2 Kor. 5: 14-21

Teksgedeelte: 2 Kor. 5: 14-21

Fokusvers: 2 Kor. 5: 21

Belydenis: HK So. 15&16 V&A 37-44

Tema: Christus het vir ons gesterf sodat ons vir Hom kan lewe.

Hoofpunt 1: Christus het vir ons gesterf.

Hoofpunt 2: Ons moet vir Christus lewe.

Inleiding

Broers en susters, volgende week vier ons Paasfees. Dit is wanneer ons die kerngebeurtenis van ons geloof herdenk. Dit is ons Here Jesus se sterwe en opstanding. Die vraag is of ons altyd die wonder van hierdie fees werklik besef. Toe ek ʼn jong kind was, het ek meer uitgesien na Kersfees as wat ek uitgesien het na Paasfees. Dit is waarskynlik omdat ek uitgesien het na die presente van Kersfees en nie werklik verstaan het waaroor alles gaan nie, alhoewel my ouers dit aan my verduidelik het.

Die punt is egter, broers en susters, besef ons wat ons volgende week gaan vier? Besef ons die grootheid daarvan? Dit is die punt waarom ons geloof draai. Dit is die rede hoekom ons hier is. Dit is die evangelie. Vrydag wat kom, herdenk ons Jesus se dood en Sondag herdenk ons sy opstanding!

Ons het vroeër die jaar met ʼn reeks begin waar ons kyk na die Apostoliese Geloofsbelydenis vanuit die Heidelbergse Kategismus. Ons het die reeks normaal gevolg en behandel dan juis vandag die Sondagafdelings wat handel oor Jesus se sterwe en lyding. Dit is wonderlik hoe die Here werk. Ek het dit nie so beplan nie. Ons behandel nou, die Sondag voor Goeie Vrydag, alles wat ons bely oor Jesus se lyding en sterwe. Ons gaan dan DV volgende Sondag voort met die reeks waar die Sondagafdelings wat hierop volg, handel oor Jesus se opstanding. Die Here werk op wonderlike maniere. 

Hoofpunt 1: Christus het vir ons gesterf

Soos reeds genoem het, staan ons vandag stil by Sondae 15 en 16, wat handel oor Jesus se sterwe en lyding. Ons kyk vandag na die woorde in die Apostoliese Geloofsbelydenis “Gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterwe het en begrawe is. Hy het die angste van die hel ondergaan”. Dit handel oor dit wat Jesus moes doen sodat ons weer met God versoen kon word. Dit is juis waaroor ons teksgedeelte vandag ook handel. Paulus verduidelik in vandag se teksgedeelte hoe hy as apostel die taak het om die versoening tussen God en mens aan ander te bedien.

Die breër konteks van ons teksgedeelte is dat Paulus besig is om sy apostelskap te verdedig. Dit mag dalk vir ons vreemd of hoogmoedig klink. Hoekom gee Paulus om oor wat die mense van hom dink? Die waarheid is dat hy nie omgee nie. Hy gee nie om oor wat mense oor hom as Paulus dink nie, hy gee om oor wat hulle van sy boodskap dink. Dit is noodsaaklik dat hulle weet dat hy ʼn apostel van Jesus is, sodat hulle kan weet dat sy boodskap van Jesus af kom. Dit is sodat hulle sy boodskap kan glo.

ʼn Mens sou dink dat die wêreld hierdie boodskap sou aanvaar. Dit is die mees troosvolle boodskap ooit. God versoen homself met ons. Om dit te doen gee Hy vir ons sy seun. God versoen homself met jou! Hy het sy seun gegee vir jou!

As deel daarvan wys hy hoe Christus gely het sodat dit kan gebeur. Ons sien dit so mooi raak in ons fokusvers:

“Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.”

