Genesis 37:1-36

Teksgedeelte: Genesis 37:1-36

Fokusgedeelte:  Genesis 37:26-27

Tema: God is in beheer, ook ten midde van ons haat.

Hoofpunt 1: God is in beheer.

Hoofpunt 2: God is in beheer ten midde van ons haat.

Inleiding

Broers en susters, ʼn vraag wat ons vir onsself kan vra, nadat ons gelees het van in ʼn gebeurtenis soos vandag s’n, is: “waar is God?” Dit is werklik tragies. Daar is soveel konflik en haat in hierdie gesin. Josef word deur sy broers gehaat en verkoop as ʼn slaaf. Hulle wil hom eintlik vermoor. Dit is die gesin met wie God belowe het Hy gaan ʼn pad stap. Die is die nageslag van Abraham. Hoekom laat God hierdie haat onder die broers toe?

Wanneer ons dan kyk na ons lewens vandag, hoekom laat God soortgelyke tragiese gebeurtenisse in ons lewens toe? Ons is ook sy kinders met wie Hy werk. Tog haat ons ook mekaar. Ons wil mekaar ook verraai en vermoor. Daar gebeur elke dag verskriklike swaar en tragiese dinge met gelowiges. Hoekom laat God dit toe?

Hoofpunt 1: God is in beheer.

Broers en susters, dit is grootliks waaroor die verhaal van Josef gaan. Dit handel oor hoe die Here ʼn reeks swaar en tragiese gebeurtenisse in Josef se lewe gebruik vir die goeie. God wys Hy is in beheer en Hy het ʼn plan al verstaan ons dit nie altyd nie. Hy laat sekere dinge toe, al weet ons nie hoekom nie en al sal ons nooit weet hoekom nie, maar ons weet hy laat dit saamwerk vir die goeie.

In vandag se teksgedeelte sien ons hoe God se plan in werking tree. Josef word aanvanklik vir ons geskets as ʼn jong, onwyse man wat waarskynlik hoogmoedig was. Hy werk as ʼn skaapwagter, maar daar word vertel hoe hy oor sy broers by sy pa klik. Ons kry die idee dat hy meer doen as om net berigte na sy pa toe aan te dra. Hy praat aktief sleg oor sy broers by sy pa.

Sy pa het ook nie baie wys opgetree nie en vir Josef voorgetrek. Sy pa gee vir hom lang klere met moue. Die woorde wat hier gebruik word om die klere te beskryf, word op ander plekke in die Bybel gebruik om koninklike klere te beskryf. Josef se broers het geweet dat hulle pa liewer vir hom was as vir hulle. Voortrekkery is genoeg om rusie in enige familie te bring. Daar staan die gevolg hiervan was dat Jakob se broers niks goeds oor hom kon sê nie. Hier staan letterlik, hulle kon hom nie met vrede groet nie. Ons moet onthou dat die Jode, selfs vandag nog, mekaar groet met die woord “shalom”. Hierdie woord beteken “vrede”. Ons kan verstaan dat hulle mekaar gegroet het deur vir mekaar te sê: “Vrede vir jou”. Hulle kon dit nie vir Josef doen nie. Dit is soos mense wat vandag nie eers vir mekaar wil vra “hoe gaan dit met jou?” nie. Daar was baie verdeeldheid in hierdie gesin. Sy broers het hom gehaat.

Boonop het Josef toe nog twee drome gehad waaroor hulle hom nog meer gehaat het. Die eerste droom was van hom en sy broers wat besig was om gerwe te bind op die lande en sy broers se gerwe buig toe voor syne. Die tweede droom wat hy gekry het, was dat die son en die maan en elf sterre wat ook voor hom gebuig het. Die son en die maan verwys dan na sy pa en ma en die elf sterre verwys na sy broers. Hierdie drome is natuurlik beelde wat voorstel dat almal voor hom gaan buig. Dit is drome wat sê dat hy koning gaan word.

Ons weet vanuit die res van die verhaal dat dit waar gaan word. Josef gaan in ʼn sin “onderkoning” word van Egipte en hulle gaan voor hom buig. Die Here het veral in hierdie tyd sy planne aan sy kinders deur drome bekend gemaak. Ons moet onthou dit was in die tyd voor die Bybel en die Here het homself op ander maniere aan sy kinders geopenbaar. Ons, wat die hele verhaal kan lees, weet dat hierdie drome kom van die Here af. Ons moet egter onthou dat nie Josef of sy broers dit al vir seker geweet het nie. Hulle het ook nie presies geweet wat dit beteken nie. Sy broers het waarskynlik eenvoudig gedink hy is hoogmoedig. Die manier hoe die verhaal vertel word, maak dit duidelik dat hy wel was.

