Jesaja 44:6-23

Teksgedeelte: Jesaja 44:6-23

Fokusgedeelte: v6, v21-v22

Belydenis: Sondag 34 V&A 92-95

Tema: God is die enigste God en daarom moet ons Hom alleen dien.

Hoofpunt 1: God is die enigste God.

Hoofpunt 2: Ons moet Hom alleen dien.

Inleiding

Broers en susters, wat is werklik die belangrikste ding in jou lewe? Wat is jou eerste prioriteit? Is dit God of is dit iets anders?

Hoofpunt 1: God is die enigste God

In vandag se teksgedeelte, sien ons hoe die Here met die volk van Juda praat nadat hulle sou terugkeer van ballingskap af. Van hoofstuk 40 af is die boek van Jesaja geskryf as profetiese bemoediging vir die volk van die Here terwyl hulle in ballingskap is onder die Babiloniese Ryk en ook later onder Persiese Ryk, nadat hulle oorgeneem het by die Babiloniërs as die wêreldmag.

Een van die hoofredes hoekom die Here sy volk in ballingskap laat weggevoer het, is hulle afgodsdiens. Terwyl hulle in ballingskap weggevoer is, word hulle nog verder blootgestel aan afgodsdiens. ‘n Mens kan dink die Babiloniërs en die Perse het vir die volk gesê, kyk, ons gode is sterker as julle s’n, daarom kon ons julle wegvoer in ballingskap.

Afgodsdiens is en was duidelik ʼn groot probleem vir die volk van die Here. In die tyd van Jesaja profeteer hy lank voor hierdie dinge gebeur het, dat ja, God gaan julle laat wegvoer in ballingskap, maar Hy gaan julle ook daarvan verlos. Daarom moet julle bekeer van julle afgodsdiens en Hom alleen dien. Jesaja herhaal op baie plekke van Hoofstuk 40 af dat God die enigste God is en dat Hy alleen gedien moet word. Dit is ʼn groot deel van Jesaja se bemoediging en oproep tot bekering vir die volk van die Here wat in ballingskap gaan wees. Wanneer hulle terugkom uit ballingskap, moet hulle hul afgodery laat staan.

Broers en susters, daar het nie baie verander van toe af tot nou toe nie. Calvyn het gesê dat die hart van die mens ʼn afgodfabriek is. Ons is eintlik maar net so sleg soos die volk van Juda. Die bemoediging en oproep van Jesaja se profesie is net so van toepassing op ons vandag.

Vandag se teksgedeelte maak dit dan duidelik dat daar geen ander God is as ons God nie, afgodery is sinneloos en sonde en daarom moet ons God alleen dien. Die Here het dit reeds in Eksodus 20, met die tien gebooie, vir ons beveel en dit is ook waarna ons kyk vanuit die HK So. 34. Eks. 20: 3

“Jy mag naas My geen ander gode hê nie.”

In ons teksgedeelte begin Jesaja hierdie oproep in vers 6 tot 8 deur te sê dat God die enigste ware God is. Daar is geen een soos Hy nie. Wat merkwaardig is, is dat God in vers 6 “sê hy is die eerste en die laaste. Net soos Jesus homself in Openbaring 1 en 22 beskryf. Ek is die Eerste en die Laaste, die Alfa en die Omega. Hierdie woorde beteken God is ewig. Hy is van ewigheid af en sal tot in ewigheid bestaan. Dit is anders as afgode wat deur mense geskep is en ook sal vergaan. Daarom moet ons, soos vers 8 sê, getuig dat God die enigste God is.

Die absolute sinneloosheid van afgodsdiens word dan uitgelig van vers 9 tot vers 20. Ons dien afgode wat ons self gemaak het. Die beelde van vers 9 tot 20 praat van mense wat uit hout en yster uit vir hulle afgode maak. Ons kan dink: “sjoe, dit is dom. Ons doen darem nie dit nie. Hoe kan ʼn mens iets dien wat jy dan self gemaak het of wat deur ander mense gemaak is?” Jy moenie iets dien wat jy gemaak het nie, logies moet jy mos Hom dien wat jou gemaak het.

