit egter self aan die matrose: “Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.” Hy weet hy kan nie van die Here af wegvlug nie. Hy het alles gemaak, is alomteenwoordig en almagtig. Hy is in beheer van alles.

Jona se optrede is egter nie in ooreenstemming met sy belydenis nie. Hy bely hier aan die heidene dat hy die Here, die almagtige God wat hemel en aarde gemaak het, vrees, maar tog probeer hy van hierdie God af wegvlug. Die heidene ken nie so ʼn God nie en as hulle het, sou hulle vir seker nie probeer het om van Hom af weg te vlug nie. Ons kyk nou na Jona en dink ook dalk so, maar die waarheid is dat ons ook soms van die Here af probeer vlug, op watter manier ook al.

Die vraag is of ons lewens van ons belydenis getuig. Besef ons werklik wie God is en lewe ons daarvolgens? Broers en susters, die Here is hier besig om te werk met Jona. Hy bring vir Jona tot ʼn besef van sy sonde, tot ʼn besef van wie hy self is en wat hy doen. Hy bring ook vir Jona tot ʼn dieper besef van wie Hy is, van wie God is. ʼn Mens kan nie van God af wegvlug nie.

Dit is genade wanneer God dit doen. Dit is genade wanneer Hy ons tot ʼn sondebesef bring. Wanneer die Here vir ons wys wie ons is en wie Hy is. Hy wys dan in dieselfde asem ook vir ons hoe groot sy liefde en genade is, dat Hy ons sondaarmense red. Dit is iets wat ons moet laat juig van die vreugde. Dit is iets wat ons nie vir onsself kan hou nie. Dit is iets wat ons aan almal wil gaan verkondig. Ons sien egter in die verhaal, dat alhoewel die Here besig is om met Jona te werk, dat hy nog nie volkome in sy hart bekeer het nie. Hy is nog nie werklik gereed om die taak wat die Here vir hom het uit te voer nie.

Die matrose vra vir Jona wat hulle met hom moet doen. Jona sê vir hulle: “Vat my en gooi my in die see, dan sal dit kalm word rondom julle, want ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed.” Hy is gereed om te sterf, maar hy is nie gereed om te werk nie. Is dit nie maar eintlik waar ons is nie. Ons is gereed om te sterf, maar nie om te werk nie. Ons glo en vertrou in die Here vir ons verlossing, maar ons is nie werklik bereid om ons lewens te in te rig vir die Here nie.

Ons sien dan weer die ironie met die matrose wat reg optree, maar Jona nie. Die matrose besluit dat hulle eers gaan probeer om te roei om die vasteland te bereik, eerder as wat hulle Jona sal doodmaak. Hulle kry dit egter nie reg nie.  Hulle bid dan tot die Here: “Ag, Here, moet ons tog nie laat vergaan oor hierdie man nie. Moenie dat ons iemand onskuldig doodmaak nie. U is die Here, U doen wat U wil.”  Die matrose slaan hier die spyker op die kop. Hulle besef dat dit die Here is wat werklik in beheer is, nie die mens nie. Die matrose gooi dan vir Jona oorboord en die storm het bedaar. Wat werklik merkwaardig is, is dat ons sien hoe die Here hierdie geleentheid gebruik om die matrose te laat bekeer. Die matrose het werklik die almag van die Here besef. Daar staan dat hulle het Hom begin vrees, offers vir Hom gebring en vir Hom geloftes afgelê.

Die Here het hierdie situasie gebruik om die matrose tot bekering te bring, alhoewel Jona nie volkome tot bekering gekom het nie. Die Here slaan gereeld reguit houe met baie krom stokke. Die verhaal van Jona vervolg natuurlik hierna, waar die Here ʼn groot vis stuur om Hom in te sluk. Ons gaan DV volgende keer daarna kyk.

Slot

Broers en susters, in vanoggend se teksgedeelte het ons gesien hoe die Here vir Jona roep om sy Woord te gaan verkondig aan mense wie Jona dink nie die genade van die Here werd is nie. Hy het daarom probeer om weg te vlug van die Here af.

Dit vraag is dan of ons eintlik maar net soos Jona is. Gereed om te sterf, maar nie gereed om te werk nie. Ons verstaan nie werklik hoe genade werk nie. Die Here het aan ons genade bewys en wil ons nou gebruik om sy genade aan ander te bedien.

Amen.