Teksgedeelte: Johannes 4:46-54 (1983)
Fokusvers: v53 (1983)
Tema: Jesus is die een wat lewe gee, daarom moet ons in Hom glo.
Hoofpunt 1: Jesus is die een wat lewe gee
Hoofpunt 2: Ons moet in Hom glo.
Inleiding
Wat glo jy oor Jesus? Wat glo jy regtig oor Hom? Glo jy regtig dat Hy die Messias, jou verlosser en saligmaker is? Dit is een ding om dit met jou mond te sê, maar dit is ʼn ander ding om dit met jou hart te glo en ook met jou dade te wys.
Hoofpunt 1: Jesus is die een wat lewe gee
Wat ons raaksien in vandag se teksgedeelte is hoe iemand se geloof in Jesus verander en groei van ʼn oppervlakkige geloof tot ʼn ware, reddende geloof. Ons sien hoe Jesus ʼn koninklike beampte verander van iemand wat vanuit desperaatheid geglo of gehoop het dat Jesus eenvoudig iemand is wat wonderwerke kan doen, na iemand wat werklik in Hom glo. Hy het tot geloof gekom en daardeur is ook sy hele huisgesin gered. Dit is werklik ʼn wonderlike gebeurtenis.
Jesus doen dit deur ʼn wonderwerk. Hy genees die amptenaar se seun van ʼn siekte wat hom sou doodmaak. Dit is juis ook Johannes se doel deur vir ons hierdie wonderwerke op te teken. Sy doel is dat ons, deur van hierdie wonderwerke te lees, tot ʼn ware geloof sou kom in ons Here Jesus Christus, dat ons hierdeur sou raaksien wie Hy werklik is. Dit is die tweede wonderwerk in die reeks van wonderwerke in die evangelie volgens Johannes. Soos ons in die vorige preek in hierdie reeks gesê het, stel Johannes dit duidelik naby aan die einde van hierdie boek. Daarom noem hy dit wondertekens, want hierdie wonderwerke is tekens wat wys wie Jesus werklik is. Daar staan in Johannes 20:30 – 31:
“Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen.1 Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.”
Vandag se teksgedeelte begin dan waar Jesus teruggaan na sy eie “vaderland” toe. Met ander woorde, Jesus keer terug na die streek waar hy vandaan kom. Hy is natuurlik gebore in Betlehem, maar Hy het grootgeword in Nasaret, wat n dorp in die streek van Galilea is. Jesus keer nou terug na die dorpie Kana toe, wat ook in Galilea was. Jesus kom terug na die plek toe waar Hy laaskeer water in wyn verander het. Jesus het dalk in hierdie dorpie al ʼn reputasie ontwikkel van iemand wat wonderwerke kan doen. Daarom kom die koninklike amptenaar na Jesus toe. Hy wil hê Jesus moet ʼn wonderwerk doen om sy seun te genees. ʼn Interessante ding wat ons in gedagte moet hou aangaande die koninklike beampte, is dat hy die amptenaar was van die Romeinse leier, Herodes. Herodes was ʼn bose man. Dit is die man wat Johannes die Doper laat vermoor het. Ons lees daarvan in Markus 6.
Wat baie interessant is, is dat daar in ons teksgedeelte melding gemaak word van Jesus wat gesê het dat “’n profeet in sy eie vaderland geen eer ontvang nie”. Tog net daarna verwelkom die mense van Galilea Hom. Dit kan op die eerste oogopslag vir ons teenstrydig klink. Wat het Jesus bedoel toe Hy dit gesê het? Die rede hoekom Jesus sê dat ʼn profeet nie in sy vaderland eer ontvang nie, is omdat al het die mense Hom geëer, hulle Hom eer as iemand wat wonderwerke doen, nie omdat hulle hom eer as ʼn profeet nie.
