Levitikus 16

Teksgedeelte: Levitikus 16

Fokusgedeelte: Levitikus 16:30

Tema: Christus het ons sondes op Homself geneem en ons moet daarin rus

Hoofpunt 1: Christus het ons sondes op Homself geneem

Hoofpunt 2: Ons moet daarin rus

Inleiding

Broers en susters, dit is vandag Goeie Vrydag. Ons vier vandag ons Here Jesus Christus se kruisiging. Jesus se kruisiging is werklik kern tot ons geloof en daarom is dit iets wat elke Christen moet van weet en glo, anders kan hulle nie werklik ʼn Christen wees nie. ʼn Mens kan sê dit is baie fundamenteel tot ons geloof.

Die vraag is of ons, juis omdat dit so fundamenteel is, aanneem almal ken en verstaan dit en daarom praat ons nie regtig so baie daaroor nie. Ons kan dalk ook dink ons ken en verstaan dit mos, daarom dink ons self nie regtig gereeld genoeg so diep daaraan nie. Vandag het ons almal gelukkig weer opnuut die geleentheid om werklik stil te staan by hierdie die kernwaarheid van ons geloof.

Hoofpunt 1: Christus het ons sondes op Homself geneem

Ons is baie gewoond daaraan om te sê en te hoor: “Jesus het vir my sondes gesterf”. Dit staan aan die hart van die evangelie, maar besef ons wat ʼn vreemde ding dit eintlik is wat ons sê. Dink jouself vir ʼn oomblik in jy het nie met die idees van die Christelike geloof grootgeword nie. Dink jouself vir ʼn oomblik in dit is die eerste keer wat jy daardie sin hoor. Dit is eintlik baie vreemd.

Die eerste ding wat vir ʼn mens vreemd kan wees is dat jy sondig is. God bestaan en jy staan voor Hom skuldig. Jy is in die skuld en daar moet daarvoor betaal word. Die volgende ding wat vreemd kan wees is dat die betaling vir die sonde die dood is. Iemand moet doodgaan om te betaal vir die sonde wat ek gedoen het. Eintlik moet ek doodgaan vir die sonde wat ek gedoen het. Die laaste ding wat vir ons vreemd kan wees is dat daar in my plek doodgegaan kan word vir my sonde. Iemand kan opgeoffer word vir my sonde. Ons weet nou dat dit net Jesus is wat werklik die straf vir my sondes Namens my kon dra. Hy het Homself in my plek op geoffer. ʼn Mens moet egter al die bogenoemde begryp om werklik te verstaan wat dit beteken dat Jesus vir my sondes gesterf het.

Die idees van sondeskuld en offer het die Here egter aan die volk van die Ou Testament lank voor Jesus se tyd reeds geleer. Dit alles het vooruit gewys op wat Jesus sou kom doen en wat Jesus kom doen het maak daarom eers volkome sin wanneer jy die Ou Testament gelees het. Daarom is boeke soos Levitikus baie belangrik.

Levitikus is die derde boek in die Bybel dit vind plaas nadat die volk uit Egipte, uit slawerny verlos is. Hulle is besig om in die woestyn te trek op pad na die beloofde land toe. Hulle kamp nou by die voet van die berg Sinai. Moses leer dan in die boek van Levitikus vir die volk hoe hulle God se volk kan wees en hom kan dien. Die kernprobleem wat Levitikus aanspreek is: “Hoe kan sondaars voor ʼn Heilige God lewe?” Die kernboodskap in die boek vir die volk en vir ons ook is God wat sê: “Wees heilig want ek is heilig”. Dit staan op baie plekke in die boek, soos hoofstuk 19:2.

Dit bring ons dan by die hoofstuk wat ons vandag gelees het. Volgens meeste Bybelverklaarders is dit die hoogtepunt van die boek want dit los juis die kernprobleem van die boek op: “Hoe kan sondaars voor ʼn Heilige God lewe? Hoe kan ons heilige wees?” Dit is deur ons sondeskuld wat vir ons betaal word.

Hoofstuk 16 leer ons dan van die groot versoendag. Of “Yom Kippur” soos dit in die Hebreeus bekend staan. Dit is so kernagtig tot die Joodse gebruike dat dit in spreektaal gereeld na verwys word as net “Yom” wat beteken “dag”. Wanneer daar gepraat word van “die dag” weet almal dat daar verwys word na hierdie dag want dit is die belangrikste dag.

Die eerste twee dinge waarvan ons gepraat het, wat vir ons kan vreemd wees indien ons nog nooit van die evangelie gehoor het nie, word dadelik aangespreek in verse 1-5. Ons lees van Aäron se twee seuns wat doodgegaan het omdat hulle op ʼn verkeerde manier voor die aangesig van die Here gekom het. Ons lees ook dat die Hoëpriester, Aäron self en die wat op hom sou volg, net een maal ʼn jaar in die allerheiligste mag ingegaan het anders sou Hy ook sterf.

