Teksgedeelte: Lukas 19:29-44
Fokusgedeelte: Lukas 19:38- 40
Tema: Christus is koning en ons moet Hom loof.
Hoofpunt 1: Christus is Koning
Hoofpunt 2: Ons moet Hom loof
Inleiding
Broers en susters, lyk jou lewe radikaal anders omdat jy vir Christus dien en dien jy Hom vir wie Hy is of vir wie jy wil hê Hy moet wees? Wanneer ʼn mens diep dink oor vanoggend se teksgedeelte, is dit die twee vrae waarby ʼn mens uitkom.
Hoofpunt 1: Christus is Koning
Dit is baie gepas om juis hierdie teksgedeelte vanoggend te lees, want vanoggend is Palmsondag. In die Gereformeerde kerk is dit nie so algemeen die gebruik om hierdie spesiale dag spesifiek te vier nie, maar dit is eintlik nie ʼn goeie ding nie. Ons moet besef watter week ons nou betree. Dit is die week net voor Jesus se kruisiging. Dit is die week net voor Paasfees.
Paasfees is die belangrikste fees op die Christelike kalender, want ons vier ons Here Jesus Christus se dood en opstanding. Dit is die kernmoment van die evangelie. Dit is die groot tentoonstelling van God se liefde en genade teenoor sy kinders. As dit nie vir Jesus se dood en opstanding was nie, het ons geen verlossing gehad nie.
Dit is daarom baie belangrik dat ons Paasfees reg vier en deel daarvan is dat ons onsself daarvoor voorberei. Daarom vier ons vandag Palmsondag. Die dag wat Jesus in Jerusalem ingegaan het ʼn week voor sy kruisiging en homself baie duidelik bekend gemaak het as die Messias.
Daar is ʼn groot skare mense wat ook Jerusalem toe gaan om die pasga te vier. Jesus en sy dissipels is ook op pad Jerusalem toe om die pasga te vier. Jesus het altyd baie getrou al die Joodse feeste gevier. Jesus weet egter dat hy Jerusalem toe gaan. Hy gaan om die volk van die Here te verlos. Hy weet hy gaan om vervolg en gekruisig te word. Hy het ook sy dissipels gewaarsku alhoewel hulle waarskynlik nog nie volkome verstaan het hoekom nie.
Die dinge wat Jesus doen en wat met Hom gebeur wanneer hy by Jerusalem ingaan, maak dit baie duidelik dat Hy die koning en die messias is. Daar is ʼn paar baie spesifieke dinge wat Jesus doen en wat gebeur wanneer Hy by Jerusalem ingaan wat die profesieë van die Ou-Testament vervul en so wys dat Hy die messias is. Baie profesieë van die Ou Testament word deur Jesus vervul deur dinge wat met Hom gebeur.
Dit is interessant dat Jesus hier spesifiek optree op so ʼn manier juis dat Hy hierdie profesieë vervul. Jesus stuur hier deur sy optrede ʼn baie duidelike boodskap. Dit is anders as vroeër in die evangelies, waar Jesus geweet het sy uur het nog nie gekom nie, waar Hy vir mense gesê het, gaan dan heen en moet vir niemand vertel van my nie. Hier is dit anders. Dit is die week net voor Jesus se kruisiging. Die tyd het gekom dat die mense moet weet. Hy is die Messias. Hy is die Koning. Hy het gekom om vrede te maak.
Die eerste profesie wat Jesus vervul in ons teksgedeelte is dat Hy op ʼn donkie by Jerusalem inry. Daar word in Sagaria 9:9 geprofeteer:
“Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ’n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie.”
Broers en susters, dit is waar dat die donkie ʼn simbool is van nederigheid en ook van vrede. Die donkie is nie ʼn duur oorlogsperd wat baie indrukwekkend is en gereed is vir aksie nie. Ons moet egter besef dat dit ʼn koninklike gebruik was onder die Jode om op ʼn donkie te ry voordat jy jou plek op jou troon inneem. Koning Salomo het dieselfde gedoen in 1 Konings 1:33–35. Die donkie was dus ʼn teken van vrede, nederigheid en koninklikheid.
Ons moet die wonderwerk wat hier gebeur het vir Jesus om die donkie te kry, raaksien. Jesus stop spesifiek toe Hy naby Betfage en Betanië kom, dit is twee klein plekkies naby aan Jerusalem, en sê vir twee van sy dissipels om by die klein dorpie in te gaan en ʼn jong donkie daar te kry. Hy het gesê hulle sal hierdie donkie vasgemaak sien staan as hulle inloop by die dorpie. Hy noem baie spesifiek dat hierdie donkie nog deur niemand gery is nie. Dit beklemtoon dat hierdie donkie, waarskynlik sonder dat sy eienaars daarvan weet, afgesonder is juis vir hierdie taak. By baie van die Ou-Testamentiese offers mag die dier wat geoffer moes word ook nooit op gery of vir werk gebruik geword het nie.