Hulle het Hom nie eers geëer as iemand wat die woord van God verkondig het nie, nog minder as die Een wat die woord van God self is. Hulle het ʼn oppervlakkige of uiterlike geloof in Christus gehad. Hulle het gedink Hy is net iemand wat wonderwerke doen, en hom nie erken as die Messias nie. Die koninklike amptenaar het dieselfde probleem gehad. Daarom sê Jesus vir hom die volgende woorde nadat hy vir Jesus kom vertel het van sy siek seun: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie”
Jesus het net voor hierdie met die Samaritaanse vrou by die put gepraat. Sy het tot bekering gekom, nie op grond van Jesus wonderwerke nie, maar eerder op grond van dit wat Hy vir haar gesê het. Hy het aan haar getoon dat Hy goddelike alwetende kennis het, maar Hy het nooit ʼn wonderwerk gedoen nie. Toe het die Samaritaanse vrou in Hom begin glo. Sy het ook aan ander gaan verkondig dat Hy die Messias is en ander het ook tot geloof gekom. Tog is dit vir die Galileërs nodig dat Jesus wonderwerke doen en selfs daarna sien hulle Hom net as iemand wat wonderwerke doen, nie as die ware Messias nie.
Jesus het tog deur hierdie wonderwerk, so met die amptenaar gewerk dat hy werklik tot geloof in Hom gekom het. Die man kom na Jesus toe in desperaatheid vir sy seun se lewe. Gereeld werk die Here ook so met ons. Hy plaas ons in ʼn situasie waar ons werklik desperaat is. Dit is gereeld in situasies waar daar geen ander uitweg is nie, dat ons tot ware geloof in Hom kom of ons geloof werklik versterk word. Wanneer ons besef ons lewe is nie werklik in ons eie hande, of in die hande van ander nie, maar dit is alleen in die hande van God. Dan eers weet ons dat ons nie onsself kan red nie, maar dat ons afhanklik is van redding.
Die Here het dalk al baie van ons in sulke situasies geplaas, maar die vraag is of ons elkeen besef dat ons almal alreeds in so ʼn situasie is. Ons is volkome hopeloos sonder Hom. Die gemak van hierdie lewe kan ons gereeld mislei om ons te laat dink dat ons onsself kan red. Ons het nie iemand anders nodig nie, maar broers en susters, omdat ons sondig is en die straf van op die sonde verdien, is ons volkome afhanklik van ons verlosser.
Die amptenaar was waarskynlik ʼn ryk man en kon die heel beste mediese behandeling van die tyd bekostig. Hy het waarskynlik alles probeer en dit het nie gewerk nie. Hy was daarom raadop en toe hoor hy van hierdie man wat wonderwerke kon doen. Hy het gedink dat hierdie man dalk sy kind se lewe kan red. Hy het toe sy hoop op Jesus geplaas.
Hy gaan toe na Jesus toe en vra vir Hom om saam met Hom te kom sodat Hy sy seun se lewe kan red. Daar is duidelik ʼn dringendheid by hom. Nadat Jesus vir hom gesê het: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie” antwoord hy nie vir Jesus daarop nie. Hy sê : “Here, kom af voordat my kind sterwe”. Jesus antwoord hom toe: “Gaan, jou seun lewe!”
Hoofpunt 2: Ons moet in Hom glo.
Ons sien dan dat daar hierna ʼn verandering is in die man se geloof. Daar staan in vers 50 dat: “…die man het die woord geglo wat Jesus vir hom gesê het, en hy het gegaan”. Eers het die man net geglo dat Jesus wonderwerke kan doen. Sy geloof was soos die van die ander, baie oppervlakkig, maar nou het sy geloof gegroei.
Hy glo nie meer net in Jesus as ʼn wonderwerker nie, maar Hy glo in sy woorde. Hy glo in dit wat Jesus vir Hom gesê het en hy reageer daarop. Hy gaan terug na sy huis toe. Broers en susters, ons moet ook in Jesus se woorde glo en ons moet ook reageer daarop. Ons geloof moet uitgedruk word in ons dade. Ons moet lewe in geloof. Die amptenaar se optrede dui daarop aan dat hy Jesus hier geglo het. Dit is geloof wat in hom gewek is deur die Heilige Gees. Dit is nie ʼn sogenaamde “sien is glo”-situasie nie. Hy het nog nie gesien sy seun is genees nie. Tog het hy geglo. Hy het nog nie die bewyse daarvan gesien nie. Sy seun is nog by sy huis. Hy het geglo wat Jesus vir hom gesê het en hy het daarop gereageer. Hy het teruggegaan huis toe.
