Teksgedeelte: Psalm 103 (1953)
Fokusgedeelte: Psalm 103:10-13 (1953)
Tema: Die Here vergewe ons sondes en daarom vrees ons Hom.
Hoofpunt 1: Die Here vergewe ons sondes
Hoofpunt 2: Daarom vrees ons Hom
Inleiding
Broers en susters, wanneer jy verkeerd teen iemand opgetree het, of wanneer iemand verkeerd teenoor jou opgetree het, is ons as mense geneig om eers mekaar te vermy vir ʼn rukkie. Ons wil eers afkoel of mooi oor die saak dink voordat ons mekaar vergewe en weer saam kan werk.
Wanneer ons dan sondig teenoor die Here is ons geneig om dieselfde te dink en te reageer. Wanneer ons gesondig het, dink ons dat ons nie nou tot die Here kan nader nie. Hy is dalk nog kwaad vir my. Dalk wil Hy nie hê ek moet nou met hom praat nie. Dit is ons natuurlike eerste reaksie, want ons is gewoond daaraan om met mense so te werk. Maar ons moet besef dat die Here nie so is nie. Die Here se vergifnis van sy kinders is anders as ʼn mens s’n. Dit is volledig en volmaak en dit is reeds verby.
Hoofpunt 1: Die Here vergewe ons Sondes
Die vergifnis van die Here is een van die wonderlike dinge waaroor Psalm 103 handel. Dit is ook waarna ons gaan kyk met die oog op die nagmaal dv komende Sondag. U sal dalk oplet dat net nadat ons die nagmaal gevier het, lees ons groot dele van hierdie psalm as lofverheffing. Daarom is dit ook gepas om te kyk na persies wat hierdie psalm sê met die oog op die nagmaal.
Psalm 103 is in die eerste plek ʼn lofpsalm. Dit is ʼn psalm wat die Here loof vir wie Hy is en vir wat hy doen. Dit is ook ʼn psalm wat koning Dawid geskryf het. Daar kan nie met sekerheid presies gesê word wanneer in sy lewe hy hierdie psalm geskryf het. Ons kan egter onsself indink dat hy dalk eerder later in sy lewe hierdie psalm geskryf het na sy sonde met Batseba. Soos reeds genoem is ʼn groot tema van hierdie psalm die Here se verstommende vergifnis van ons sondes. Dawid het waarskynlik ernstig hiermee geworstel na sy sonde met Batseba. Hy sou dan na daardie ervaring gegroei in sy begrip van wat dit beteken om die Here te loof omdat Hy ons sondes vergewe het. Om die wonder van jou verlossing en die grootheid van God se vergifnis regtig te waardeer, moet jy die diepte van jou sonde besef. En dit het met Dawid gebeur na sy sonde met Batseba soos ons lees in Psalm 51.
Die eerste woorde van hierdie Psalm is ʼn opdrag wat Dawid aan homself gee. Dit is ook een wat ons vir onsself moet gee. Hulle sê om met jouself te praat is nie iets wat gesonde mense doen nie. Dit is egter vir seker gesond wanneer jy hierdie tipe goed vir jouself sê: Loof die Here, O my siel en alles wat in my is. Dit beteken dat ons met ons hele menswees, alles wat ons is, die Here moet loof!
Partykeer kan ʼn mens met jouself praat en sê: Self, jy moet die Here dien! Dawid neem dit egter ʼn stappie verder en sê vir sy siel, vir sy diepste binneste dat hy die Here moet loof met elke greintjie van sy menswees. Dit beteken dat sy fisiese, geestelike en emosionele die Here volkome moet loof.
Dit is ook eintlik interessant dat die woord wat hier vertaal word met “loof” kan ook vertaal word met “seën”. Wat beteken dit vir ons om die Here te “seën”? Kan ons as mense die Here “seën”? Natuurlik kan God ons seën want Hy is almagtig. Die woord word meer gereeld gebruik wanneer ʼn meerdere, soos God, guns bewys aan ʼn mindere, soos ons mense. Wanneer ons mense dan die Here seën lyk en werk dit op ʼn heel ander manier.
Wanneer ons die Here seën beteken dit dat ons Hom eer, bedank en goed praat van sy grootheid en goedheid. Daarom, maak dit sin om die woord te vertaal as “loof” maar dit is egter wonderlik om te dink dat wanneer ons die Here loof op hierdie manier, seën ons Hom. Hy het nie nodig dat ons Hom seën nie. Ons is afhanklik van die seën van die Here, nie andersom nie, maar omdat ons lief is vir die Here wil ons Hom loof en is dit vir ons wonderlik dat ons ook hom op hierdie manier kan seën.
