Teksgedeelte: Johannes 14: 1-31
Fokusgedeelte: Johannes 14: 6
Tema: Jesus is die weg, die waarheid en die lewe. Niemand gaan na die Vader toe behalwe deur Hom nie.
Hoofpunt 1: Jesus is die weg, die waarheid en die lewe.
Hoofpunt 2: Niemand gaan na die Vader toe behalwe deur Hom nie.
Inleiding
Broers en susters, plaas uself vir ʼn oomblik in die posisie van die dissipels. Hulle is in die bokamer saam met Jesus. Hulle vier saam die pasga en sing saam psalms. Dit is eintlik veronderstel om ʼn wonderlike tyd te wees. Die nuus wat Jesus hulle meedeel, is egter vir hulle baie ontstellend.
In ons teksgedeelte sê Jesus vir hulle dat Hy hulle gaan verlaat. Hy gaan na sy Vader toe. Ander baie belangrike dinge het ook gebeur in hierdie bokamer. Jesus het gesê dat een van hulle Hom gaan verraai. Ons weet natuurlik dit is Judas Iskariot wat Hom sou verraai. Hy sê ook vir Petrus dat hy Hom gaan verloën. Hoe sou ons gevoel het? Jy het ʼn sekere verwagting van die messias. Waarskynlik het die dissipels gedink hy gaan ʼn groot militêre leier wees wat hulle van die Romeine gaan verlos. Hulle het dalk gedink Hy gaan by hulle bly en hulle gaan saam ʼn revolusie begin. Hulle gaan saam ‘n ommekeer bring vir die Jode. Jy het jou lewe opgegee om Hom te volg en Hy sê dan vir jou: “Ek gaan julle verlaat”. d
Jesus het al ʼn paar keer vantevore gepraat oor sy lyding wat kom. Dit lyk of die dissipels nie werklik verstaan het wat Jesus vir hulle sê nie. Ons sien dit in die vrae wat hulle vra. As ons eerlik met onsself sou wees, sou ons waarskynlik ook nie vir Jesus verstaan het nie. Hoe sou ons gevoel het as Jesus vir ons gesê het: “Ek gaan nou weg”?
Hoofpunt 1: Jesus is die weg, die waarheid en die lewe
In vandag se diens, op Hemelvaartdag, die dag wat Jesus opgevaar het na die hemel nadat hy uit die dood uit opgestaan het na sy kruisiging, gaan ons juis hierna kyk. Wat beteken dit dat Jesus ons “verlaat” het. Wat beteken dit vir ons dat Hy opgevaar het na die hemel?
Hier in die bokamer berei Jesus sy dissipels voor op die tyd wat kom. Hy weet dat Hy net hierna weggevoer en gekruisig sou word. Hy gebruik hierdie laaste paar oomblikke saam met sy dissipels om hulle sterk te maak vir die tyd wat kom. Nie net vir die kruisiging nie, maar ook vir die tyd daarna waar hulle deur die krag van die Heilige Gees die kerk sou stig. Waar hulle as apostels sou optree.
Jesus verduidelik vir hulle dat dit ʼn goeie ding is dat Hy hulle sou verlaat. Dit is iets wat hulle nie wil glo nie. Ons sou dit ook nie wou glo nie, maar Jesus se hemelvaart is ʼn wonderlike ding. Deur Jesus se hemelvaart kry ons deel aan soveel goeie dinge. Jesus bemoedig dan sy dissipels deur hulle te vertel van hierdie goeie dinge wat gaan gebeur wanneer Hy opvaar na die hemel toe.
Ons sien in die Heidelbergse Kategismus in Sondag 18 en 19 hoe al hierdie seëninge vir ons uit die Skrif uit saamgevat word. Die Heidelbergse Kategismus haal dan onder andere uit ons teksgedeelte van vandag ook aan.
Hierdie wonderlike dinge wat gebeur vir die kinders van God met Jesus se hemelvaart, wat vir ons saamgevat word in die Heidelbergse Kategismus, is die volgende:
- Die eerste is dat Hy nie verder weg van ons af is nie, maar eerder nader aan ons gekom het. Hy is deur die Heilige Gees steeds by ons.
- Hy tree nou vir ons in by die Vader. Hy hanteer ons saak by die Vader. Hy dien as ons middelaar. Dit is alleen deur Hom wat ons na die Vader toe kan gaan. Dit is die kern van ons teksgedeelte vandag.
