Jona 1:17-2:10

Teksgedeelte: Jona 1:17-2:10

Fokusvers: v6

Tema: Die Here skenk verlossing wat lei tot ons bekering

Hoofpunt 1: Die Here skenk verlossing

Hoofpunt 2: Die Here skenk verlossing wat lei tot ons bekering

Inleiding

Vandag se teksgedeelte is vir feitlik almal van ons baie bekend. Naas Dawid en Goliat, is die verhaal van Jona en die vis seker een van die bekendste Bybelverhale. Selfs ongelowiges ken die verhale. Ons ken amper almal die gebeure van die verhaal, die vraag is of ons die boodskap van die verhaal ken.

Hoofpunt 1: Die Here skenk verlossing

Ons het gedurende die vorige preek in die reeks oor Jona gesien hoe die Here vir Jona geroep het om te gaan profeteer teen die groot stad Nineve. Jona wou dit egter nie doen nie. Ons het toe al verwys na die laaste hoofstuk van die boek Jona, waar hy vir die Here sê dat hy nie teen hulle wil profeteer nie, want hy weet as hy dit doen, gee hy vir die stad geleentheid om te bekeer. Hy weet ook dat, indien hulle bekeer, God hulle sal vergewe.

Jona wil nie hê dat God hulle moet vergewe nie. Hy dink verlossing is net vir hom en sy mense. Hy dink die stad Nineve verdien nie verlossing nie, hulle is te sondig. So ʼn growwe sondige stad soos Nineve verdien nie verlossing nie. Hy verstaan dus nie genade nie. Genade is onverdiende guns. Indien die stad van Nineve, of Jona, dit self verdien het, dan was dit nie genade nie.

Baiekeer is ons ook soos Jona. Ons wil nie gehoorsaam wees aan die roeping van die Here nie. Ons wil nie die Here se woord verkondig nie. Ons verstaan net soos Jona nie genade nie. Ons dink verlossing is net vir die “goeie mense”, dit is vir my en vir mense soos ek. Dit is nie vir die sondige mense van Nineve nie. Ons verdien verlossing, want ons is goeie mense. Dit is egter die probleem – ons is nie goeie mense nie. Niemand is uit hulle eie ʼn goeie mens nie. Niemand verdien die verlossing nie. Dit kom alles uit genade uit. Dit is uit genade wat ons gered word en indien Nineve gered sou word, sou dit ook uit genade uit wees.

Jona verstaan egter nie genade nie en daarom vlug hy weg van die Here se roeping af. Ons het laas gesien hoe hy op ʼn boot geklim het na Tarsis toe, in die teenoorgestelde rigting in van Nineve af. Die Here stuur egter ʼn storm om vir Jona terug te roep. Hy stuur ʼn storm om Jona te bekeer. Nadat Jona oorboord gegooi is, het die storm bedaar. Die wonderlike is dat ons sien dat die matrose van die skip waarop Jona was, tot bekering gekom het deur hierdie gebeure. Hulle het besef dat God almagtig is. Hy kan ʼn storm stuur en dit laat bedaar, want Hy is volkome in beheer.

Ons is dan nou by die wonderwerk van vandag se teksgedeelte. Die Here stuur ʼn groot vis om vir Jona in te sluk. Baie mense sê van die staanspoor af dat dit ʼn walvis was. Dit is waarskynlik so, maar die teksgedeelte self sê vir interessantheid net dat dit ʼn baie groot vis was. Ons lees dan dat Jona vir drie dae en drie nagte in die vis se maag was. Die vis het toe vir Jona op die droë land uit gespoeg. Broers en susters, baie mense haak dan hier vas en sê dat dit nie moontlik is nie. Mense sal verwys na gebeure in die verlede waar iemand anders deur ʼn walvis ingesluk is en dit oorleef het, of hulle sal verwys na matrose wat gereeld lewendige seekatte in walvisse se mae vind. Dit maak egter nie saak nie.  

Hierdie was ʼn bonatuurlike wonderwerk. Net soos die wonderwerk van die Here wat die storm stuur en dit laat bedaar, waarvan ons laas keer gelees het, net soos die ander wonderwerke wat die Here doen, is dit nie op ʼn natuurlike manier moontlik nie. Daarom is dit ʼn bonatuurlike wonderwerk wat die Here in sy almag doen. Die Here het daardie groot vis gestuur om met Jona te werk en ook om met ons te werk.

