Teksgedeelte: Genesis 39:1-23 (1983)
Fokusgedeelte: v2, v19-v21 (1983)
Tema: God is met ons in tye van voorspoed en teëspoed.
Hoofpunt 1: God is met ons in tye van voorspoed.
Hoofpunt 2: God is met ons in tye van teëspoed.
Inleiding
Broers en susters, het dit al vir jou gevoel asof God jou verlaat het? Asof Hy nie by jou is nie? Dit is moontlik dat baie van ons al gevoel het asof God ver van ons af weg is en asof Hy nie werklik omgee wat met ons gebeur nie. Ons voel veral so wanneer dit met ons sleg gaan.
Hoofpunt 1: God is met ons in tye van voorspoed.
Ons sien egter in vandag se teksgedeelte hoe die Here by Josef is in tye van voorspoed, maar ook veral in tye van teëspoed. In die gebeurtenis waarvan ons laas gelees het, word Josef deur sy broers as ʼn slaaf verkoop. Dit was baie duidelik ʼn swaar tyd van teëspoed vir hom. Tog sien ons hoe die Here te midde hiervan nog steeds by Josef is. Vers 2 sê vir ons:
“Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. Hy het in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar, gebly.”
Die frase “Die Here was by Josef” kom vier keer in hierdie teksgedeelte voor, soos ons nou net gelees het in vers 2, maar ook in vers 3, 21 en23. Dit is baie duidelik die boodskap wat die Here vir ons gee in hierdie teksgedeelte. Hy is by ons, al gaan dit hoe swaar.
Josef is gehaat en verraai deur sy broers. Hy is ver van die beloofde land af. Hy is ver van sy familie af. Hy het so ver geval. Hy was sy pa se gunsteling kind wat waarskynlik alles sou erf en nou is hy ʼn slaaf vir ʼn Egiptenaar. Al sy drome is dalk in sy oë verbreek en verby. Die hoogmoedige Josef moes aarde toe kom. Tog, ten midde van al hierdie teëspoed, is die Here by hom. Wanneer Israel hierdie lees, word hulle daaraan herinner dat hulle ook slawe was in Egipte. Hulle word ook daaraan herinner dat God deur dit alles by hulle was en nog steeds is. Ons word ook deur hierdie gebeure daaraan herinner dat God met ons is, maak nie saak wat met ons gebeur nie.
Ons het ook in vers 2 gelees, dat juis omdat die Here by Josef is, het dit met hom goed gegaan al was hy ʼn slaaf. Hy was baie suksesvol in dit wat hy gedoen het. Dit is nie omdat Josef so goed is nie, dit is omdat die Here by hom was. Alles wat hy aangepak het, was suksesvol en kort voor lank het sy Egiptiese eienaar hom oor alles aangestel.
Ons lees dat sy eienaar, Potifar, ʼn amptenaar van die farao was en ook hoof was van die farao se lyfwag. Hy was daarom baie waarskynlik ʼn baie ryk man met baie mag. Hy het waarskynlik ʼn groot huis gehad waaroor Josef moes regeer. Tog, omdat die Here by hom was, het die Here hom geseën en ook vir Potifar en sy huisgesin geseën. Dit is deel van die belofte wat die Here gemaak het aan Josef se voorvader Abraham. Ons lees van hierdie belofte in Genesis 12:3
“Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”
Dit is nog altyd die plan van die Here om al die volke te seën en die Here begin dit reeds hier verwesenlik. Hierdie belofte van die Here is egter volkome vervul in Jesus Christus. Ons lees in Gal. 3:13-14:
“Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ’n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan ’n hout opgehang is.” 14 Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het.”
Hoofpunt 2: God is met ons in tye van teëspoed.