- Hy sit aan die regterhand van die Vader. Dit beteken dat Hy ʼn ereplek inneem waarvandaan Hy regeer. Hy is nou die een wat heers oor hemel en aarde. Dit is ook vanuit hierdie posisie dat Hy ons beskerm.
- Hy het die Heilige Gees vir ons gestuur om ons by te staan, krag te gee, te troos en te lei. Die uitstorting van die Heilige Gees het eers na Jesus se hemelvaart gebeur.
Laastens maak die Heidelbergse Kategismus dan melding van die Here wat weer gaan kom om te oordeel oor die lewendes en die dooies. Dis ‘n wonderlike vooruitsig dat Jesus weer gaan kom om finaal die sonde te oorwin. Ons gaan egter nie vandag spesifiek daarop fokus nie.
Ons kyk dan nou na die eerste punt wat genoem is oor die goeie dinge wat gebeur het na die hemelvaart van Jesus. Jesus is nou steeds by ons deur die Gees. Dit een van die groot vrese wat die dissipels daar in die bokamer gehad het. As Jesus weggaan, dan los Hy ons hier alleen. Ons kan dalk nou nog so voel of dink, sonder dat ons dit agterkom. Jesus is in die hemel. Hy sit aan die regterhand van God. Dit is alles waar, maar dit kan ons laat voel Hy is nie by ons nie. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dit so mooi. Ons moet onthou dat Christus ware mens en ware God is. As mens is Hy nie meer op aarde nie, maar wat sy Godheid betref, gaan Hy nooit weer van ons af weg nie. Jesus se Godheid kan nie ingeperk word nie en is orals teenwoordig.
Jesus sê dit self vir die dissipels in ons teksgedeelte in vers 19 en 20:
“Nog net ’n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.”
Deur die Heilige Gees woon God in ons. Ons is nie alleen nie. Jesus se hemelvaart het Hom nie verder weg van ons af gevat nie, maar ons juis nader aan Hom gebring.
Hoofpunt 2: Niemand gaan na die Vader toe behalwe deur Hom nie.
Die volgende punt waarna ons dan gaan kyk, is dat Jesus deur sy hemelvaart vir ons toegang gee tot die Vader. Vers 2 en 3 van ons teksgedeelte is baie bekend:
In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.
Wanneer ons hierdie beeldspraak van Jesus lees, dan kan ʼn mens maklik dink dat Jesus letterlik vir ons ʼn plek in die hemel gaan bou om te bly. Asof daar nie vroeër woonplek vir ons was nie en Jesus het nou gegaan om vir ons plekke te bou. Dit is egter net beeldspraak van Jesus waar Hy verduidelik dat daar plek vir ons in die koninkryk van God is. Daar is plek vir ons in die hemel. Hy wat hierdie plek gaan “gereed maak”, beteken eerder dat Hy deur sy hemelvaart vir ons toegang gee tot die hemel. Hy gee daardeur vir ons toegang tot die Vader. Dit is alleen deur Hom wat ons na die Vader toe kan gaan. Dit is wat die hemel is. Die hemel is om in die volledige teenwoordigheid van God se goedheid en genade te wees. Dit is om by die Vader te wees.
Dit is die groot wonder van ons fokusvers. Jesus maak die “Ek is”-stelling. “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”. Jesus het Homself geopenbaar met “Ek is”. Dit is alles stellings waar Jesus homself as God openbaar. Dit is omdat God homself aan Moses in die brandende bos as “Ek is” geopenbaar het. Jesus is God wat homself as “Ek is” openbaar. Hierdie spesifieke “Ek is”-stelling is baie aangrypend, want dit dui baie duidelik op eksklusiwiteit. Die enigste manier om in die hemel te kom, is deur Jesus. Hy is nie net die rigtingaanwyser na die hemel toe nie. Hy is die weg na die hemel toe. Hy is die enigste pad. Dit is alleen deur geloof in Hom wat ʼn mens in die hemel kan uitkom.
Baie mense in ons tyd glo in ʼn tipe universalisme, waar alle mense van alle gelowe gered word. Dit maak nie saak in watter god jy glo nie. Die maak nie saak hoe jy glo nie. Daar is baie verskillende paaie na die bokant van die berg toe en almal gaan daar kom. Dit is egter nie volgens die Bybel waar nie. Dit is alleen deur Christus wat ons die ewige lewe kan kry.