Jesus sê dan ook vir hulle dat indien iemand ( waarskynlik die eienaars) vir hulle vra: “Waarom maak julle hom los?” moet hulle antwoord: “Die Here het hom nodig”. Dit het toe ook net so gebeur. Toe die dissipels die donkie daar in die dorpie kry en hom losmaak het sy eienaars natuurlik vir hulle gevra hoekom hulle dit doen. Ons sou dieselfde gedoen het. Dink jouself in jy sien hoe iemand jou donkie vat. Jy sal ook hom gaan probeer keer of vra hoekom hy dit doen. Die dissipels het egter geantwoord “Die Here het hom nodig”. Daar word nie verder vermeld wat direk daarna gebeur nie, maar wanneer ons weer lees sien ons die dissipels het die jong donkie vir Jesus gebring.
Ons kan aanneem dat die eienaars van die donkie die dissipels se antwoord aanvaar het en hulle in vrede laat gaan het. Die Here het hierdie donkie spesifiek voorberei en afgesonder vir hierdie geleentheid. Hy het hom ook presies daar geplaas by die ingang van die dorpie. Hy het dit so bepaal dat hy nooit op gery sou word nie en ook sy eienaars se harte sag gemaak sodat die dissipels die donkie sou kon kom haal. Die Here het dit alles in sy almag gedoen om hierdie profesie te vervul.
Dit is ʼn wonderwerk dat die donkie daar was en dat die eienaars dit vir die dissipels gegee het, maat ons moet besef dat Jesus eintlik as hy wou ʼn donkie net daar uit niks uit kon gemaak het. Hy kies egter eerder om deur mense te werk. Die eienaars van die donkie kon ʼn rol speel en iets gee in die plan van die Here.
Die dissipels maak dan vir Jesus ʼn saal met hulle klere. Hulle het ook selfs hulle klere op die vloer voor die donkie neer gegooi. Mens kan dit amper sien as die rooi tapyt wat uitgegooi word.
Jesus kom toe nader aan die stad van die Olyfberg se kant af. Dit is van die oostekant af waar daar ʼn hek is na Jerusalem toe waar jy basies direk by die tempel kon ingaan. Dit is weereens ʼn vervulling van ʼn profesie van die Ou Testament.
Die profeet Esegiël sien in ʼn visioen in Esegiël 10-11 hoe die heerlikheid van God sy tempel verlaat as gevolg van die afgodery wat daar in die tempel plaasgevind het. Hy sien spesifiek hoe die heerlikheid van God na die oostekant toe wegbeweeg van die tempel af. Later in die boek, in Esegiël 43, sien hy in hoe die heerlikheid van die Here terugkeer na die tempel toe ook deur die hek aan die oostekant.
Jesus wat van hierdie kant af kom, van die Olyfberg af, is die vervulling van hierdie profesie. Die heerlikheid van God kom terug. Jesus kom om die tempel te herstel. Dit is egter nie die manier hoe ons dink dit sou wees nie. Jesus het die tafels omgekeer en kwaad geword vir die mense wat die tempel van die Here in ʼn rowerspelonk verander het. Hy het egter nie die aardse tempel, die gebou kom herstel nie. Hy het eerder die tempel kom vervang met Homself. Met sy liggaam. Jesus het immers self gesê dat hy die tempel sou vernietig en in drie dae weer opbou. Die “drie dae” verwys na die tyd wat sy liggaam in die graf sou wees. Sy liggaam is nou die tempel. Ons, as lede van sy liggaam, is nou die tempel. Die Here kom uit die ooste uit om die tempel van die Here te herstel.
Hoofpunt 2: Ons moet Hom loof
Jesus kom dan by Jerusalem aan. Daar is ʼn paar dinge waarvan ons lees in die ander evangelies wat ons nie in die evangelie volgens Lukas lees nie. Dit is moontlik omdat Lukas se gehoor dalk nie Jode was nie en nie alles sou verstaan het nie. Ons lees in die evangelie volgens Johannes dat die skare mense Jesus verwelkom het met palmtakke. Dit was in die Joodse kultuur ʼn teken van oorwinning en hoe hulle ʼn held verwelkom het. Ons lees in buite-Bybelse, tussen-Testamentiese bronne dat die Jode helde wat oorwin het verwelkom het met palmtakke. Dit is ook hoekom vandag Palmsondag genoem word.
Ons lees ook dat die skare “Hosanna” uitgeroep het. Dit beteken “Red, asseblief” as ʼn mens dit direk sou vertaal. Hulle het dit ook uitgeroep wanneer hulle die held of die redder wou eer. Die woord “Hosanna” en dan ook die woorde wat hier aangehaal word in Lukas 19:38 kom uit Psalm 118. Dit is ʼn Psalm wat baie duidelik handel oor die messias wat sou kom. Die koning wat in die naam van die Here kom om vrede te maak.