As Josef wys was en nie hoogmoedig nie, sou hy op ʼn ander manier hierdie drome hanteer het. Hy sou dit op ʼn manier gekommunikeer het wat dit duidelik gemaak het dat hy nie dink hy is beter as almal nie. Hy het dit egter vir sy broers gaan vertel, want hy het waarskynlik homself alreeds as ʼn koning gesien. Selfs sy pa, wat hom so voorgetrek het, was verbaas oor hierdie drome, want in die drome buig hy en sy vrou ook voor Josef neer. Daar staan dat sy pa aangehou het om aan die drome te dink.

Hierna begin sy broers teen hom saamsweer en hulle wil hom doodmaak. As dit nie was vir die Here wat Ruben en Juda laat ingegryp het nie, sou hy dood gewees het. Dit is wat hulle wou doen. Ons lees dan van ʼn geleentheid waar sy broers ver in die veld gewerk het en hulle pa stuur toe vir Josef om te gaan kyk hoe dit met hulle gaan. Ons sien reeds hierin hoe hulle pa nog steeds vir Josef voorgetrek het. Hy werk nie in die veld nie, hy mag lekker by die huis bly terwyl sy broers moet werk. Hy is eerder die een wat moet gaan kyk hoe die ander werk.

Sy broers het hom van ver af al sien aankom. Hulle het waarskynlik sy klere met die lang moue gesien wat hulle so gehaat het. Hulle het toe vir mekaar gesê, kom ons maak hom dood. Die broers se woorde is aangrypend. Ons lees in vers 19-20:

 Hulle het naamlik vir mekaar gesê: “Kyk, daar kom die ou dromer aan. Kom ons maak hom dood en gooi hom in ’n put. Ons kan sê ’n roofdier het hom opgevreet. Dan sal ons sien wat word van sy drome.”

Hulle het sy lang klere gehaat. Hulle het sy drome gehaat. Hulle het hulle broer gehaat. Ruben, die oudste broer, tree toe in, want hy wou nie hê hulle moes vir Josef doodmaak nie. Hy het dalk nog verantwoordelikheid vir Josef aanvaar as die oudste of hy wou nie sy pa ontstel nie, dalk wou hy regtig nie sy broer doodmaak nie, maar die Here laat hom ingryp. Hy het vir hulle gesê hulle moet hom eerder net in die put gooi. Hulle het vir hom as die oudste vir eers geluister. Hulle trek Josef se lang klere uit wat hulle so gehaat het, gooi hom in die put en gaan eet asof niks vreemd gebeur het nie.

Daar kom toe ʼn klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Sy ander broer Juda kom met die volgende plan vorendag waarvan ons lees in vers 26 tot 27:

“Toe sê Juda vir sy broers: “Watter nut het dit vir ons om ons broer dood te maak en dit dig te hou? Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie sy lewe neem nie, hy is ons broer, hy is bloedfamilie.”

Hoofpunt 2: God is in beheer ten midde van ons haat.

Juda se argument oortuig toe die broers. Hulle hoef nie hulle eie broer dood te maak nie en hulle kan ʼn bietjie geld maak. Ons kry dan hierna die idee dat Ruben nie by sy broers was toe hulle hom verkoop het nie. Hy het seker gedurende die tyd wat hulle geëet het sy broers moes verlaat om een of ander rede. Toe hy toe terugkom by die put lees ons hy het hy sy klere geskeur en gevra wat hy nou moet doen. Hy was bang om vir sy pa die nuus te vertel.

Die broers beraam toe ʼn plan om hulle pa, die een wat bekend staan as die bedrieër, te bedrieg. Hulle gaan Jakob se klere met die lang moue smeer met bokbloed en dit vir hulle pa stuur met die boodskap dat hulle dit in die veld gevind het. Dit is Ironies, want Jakob het vroeër sy pa Isak en sy broer Esau bedrieg het deur bokvel op sy arms te sit en deur vir sy pa bokvleis te gee om te eet. Nou gaan Jakob se seuns hom bedrieg met bokbloed.

Ons sien dan dat dit gewerk het. Die bedrieër is weer self bedrieg. Hy wonder nie eers daaroor of hy bedrieg is nie. Hy dink dadelik dat sy seun deur wilde diere verskeur is. Hy het dadelik begin rou en hy wou homself nie laat troos nie. Dit het baie droefheid in sy lewe in gebring.

Die laaste dinge wat ons dan lees in hierdie hoofstuk is dat Josef aan Potifar verkoop is in Egipte. Met die volgende preek gaan ons dan hier begin, waar Josef ʼn slaaf is vir Potifar.

Broers en susters, ons moet net vir ʼn oomblik stilstaan en besef wat hier gebeur het. Die broers wou Josef doodmaak. Hulle wou sy drome ook doodmaak sodat dit nie gebeur nie, maat tog sonder dat hulle weet, is hulle wrede dade hier besig om God se plan in werking te stel. Heel aan die einde van die verhaal in Genesis 50:20, sê Josef die volgende woorde en dit is een van die kernboodskappe van hierdie hele geskiedkundige verhaal waarna ons vandag begin kyk het:

“Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het.”