Die geloof wat die amptenaar hier reeds begin ontwikkel het, is die waarvan daar gepraat word in Heb. 11:1: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Hierdie is egter nie blinde geloof nie. Ons glo nie in niks nie. Ons glo in iets. Ons glo in Jesus en Jesus is betroubaar. Daarom, wanneer Jesus vir die man sê “Jou kind lewe”, het hy vir Jesus geglo. Op pad terug huis toe kom sy diensknegte hom tegemoet om vir hom die goeie nuus mee te deel dat sy seun gesond is. Jesus het die kind se lewe gered. Hy het vir hulle gevra omtrent hoe laat die kind genees is. Hulle het hom geantwoord en hy het besef dat dit dieselfde tyd is as toe hy met Jesus gepraat het. Hy het toe werklik besef dat Jesus sy seun genees het van ʼn afstand af, sonder om enige iets te doen. Jesus het net gesê “Gaan, jou seun lewe.”
Die man het toe tot ʼn ware reddende geloof gekom. Daar staan egter dat dit nie net hy was nie, maar ook sy hele huisgesin. Ons moet hierin ook nog iets raaksien van hoe die Here werk. Hy werk met individue. Dit is absoluut waar. Hy het individueel met die amptenaar gewerk, maar ons sien hierin dat Hy ook met gesinne en nageslagte werk. As ons dit glo, dan glo ons ook dat hy werk met volke. Dit is dwarsdeur die Bybel die geval. Ons geloof is dus nie net ons eie privaatsaak nie. Dit is persoonlike saak, maar nie ʼn privaatsaak nie. Ons geloofslewe moet ʼn gevolg hê op die rondom ons. Hierdie teksgedeelte wys vir ons veral dat dit die geval is in jou gesin en dit wys vir ons ook spesifiek die rol van die pa. Die pa is die een wat sy gesin moet lei en hy moet daarom ook sy gesin na die Here toe lei.
Ons moet uit hierdie wonderwerk uit raaksien dat Jesus die een is wat die mag het om lewens te red. Jesus het dit hier in hierdie wonderwerk vir ons gewys, maar die wonderwerke wat beskryf word in die evangelie volgens Johannes bou op tot ʼn hoogtepunt waar Jesus nie net iemand se lewe red nie, maar waar Hy iemand lewend maak uit die dood uit. Dit is waar Jesus vir Lasarus uit die dood uit opwek.
Jesus is nie net ʼn wonderwerker nie, Hy is nie net ʼn profeet nie. Hy is die woord van God self. Hy is die Messias. Hy is die Seun van God. Hy is die een wat gekom het om vir ons die ewige lewe te gee en ons van die ewige dood te red. Lewe en dood is in sy hande. Dit is wat hierdie wondertekens vir ons wys. Hy doen dit deur sy sterwe en sy opstandig. Hy het die straf vir ons sondes gedra en die dood oorwin, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe mag hê.
Slot
Broers en susters, in vandag se teksgedeelte het ons gesien hoe die Here met ʼn man gewerk het wat in ʼn desperate situasie was. Die man het gesoek na ʼn wonderwerker om sy seun se lewe te red. Die Here het egter deur sy seun te red, en deur in sy hart te werk deur die Heilige Gees, die man tot ʼn ware reddende geloof te bring. ʼn Geloof in Christus wat lei tot die ewige lewe. Hierdie man se hele gesin het toe tot bekering gekom.
Broers en susters, ons moet besef dat ons ook eintlik in vreeslike desperate omstandighede is. Ons kan onsself nie red nie. Daar is werklik niks wat ons kan doen nie. Tog glo ons in Christus. Ons plaas ons vertroue in Hom. Hy is die een wat mag het oor lewe en dood en Hy skenk aan ons die ewige lewe.
Amen.