Daar staan in Psalm 118:22-26
“Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. 23 Dit is deur die Here gedoen en is ’n wonder in ons oë! Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. Red tog, Here, gee tog voorspoed, Here! Prys hom wat in die Naam van die Here kom!”
Die klip wat deur die bouers afgekeur is wat die hoeksteen word, wat die belangrikste klip word, is duidelik ʼn verwysing na Jesus. Die een wat deur sy eie mense onregverdig verwerp is, word die hoeksteen van die tempel. Hy is die een wat kom om te red. Die een tot wie ons uitroep “Hosanna”. Die een wie kom in die naam van die Here. Jesus is die vervulling van die profesie van hierdie psalm.
Die fariseërs kom toe uit die skare wat op hierdie manier vir Christus verwelkom as hulle held en messias en sê vir Hom dat Hy sy volgelinge moet stilmaak. Jesus sê dan vir hulle dat as hulle stil bly sal die klippe dit uitroep. Die lof van die redder en messias kan nie gekeer word nie. Die messias het gekom en almal moet dit weet en almal moet hom loof.
Die Fariseërs was moontlik bang dat die skare wat so tekere gaan oor iemand wat hulle kom verlos politieke onrus sou veroorsaak. Hulle was bang dat die mense met nuwe ywer in opstand sou kom teen Rome onder wie se bewind hulle was en hulle was bang vir nog erger onderdrukking.
Dit is eintlik die kern van die probleem. Hierdie gebeurtenis is ʼn vervulling al hierdie Ou- Testamentiese profesieë van die redder messias wat sou kom, maar almal daar het waarskynlik ʼn verwronge idee gehad van wie die messias werklik is, van watter redding hy sou bring. Hulle het gehoop die messias kom om hulle te verlos van hulle aardse probleme. Hulle het gehoop Jesus sou hulle verlos van die Romeine. Ons kan eintlik sê hulle het gehoop Jesus kom op ʼn oorlogsperd.
Hy het egter nie gekom om hulle van hulle aardse probleme te verlos nie. Hy het gekom om die kinders van God van hulle ewige probleme te verlos. Daarom huil Jesus oor die stad Jerusalem. Hy het geweet hierdie selfde mense wat nou oor Hom juig sou teen hom draai en Hom kruisig. Die uiteinde hiervan sou oorlog wees en nie vrede nie. God sou die Romeine gebruik om in 70 n.C. hulle hiervoor te oordeel en die stad te vernietig.
Daar staan in verse 41-44:
“Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. 44 Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie.”
Dit is regtig opvallend dat Jesus hier huil oor dit wat hy weet wat kom. Daar is net twee plekke waar ons lees dat Jesus gehuil het. Die een is met sy vriend Lasarus se dood en die ander een is dan hier oor Jerusalem. Die Griekse woord wat gebruik word met Lasarus se dood beteken dat Jesus saggies gehuil het. Die woord wat hier gebruik word beteken egter dat Jesus hardop geween het. Jesus ween oor die vernietiging van sondaars. Dit sê vir ons baie van wie God is.
Broers en susters, ons kom dan by die vrae waarmee ons die preek begin het. Lyk jou lewe radikaal anders omdat jy vir Christus dien en dien jy Hom vir wie Hy is of vir wie jy wil hê Hy moet wees? Alles wat gebeur het met Jesus se intog in Jerusalem beteken ʼn mens kan nie net neutraal wees teenoor Jesus nie. Jy kan nie net dink hy was ʼn goeie man wat goeie morele waardes gepromoveer het nie.
C.S Lewis het gesê: “Of Jesus is wie Hy gesê (en gewys) het Hy is, of hy is ʼn leuenaar en ʼn mal mens of erger”. Hy is of jou koning of iemand wat niks vir jou beteken nie. Daar is nie ʼn middelgrond nie. Die vraag is dan of ons werklik radikaal Jesus as ons verlosser en messias aangeneem het? Die een wat gekom het om vrede te maak. Met sy eerste koms het hy kom vrede maak tussen God en mens. Hy het die sonde wat ons elkeen gedoen het se skuld kom betaal. Met sy tweede koms gaan hy alles kom regmaak wat die sonde gebreek het, dan gaan daar finale vrede wees in die nuwe hemel en op die nuwe aarde.
Of ons volg Hom en loof Hom vir wie Hy werklik is of ons moet hom doodmaak net soos wat die skare later Hom doodgemaak het. Jesus vereis ʼn radikale reaksie.
Slot
So, broers en susters, wie is Jesus vir ons in hierdie Paastyd wat kom? Vier ons werklik Paasfees reg? lyk jou lewe radikaal anders omdat jy vir Christus dien en dien jy Hom vir wie Hy is of vir wie jy wil hê Hy moet wees?
Amen