In die oorspronklike taal is die woorde “Soos ʼn sondaar vir ons behandel” meer opvallend. Hier staan, meer letterlik vertaal soos in die 1953-vertaling, dat God Jesus “sonde vir ons gemaak” het. Dit is werklik verstommend. Hy wat volkome onskuldig was, is behandel asof Hy self sonde was. God haat die sonde. Hy het die lyding verduur wat die regverdige straf op die sonde is.

Wanneer ons elke Sondag bely dat Jesus “gely” het, wat is ons besig om te sê? Dit is die eerste vraag wat Sondag 15 vra. As Christene het ons hopelik gereeld te doen met die evangelie en as deel van die evangelie weet ons “Jesus het die straf vir my sonde gedra.” Die vraag is of ons besef wat daardie straf behels. Besef ons die lyding wat Hy vir ons verduur het?

In die antwoord op die vraag sien ons dat Hy deur die loop van sy hele lewe gely het. Hierdie lyding het egter sy klimaks aan die kruis bereik. Hy het liggaamlik vir ons gely. Dit is egter nie al nie, Hy het ook geestelik vir ons gely. Dit is maklik om net vas te kyk in die kruisiging self. Kruisiging was ʼn absolute grusame en haglike manier om dood te gaan. Dit is waarskynlik die rofste marteldood wat daar is, maar dit was waarskynlik niks in vergelyking met die toorn van God wat Jesus geestelik gedra het nie.

Daar word ook duidelik iets uitgebeeld deur Jesus wat aan die kruis gesterf het. Die kruis is ʼn teken van God se vervloeking, soos ons bely in vraag en antwoord 39. Ons lees hiervan in Gal. 3:13:

Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ’n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan ’n hout opgehang is.”

Die straf wat Jesus gedra het, is duidelik meer as net ʼn aardse marteldood. Hy wat alles geskep het, Hy wat almagtig is, Hy wat in ewigheid bestaan, dink net hoe erg sy straf moet wees as jy teen Hom ingaan. Dit is die straf van die ewige dood. Dit is die straf van die hel. Daarom bely ons elke Sondag, soos dit verduidelik word in V&A 44, dat Hy die angste van die hel ondergaan het. Jesus het ʼn ewige straf in ʼn tydelike tyd gedra. Hy het ook nie net die straf van een mens gedra nie, maar van al die kinders van God. Ons kan nie die gewig van daardie straf indink nie. Dit is verstommend.

Soos ons bely in vraag 38, het Pontius Pilatus hom ook onskuldig verklaar. Selfs ʼn sondige menslike aardse regter kon sien Jesus is volkome onskuldig. Tog het God dit so bewerk dat Hy die straf vir ons gedra het. Hy het hierdie straf gedra sodat ons met God versoen kon word. As ons weer kyk na ons teksgedeelte, verduidelik Paulus aan die gemeente van Korinte dat sy taak as apostel is dat hy die versoening tussen God en sondaarmense moet bedien.

Broers en susters, ons is nie soos Paulus apostels van Jesus nie, maar dit is ook ons taak as kinders van God. Ons moet aan mense die blye boodskap bring dat God homself met ons sondaarmense versoen. Ons moet aan mense die verstommende feit verduidelik dat ons skuld betaal is, dat Jesus vir ons gely het sodat ons nie meer vyande van God is nie.

Dit gaan eintlik ons verstand te bowe. Hoekom sal God dit doen? Hoekom sal Hy, ons wat teen Hom gesondig het, ons wat teen Hom gelaster het, ons wat eintlik sy ewige straf en toorn verdien, ons met Hom versoen? Nie net dit nie, Hy moet sy enigste seun stuur om die straf wat ons eintlik verdien het, te dra. Hy doen dit, want Hy is ʼn God van liefde, genade en vergewing. Ons as mense kan nie hierdie tipe liefde en genade verstaan nie. Dit is te groot vir ons. Daarom is die evangelie, soos genoem in 1 Korintiërs, vir die wêreld dwaasheid en vir die Jood ʼn skande.