Ons begin dan egter raaksien hoe hierdie voorspoed wat Josef ervaar, nie blywend is. Daar kom nog teëspoed op sy pad deur Potifar se vrou. Daar word in vers 6 vir ons beskryf dat Josef aantreklik was. Die 1983-vertaling sê dat Josef fris gebou en mooi was. Josef is die enigste manlike Bybelkarakter wat as aantreklik beskryf word.
Sy aantreklikheid is egter in hierdie geval nie vir hom ʼn wins nie, want ons lees dan dat Potifar se vrou na hom gekyk het en vir hom gesê het, “Kom lê by my” of, soos die 1983-vertaling sê, “Kom slaap by my”. Sy wil duidelik met Josef egbreuk pleeg. Josef sê egter vir haar nee. Hy kan nie dit doen nie. Sy eienaar het alles aan hom oorgelaat binne sy huis, behalwe sy vrou, want dit is sy vrou. Wat baie merkwaardig is, is wat Josef aan die einde van sy verwerping sê. Hy sê hy kan dit nie doen nie, want dit is sonde teen God. Hy wil getrou bly aan sy meester, maar, meer as dit, wil hy getrou bly aan God. Dit is God wat by hom is en wat hom so geseën het hier in Egipte.
Gereeld word hierdie teksgedeelte deur baie gepreek en verstaan as hoofsaaklik ʼn teksgedeelte teen seksuele sonde. Dit is goed en waar. Ons moet soos Josef hier wegvlug en baklei teen seksuele sonde. Met die moderne tegnologie wat ons orals met ons ronddra, is dit maklik om die sewende gebod te oortree. Dit is egter nie die hooffokus van hierdie teksgedeelte nie. Die fokus is dat die Here by Josef was. Dit is omdat die Here by Josef was dat hy suksesvol was as slaaf. Dit is omdat die Here by Josef was en deur die krag van die Heilige Gees dat hy hierdie versoeking kon weerstaan. Dit was nie vreemd in daardie tyd vir mense om hulle slawe op hierdie manier te gebruik nie. Dit kon selfs besondere voordele vir Josef ingehou het om ook hierdie tipe guns in Potifar se vrou se oë te vind. Josef staan dit egter teen.
Ons sien tog dat Potifar se vrou aanhou om Josef te probeer oortuig om saam met haar te slaap. Vers 10 sê dat sy dag na dag by Josef aangehou het. Eendag, toe hulle twee alleen was, het sy Josef se klere gegryp en vir hom weer gesê om by haar te lê. Hy het egter toe letterlik van haar af weggevlug en ʼn deel van sy klere by haarself gehou. Sy het waarskynlik sy bokleed gehou en hy het toe in sy onderkleed weggevlug.
Sy is waarskynlik hierdeur verneder. Dit lyk ook sleg dat sy die een is wat nog Josef se bokleed het. Hy kan haar dalk van iets aankla. Sy spring hom voor, verdraai die waarheid en kla hom daarvan aan dat hy die een is wat haar wou forseer om met hom te slaap. Sy vertel dit aan al die ander mense in die huis wat dalk kan dien as getuies. Sy swaai die saak in haar guns en kla vir Josef aan van verkragting.
Toe Potifar by die huis kom, het sy vrou vir hom dieselfde storie vertel. Sy het vir hom Josef se bokleed as bewys gewys. Vroeër het Josef se bloedbesmeerde klere gedien as valse teken dat hy dood is. Nou dien sy klere as valse teken dat hy Potifar se vrou probeer verkrag het. Hy het sy vrou geglo en vir Josef baie kwaad geword. Hy het daarna vir Josef in die tronk laat gooi. Josef ervaar net uitdaging na uitdaging. Teëspoed na teëspoed. Net sodra hy dink dit gaan nou darem bietjie beter met hom, word hy in die tronk gegooi. Jy hy was nog steeds ʼn slaaf, maar hy was ʼn slaaf met aansien. Nou gebeur hierdie met hom. Nou is hy onregverdig in die tronk gegooi. Hy word nou beswadder as iemand wat iemand anders probeer verkrag het. Ons kan dalk dink, ja, Josef se broers moes hom nie verkoop het nie, maar ons kan insien hoe dit gebeur het. Josef was hoogmoedig en sy pa het hom voorgetrek. In hierdie geval is Josef egter heeltemal onskuldig.
