Teksgedeelte: Filippense 4:10-23 (1953)
Fokusvers: Filippense 4:12-13 (1953)
Tema: God gee in Christus vir ons krag sodat ons alle lewensomstandighede met tevredenheid tegemoet kan gaan
Inleiding
Ons fokusvers vandag is ʼn baie bekende vers in die Bybel. Baie van ons ken waarskynlik die vers uit ons koppe uit. Dit word veral gebruik op sosiale media waar baie mense die vers sal byvoeg onderaan die foto’s wat hulle plaas. Dit word ook voor op Christelike notaboekies geplaas, en word baie deur atlete en sportsterre gebruik vir bemoediging. Toe ek nog op skool rugby gespeel het, was die vers amper ons span se slagspreuk.
Daar is ‘n goeie rede hiervoor. Die vers is inderdaad baie bemoedigend. Dit is vir ons as gelowiges wonderlik om daaraan herinner te word dat Christus vir ons krag gee, veral as ons moeg is, en voel asof ons krag nodig het.
Dit is natuurlik baie goed dat die Woord van God so algemeen gebruik word. Dit is ʼn voorreg dat ons dit uit ons koppe uit kan ken, en so daardeur bemoedig mag word. Daar is niks beter as om deur Christus self bemoedig te word nie. Daar bestaan ongelukkig altyd die gevaar dat die vers buite konteks verstaan kan word en dat mense die vers dalk kan gebruik as ʼn towerspreuk.
Iemand het eenmaal gesê die belangrikste teks in die Bybel is konteks. Indien verse buite konteks verstaan word, kan die betekenis daarvan verdraai word. Iemand wat sport beoefen kan moontlik ons fokusvers verkeerd verstaan en dink dat hulle daartoe in staat is om elke wedstryd te wen. Die besigheidseienaar mag dalk voel asof hulle deur Christus daartoe in staat is om altyd wins te maak, of vir die student om te glo dat hy of sy elke toets sal slaag.
Dit is die baie gevaarlike idees van die voorspoedsteologie. Want as mens met hierdie idees deur jou lewe gaan, hoe moet ʼn mens dit hanteer as jy nie suksesvol is nie? Gee Christus jou dan nie genoeg die krag nie? Glo jy dalk net nie genoeg nie? Daarom moet ons na die konteks kyk waarin ons leer hoe:
Punt 1: God gee deur Christus vir ons krag
Ons teksgedeelte staan aan die einde van ʼn brief wat Paulus geskryf het aan die gemeente in Filippi. Hy skryf hierdie brief aan hulle vanuit die tronk, omdat hy vervolg word vir die evangelie wat hy verkondig. Hy verkondig dat Christus die enigste Here is, terwyl die Romeinse keiser van die tyd sê dat hy self die enigste here is.
Hier aan die einde van die brief bedank Paulus die geneemte in Filippi vir hulle ondersteuning wat hulle vir hom in die tronk gestuur het. Epafrodítus het vir hom hierdie gawe gebring namens die gemeente. Hulle het hom waarskynlik op ʼn manier finansieel of fisies ondersteun en vir hom ʼn “gawe” gestuur. Paulus brei wel baie meer uit as om hulle net te bedank vir die gawe. Hy verduidelik ook twee ander gedagtes wat bydra tot sy danksegging sodat hy nie geldgierig voorkom nie, en sodat sy danksegging die regte klem het. Dit gaan nie vir Paulus oor die geld nie, dit gaan oor die koninkryk en die eer van God.
Die twee gedagtes is:
- Eerstens dat hy verstaan hoekom hulle vir ʼn tydperk hom nie ondersteun het nie. Hulle het nie geleentheid gehad nie, en hy bedank hulle ook vir al hulle ondersteuning wat hulle vir hom gebied het in die verlede. Dit is waarskynlik sodat Paulus, in sy geskrewe brief, nie passief-aggressief voorkom nie. Baie van ons het waarskynlik al ʼn boodskap of ʼn e-pos ontvang waar die persoon aan die ander kant mooi woorde gebruik, maar ons lees tussen die lyne die ander persoon se ontevredenheid raak. Paulus verduidelik dat dit hier nie die geval is nie, hy is opreg dankbaar vir die gawe wat hulle vir hom gestuur het.