Ons sien dadelik hier dat God bestaan, Hy is heilig, ons is sondig en voor sy aangesig gaan ons sterf. Hierdie is eintlik ʼn angswekkende idee wat ons in ons kultuur nie werklik wil glo nie. Ons besef nie regtig wat dit beteken dat God heilig is nie.

Hy is liefdevol en genadig en die bron van alles wat goed is en dit is alles waar, maar ons kan nie onsself indink dat ons eenvoudig voor sy aangesig verteer gaan word nie. Ons het nie meer werklik hierdie ontsag en vrees vir die Here nie. Dit is omdat ons nie werklik ʼn begrip het van hoe goed en hoe heilig God regtig is nie. Ons het ook nie ʼn begrip van hoe sleg en sondig ons regtig is nie.

Ons probleem is nie dat God sleg is nie. Ons sou dink dit is sleg dat God mense verteer wat voor Hom kom. Dit is sleg vir ons, maar God doen dit juis omdat Hy goed is. Hy is so goed dat dit wat sleg is nie voor Hom kan bestaan nie. Hy is so goed dat hy die slegte vernietig. Die probleem wat ons het is dat ons sleg is. Die rituele waarvan ons in Levitikus lees het die volk van die Here hieraan herinner. Hulle moes besef en onthou God is heilig en ʼn mens kan nie sommer net tot Hom nader nie.

Die tabernakel, later die tempel, het drie afdelings gehad. Die voorhof, die heilige en die allerheiligste. Die voorhof is ʼn opelugaltaar waar die volk hulle offers kon kom bring het. Die heilige is die eerste vertrek van die tempel en net priesters mag daar ingegaan het om tempeldiens te doen. Dan kry ons die allerheiligste. Dit is die agterste vertrek van die tempel waar die ark van die verbond gestaan het. Net die hoëpriester mag hier ingegaan het en dit is net een keer per jaar. Dit is juis op hierdie dag, “Yom Kippur”, die versoeningsdag wat hulle dat mag gedoen het.

Die tempel was ʼn sigbare teken vir die volk van God se teenwoordigheid. Die allerheiligste was ʼn teken van God se absolute teenwoordigheid. As jy ontsag het vir God, betree jy nie net eenvoudig hierdie plekke nie.

Die wonder vir ons as gelowiges is dat ons deur Christus God se teenwoordigheid mag betree. Ons lees in Matteus 27:51 dat toe Jesus gesterf het, het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Dit is die voorhangsel wat die allerheiligste van ons skei. Dit wys dat Jesus se reddingswerk gemaak het dat ons nou in die teenwoordigheid van die Here kan kom. Deur Jesus wat ons heilig gemaak het kan ons nou tot ons heilige God nader en ons mag dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie.

Die hoëpriester moet homself dan was en spesiale klere aantrek. Hierdie was spesifieke wit en eenvoudige klere, anders as die mooi en kleurvolle kleure wat hy gewoonlik moes aantrek. Dit is nederige klere wat pas by verootmoediging voor God.

Die hoëpriester moes dan ook vir hom en vir sy familie, sy medepriesters en leviete , ʼn bul offer vir hulle sondes. Die priester wat die versoening tussen God en volk moes gaan bedien, moes eers ʼn bul slag vir sy eie sondes. Weereens wys hierdie onvolmaakte hoëpriester na die volmaakte hoëpriester toe. Christus kon volledig en volmaak die versoening tussen God en mens bedien omdat Hy self volmaak is.

Die priester moes dan die lot werp tussen twee bokramme wat die volk van die Here daarvoor gegee het. Hy moes die lot werp om te beklemtoon dat dit die Here is wat bepaal. Dit is die Here wat kies, nie die mens nie. Die lotery het dan bepaal watter bok geoffer sou word vir die sondes van die volk en watter bok in die woestyn in gestuur sou word.

Die bok wat geoffer is vir die sondes van die volk se bloed sou dan versprei word om die sondes van die volk te bedek. Ons moet net vir ʼn oomblik stilstaan en besef watter effek so ʼn offer op ʼn mens se gemoed moes gehad het. Hierdie dier moes doodgaan vir die sondes van die volk. Baie van u is baie bekend daarmee om te diere te jag en te slag vir hulle vleis sodat ʼn mens kan eet. Om ʼn dier dood te maak, of te sien hoe die dier doodgemaak word en jy weet dit is eintlik wat jy verdien om doodgemaak te geword het moes ʼn ontnugterende effek op jou gehad het.