Hy is ook die waarheid. Dit beteken daar is geen ander waarheid nie. Een van die kernkonsepte van post-modernisme – dit is die “filosofiese era” waarin die mensdom die laaste ruk gelewe het – is dat daar nie iets bestaan soos ʼn absolute waarheid nie. Volgens post-modernisme is alles relatief. Almal is reg solank jy nie openlik met iemand verskil nie. Hierdie filosofie werk nie goed saam met Christenskap nie. Dit is omdat ons as Christine glo in absolute waarheid. Daar is net een waarheid wat reg is en dit is die waarheid van Jesus Christus. Hy is die weg, die waarheid en die lewe. Buite Hom is daar net die dood.
Daar is ʼn baie belangrike rede vir hierdie eksklusiwiteit. Dit is net Jesus wat ons met die Vader kan versoen. Hy is die een wat ons saak by die Vader hanteer. Alle mense het gesondig. Almal staan skuldig voor die Vader. Ons almal verdien die hel. Hy is egter die een wat daar in die hemel ons saak stel. Hy is die een wat sê: “ Ek het reeds sy straf gedra. Ek maak hom ʼn nuwe mens”. Hy is die een wat ons skoon was en regverdig maak voor die Vader, sodat ons Hemel toe kan gaan. Sonder hom kry ons ons verdiende loon. Dit is die hel. Jesus is egter die een wat die pad na die hemel toe vir ons oopgemaak het.
Die volgende ding waarna ons dan kyk, is dat Jesus as gevolg van sy hemelvaart “sit aan die regterhand van God”. Dit is die ereposisie wat Jesus nou beklee. Hy is nou die een wat regeer oor hemel en aarde. Ons lees in Rom. 8:34-35:
“Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?”
Omdat Jesus, ons verlosser, die een is wat op die troon sit, kan ons met sekerheid weet dat Hy ons versorg en ons beskerm. Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie. Hy is die een wat vir ons sorg en ons beskerm.
Die laaste ding waarna ons dan kyk, is wat gebeur het as gevolg van die hemelvaart – die uitstorting van die Heilige Gees. Dit is die Heilige Gees wat in ons woon, ons lei en vertroos. Wat ʼn wonder is dit nie dat ons die Heilige Gees het nie.
Daar staan in ons teksgedeelte in verse 23-27:
“Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.
“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”
Dit is die Heilige Gees wat ons herinner aan die woorde van Jesus. Dit is Hy wat ons lei in gehoorsaamheid. Die belangrike ding wat ons egter hier moet raaksien, is dat ons gehoorsaamheid nie uit dwang kom nie. Ons is nie gehoorsaam aan God omdat ons dit moet doen om gered te word nie. Ons doen dit nie eenvoudig net omdat dit van ons verwag word of vir onsself nie. Ons doen dit omdat ons vir Jesus lief is. Die is die Heilige Gees wat ons harte sag maak en hierdie liefde in ons harte bewerk. Dit is hoekom ons gehoorsaam is aan God. Ons doen dit nie omdat ons dit moet doen nie, ons doen dit omdat ons dit wil doen, omdat ons vir Hom lief is. Die vraag is dan of ons lewens lyk soos die van iemand wie werklik lief is vir Jesus? Lyk ons lewens soos die van mense wie se harte deur die Here verander is?
Die laaste ding waarvan ons lees wat die Heilige Gees doen, is dat Hy vir ons vrede gee. Dit is vrede wat ʼn mens nie by die wêreld kan kry nie. Hy is die een wat ons vertroos. Hy herinner ons aan Jesus se woorde en ook aan dit wat Hy vir ons gedoen het. Hy het vir ons die weg na die hemel toe berei. Hy tree vir ons in by die Vader. Hy regeer daar waar Hy sit aan die regterhand van God.
Slot
Broers en susters, wat ʼn troos, wat ʼn vreugde! Ons moet onthou dat Jesus se woorde hier in die bokamer was om die dissipels voor te berei op die tyd wat kom. Dit is ook die tyd na sy hemelvaart. Dit is die tyd waarin ons nou woon. Jesus het hulle bemoedig juis vir pad wat voorlê. Mag die woorde van ons Here Jesus Christus ons ook bemoedig. Soos ons in vers 1 gelees het:
“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.”
Amen