Josef se drome gaan waar word. Hulle gaan voor hom buig. Hy gaan “onderkoning” word van Egipte. Dit is egter nie omdat Josef so goed is nie. Dit is omdat die Here hierdie gebeurtenisse gaan gebruik om ʼn menigte mense te red.

Hierdie absolute tragiese verhaal speel voor ons oë af en dit gaan nou skielik begin net goed gaan met Josef nie. Hy haan nog heelwat struikelblokke ervaar. Daar gaan nog baie swaar dinge met hom gebeur. Tog, ten spyte van die alles, bly God in beheer. Hy is die outeur van die geskiedenis en alles gebeur volgens sy plan. Broers haat mekaar. God is in beheer. Josef word as ʼn slaaf verkoop. God is in beheer. ʼn Pa rou oor sy seun. Ons kry swaar. God is in beheer.

Ons weet nie wat in Josef se kop aangegaan het toe hy in daardie put was nie. Ons weet net dat hy, wat duidelik nie bang was om stories vir sy pa aan te dra nie, nou skielik stil was. Ons weet nie wat hy gevoel of gedink het nie. Het hy gedink dat hy dit verdien? Het hy gedink dit is onregverdig of onnodig? Ons weet nie. Hy was stil. Ons sien egter dat sy karakter hierna baie verander het. Ons gaan in die volgende teksgedeeltes meer hieroor lees.

Daar is soveel swaarkry en wrede dinge wat mense in hierdie wêreld doen. Toe ons vroeër die jaar gekyk het na die boek van Habakuk, het ons gesien hoe die Here met Habakuk gewerk het ten midde van ʼn sondige volk. Ons sien hoe die Here in daardie boek met sy volk werk. Vandag se gebeure is egter baie meer persoonlik. Ons sien hoe die Here hier aan die werk is met ʼn gesin. Ons sien hoe die Here hier aan die werk is met ʼn mens en sy naam is Josef. Die swaarkry is nie altyd net in die wêreld daarbuite nie. Gereeld is dit persoonlik. Gereeld is dit by die huis. Gereeld is dit met ons. Tog kan die Here enige swaarkry omdraai en gebruik vir die goeie. Vandag se teksgedeelte is ʼn voorbeeld van hoe die Here dit begin doen het in Josef se tyd. Ons gaan later lees hoe hy dit heeltemal doen. Die bose planne van sy broers kon nie die planne van die Here stop nie.

Die sterkste voorbeeld hiervan is egter ons Here Jesus wat vir ons aan die kruis gesterf het. Die mense daar wou vir Jesus kwaad aandoen. Hulle wou die seun van God doodmaak. Hulle wou Hom nie erken vir wie Hy is nie. God het dit toegelaat. God het die slegste gebeurtenis denkbaar gevat en daardeur gesorg dat ons almal die ewige lewe sou hê. Josef se woorde is oor die kruisiging van Jesus ook waar. Julle wou kwaad doen, maar God wou daarmee goed doen. God het dit gedoen met Jesus se kruisiging en daarom kan Hy dit vir seker ook doen met die swaarkry in jou lewe. Ons moet bid vir die leiding van die Heilige Gees sodat ons dit sal glo en sal bly glo. Dit is Hy wat vir ons krag gee om dit te glo.

Dit is die almag van God. Dit is hoe Hy in beheer is. Selfs al die slegte dinge van hierdie lewe kan Hy so laat gebeur dat dit ʼn goeie ding tot gevolg het. Ons lees dat die apostel Paulus in Romeine 8:28 die volgende sê:

“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is”

Die vraag wat dan op ons lippe bly is, wat is die “goeie ding” waarin God al die slegte gebeure in ons lewens laat verander? Ons sien in Josef se geval was dit om ʼn menigte mense aan die lewe te hou in ʼn tyd van hongersnood. As ons bietjie verder lees in Romeine 8 dan sien ons dit is sodat ons meer eenvormig word aan die beeld van sy seun. Die “ten goede meewerk” in Romeine 8 beteken nie dat alles skielik weer goed gaan nie. Dit beteken dat ons meer soos Jesus gaan word. Alles wat met ons in ons lewens gebeur, werk saam om ons meer soos Jesus te maak. Ons lewe meer en meer soos wat God wil hê ons moet lewe. Gereeld is die mees uitdagende tye in ons lewens die mees vormende.

Slot

Broers en susters, daar gebeur slegte dinge in die wêreld, maar in vandag te teksgedeelte het ons duidelik gesien dat daar gebeur ook slegte dinge met ons. Daar gebeur slegte dinge met die kinders van God. Vandag se teksgedeelte is egter die begin van ʼn geskiedkundige verhaal wat vir ons wys dat God deur dit alles steeds in beheer is. Alles gebeur volgens sy plan en sy plan is goed, al verstaan ons dit nie nou nie. Hy sal voorsien.

Deur die werk van die Heilige Gees in ons harte kan ons saam met Sondag 10 bely dat, omdat God voorsien, ons in alle teëspoed geduldig en in alle voorspoed dankbaar wees.

Amen