Ef. 4:17-32

Skriflesing: Ef. 4: 17-32 (1983)

Teksvers: Ef. 4: 22-24 (1983)

Heidelbergse Kategismus: Sondag 33

Tema: God bewerk ware bekering in ons en daarom kan en moet ons goeie werke doen.

Hoofpunt 1: God bewerk ware bekering in ons.

Hoofpunt 2: Omdat God bekering in my bewerk het, kan en moet ek nou goeie werke doen.

Inleiding

Broers en susters, bekering is so ʼn kernaspek van ons geloof. Elke gelowige moet bekeer. Ons kan nie om dit kom nie. Tog is daar baie gelowiges wat nie werklik verstaan wat dit beteken om te bekeer nie. Daarom is dit werklik belangrik dat ons vandag kyk wat ware bekering is, soos dit vir ons saamgevat word uit die Bybel en in die kategismus. 

Hoofpunt 1: God bewerk ware bekering in ons.

Die eerste ding wat ons moet sê is dat baie mense ongelukkig dink dat bekering ʼn eenmalige gebeurtenis is. Hulle lê groot klem op die dag en datum van hulle bekering. Daar is nie noodwendig iets verkeerd daarmee om te getuig dat die Here in ʼn sekere tyd in jou lewe jou tot radikale bekering gebring het nie, maar bekering is verseker nie ʼn eenmalige gebeurtenis nie. Bekering is iets wat ons elke dag moet doen. Bekering beteken nie noodwendig dat ons ʼn radikale bekeringservaring moet hê nie. Weereens daar is niks verkeerd daarmee nie, inteendeel, dit is absoluut wonderlik as die Here dit doen. Die Here het op hierdie manier in Paulus se lewe gewerk. Op die pad na Damaskus het die Here sy lewe radikaal omgedraai.

Die Here werk egter op verskillende maniere met verskillende mense. Dit is waarskynlik die geval dat Timoteus se bekering baie anders gelyk het as Paulus s’n. Net soos wat myne anders lyk as joune. Timoteus het waarskynlik in ʼn gelowige huis grootgeword. Paulus maak melding van die geloof van sy ma en ouma in 2 Tim 1:5. Die Here het dus stelselmatig in sy lewe met hom gewerk. Daar staan later in die derde hoofstuk dat hy die Woord al van kleintyd af geleer is.  

Die feit bly egter staan, hoe ook al die Here met jou werk, bekering is nie iets wat een maal met jou gebeur nie. Dit is iets wat die Here in jou hart bewerk, maar dit iets wat jy elke dag moet doen. Die Heilige Gees is die een wat jou hart verander sodat jy wedergebore word. Jy kan nie jouself weer baar nie. Dit is ʼn werk van God. Ons moet nou as wedergebore Christene elke dag bekeer. Daar staan in Titus 3:5:

“Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.”

Die volgende logiese vraag is dan, wat is bekering? Die eerste vraag van Sondag 33 stel dit so: “Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens?”. Dan word daar geantwoord dat die ware bekering van die mens bestaan uit die afsterwing van die ou mens en die opstanding of lewe van die nuwe mens. Bekering bestaan dus uit hierdie twee dinge. Dit is die aktiewe ophou doen van die slegte en ook die aktiewe begin doen van die goeie. Dit is ʼn wegdraai van die sonde af en ʼn beweeg na die Here toe. Bekering is altyd na God toe en weg van alles anders af.

In Sondag 33 handel die tweede vraag oor wat dit beteken om die ou mens af te sterwe en die derde vraag handel dan oor wat dit beteken om te lewe as die nuwe mens. Dit is ook presies wat vir ons beskryf word in ons teksgedeelte vandag, Ef. 4: 17 tot 32. Vers 17 tot 19 verduidelik wat die lewe van die ou mens is wat ons moet afsterf. Vers 20 tot 24 is ʼn oproep tot bekering en verse 25 tot 32 verduidelik hoe die lewe van die nuwe mens lyk.

Die lewe van die ou mens soos beskryf in verse 17 tot 19 is ʼn lewe waar die mens eenvoudig doen wat hy wil doen en nie wat God wil hê hy moet doen nie. Na die sondeval is die mens se wil volkome besmet met die sonde en daarom is die mens se begeertes en dade van nature teen God. Daar staan:

“Hulle gedagtes lei tot niks,hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ’n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.”

Enige iets wat ʼn mens doen wat nie volgens die wil van God is nie, is sonde. Ons moet daarom uit die Woord leer wat teen die wil van God is en ophou om dit te doen. Ons word geroep om deur die krag van die Heilige Gees tot ware bekering te kom. Daar staan in ons fokusverse die oproep tot bekering:

“Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.”