Dit is die inleiding van hierdie psalm en dit stel die fondasie vir alles wat kom. Hierdie is ʼn psalm wat ons oproep tot ʼn volledige loof van die Here. Dawid gaan dan oor om te sê dat die Here geloof moet word vir die weldade wat Hy vir ons doen. Hy noem dan ʼn lys van weldade in die volgende verse. Hierdie is nie ʼn volledige lys van al die weldade van die Here nie. Dit is net die lys wat Dawid hier in hierdie psalm vir ons opgeteken het.
Die eerste weldaad wat hy dan noem in vers 3 dat die Here ons ongeregtighede vergewe. Dit is eintlik opvallend dat dit die eerste een is wat hy noem. Indien ons ʼn lys sou moes opstel van al die wonderlike dinge wat die Here vir ons gedoen het, wat sou ons eerste genoem het?
Dawid noem eerste dat die Here ons sondes vergewe het. Dit maak eintlik baie sin dat hy dit eerste noem want dit is waar alles begin. As gevolg van die sonde wat ons gedoen het, is ons verhouding met God vernietig. Die Here kom dan en vergewe ons sonde en daarom kan ons weer in verhouding met Hom lewe. As dit nie daarvoor was nie, sou ons nog steeds sy vyande gewees het, en dan sou ons nie enige van die ander weldade werklik aan deel gehad het nie. Die psalm brei later nog uit op die vergifnis van die Here.
Die volgende ding wat Dawid noem is dat die Here al ons krankhede genees. Met ander woorde, dit beteken dat die Here al ons siekte gesond maak. Hy is die een wat ons kom genees. Ek vermoed dat Dawid nie net het praat van fisiese siekte nie. Dit gaan dieper. Die Here is nie net die een wat alles fisiese siekte gesond maak nie, maar ook alle emosionele en geestelike siekte. Hierdie siekte is in die wêreld as gevolg van die sonde wat ons gedoen het. Die Here vergewe ons van ons sonde en genees dit wat die sonde kom siek maak het.
Daarom maak die volgende weldaad wat die Here vir ons doen ook sin. Wanneer hy die siek van die sonde genees het, verlos Hy ons ook van die verderf. Wanneer ons die Hebreeus wat hier staan meer direk sou vertaal, staan daar eerder dat die Here die een is wat ons red van die put. Dit is ʼn beeld wat beteken hy red ons van die ewige dood. Dit is die ewige verderf.
Die lys van die weldade van die Here gaan nou ʼn ander rigting in na hierdie een. Die eerste het gehandel oor die Here wat die slegte dinge van ons af wegvat. Die volgende dinge handel oor die goeie dinge wat die Here vir ons gee.
Hy kroon ons met goedertierenheid en barmhartighede. Dit beteken dat Hy aan ons liefde bewys het in ons nood. Hy versadig ons siele. Broers en susters. Alle mense strewe daarna dat hulle siele versadig moet word. Hulle soek dit op so baie plekke in hierdie wêreld en word keer op keer teleurgesteld.
Het jy al besonder baie uitgesien daarna om een of ander nuwe ding te koop. Dan werk jy baie hard en spaar en uiteindelik koop jy dit. Aanvanklik is jy baie opgewonde en indien dit wat jy koop jou nie teleurstel nie, is jy baie gelukkig, maar later raak jy maar gewoond daaraan. Dit wat nuut was word oud en jy is nie meer werklik daarmee versadig nie. Dit is hoe die siel van die mens werk. Jy kan dit nie vol maak met enige iets in hierdie wêreld nie. Die Here is die enigste een wat werklik jou siel kan versadig.
Vers 7 sê ʼn baie interessante ding. Daar staan dat die Here die een is wat sy weë aan Moses bekend gemaak het. Die eerste vyf boeke van die Bybel, wat bekend staan as die Pentateug, staan ook bekend as die boeke van Moses, want Moses het dit geskryf. Dit was die “Bybel” wat Dawid gehad het om te lees. Dawid loof met ander woorde hier die Here omdat hy vir hulle sy Woord gegee het deur Moses. Waar sou ons gewees het sonder die Bybel? Waar sou ons gewees het as die Here nie Homself aan ons geopenbaar het nie?
Ons fokusverse wys dan vir ons die wonder van die Here se genadige vergifnis. Vers 10 sê dan die Here nie met ons handel volgens ons sonde nie. Kan jy jou vir ʼn oomblik indink hoe dit met ons sou gaan indien die Here met ons gehandel het volgens ons sonde? Hoe dit sou gelyk het as ons eintlik gekry het wat ons verdien het.