Broers en susters, ons maak dalk nie ons afgode uit goud of silwer of hout of so iets nie, maar ons maak nog steeds ons eie afgode. Ons vind ʼn klomp dinge wat vir ons belangriker word as God en dan offer ons ons lewens daarvoor op. Dit is alles dinge wat ons mense self uitgedink het. Om weer vir Calvyn aan te haal, ons harte is afgodfabrieke. Die mens se natuurlike hunkering is om iets te dien. Ons is geskep om te dien. Na die sondeval is ons net daartoe geneig om iets anders as God te dien.

Die enigste verskil tussen ʼn gelowige en ʼn ongelowige is, ʼn gelowige dien God en ʼn ongelowige dien iets anders. Die ateïs is van die opinie dat hy niks dien nie, maar hy dien vir seker een of ander afgod. Dit kan homself wees, sy werk, sy filosofie of enige verslawing. Hy dien iets, al wil hy dit nie erken nie.

Dit is net die Heilige Gees wat ons harte kan verander dat ons sal ophou om ander dinge te dien en net God te dien. Dit is wat gebeur het met die sondeval. Dit is wat dit beteken om van nature sondig te wees. Ons hoofbegeerte is nie meer God nie, dit is enige iets anders. Die wedergeboorte beteken dat die Heilige Gees jou hart verander het sodat jou hoofbegeerte nou God is. Ons moet nou groei in heiligmaking sodat ons dade dit wys.

Ps. 115 handel ook oor die sinneloosheid van afgodsdiens. Vers 8 sê dat hulle wat afgode maak en hulle dien, word soos hulle afgode. Die verse voor dit sê dat die afgode dalk monde het, maar hulle kan nie praat nie. Hulle het ore maar hulle kan nie hoor nie en hulle het oë maar hulle kan nie sien nie. Die afgode is dood. As ons hulle dien, gaan ons ook dood. Nie net letterlik nie, maar ook geestelik. As ons agter iets in die korrupte sondige dooie wêreld aanhardloop, gaan ons ook korrup sondig en dood wees.

Ons afgode is dalk nie van silwer of van goud nie, maar daar is so baie dinge in die lewe wat vir ons afgode kan wees. Dinge soos drank, geld, aansien, pornografie of seks is natuurlik duidelike slegte afgode en verslawings, maar daar is ander dinge wat ook maklik die posisie van eerste prioriteit in ons lewens kan inneem bo God. Dit is dinge soos sport, vermaak, kultuur of politiek. Dis nie inherent sleg nie. ʼn Mens kan en moet jou godsdiens op hierdie gebiede uitleef, maar dit moet nie jou geloof word nie. As ons meer weet van sportspanne, flieks of politieke gebeure as wat ons weet van die Bybel, is daar iets verkeerd in ons lewens.

Dit is dieselfde met ander positiewe dinge soos ons familie, ons kinders of eggenote en ons werk. Al hierdie dinge is goed, en dit is goed dat dit ʼn hoë prioriteit in ons lewens geniet. God beveel ons dat hierdie mense en dinge ʼn hoë prioriteit in ons lewens moet wees, maar dit moet nie ons hoogste prioriteit wees nie. Die afgod van gerief is ʼn groot probleem in ons tyd en kultuur. As die dinge van die Here op enige manier net ʼn bietjie ongerieflik is, neem ons eenvoudig nie daaraan deel nie. Indien die erediens drieuur die middag sou wees, kan ons wonder hoeveel mense erediens toe sou kom. Sou ons na die erediens toe gekom het? Daar is baie soortgelyke gevalle en ons moet onsself werklik afvra, waarmee is ons besig?

