Teksgedeelte: Kol. 3:1-17
Fokusgedeelte: Kol 3:1
Tema: Omdat God ons in Christus opgewek het, moet ons soek na die dinge daarbo.
Hoofpunt 1: God het ons in Christus opgewek.
Hoofpunt 2: Ons moet soek na die dinge daarbo.
Inleiding
Broers en susters, wat is werklik ons doel hier op aarde? Waarheen is ons op pad? Of anders gestel, waarvoor mik ons? Wat soek ons? Wat begeer ons? Wat is vir ons die belangrikste?
Hoofpunt 1: God het ons in Christus opgewek
Ons het in ʼn vorige preek uit die boek Kolossense gekyk na hoe Paulus in hoofstuk 2 vers 6 en 7 verduidelik dat ons in verbondenheid met Christus moet lewe. Ons het gelees van die groot wonder dat die almagtige God van die heelal ons met Homself versoen het deur sy eniggebore seun te stuur. Ons wat eers sondaars en vyande van God was, is nou kinders van God. Sy seun het gesterf vir ons sondes. Hy het die straf vir ons sondes gedra en Hy het opgestaan uit die dood en opgevaar na die Hemel. Hy het die dood oorwin.
Ons is met Hom verenig deur die Heilige Gees. Ons sondige ou mens is saam met Hom gekruisig en ons is nou saam met Hom opgewek. Ons moet nou as hierdie nuwe mense lewe. Die vraag is nou, hoe moet ons dit doen?
In ons teksgedeelte vandag openbaar Paulus aan ons wat dit beteken om in verbondenheid met Christus te lewe en hy verduidelik hoe ons dit moet doen. Hy sê in die heel eerste plek moet ons nou begin mik na die dinge daarbo. Soos ons in ons fokusvers lees: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.” Ons moet vir die regte ding mik. Ons moet ons lewens inrig sodat ons dít wat werklik belangrik is, najaag. Ons visier moet op die hemel wees. Ons moet eers die koninkryk van die hemel soek.
In hoofstuk 2 vers 8 tot 23 het Paulus die dinge waarop ons nie moet fokus nie, verduidelik. Hy het vir die gemeente van Kolosse verduidelik dat hulle nie vir die dwaalleringe wat daar in hulle midde was, moet val nie. Hulle moet vashou aan hulle verbondenheid met Christus. Hulle moenie fokus op die oorlewering van mense, tradisies, of die wettiese godsdiens waar jou werke jou red nie. Hulle moet ook nie fokus op sogenaamde ander magte en kragte wat hulle uit vrees uit moet tevrede hou nie. Hulle moet fokus op een ding. Hulle moet fokus op die dinge daarbo. Hulle moet lewe soos mense wat verbonde is aan Christus.
Broers en susters, die dinge van hierdie wêreld moenie meer die belangrikste in ons lewens wees nie. Ons moenie soek na die dinge hieronder nie. Ons moet soek na die dinge daarbo. Ons kan so maklik verval daarin om net te fokus op aardse dinge. Ons fokus op onsself, ons mense en ons dinge. Al ons tyd en energie gaan daaroor om besittings, aansien en mag hier op aarde bymekaar te maak.
Jesus sê in Mat. 6:19-21: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” Die vraag vanoggend is, waar is jou hart? Is dit by die dinge van hierdie wêreld wat vergaan, of is dit by die dinge van die hemel wat hou tot in ewigheid?
Broers en susters, dit is een van die groot wonders en voorregte daarvan om ʼn Christen te wees. Die dinge wat vir ons belangrik is, sal ons nie teleurstel nie. Mot en roes sal dit nie verniel nie. Die verganklikheid van hierdie wêreld tas dit nie aan nie. As die Here jou skat is, sal jy altyd in Hom tevrede wees. Dit wat ons vir die Here en in die naam van die Here doen, het ewigheidswaarde. Selfs die magtigste en rykste konings van hierdie wêreld gaan dood en sterf. Selfs die magtigste koninkryke kom tot ʼn einde. Die koninkryk van die Here sal egter altyd vas bly staan.
Hoofpunt 2: Ons moet soek na die dinge daarbo
Paulus verduidelik dan in die hieropvolgende verse (v5-v17) prakties hoe ons moet soek na die dinge daarbo. Hy sê dit is deur twee dinge te doen. In die eerste plek moet ons die dinge van die ou mens afsterf (v5-v9) en ons moet as die nuwe mens begin lewe (v10-v17).
Dit is die aktiewe “ophou doen van die slegte” en “begin doen van die goeie”. Ons kan hierdie nie sonder die Heilige Gees regkry nie. Dit is die Heilige Gees wat ons harte verander sodat ons die goeie wil doen en die slegte nie meer wil doen nie. Dit is die Heilige Gees wat deur die Woord van God werk sodat ons weet wat die goeie en die slegte is. Dit is natuurlik die Heilige Gees wat ons verander en vir ons die krag gee om dit te doen, maar broers en susters, dit is iets wat ons aktief moet doen. Ons kan nie agteroor sit en hoop die Heilige Gees “vat” ons nie. Ons moet opstaan. Dit is iets wat ons moet nastreef. Ons moet ons visier sit op die dinge daarbo. Ons moet daarom die Woord van die Here ondersoek en sy wil leer ken, sodat ons dit kan doen.
In ons teksgedeelte vandag gee Paulus ʼn paar praktiese dinge wat ons moet ophou doen en begin doen. Ons kyk dan eers na die dinge wat ons moet afsterf. Ons lees van v5-v9:
“Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek.”