God is genadig, maar Hy is ook regverdig. Die enigste manier hoe Hy beide genadig en regverdig kan wees, is juis deur sy seun te stuur. Sy regverdigheid bepaal dat die sonde gestraf moet word. Die gevolg van die sonde is die dood. Die skuld moet betaal word. Daarom, soos ons bely in V&A 40&41, was dit noodsaaklik dat Jesus tot die dood toe verneder is en begrawe is. Hy het letterlik vir ons gesterwe omdat Hy vir ons lief is.

Hoofpunt 2: Ons moet vir Christus lewe.

Paulus verduidelik daarom in die eerste vers wat ons gelees het, vers 14, dat “die liefde van Jesus ons dring”. Dit is hoekom hy die versoening bedien. Hy sê dit is as gevolg van die liefde van Christus dat hy doen wat hy doen. Die Here het hom geroep as apostel om die versoening te bedien en dit is die liefde van Christus wat hom dring. Dit is waar hy sy krag kry.

Broers en susters, wanneer ons die Here dien, is dit ook waar ons ons krag moet kry. Omdat Jesus vir my lief is, omdat Hy vir my gesterf het, dien ek Hom. As ons dit gaan doen vir enige ander rede, gaan dit nie hou nie. Indien ons dit doen vir onsself, of omdat dit van my verwag word, gaan ons êrens ophou om vir Jesus te dien. Indien ons egter besef dat ons dit doen omdat Jesus vir ons lief is, dan gaan dit hou.

Paulus verduidelik dan in die volgende verse, vers 15 tot 17, hoe hierdie liefde hom dring. Dit word ook in V&A 43 mooi verduidelik. Jesus Het vir ons gesterwe en daarom moet ons vir Hom lewe. Ons lewe vir Hom as nuwe mense omdat Hy ons nuwe mense gemaak het.

“En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.”

“Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”

V&A 43 stel dit baie mooi. In Christus is ons sondige natuur saam met Hom gekruisig en dood. Die gevolg is dat ons sondige begeertes nie meer ons baas mag wees nie. Ons kan onsself nou met die krag van die Heilige Gees as ʼn lewende offer vir God gee. Die ou mens is nou dood. Ons moet nou as die nuwe mens lewe. As ʼn gelowige moet jou lewe anders lyk as die van die mense van die wêreld. Dit is juis omdat jy nie vir jouself of vir iets anders nie lewe nie, maar jy lewe vir Christus.

Baie mense, selfs mense wat hulleself Christene noem, val in die strik om eerder vir iets anders te lewe. As jy hulle vra, sal hulle dalk sê dat hulle vir Christus lewe, maar Hy is duidelik nie hulle eerste prioriteit nie. Baie mense lewe vir hulle beroepe, ander vir hulle eggenote, ander vir hulle kinders, ander letterlik vir hulleself. Nie dat die bogenoemde dinge nie prioriteit moet hê in jou lewe nie, dit moet net nie jou hoogste prioriteit wees nie. Die wonderlike ding is dat, indien Christus jou eerste prioriteit is, jy al die bogenoemde prioriteite beter gaan aanpak. As jy lewe vir Christus, gaan jy ʼn beter man wees vir jou vrou, of ʼn beter vrou wees vir jou man. Jy gaan ʼn beter ouer wees vir jou kind, of ʼn beter kind wees vir jou ouers. Jy gaan jou daaglikse werk op ʼn gesonder en ʼn beter manier aanpak. Jy gaan beter vir jouself sorg.

Broers en susters. Jesus het vir ons gesterwe, daarom moet ons vir Hom lewe. Ons moenie vir iets anders lewe nie.

Slot

In hierdie Paastyd wat nou kom, moet ons opnuut weer herinner word aan die dood en opstanding van ons Here Jesus Christus. Ons moet opnuut herinner word dat Hy vir ons gely het. Hy was volkome onskuldig, tog het Hy gesterwe en is begrawe. Hy het helse pyn en smart ervaar. Hy het dit vir ons gedoen. Hy het vir ons gesterwe en nou moet ons as nuwe mense vir Hom lewe.

Amen