Die eerste vraag van Sondag 33 vra uit watter dele bestaan “ware bekering”. Dit beteken daar is ook iets soos “valse” of ʼn “skyn” bekering. Ware bekering is volgens vers 22 wanneer jou gees en gedagtes nuut word. Die woord wat hier vertaal word met “gees en gedagtes” kan verder verstaan word as jou manier van dink, jou ingesteldheid. Dit sluit jou emosies ook in. ʼn Manier hoe ons daaraan kan dink, is dat jou hart moet verander. Ware bekering is daarom van harte. Jy verander in jou kern. Valse bekering is die teenoorgestelde. Dit is net oppervlakkig. Dit is net van buite. Iemand wat ʼn valse bekering ondergaan het, kan van buite af lyk of hulle nou anders lewe, maar hulle het nie werklik in hulle harte verander nie.

Indien jou hart nie verander het nie, dan help jou uiterlike bekering nie regtig nie. ʼn Manier hoe iemand dit al aan my verduidelik het, is die volgende: Dink jouself in jy het geoefen of hard gewerk en jy het lekker gesweet. Jy kom dan by die huis en jy trek ʼn skoon stel klere aan. Gaan jy dan ophou soos sweet stink? Gaan jy werklik skoon wees? Nee. Jy moet eers stort. Jy moet eers skoon word voordat jy skoon klere aan trek, anders help jou skoon klere jou niks nie. Dit is dieselfde met bekering.

Hoofpunt 2: Omdat God bekering in my bewerk het, kan en moet ek nou goeie werke doen.

Ons het al gekyk wat dit beteken op die ou mens af te sterf, maar wat beteken dit om as die nuwe mens te lewe. In ons teksgedeelte word daar ʼn paar praktiese voorbeelde genoem in verse 25 tot 32. Daar staan :

“Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam.
As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.
As iemand ’n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee.
Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.
En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.
Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.
”

ʼn Mens kan lank ingaan op elke sinsnede, en dit is baie sinvol om dit te doen, maar iets waaraan ons moet aandag skenk is dat hierdie nie net ʼn lys van “hou op hierdie dinge doen” is nie. Dit is ook ʼn lys van “begin hierdie dinge doen”. Hou op leuens vertel, praat die waarheid. Hou op steel, werk en gee vir die armes. Hou op mekaar afbreek met julle taal, bou mekaar eerder op. Daar is ander interessante sinsnedes. Daar staan, dat wanneer ons kwaad word, moet ons nie sondig nie. Met ander woorde, die emosie van kwaadword is nie noodwendig verkeerd nie. Daar is dinge waarvoor ons mag kwaad word. God word ook daarvoor kwaad. Ons moet egter nie sondig wanneer ons kwaad is nie. Ons moet nie laat die kwaad in ons broei en ons laat dinge doen wat ons nie moet doen nie. Daarom staan daar, moet nie ʼn dag kwaad afsluit en vir die duiwel vatkans gee nie.

Die laaste sinsnede uit hierdie verse waarby ons vir ʼn oomblik gaan stilstaan, is “moet nie die Heilige Gees bedroef nie”. Wanneer ons kyk na die konteks van die hele boek van Efesiërs en na die direkte woorde hierna, waar daar staan dat ons nie mekaar moet afbreek nie, maar eerder moet opbou, beteken dit in hierdie konteks dat die bedroef van die Heilige Gees is om die kerk af te breek. Hy is die een wat in ons woon en ons ʼn eenheid maak. Hy is die een wat ons opbou tot lidmate van Christus se liggaam. Wanneer ons mekaar afbreek en verstoot en die liggaam afbreek met ons woorde en dade, dan bedroef ons die Heilige Gees.

Die kategismus beklemtoon ook sterk die emosies agter bekering. Wanneer die tweede vraag geantwoord word oor, “wat is die afsterwe van die ou mens?” staan daar dat bekering ʼn hartlike berou is oor die sondes wat ons teenoor God gedoen het. Omdat jy lief is vir God, wil jy nie teenoor Hom sondig nie. Jou sonde bring daarom hartseer en berou in jou hart.