Soos ons gesê het, moes die hoëpriester dan die bloed van daardie bok op verskillende maniere versprei om die volk se sondes toe te maak. Die eerste was dat dit op die deksel van die ark en voor die ark gesprinkel is. Hy moet dan na die altaar toe gaan en dit ook daarop sewe maal sprinkel. Die getal sewe is ʼn volheidsgetal. Dit beteken die sondes word volledig bedek.

Die volk moes egter deurlopend diere offer vir hulle sondes. Hulle moes elke jaar met die versoeningsdag hierdie offer bring en die sondes met die bloed toemaak. Die feit dat hulle dit oor en oor moes doen het gewys dat dit onvolledig is. Die bloed van die diere kon nooit werklik die sondes van die mens bedek nie. Dit alles het gewys na Christus toe wat Homself vir ons sou opoffer. Dit alles het gewys na sy bloed toe wat werklik ons sondes finaal sou bedek. Dit is wat gebeur het op Goeie Vrydag meer as tweeduisend jaar gelede. Christus het Homself vir ons opgeoffer. Sy bloed het gevloei en ons sondes bedek.

Die bok wat woestyn toe gestuur word wys egter dat die sondes nie net toegemaak word nie. Dit word heeltemal verwyder word. Soos Psalm 103 sê, ons sonde word sover van ons verwyder soos die ooste verwyder is van die werste. Die hoëpriester moes sy hande op die bok gelê het en die sondes van die volk bely het. Die sondes van die volk was dan op die bok en die bok is ver in die woestyn ingevat en daar gelos.

Dink jouself vir ʼn oomblik in, jy sien hoe die priester sy hande op die bok sit. Jy hoor hoe hy die volk se sondes bely. Jy hoor hoe hy jou sonde bely. Die sonde waarvoor jy weet jy gestraf moet word. Jy weet die bok gaan dit nou van jou af wegneem. Die gewig van jou sonde is nou op ʼn ander.

Weereens moes hulle dit egter elke jaar oor en oor doen. Dit is omdat ʼn bok nie werklik die sondes van die mense kan dra nie. Die bok kan nie werklik jou sondes van jou af wegneem nie. Dit is net Christus wat dit kan doen. Die bok is uit die kamp uitgestuur om die sondes van die volk te dra, net so is Jesus buite die stad van Jerusalem gestuur om die kinders van God se sondes daar te dra.

Daar is onduidelikheid oor hoe een van die Hebreeuse woorde in ons teksgedeelte vertaal moet word. Dit is die woord Asasel. Party mense dink hierdie woord beteken eenvoudig iets soos “sondebok” of soos die Engels sê “scapegoat”. Wanneer daar geloot word, word hierdie bok geloot vir Asasel, of vir die sondebok. Dit kan ook ʼn pleknaam wees. Dit is ʼn plek in die woestyn of ʼn ander woord vir woestyn. Ander is weer van die oortuiging dat dit ʼn eienaam is vir die demoon van die woestyn. Hierdie bok word na hierdie demoon of na die duiwel self toe gestuur. Dit maak egter nie saak wat hierdie woord beteken nie. Die boodskap bly dieselfde. Ons sondes word heeltemal van ons af verwyder.

Die hoëpriester moes dan teruggaan in die tent van samekoms, weer homself was en sy normale klere aangetrek het. Hy moes dan die diere wat se bloed besprinkel is buite die kamp bring en hulle daar verbrand. Al die offers is dan klaar gebring.

Hoofpunt 2: Ons moet daarin rus

Die volk moes hierdie dag van versoening elke jaar as ʼn Sabbat vier waarop hulle moes rus. Hulle moes hulleself heeltemal voor God verootmoedig, besef hulle sonde verdien die straf van die dood en hulle moes rus in die versoening wat God met hulle bewerk het.

Broers en susters, kom ons neem Goeie Vrydag, en eintlik elke geleentheid wat ons die voorreg het om voor God te kom en doen dieselfde. Kom ons besef opnuut dat ons nie net sommer uit ons eie uit tot God kan nader nie. Kom ons neem die ewige lewe wat vir ons geskenk is nie vanselfsprekend nie. Kom ons besef weer opnuut dit is deur Christus wat al die offers van die Ou Testament kom vervul het, wat die versoeningsdag kom vervul het dat ons nou werklik met God versoen is.

Slot

Broers en susters, vandag gedenk ons ons Here Jesus Christus se dood aan die kruis. Vandag gedenk ons sy bloed wat gevloei het om ons sondes finaal te bedek. Vandag gedenk ons Christus wat die gewig van ons sondes gedra het en dit so ver van ons verwyder het soos die ooste verwyder is van die weste. Vandag gedenk ons Christus se versoeningswerk.

Amen.