Toe Jona in die vis se maag was, het hy tot die Here gebid. Sy gebed is in die vorm van ʼn lied of van ʼn psalm. In die eerste gedeelte van die gebed, tot vers 6, besef Jona werklik sy sonde en ellende. In die gedeelte daarna, tot die einde van die gebed in vers 9, besef Jona sy verlossing. Hy sê selfs aan die begin van vers 9 dat hy hom nou bekeer het. Hy gaan nou tot die Here ʼn offer bring en aan Hom gehoorsaam wees.

Ons gaan nou eers kyk na die eerste deel van sy gebed vanaf vers 2 tot die eerste deel van vers 6:

Jona het gesê: “In my nood het ek tot die Here geroep, en Hy het my gebed verhoor. Diep in die doderyk het ek hulp gevra, en U, Here, het my gehoor. U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan. Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou. Die waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om my kop gedraai. Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit.”

Wat mooi is, is dat Jona dadelik in sy nood tot die Here roep. Hy weet ook met sekerheid dat die Here sy gebed sal verhoor. Jona was ongehoorsaam aan die Here, maar tog het die Here aan hom geloof geskenk deur die Heilige Gees en in sy nood reageer hy vanuit geloof. Wat dan baie merkwaardig is, is dat Jona uit die staanspoor die binnekant van die vis se maag vergelyk met die doderyk. Hy sê met ander woorde sy omstandighede is vir hom so erg soos die dood. Hierna verduidelik Jona dat hy weet dit is die Here wat hom in hierdie omstandighede geplaas het. “U het my in die diepte ingegooi, u het golf na golf oor my laat gaan,” soos ons ook Psalm 42 lees. Broers en susters , dit is nie die Here wat die slegte doen nie. Die Here is nie die bron van die kwaad nie. Hy is egter die een wat in sy almag alles laat gebeur en Jona besef dit. Hy besef dit is die Here wat hom in hierdie haglike omstandighede geplaas het.

In hierdie spesifieke geval het die Here dit so bepaal dat Jona in ʼn omstandighede is wat vir hom so sleg is soos die dood en die Here het dit so bepaal om vir Jona terug te roep op die regte pad. Hy het dit so bepaal sodat Jona van sy sondes sou bekeer en gehoorsaam sou wees aan Hom.

Jona se gebed kom dan tot ʼn omwenteling in vers 6. Hy begin sing van die verlossing wat Hy het in die Here. Hy besef hy is deur die Here gered, nie net van sy omstandighede nie, maar ook van sy ewige sonde. Hy besef hy moet nie op nuttelose afgode vertrou nie, maar net op die Here, want daar is ware verlossing.

“Maar U, Here my God, het my van die dood gered. Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink, en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel. Dié wat op nuttelose afgode vertrou, verlaat Hom wat liefde aan hulle betoon.”

Hoofpunt 2: Die Here skenk verlossing wat lei tot ons bekering

Broers en susters, soos wat die Here hier met Jona gewerk het, werk Hy ook met elke gelowige. Die Here stuur nie noodwendig ʼn groot vis om ons elkeen in te sluk nie, maar Hy bring ons tot ʼn besef van ons sonde en van ons verlossing. Hy doen dit deur die werk van die Heilige Gees in ons harte en Hy doen dit deur ʼn sameloop van gebeure. Gereeld is daardie gebeure baie onaangenaam, dit was nie vir Jona lekker in die vis se maag nie. Inteendeel, hy het dit met die dood vergelyk. Jona het in die vis se maag agtergekom dat al wat hy oor het, is die Here. Hy is totaal magteloos in sy omstandighede. Dit is net die Here wat hom kan verlos.

Jona het dit besef weens sy swaar omstandighede, maar die bogenoemde is egter altyd waar. Ons is magteloos in alle omstandighede. Ons verdien almal uit die staanspoor die ewige dood weens ons sonde. Dit is net die Here wat ons genadig kan wees en ons kan red. As ons dan werklik besef hoe groot ons sonde is, dan kom ons ook werklik tot ʼn besef van hoe groot ons verlossing is. Die Here stuur die vis en die Here verlos vir Jona van die vis, maar dit gaan nie hier oor die vis nie. Dit gaan oor Jona se bekering. Dit gaan oor Jona wat nie meer vir die Here wegvlug nie, maar nou gehoorsaam gaan wees aan die Here. Ons reaksie op ons verlossing moet een wees van dankbaarheid en gehoorsaamheid. Soos Jona sê in vers 9:

“Terwyl ek ’n loflied sing, wil ek aan U ’n offer bring; wat ek beloof het, sal ek doen. Hulp kom net van die Here af.”