Die wonderlike ding is egter dat dit nie by die berou stop nie. Die kategismus antwoord op die vraag, “Wat is die opstanding van die nuwe mens?” Dit is ʼn hartlike vreugde in God deur Christus. Ja, bekering behels ʼn opregte berou oor jou sonde. Dit is ʼn besef van die skuld wat jy het en die skuld wat Christus vir jou gedra het, maar dit is saam met dit ʼn opregte vreugde dat Hy dit vir jou gedoen het, dat Hy jou gered het. Dit is dan ʼn opregte lewe van vreugde as ʼn kind van God wat tot eer van Hom wil lewe.

Hierdie is ʼn paradoks wat vir die wêreld nie sin maak nie. In ons alledaagse bekering is daar berou en hartseer, maar daar is terselfdertyd groot vreugde in die Here. Dit is daarom vir ons nou belangrik om vir ʼn oomblik stil te staan en vir onsself af te vra of ons werklik hierdie berou ervaar. Besef ons werklik die gewig van ons sonde? Die volgende vraag is of ons werklik vreugde in die Here ervaar. Wanneer ons die gewig van ons sonde besef, besef ons ook die gewig van ons redding. Die hartseer en die vreugde loop hand-aan-hand en albei is noodsaaklik in ware bekering.

Christus het die straf wat ek verdien het gedra, hy het die hel vir my gedra. Ek is nou ʼn kind van God. Die pyn en lyding wat Hy vir my gedra het, maak my hartseer, maar ek vind ook nou ʼn onuitblusbare vreugde in Hom. Hy het my so liefgehad. Ek het Hom nou lief en ek wil nou tot eer van Hom lewe. Dit is wat dit beteken vir ons gees en gedagtes om nuut te word. Dit is wat dit beteken om die as die nuwe mens te lewe. Ons is veel liewer vir God as vir enige sonde. Daarom moet ons elke dag, stelselmatig, van ons sonde bekeer.

Partykeer maak ons die fout om te dink dat ons nie kan bekeer nie. Dit is maar hoe ek is. Dit is hoe ek gebore is. Ek kan nie verander nie. Dit is nie waar nie. Jy is reeds verander. Ons moet nou bekeer. Ons moet nou goeie werke doen. Elke dag. Stappie vir stappie. Goeie werk vir goeie werk, groei ons deur die krag van die Heilige Gees nader aan God. Die lewe van die nuwe mens is ingekleur met die vrug van goeie werke. Dit is nie sodat God ons red nie, dit is omdat ons reeds gered is. Die kategismus vra dan die volgende logiese vraag: “Maar wat is goeie werke?”. Hoe kan ons hierdie lewe van goeie werke lewe as ons nie weet wat goeie werke is nie?

Ons bely in die laaste vraag dat goeie werke is werke wat slegs uit ’n ware geloof, volgens die wet van God, tot sy eer gedoen word. Dit is met ander woorde nie werke wat volgens ons eie opinies of morele maatstawe goed is nie. Dit is werke wat werklik volgens God goed is. Dit is gepas want Hy is die ware bron van alle goed. Dit gaan dus oor die bron, die maatstaf en die doel van ons goeie werke.

Die bron is: uit ʼn ware geloof. Net hulle wat waarlik in Christus glo en vanuit hierdie geloof optree, kan goeie werke doen. Dit sien ons ook in die optrede van Kain en Abel: albei het ‘n offer gebring, maar die van Kain het God nie aangeneem nie, omdat die geloof by hom ontbreek het (Heb. 11:4).

Die maatstaf is: volgens die Woord van God. Die woord van God is die riglyn of maatstaf vir goeie dade. Indien ʼn daad teen die Woord van God ingaan, is dit nie ʼn goeie daad nie. Dit bevestig weer dat ons erns moet maak met ons Bybelstudie. Ons moet na die woord van God toe gaan om te weet wat goeie werke is. Ons skrifgedeelte is weer ʼn goeie voorbeeld. Ons het ʼn lys van goeie werke gelees in verse 25-32.

En die doel is: tot eer van God. Net dade wat werklik tot eer van God gedoen word, is goeie dade. Dade wat tot eer van mense of enigiets anders gedoen word, is nie goeie dade nie.

Slot

Broers en susters, bekering is werklik ʼn kerndeel van ons geloof. Bekering en wedergeboorte is ten diepste ʼn daad van God. Maar daaglikse bekering bly steeds ʼn verantwoordelikheid wat ons as Christene elke dag moet uitleef deur die krag van die Heilig Gees. Ons moet daagliks die ou mens afsterf en as nuwe mense lewe. Die gevolg hiervan is dat ons vanuit ons geloof, volgens die Woord van God, tot eer van God lewe en so goeie werke doen. Ons doen dit nie omdat ons onsself hierdeur wil red nie, maar omdat ons reeds gered is.

Amen.