Teksgedeelte: Psalm 51(1953)
Fokus vers: v19(1953)
Tema: God verag nie ʼn gebroke hart en ʼn verslae gees nie.
Hoofpunt 1: God verag ons nie
Hoofpunt 2: Ons moet ʼn gebroke hart en ʼn verslae gees hê oor ons sonde.
Inleiding
Broers en susters, is ons werklik hartseer oor ons sonde of is ons heeltemal afgestomp teenoor ons sonde? Doen ons dit eenvoudig sonder om enige iets te voel, of erger nog, doen ons dit en voel dan daarna goed? Broers en susters, die vraag is wanneer laas het jy werklik berou gehad oor jou sonde? Wanneer laas het jy voor die Here gebuig en vir hom gevra “vergewe my want ek het gesondig?”
Hoofpunt 1: God verag ons nie
Ons lewe in ʼn samelewing waar ‘n mens nooit regtig aangemoedig word om sleg te voel oor enige iets nie. Inteendeel, ons lewe in ʼn samelewing wat nooit vir enige iemand wil sê dat hulle verkeerd is of anders moet wees nie. Die gevolg is dat niemand regtig ernstig wil praat oor sonde en bekering nie. Mense wil nie weet en hoor hulle is sondaars nie. Ons wil eintlik net hoor dat ons almal goeie mense is wat maar net nou en dan foute maak.
Dit is egter nie die waarheid nie en dit is nie Bybels nie. Om sleg te voel of om bedroef te wees oor jou sonde is ʼn noodsaaklike deel van bekering. As Christene moet ons weet dat ons sondaars is wat Christus nodig het. As ons nie werklik ten diepste besef hoe verlore ons in ons sonde is sonder Christus en dat ons moet bekeer nie, dan sal ons nooit werklik bekeer nie.
Bekering is iets wat ons as Christene elke dag moet doen. Dit is ʼn kerndeel van wat dit beteken om ʼn Christen te wees. Om te bekeer beteken om weg te draai van die sonde af en na die Here toe te draai. Dit is ʼn transformasie van jou siel. Dit beteken dat jou hart en dat jou gedagtes verander. Om dit te kan doen, moet jy eers jou sonde besef. Jy moet weet waarvan om weg te draai. Daarom is dit belangrik dat ons vandag vir ʼn oomblik stilstaan by wat dit werklik beteken om te bekeer.
Ons het die groot voorreg om te kan sien hoe Dawid onder die leiding van die Heilige Gees geworstel het deur sy bekering. Psalm 51 is een van die min psalms waarvan ons die konteks waarbinne dit geskryf is ken. Vers 2 maak dit vir ons baie duidelik. Daar staan:
“toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het.”
Dit maak dit duidelik dat Dawid hierdie psalm geskryf het na sy sonde met Batseba waarvan ons lees in 2 Samuel 11 en 12. Dawid, ʼn man na die Here se hart, wat die Here op wonderlike maniere gebruik het om die volk te lei, het nou egbreuk gepleeg en doelbewus iemand se dood bewerk.
Terwyl al sy manskappe besig was om oorlog te maak, het hy wat Dawid is by die huis gebly. Hy sien van sy paleis se dak af hoe ʼn vrou bad. Hy laat toe die vrou na hom toe bring en slaap met haar. Daar is sommige wat selfs spekuleer dat hy haar verkrag het. Sy word toe swanger.
Dawid probeer op baie maniere om die sonde weg te steek. Hy laat haar man, Uria, terugkom van die oorlogsveld af met die hoop dat hy by sy vrou sou slaap, maar hy het nie. Hy kon nie sy medesoldate so te na kom nie. Hy het voor die paleis geslaap saam met die res van die koning se dienaars.