Sonder die Here is ons verlore. As die Here nie ingegryp het nie, sou ons vyande van Hom gebly het. Ons sou dan ook die regverdige straf van ʼn vyand van God gekry het. Dit is die ewige hel. Iets wat baie besonders is van Jona, is dat hy vooruit wys na Christus toe. Christus vergelyk homself met Jona in Mat. 12:38-41

Party van die skrifgeleerdes en die Fariseërs sê toe vir Hom: “Meneer, ons wil ’n wonderteken van u sien.” Maar Hy antwoord hulle: “’n Slegte en afvallige geslag vra ’n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees. Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!”

Jesus het na die boek Jona verwys om waarhede oor sy eie boodskap en sending te kommunikeer. Hy het gepraat van die “teken van die profeet Jona” nie net met verwysing na die drie dae en drie nagte wat Jona in die vis was nie, maar ook met betrekking tot die doeltreffendheid van Jona se prediking. Met ander woorde, Jesus se prediking gaan ook mense radikaal tot bekering bring.

Ons gaan later lees hoe die stad Nineve sonder ʼn bonatuurlike teken op die prediking van Jona gereageer en bekeer het. Jesus sê daarom vir die skrifgeleerdes en die Fariseërs dat hulle slegter is as Nineve, want hulle het ʼn teken nodig. Jesus se egter dat Hy vir hulle ʼn teken gaan gee. Dit is die teken van Jona. Jona was drie dae en drie nagte in die vis se maag. Christus was drie dae en drie nagte in die graf. Jona het die doderyk spreekwoordelik ervaar, Christus het die doderyk letterlik ervaar. Jona moes dit deurgaan sodat hy tot bekering kon kom, Christus het dit deurgegaan sodat ons almal tot bekering kon kom.

Ons moet net mooi besef dat Jesus nie vir die drie dae en drie nagte in die hel was nie. Hy het aan die kruis gesê “Dit is volbring”. Met ander woorde, Jesus het al die straf wat ons verdien het, reeds gedra. Hy het die volkome offer betaal. Na sy dood was Jesus by sy Vader. Hy was egter fisies in die graf gewees vir drie dae en drie nagte en dit het gedien as die teken van Jona.

Die vraag is nou, wat leer ons uit hierdie geskiedenis? Ons sien in hierdie verhaal hoe die Here met Jona gewerk het om hom terug op die regte pad te lei. Ons gaan later in die laaste hoofstuk sien dat hy nie volkome bekeer het nie, maar die Here lei hom duidelik weer op die regte pad. Die Here gebruik bitter swaar omstandighede om dit in Jona se lewe te doen. Hy stuur die vis om vir Jona in te sluk. Jona beskryf hierdie omstandighede as die doderyk. Jona besef in die vis se maag sy sonde en ellende. Hy besef dat hy volkome afhanklik is van die Here. Hy is totaal magteloos. Hy vertrou tog deur geloof, wat net van die Heilige Gees af kom, dat die Here hom gaan verlos en hy reageer in dankbaarheid en kom tot bekering.

Die Here werk ook so met ons. Deur ʼn sameloop van gebeure wat nie altyd vir ons sin maak nie, en die werk van die Heilige Gees in ons harte, kom ons ook tot ʼn besef van ons sonde. Ons kom ook tot ʼn besef van ons afhanklikheid van die Here. Soos Jona in die laaste vers sê: Hulp kom net van die Here af. Ons moet dan reageer deur ons te bekeer en in dankbaarheid gehoorsaam te wees. Ons moet gehoorsaam wees aan die roeping wat die Here vir ons gee. In die boek van Jona is die oproep dat ons sy Woord moet gaan verkondig, ook aan mense wat ons dink nie die genade werd is nie. Niemand is die genade werd nie, anders was dit nie genade nie, maar verdienste.

Slot

Broers en susters, ons het vanoggend ʼn baie bekende teksgedeelte gelees. Dit is ʼn teksgedeelte wat feitlik almal van ons ken. Die vraag wat ons egter vir onsself gevra het, is: ken ons die boodskap van die verhaal? Die Here skenk verlossing wat lei tot ons bekering.

Amen