- Tweedens verduidelik hy ook vir hulle dat hy nie dankbaar is omdat hy geldgierig is nie. Hy is nie geldgierig nie omdat hy geleer het om tevrede te wees ten spyte van sy omstandighede Dit is waar ons fokusvers lê. Hy is dankbaar vir hulle ondersteuning omdat dit vir God goed is dat hulle hom ondersteun. Dit is tot eer van God dat hulle hom ondersteun, en so ook sy bedienningswerk en evangelisasie ondersteun. God behaag die offers wat gelowiges gee vir die bedienning van sy Woord.
Al hierdie gedagtes is besonders mooi en kan ʼn preek op sy eie wees, maar vandag gaan ons fokus op die tevredenheid wat Paulus het, ten spyte van die omstandighede wat hy ervaar. Ons lees weer verse 11-13:
“Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Hoe gee God in Christus vir Paulus en vir ons krag? Wat beteken dit?
Die woord wat hier vertaal word met “krag”, beteken om die vermoë te hê om iets te doen. Die gelowige kry dus die vermoë om daartoe in staat te wees om alle lewensomstandighede tegemoet te gaan. Hierdie krag kom van God af, deur Christus. Ons gaan vandag kyk na drie maniere hoe God vir ons deur Christus krag gee. Hy sorg vir ons, beskerm ons en verlos ons. Ons lees veral hiervan in Rom. 8. Ons lees saam verse 31-35:
“Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. Wie sal ons skei van die liefde van Christus — verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?”
Ons kan op God vertrou om alles vir ons genadiglik te skenk. Hy het vir ons sy Seun gegee, natuurlik sal Hy dan ook vir ons sorg. Ons het ook hiervan gehoor in vers 19 van ons teksgedeelte. Paulus sê dat God deur Christus aan die gemeente van Filippi alles gee wat hulle nodig het. Dit is wel belangrik om die onderskeid te tref tussen wat ons “nodig het”, en wat ons “wil” hê. God gee vir ons dit wat ons nodig het, Hy onderhou en sorg vir ons. Dit beteken nie dat Hy vir ons alles sal gee volgens ons eie selfsugtige begeertes nie.
Maar nie net sorg Hy vir ons nie. Hy beskerm ons. As ons verder lees in Romeine 8 sal ons sien dat Paulus verduidelik dat ook nie eers bonatuurlike dinge ons van die liefde van Christus kan skei nie. Ons het saam gehoor van die natuurlike of aardse dinge. Maar ons leer dat geen aardse of duiwelse skepsel kan ons wegneem van God af nie. As God vir ons is, wie of wat kan teen ons wees? By die wêreld en die duiwel is daar mag, maar by God is daar almag en hy beskerm ons.
Laastens sien ons hoe Hy ons verlos. Ons het gehoor dat Christus ons regverdig gemaak het in vers 33 van Romeine 8. Dit beteken dat Hy ons weer in die regte verhouding met God geplaas het. Die verhouding wat ons vernietig het deur ons sonde. Ja, na die sondeval is die mens van nature sondig en in ʼn vyandige verhouding met God. Daarom verdien ons almal die ewige straf vir ons sonde, die ewige dood. Christus het gekom en ons van hierdie straf verlos. Hy het ons regverdig en lewend gemaak, deur sy dood, maar meer nog, deur sy opstandig uit die dood. Hy het die dood vir ons oorwin sodat ons nou met Hom as middelaar in die regte verhouding met God kan staan. Daar is nou niks wat ons kan onderkry nie, nie eers ons eie sondes nie. Hy het ons daarvan verlos.
Die Heilige Gees werk in ons harte sodat ons hierdie genade kan glo. Sodat ons kan glo dat Hy vir ons sorg, ons beskerm en ons verlos. Om hierdie rede het ons krag vir enige omstandighede. Ons het ʼn vorm van selfvertroue, of eerder Christus-vertroue, omdat ons weet dat Hy met ons is. Dit is waar ons krag lê. Nie in ons eie krag nie, maar in die krag wat God deur Christus deur die Heilige Gees vir ons gee.
Beteken hierdie dat dit altyd met ons op ʼn fisiese vlak sal goed gaan? Beteken dit dat jy elke wedstryd sal wen? Dat jou besigheid altyd ʼn sukses sal wees? Of dat jy elke toets sal slaag?