Dawid moes toe ʼn ander plan maak om sy sonde weg te steek. Hy gee opdrag dat Uria in die oorlog aan die voorste linies moes baklei sodat hy in die oorlog sou doodgaan. Nadat Uria in die oorlog gesneuwel het, trou Dawid met Batseba sodat, wanneer die mense agterkom dat sy swanger is met sy kind, dit nie sou lyk asof Dawid gesondig het nie.
Dawid het geval in sonde en net aanhou daarin volhard. Hy moes toe net aanhou en aanhou sondig om sy sonde weg te steek. Dit werk ook gereeld so in ons lewens. Die gevolge van sonde strek altyd dieper as net die aanvanklike val. Later is jy vasgevang in hierdie swaar web van sonde en dit beïnvloed nie net vir jou nie. Jy trek die mense rondom jou ook daarin vas.
Die Here stuur die profeet Natan om Dawid hieroor te konfronteer. Natan vertel vir Dawid ʼn gelykenis van ʼn ryk man wat baie lammers gehad het, maar hy vat ʼn ander arm man se enigste en geliefde lammer vir homself. Dawid word toe kwaad vir die ongeregtigheid van hierdie verhaal en hy sê vir hom dat die ryk man doodgemaak moet word. Natan het hierdie gelykenis gebruik om vir Dawid te wys hoe sondig hy is, want daarna het Natan vir Dawid vertel dat hy die man is wat dit gedoen het.
Dawid sien sy sonde raak en hy skryf toe hierdie psalm. Teen die tyd wat Natan by hom gekom het, was sy kind met Batseba al gebore. Hierdie psalm is dus waarskynlik min of meer ʼn jaar geskryf nadat hy die sonde gedoen het. Dawid het vir ʼn jaar lank volhard in hierdie sonde voordat hy werklik tot inkeer gekom het en hierdie psalm geskryf het.
Dawid wat sy sonde besef en homself voor God verootmoedig is dan vir ons ʼn goeie voorbeeld van hoe ons dit ook moet doen voor God. Wanneer ons op Sondae die wet lees en ʼn psalm sing wat daarby pas, noem ons dit die verootmoedigingsdiens. Om jouself voor God te verootmoedig beteken om jou ware plek voor God in te neem. Om te besef Hy is die almagtige God en jy is ʼn sondaarmens wat teen Hom gesondig het. Jy verdien sy toorn, maar in genade gee Hy jou sy guns.
Dit is wat Dawid hier doen en ons moet daaruit leer. Die eerste ding wat Dawid uitroep in vers 3 is “Wees my genadig O God na u goedertierenheid”. Wanneer jy besef wie jy eintlik is voor die Here is daar nie regtig ʼn meer gepaste uitroep nie. Jy besef jy het genade nodig. Jy besef jy verdien eintlik straf. Jy maak nie staat op jouself en wat jy verdien vir genade nie. Jy maak eerder staat op die Here se goedertierenheid.
Die woord “goedertierenheid” kan ook vertaal word met “troue liefde”. Here, U is en bly getrou aan u kinders. U liefde wankel nooit nie. Daarom vra ek dat U my genadig sal wees.
Hoofpunt 2: Ons moet ʼn gebroke hart en ʼn verslae gees hê oor ons sonde.
Dawid maak nie verskonings nie. Hy verduidelik nie hoekom hy hierdie keer maar geval het nie. Hy weet hy het gesondig. Hy weet wat hy verdien. Hy gebruik drie woorde om sy sonde te beskryf in vers 3 en 4. “oortredinge”, “ongeregtigheid”, en “sonde”. “Oortredinge” is wanneer jy nie volgens die wet van die Here optree nie. “Ongeregtigheid” is wanneer jy doen wat verkeerd is. Dit is wanneer jy nie doen wat reg is nie. Die woord “sonde” beteken om die teiken te mis. Dit is soos wanneer jy met ʼn pyl en boog na ʼn teiken toe mik en jy skiet mis. Met ander woorde jy mis jou doel.