Hoofpunt 2: Daarom vrees ons Hom
Ons moet besef ons het elkeen gesondig teen die heilige en almagtige God. Ons besef nie dat God se goedheid eintlik vir ons ʼn probleem is nie. Dit is juis omdat God goed is dat geen kwaad voor Hom kan bestaan nie. Sy goedheid en heiligheid is van so ʼn aard dat enige iets wat sleg is eenvoudig in sy volle teenwoordigheid verteer word. Sy regverdigheid vereis dit ook. Die sonde kan nie ongestraf bly nie.
Dit moet ons met vrees en bewing laat. Hoe wonderlik is dit nie dat die Here ook genadig is nie. Hoe wonderlik is dit nie dat Hy nie met ons handel volgens ons sonde nie. Dawid het reeds hier geweet dat dit is hoe die Here met sy kinders werk, maar hy het nie geweet presies hoe die Here dit doen nie. Hoe is die Here beide regverdig en genadig gelyk? Ons het die voorreg om te weet dat die Here Psalm 103 vervul het deur sy Seun ons Here Jesus Christus.
Die Here handel nie met ons volgens ons sonde nie, want die Jesus is die een wat die straf van ons sondes namens ons gedra het. Wanneer ons volgende week die nagmaal dv gaan vier, en ons gaan saam deelneem aan die lofverheffing aan die hand van Psalm 103 nadat ons die tekens van die brood en die wyn gebruik het, maak die formulier die konneksie tussen Psalm 103 en Rom. 8 vers 32. Daar staan in Rom. 8 van vers 31 tot 33:
“WAT sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.”
God het sy eie Seun vir ons gegee. Die Here handel nie met ons volgens ons sonde nie, want hy handel met Jesus volgens ons sonde. Dit is hoe God beide regverdig en genadig is. Dit is hoe ons sonde nie ongestraf bly nie, maar hoe ons tog die ewige lewe kry.
Dit is hoe die volgende verse van Psalm 103 waar is. Dawid het ook geweet dit is waar, maar ons weet dit is vervul in Jesus! As gevolg van wat Jesus vir ons gedoen het, is die Here se goedertierenheid so groot vir ons soos wat die hemel hoog is bo die aarde. As gevolg van wat Jesus vir ons gedoen het, skei Hy ons sondes so ver weg van ons af soos wat die ooste verwyderd is van die weste. As gevolg van wat Jesus vir ons gedoen het ontferm die Here homself oor ons soos ʼn vader want deur Christus is Hy ons vader. Hy gee vir ons net wat vir ons die beste is. Nie noodwendig wat ons wil hê nie, maar wat ons nodig het.
Ons moet oplet dat vers 13 sê dat Hy homself soos ʼn vader ontferm oor die wat Hom vrees. Hierdie “vrees” kan ʼn mens ook verstaan as “ontsag”. Hierdie vers beteken nie ons moet vir die Here ontsag hê sodat Hy Homself oor ons sal ontferm, so asof ons sy liefde kan verdien nie. Hierdie beskryf wie die kinders van God is. Hulle is mense wat die Here vrees.
Dit is wat met ons gebeur wanneer die Heilge Gees in ons werk. Wanneer die Heilige Gees in ons werk kry ons ʼn besef van ons sonde. Dan, wanneer ons die Here loof, is die eerste ding waaraan ons dink om Hom voor te loof sy vergifnis van sonde. Hierdie hele loflied van Psalm 103 wys vir ons wat dit beteken om die Here te vrees. Dit beteken om ʼn besef te hê vir wie Hy is en hoe groot Hy is en hoe ontsaglik sy werke is daarom kan ons nie anders as om met ons hele menswees, met ons hele siel en alles wat in ons is die Here te loof nie.
Al die dinge wat ons reeds genoem het waarvoor ons die Here moet loof is ook in Jesus vervul. Die Here Jesus het gekom om die sonde uit de wêreld uit weg te neem en alles reg te maak. Dit is wat in vervulling gaan kom wanneer Hy weer kom.
Wanneer ons dan die Here loof omdat hy ons ons ongeregtigheid vergewe, ons krankhede genees, ons verlos van die verderf, ons kroon met goedertierenheid, ons siele versadig met die goeie, weet ons dit is in Jesus vervul en dit gaan eendag volkome vervul wees met sy wederkoms. Dit is wat ons opnuut weer gaan vier met die komende nagmaal.
Slot
Broers en susters, wanneer ons ooit voel asof God nog steeds kwaad is vir ons, asof ons nie nou tot hom kan nader nie want ons het teen hom gesondig, moet ons nie vergeet van sy weldade vir ons nie. Hy handel nie met ons volgens ons sonde nie want hy het reeds met Jesus gehandel volgens ons sonde.
So hoog soos wat die hemel is bo die aarde, so hoog is sy goedertierenheid oor ons. So ver soos wat die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder hy ons sonde van ons af.
Amen