Ons lees dan van die einde van vers 20 af tot vers 23:
“… Terwyl Josef daar in die tronk was, was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind, sodat die tronkbewaarder hom goedgesind geword het. Hy het vir Josef in beheer geplaas van al die gevangenes in die tronk en van wat hulle moes doen. Josef was vir alles verantwoordelik, en die tronkbewaarder het nie meer na iets omgesien nie; alles was in Josef se hande, want die Here was by hom. Wat Josef ook al aangepak het, die Here het dit laat slaag.”
Selfs toe Josef in die tronk gegooi was, was die Here steeds by hom. Ons sien dit reeds daarin raak dat Potifar nie vir Josef doodgemaak of laat doodmaak het nie. Dit sou binne hulle konteks glad nie vreemd gewees het nie. Tog hou die Here vir Josef aan die lewe. Dit is omdat die Here nog ʼn plan met Josef het. Selfs daar in die tronk seën die Here vir Josef. Selfs daar is hy voorspoedig en word hy aangestel as tweede in bevel, net onder die tronkbewaarder. Die Here het duidelik vir Josef in besonder die vermoë gegee om dinge te organiseer en leiding te neem. Die Here gee hom ook om elke hoek en draai kans om hierdie gawe van Hom nog skerper in te oefen. Selfs hier in die tronk.
Dit is juis omdat ons uit die res van die verhaal weet dat die Here Josef sou gebruik om op te tree as leier oor die hele Egipte, sodat die Here onder Josef se leierskap baie mense se lewens sou kon red van die hongersnood wat sou kom. Die Here is in beheer en die Here is by Josef, in sy tye van voorspoed, maar ook in sy tye van teëspoed. Broers en susters, ons kan ook vir seker weet die Here is by ons. Dit word vir ons bevestig deur ons Here Jesus Christus.
Toe Hy vir ons aan die Kruis gesterf het, is Hy werklik deur sy vader verlaat. Hy het uitgeroep “my God, my God waarom het u my verlaat”. Om deur God verlaat te word, beteken om hel te ervaar. Dit is wat Hy vir ons ervaar het sodat ons die ewige lewe kan hê. Hy is deur God verlaat sodat God ons nooit sou verlaat nie. Sodat ons sy ewige seën en teenwoordigheid kan ervaar. Ons gaan dit eendag volkome ervaar, maar is God is nou reeds met ons. Jesus, net nadat Hy sy laaste opdrag aan die dissipels gegee het om nog dissipels te maak aan die einde van die evangelie volgens Matteus, sê vir sy dissipels in Mat. 28 vers 20:
“Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Hy stuur ook vir ons die Heilige Gees. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, Hy is God self en Hy woon in ons. Hy gee vir ons leiding en krag. Broers en susters, in hierdie lewe ervaar ons gereeld erge en onregverdige teëspoed. Dit beteken egter nie God is nie meer met ons nie, of dat Hy van ons vergeet het nie. Ons kan met sekerheid weet dat, omdat ons deur Christus kinders van God is, is God altyd by ons. Ons is nooit alleen nie. Hy is die een wat ons dra deur die teëspoed van die lewe en hy bring ons tot waar ons moet wees.
Slot
Broers en susters, wanneer ons dink aan ons lewens, kan ons elkeen getuig van tye van voorspoed en teëspoed. Partykeer is die teëspoed heeltemal onregverdig. Ons kan dan dalk voel asof die Here van ons vergeet het. Dit kan vir ons voel asof ons alleen is. Ons het egter in vandag se teksgedeelte gesien dat die Here is by ons, maak nie saak wat met ons gebeur nie.
Amen.