Broers en susters, die realiteit van die saak is dat hierdie afgode ʼn mens altyd ontevrede sal laat, soos ons lees in vers 9. As jy jou hoop en hart plaas op enige iets wat nie God is nie, gaan dit jou teleurstel. Daarom is die mens wat afgode dien altyd ontevrede. Hulle het altyd ʼn hunkering na meer of na iets anders. Ons kan nie die gat wat binne-in ons is, volmaak met wêreldse dinge nie. Dit is net God wat dit kan volmaak. Daarom is om God alleen te dien die enigste manier om ware tevredenheid en vrede te ervaar.

Meer as net dit, broers en susters, die afgode kan ons nie red nie. Vers 20 sê:

“Iemand wat hom met as besig hou, laat hom mislei deur sy eie verdraaide opvattings. Hy kan homself nie red nie, hy vra homself nie af: “Is dit nie ’n leuen waarmee ek my besig hou nie?”

Hoofpunt 2: Ons moet Hom alleen dien

Daarom moet ons onsself tot God wend. Vers 21 en 22 sê die volgende:

“Dink hieraan, Jakob, dink hieraan, Israel, want jy is my dienaar; Ek het jou gemaak, jy is my dienaar. Ek sal jou nie verlaat nie, Israel.Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.”

Die wonderlike ding van Jesaja se visioene en profesieë, is dat alhoewel dit handel oor die volk wat gaan verlos word van hulle ballingskap, is die finale vervulling van Jesaja 40 tot 66 in die Messias. Hy wat sou kom om sy volk finaal te verlos. Dit is ons Here Jesus Christus en Hy het gekom. Hy het ons sonde uitgewis soos wat wolke en mis verdwyn. Hy het dit uitgevee deur dit vir ons te dra aan die kruis. Hy het ons finaal verlos. Daarom moet ons God alleen dien. Daarom is die laaste woorde van vers 22 net so waar vir ons vandag ook. “Kom terug na my toe, want ek het jou verlos”.

Hy het ons reeds gered. Hy het ons harte verander. Ons moet nou vir Hom lewe en Hom alleen dien met alles in ons lewens. Broers en susters, die teksgedeelte laat ons nie net met ʼn oproep om alle afgode uit ons lewens uit te wis nie, dit roep ons ook op om God alleen te dien. Dit is die eerste gebod van die tien gebooie. God eis onverdeelde trou aan Hom. Afgodsdiens ly net tot die dood. Ons moet daarom onsself afvra, wat is regtig vir ons die belangrikste? Waarvoor lewe ons regtig? Ons mag dalk sê dat dit God is, maar wys ons dade dit? Is ons volkome tevrede en vreugdevol in God? Of jaag ons in ons ontevredenheid afgode na?

In die HBK bely ons oor die eerste gebod dat ons Hom reg moet leer ken, op Hom alleen moet vertrou en myself met nederigheid aan Hom onderwerp. Ons moet Hom met oorgawe liefhê, absolute respek vir Hom hê, en Hom erken vir Wie Hy is. Wanneer ons Hom regtig leer ken het, sal ek met ywer van alles af wegbly wat tussen my en God kan indruk. Op hierdie manier sal ek eerder iets heeltemal los as om selfs net ʼn bietjie teen God se wil in te gaan.

Vers 23 is baie interessant. Dit is die laaste vers van ons teksgedeelte. Dit roep die ganse skepping daartoe op om te juig oor die Here se verlossing. Die Here se verlossing maak aan alles en almal sy mag bekend en hulle moet daaroor juig. Hoeveel te meer moet ons, die verlostes, nie ook daaroor juig nie?

ʼn Lewe wat volkome toegewy is aan die Here is ʼn lewe van volkome vreugde. God het ons gemaak om Hom te dien en wanneer ons Hom dien, en doen waarvoor ons gemaak is, vind ons ware vreugde en tevredenheid.

Slot

Broer en susters, waarvoor lewe ons? Wat is werklik vir ons die belangrikste? In vandag se teksgedeelte het ons gesien dat God die enigste ware God is en dat ons Hom alleen moet dien.

Amen