Met ander woorde, ons moenie val in seksuele sonde nie. Ons moet dit nie fisies doen nie, maar ons moet dit ook nie in ons harte doen nie. Jesus sê in die bergpreek in Mat. 5:28:
“Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”
In vandag se tyd is dit al hoe meer uitdagend, want dit is vervuil van alle vorme van vermaak. Die internet maak dit te maklik. Dit is iets waarvan ons geheel en al moet wegvlug.
Verder word ons gewaarsku teen gierigheid. Dit is ʼn afgod. Dit is baie maklik vir ons om rykdom en besittings ons afgode te maak. Die tasbare dinge van die wêreld word vir ons baie belangriker as God. Ons lewe in ʼn verbruikers-gesentreerde wêreld. Alles gaan net oor geld en goed.
Verder loop die volgende paar dinge hand-aan-hand saam. Woede, haat, nyd en gevloek. Dit is wanneer jy die slegste vir iemand anders begeer, sê en doen. Baie van ons mag dalk dink dat ons darem nie maklik hierdie dinge doen nie. Ons mag dalk dink: ek het op skool laas iemand geslaan. Dit gaan egter ook oor wat jy in jou hart voel. As jy iemand in jou hart haat, dan het jy ook hierdie sonde gepleeg.
Jesus sê in dieselfde gedeelte in die bergpreek in Mat. 5:21-22:
“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur.”
Laastens moet ons ook nie vir mekaar lieg nie. Ons moet die waarheid praat. Die waarheid is God se Woord. Die waarheid is dit wat in ooreenstemming is met die werklikheid. Die leuen is die teenoorgestelde daarvan. Die satan word nie verniet die vader van die leuen genoem nie. Die mag van ons tonge moet ons nie onderskat nie. Valsheid en vuil taal breek ander af.
Noudat ons weet wat ons moet ophou doen, kom ons kyk nou na wat ons moet begin doen. Ons lees hiervan van verse 10-17:
“en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.
Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”
Die eerste mooi ding wat ons in vers 10 moet raaksien, is dat ons al hoe meer vernuwe moet word na die beeld van die skepper. Dit beteken dit is ʼn proses. Dit is iets wat al hoe meer en meer gebeur. Dit is nie iets wat na een dag net dadelik so is nie. Ons moet elke dag probeer om op te hou om die slegte te doen en begin om die goeie te doen. Dit is ʼn deurlopende groeiproses.
Die volgende ding wat beklemtoon word, is ons eenheid as kerk van die Here. Dit is baie interessant, in hierdie geval is die eerste ding wat genoem word wanneer dit handel oor hoe om te lewe soos iemand wat deur Christus opgewek is, om saam as ʼn eenheid te lewe as die kerk van die Here. Dit is die eerste ding wat genoem word. Dit maak sin. God het ons deur Christus met homself verenig, dit beteken ons is ook verenig met mekaar. Besef ons dit altyd? Dit is iets wat die moderne kerk glad nie regkry nie. Ons is nie eensgesind nie. Trots en eiewilligheid is ʼn groot deel van die ondergang van die kerk vandag. Ons is nie bereid om in liefde en verdraagsaamheid saam te werk nie.
Daarom moet ons eerder goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Ons moet geduldig wees en mekaar vergewe. Ons moet in liefde saamgebind wees.
Ons moet egter hierdie liefde en verdraagsaamheid reg verstaan. Ons moet dit wees teenoor mekaar, maar dit beteken nie dat ons mekaar nie vermaan nie. Net nadat Paulus gesê het ons moet mekaar verdra, sê hy ons moet mekaar vermaan. Ons moet mekaar onderrig en leer. Party mense is liewer vir hulle vriendskap met iemand as wat hulle werklik lief is vir hulle vriend. Om iemand in liefde tereg te wys, is baie moeilik, maar gereeld is dit die liefdevolste ding om te doen. Jy is lief vir jou medebroer of -suster, jy haat tereg die sonde en daarom moet jy hulle vermaan sodat hulle nie meer sonde doen nie. Die liefdevolle verhouding tussen gelowiges moet van so ʼn aard wees dat hulle openlik en eerlik met mekaar kan praat en mekaar kan verdra in hulle vermaninge.
Laastens word daar genoem dat ons saam tot lof van die Here moet sing. Sing is een van die min dinge wat ʼn mens kan doen waar jou hele menswees so aktief betrokke is. Jou lyf, verstand en gees is in harmonie betrokke by die verheerliking van die Here. Is ons gesindheid werklik reg teenoor lofsang? Nie almal het ewe veel musikale gawes en talente nie, daar is niks fout daarmee nie. Dit is egter meer as die moeite werd om jou beste te gee en te probeer. Dit is die moeite werd om te leer hoe om te sing tot die beste van jou vermoë vir die Here. Dit is die moeite werd om soveel psalms, skrifberymings en liedere vir die Here te leer. Dit is iets wat deel moet word van wie ons is. Ons moet die Here loof.
Broers en susters, as ons die bogenoemde doen, as ons werklik lewe in liefde vir God en vir ons naaste, dan sal ons soos die laaste vers sê wat ons ook al sê of doen, alles doen in die naam van die Here en God dank deur Hom.
Slot
Vandag is ons weer daartoe opgeroep om vir onsself af te vra: waarvoor mik ons in die lewe? Waarna strewe ons? Ons is opnuut daaraan herinner dat God ons in Christus opgewek het en daarom moet ons soek na die dinge daarbo. Ons doen dit deur aktief op te hou om die slegte te doen en begin om die goeie te doen, alles tot eer van God.
Amen.