Nee, Paulus skryf hierdie vanuit die tronk. Ons het gehoor hoe Paulus verduidelik dat hy weet hoe dit voel om verneder te word en om honger te ly. Hierdie krag wat Christus vir ons gee, beteken nie dat dit altyd met ons goed sal gaan nie, dit beteken eerder dat:
Punt 2: Ons alle omstandighede tegemoet kan gaan met tevredenheid
Wat ʼn besonderse bemoedigende boodskap. Dit maak nie saak hoe sleg dit met ons gaan nie, dit maak nie saak hoe haglik die omstandighede is nie. Deur die krag wat Christus vir ons gee, kan ons alle omstandighede tegemoet gaan want Hy is saam met my, ten midde van my omstandighede.
Wanneer Paulus in vers 13 sê: “ek is tot alles in staat” verwys die “alles” na die omstandighede waaroor hy in vers 12 praat. Hy verwys na armoede en oorvloed, om versadig te wees en om honger te ly. Deur na hierdie uiterstes te verwys, beklemtoon hy “alle” omstandighede. Hy noem spesifiek dat, ongeag die omstandighede waarin hy verkeer het, hy ʼn belangrike lewensles geleer het, naamlik om tevrede te wees.
Die 1933/53 vertaling gebruik hier die woord “vergenoegd”. Albei woorde druk die betekenis mooi uit. Die woord “tevrede” woord afgelei van die woord “vrede” af, en die woord “vergenoegd” word afgelei van die woord “genoeg” af.
Dit is hoe ʼn gelowige behoort te voel, ten spyte van sy omstandighede. Ons moet bid dat ons hierdie tevredenheid sal ervaar, want ons moet aan mekaar erken dat ons dit nie altyd so ervaar nie. Dit is die Heilige Gees wat in ons harte werk sodat ons hierdie tevredenheid kan ervaar, ons sal dit nooit op ons eie kan regkry nie. Uit ons eie uit, ervaar ons dikwels ontevredenheid.
Ons lewe in ʼn wêreld vol sonde. Die gevolg van die sonde in die wêreld is afbreek, seer en siekte. Ons wat hier sit vandag ken van tyd tot tyd teëspoed, bekommernisse, voortdurende siekte in die huis, finansiële probleme, werkloosheid en u kan self maar verder invul. Elke mens kry op ‘n bepaalde tyd maar sy deel. By die een vroeër, by die ander later. By die een langer, by die ander korter. Dit maak die hart seer en bring droefheid. Dit bring lyding. Ons ken dit. Dit is maar die lewenservaring van baie. Ons moet bid dat God vir ons in Christus deur die Heilige Gees krag sal gee sodat geen van hierdie omstandighede ons sal kan onderkry nie. Hy sal ons troos, en Hy sal vir ons vrede gee.
Omdat Christus vir my krag gee, het ek genoeg, al het ek menslik gesproke min. Omdat Christus vir my krag gee, het ek vrede, al is dit chaos rondom my of binne my. In Christus is ons vergenoegd en tevrede.
Natuurlik verwys alle omstandighede nie net na slegte omstandighede nie, soos ons gehoor het sluit dit ook goeie omstandighede in. Paulus praat ook daarvan om versadig te wees en om oorvloed te hê. Ons behoort ook hierdie tevredenheid te ervaar wanneer dit met ons goed gaan. Dit gebeur gereeld dat ons van Christus vergeet wanneer dit met ons goed gaan. Ons is geneig om op ons eie krag te wil staatmaak, nie op die krag wat ons van Christus af kry nie. Ons maak staat op ons eie slim planne, ons sterk gesondheid of ons groot hope spaargeld. Hoogmoed is ook nie goed vir die gelowige nie. Nee, ons teksgedeelte leer ons dat ons die vermoë het om tevrede te wees in Christus te midde van alle omstandighede. Nie net slegte omstandighede nie. Ons moet altyd ons krag in Christus vind.
Slot
Broers en susters, dit is wonderlik dat ons teksvers vandag so algemeen gebruik word. Dat ons so gereeld aan hierdie bemoedigende boodskap herinner kan word. Maar ons moet nie van die betekenis van die boodskap, binne sy konteks, vergeet nie. Want indien ons dit doen, verloor die boodskap sy trefkrag.
Wanneer ons omstandighede nie ideaal is nie, kan ons weet dat ons ons troos in Christus vind. Al ervaar ons storms in die lewe, kan ons weet dat ons in Christus tevredenheid kan ervaar. Wanneer dit met ons baie goed gaan, moet ons weet dat ons krag in Christus lê, en nie in ons self nie.
Ja.
Ons is daartoe in staat om alle omstandighede met tevredenheid tegemoet te gaan, alleenlik deur Christus wat vir ons krag gee.
Amen