Dawid weet dat dit wat hy gedoen het verkeerd is en daarom beskryf hy dit van elke hoek en kant af. Dit is teen u wet, dit is verkeerd, ek het nie opgetree hoe ek moes nie. Hy vra dan die Here om hom hiervan skoon te was. Om dit heeltemal weg te vat.
Hy gaan nog verder om sy sonde te beskryf. In vers 6 sê Dawid dat hy teen die Here alleen gesondig het. Wanneer ʼn mens dit die eerste keer lees sonder om daaroor te dink kan dit eintlik vir jou baie vreemd wees. Dawid het baie duidelik teen Uria en Batseba gesondig. As ʼn mens mooi dink het hy teen al sy manskappe gesondig, want hy het aspris een van hulle laat doodgaan. Hy het eintlik teen die hele volk van Israel gesondig want as koning moes hy ʼn voorbeeld vir almal gewees het.
Dawid sê egter hier dat hy teen die Here alleen gesondig het. Dit is nie om die seer wat sy sonde in ander se lewens veroorsaak het min te maak nie. Dawid maak hier gebruik van ʼn hiperbool om te erken dat alle sonde op die ou einde teen die Here is. Dawid het gesondig teen mense wat aan die Here behoort het en opstand teen God is die wortel van al sy sonde.
Hy verduidelik die diepte van sy sonde dan nog verder deur in vers 7 te sê dat hy in sonde ontvang en gebore is. Dit beteken nie dat Dawid gebore is uit ʼn buite-egtelike verhouding nie, want hy is nie. Dit beteken dat hy as sondaar in die lewe in gekom het. Dit is wat ons in gereformeerde teologie “erfsonde” sou noem.
Dit beteken dat ons almal, elkeen van ons, gebore is met ʼn natuur wat teen die Here is, dat ons in ons aard van geboorte af nie die Here soek nie en daarom dan reeds opstandig en sondig is.
Broers en susters, al die dinge wat Dawid hier voor die Here bely moet ons besef is waar vir ons ook. Ons sondig net so voor die Here. Om hierdie te besef en te bely is so ʼn kerndeel van wat dit beteken om te bekeer. Jy besef jou sonde voor die Here. Jy besef jy het sy genade nodig. Jy besef Hy is die een wat dit vergewe en dan besef jy ook dat hy die een is wat jou daarvan skoon maak. Jy is nie meer wie jy was voordat die Here jou skoon gemaak het nie.
Ons het die voorreg gehad om vroeër die jaar te kon stilstaan by Psalm 103 waar ons leer dat die Here ons sonde so ver van ons af verwyder soos wat die ooste verwyder is van die weste. Dit is oneindig ver.
Net soos wat Dawid sy sonde op verskeie maniere beskryf het, vra hy dan vir die Here om hom op verskeie maniere skoon te maak. Hy vra vir die Here om sy oortredinge uit te delg. Om hom heeltemal skoon te was en om hom te reinig.
Wanneer daar staan delg my sonde uit, beteken dit om sy sonde te verwyder, uit te vee, of uit te wis. Wanneer Dawid vir vir die Here vra om hom te was in vers 4, word ʼn woord gebruik wat gewoonlik gebruik word om te verduidelik hoe iemand klere skoon skrop. Skrop my skoon o Here. Laastens vra Dawid vir die Here om hom te reinig. Dit het vir ʼn Jood beteken dat hy ritueel skoon is. Later in vers 9 vra hy vir die Here om hom met ʼn hisoptakkie te reinig. Hisop is ʼn bossie wat gebruik word as ʼn kwassie in baie van die Jode se reinheidsrituele.
Vers 10 is dan werklik baie treffend. Dawid vra dat sy bene, wat deur die Here gebreek is moet uitroep van vreugde. Die Heilige Gees is die een wat Hom bedroef gemaak het oor sy sonde. Die Here is die een wat sy bene gebreek het. Daar is egter vreugde ten midde van die droefheid en gebrokenheid. Vandag se woordverkondiging sê nie ons moet mense wees wat die hele tyd net in droefheid moet leef oor ons sonde nie. Ons moet in vreugde lewe voor die Here, maar ons moet die gepaste droefheid hê oor ons sonde. Dit is juis wanneer ons regtig hartseer is oor ons sonde wat ons ware vreugde vind in ons verlossing.
Wat ons nie moet miskyk nie, is dat Dawid vir die Here vra om vir hom ʼn nuwe hart te gee in vers 12. Dit is wat die Heilige Gees doen vir ʼn gelowige. Dit is hoekom die Here ons kan vergewe. Dit is omdat Hy van ons nuwe mense maak. Hy maak ons tot in ons binneste, tot in ons harte nuut.
Wanneer Dawid in vers 13 vra dat die Here die Heilige Gees nie van hom af moet wegneem nie, moet ons dit reg verstaan. ʼn Ware gelowige kan nooit die Heilige Gees verloor nie. Dawid praat hier uit ondervinding uit van wat met Saul gebeur het. Die Heilige Gees het op ʼn spesiale manier oor die konings van die Ou Testament gekom waardeur die Here hulle gelei het om die volk te regeer. Die Saul nie meer koning was nie, het hierdie spesiale leiding van die Heilige Gees hom verlaat. Dawid vra hier met ander woorde dat die Here nie sy spesiale leiding deur die Heilige Gees van hom af moet wegvat sodat hy nie meer oor die volk kan regeer nie.
Dawid het op soveel mooi digterlike maniere beskryf hoe die Here uit genade uit hom moet skoon was en vernuwe sodat hy weer vreugde in die Here vind met ʼn nuwe hart. Dawid het geweet en geglo dat dit is wat die Here doen maar ons weet vandag dat die Here dit doen deur sy seun ons Here Jesus Christus.
Ons lees in die eerste brief van die apostel Johannes in hoofstuk 1 vers 7:
“Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”
Dit is Christus se bloed wat ons skoon was. Dit is deur sy bloed wat ons sondes uitgedelg word. Wanneer ons gebroke is in ons sonde is dit na hom toe wat ons hardloop.
Dit is egter interessant dat in hierdie baie diep persoonlike psalm oor sondebelydenis gaan Dawid oor na wat ons prakties moet doen. Wat moet ons praktiese reaksie wees op ʼn besef van ons sonde?
Die eerste ding wat Dawid sê in vers 15 is dat hy met sy nuwe rein hart ander oortreders van die Here wil leer. Dit is eers wanneer jy besef jy is self is verloste sondaar dat jy die verlossing aan ander sondaars wil bedien. Hy sluit ook die psalm af met ʼn gebed vir die volk in verse 20 en 21. Hy vra dat die volk die Here reg moet dien. Ons leer hierin dat ware bekering het altyd ʼn uitwerking na buitentoe. Wanneer jy van binne bekeer lewe jy na buite en wil jy ander van die Here leer en is jou gebede dat ander die Here reg sal dien.
Die laaste praktiese ding waarna ons gaan kyk vind ons in ons fokusvers. Dawid leer vir ons dat ʼn gepaste reaksie op ʼn besef van ons sonde is nie om op ʼn meganiese manier net van buite die Here halfhartig te dien nie.
Die volk van die Ou Testament moes diere offer vir hulle sonde. Dawid besef egter dat as sy hart nie in dit is nie, dan help dit nie. Hy sê in vers 18 en 19:
“Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.
Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!”
Slot
Broers en susters, dit gaan oor wat in jou hart aangaan, ons lewe in ʼn samelewing wat sê dat jy nooit sleg moet voel oor enige iets nie. Ons het egter vandag geleer dat ons moet sleg voel oor ons sonde. Die Here soek ʼn verslae hart en gebroke gees. Wanneer ons op hierdie manier hartseer is, besef ons hoe ons die Here nodig het en ervaar ons die vreugde van sy verlossing.
Amen.